Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Boeke | Books > Resensies | Reviews > Afrikaans > Biebouw-resensies

Bloedwater is onderhoudend en goed uitgewerk


Gerhard Scholtz - 2011-12-07

Bloedwater
Douwleen Bredenhann
Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798155595
Prys: R180.00


Klik hier en koop Bloedwater nou van Kalahari.net!





Na Douwleen Bredenhann se emosiebelaaide debuut, ’n Hemelhoë hekkie, volg Bloedwater, ’n roman waarin ’n familie uitmekaar geskeur word. Vir die lesersmark nog ’n populêre tema as dit onder die topverkopers val.

Die verhaalgegewe is dramaties: die hoofkarakter, ’n nugtere Adriana Coetzer, staan op trou met ’n ewe nugtere narkotiseur, Woudstra Bosman. Adriana se wulpse en lyfbehepte suster, Marlinda, verlei die onskuldige Bosman een aand kort voor die troue. Nodeloos om te sê, Marlinda is toe swanger en die bruidegom doen onder druk van haar ouers die korrekte ding en trou met die swanger suster. Die gebroke Adriana tel kort daarna ’n ryk Hollander op en volg hom na die vreemde, waar sy alle brûe agter haar verbrand en met groot moeite in Delft ’n nuwe lewe begin en opbou.

Genoeg materiaal vir ’n soetsappige liefdesverhaal.

Maar daar eindig dit nie.

Die roman begin waar Bosman na dekades een aand vir Adriana uit Suid-Afrika bel. Dis waar die poppe begin dans. Hy vra haar die ontdenkbare: dat sy vir tien dae moet terugkeer na Suid-Afrika om na haar suster te kom omsien wanneer hy ’n konferensie moet gaan bywoon. Allerhande kwessies spring oor baie bladsye na vore en dis hier waar die skryfster haarself in die voet skiet. Dit neem presies 99 bladsye van redenasies, herbesoeke, vertwyfeling, herhalings, en baie wroeg, om tot op die lughawe en herontmoeting met Bosman te kom.

Tot hier het die roman teen ’n slakkepas gegroei. Daarna is die spoed effens vinniger, maar telkens is dit steeds ’n terugval na die verlede en dieselfde kwessies word vanuit verskillende hoeke oor en oor besoek.

Maar die verhaal neem dramatiese wendings: haar suster blyk ’n ernstige psigotiese en verwaarlooste dwelmverslaafde te wees wat sy vir die tien dae alleen moet oppas, en boonop ontdek Adriana ’n digbewaarde familiegeheim. En om sake verder te kompliseer, besoek sy haar moeder, ’n bekende kunstenares, in ’n tehuis vir Alzheimerlyers. Steeds is dit het einde niet. Die familiedrama kring onheilspellend net verder en verder uit.

’n Imposante lys van navorsingsmateriaal oor dwelms, narkose en DNS-vaderskaptoetse is ter voorbereiding van die roman bestudeer en dit is duidelik dat die skryfster diep gedelf het om al hierdie inligting grillerig en haarfyn in hierdie roman in te werk. Veral die voorkoms en beleweniswêreld van die tikverslaafde word met uiterse noukeurigheid skrikwekkend werklik gemaak.

Om al hierdie materiaal in ’n roman te kon verwerk eis moed en durf. Daar is ook diep in die gedagtewêrelde van die twee hoofkarakters, Adriana en Woudstra, gedelf. Soms te diep vir hierdie leser, wat alles later eenselwig begin vind het. Dieselfde gedagtes, dieselfde verwyte, dieselfde emosies.

Dat die skryfster skryftalent het, is nie te betwyfel nie. Daar is baie sterk momente wat my meegevoer het. Die besoek aan haar moeder in die inrigting, byvoorbeeld, is sensitief en aangrypend geskryf. Daar moet net gewaak word dat die skryfwerk nie verpopulariseer word nie, dat die karakters se diep belewings liewer gesuggereer word as om dit bladsy na bladsy uit te spel. Kompakter skryfwerk en ’n wegbeweeg van die voor die hand liggende sal help – om nie die intelligensie van die leser te onderskat nie. Ook sterker leiding en ’n fermer redigeerdershand is nodig.

Tog, die verhaal is onderhoudend en die intriges goed uitgewerk.