Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Boeke | Books > Resensies | Reviews > Afrikaans > Biebouw-resensies

Gedeeltes van Wildvreemd boei


Helize van Vuuren - 2011-12-06

Wildvreemd
Carina Stander
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624053392
Prys: R175.95

Klik hier en koop Wildvreemd nou van Kalahari.net!



Die motto voorin Wildvreemd is uit die Jungiaanse analis en storieverteller Estés se Women who run with the wolves. Contacting the power of the wild woman (1992): “Nag na nag word ons gebore uit dieselfde wilde droom.” Die wolf is vir Estés die argetipe van die wilde vrou, en sy glo dat sprokies, mites en feëverhale instruktief is vir groter begrip tot die eie weg deur die lewe. Elke vrou moet bevry word van dít wat haar aan bande lê en keer om haar kreatiewe self, of “vry-vloeiende rivier” te vind. Jungiaanse begrippe soos die anima en die animus, en vroue-argetipes soos die heks, die godin en die lelike eendjie is die ruggraat van haar teks, gebou om oorgelewerde verhale as vertrekpunt vir elke hoofstuk se wegwysers na “bevryding”. Natuurmetafore soos die see, die oerwoud en die rivier word mildelik aangewend. En dis hier dat Stander se teks inskakel.

Sy kies die argetipe van die wilde en vreemde vrou wat as kluisenaar en byeboer in ’n klein huisie, by ’n rivier in ’n oerbos van die Waterberg, woon. Sy kan nie praat nie (verstaan net die diere se taal, soos ’n soort vroulike Francis van Assisi!). Hierdie mooi jong vrou verskyn een keer ’n maand in die dorp om haar heuning en kerse te verkoop, en is die onderwerp van groot belangstelling en skinderstories. Daar volg ’n verwoestende veldbrand waarin die plaaswerker Jan Pampoen en sy aanneem-kind wegraak, daar is onwettige jagtogte op die volop wild in die Ruig, soos die wildernis daar heet, ’n verkragting van die wildevrou-byeboer, en uiteindelik die onthulling dat sy eintlik Angelina heet en as ‘n weeskind in die burgeroorlog in Mosambiek grootgeword het. Maar oorspronklik kom sy van Khani Kwedho aan die noord-oewer van die Limpopo-rivier. Die rare gegewe dat sy Afrikaans magtig is, word verduidelik deurdat die weeshuis waarin sy grootgeword het, “deur Suid-Afrikaanse sendelinge bestuur (is) wat die kinders, benewens Portugees en Sjangaans ook Engels en Afrikaans geleer het” (249).

Soos in Brink se Houd-den-bek (1982) gebruik die outeur vertellers wat om die beurt aan die woord kom – elf karakters naas die hoofkarakter, Angelina, wat die Skarlakenvrou genoem word deur die dorpelinge. Hierdie elf karakters behoort tot drie groepe: die bruin plaaswerker-gesin, Jan Pampoen en sy vrou Maraai met hul seun Jan Rats, en ’n optelkind. Die plaasboer wat aan die oewerbos grens, Braam Botha, en sy vrou Brenda vorm ’n tweede groep, met hul vervreemde seun Jarus en sy kind, Ebro. Die derde groep is die natuurbewaarder Zack van Aarde en sy dogter, Ingrid. Laastens is daar ’n skoolvriend van Ingrid, Wouter Hartman. Feitlik al die mans, jonk en oud, het een of ander vorm van verhouding, of drang tot ’n verhouding, met die Byeboer. Jan Pampoen, blyk dit later, het haar vroeër verkrag, vandaar die optelkind wat sy by hul hek gaan neersit het. Zack wil haar “syne maak”, en Braam Botha is die enigste een wat haar vertroueling is, omdat hy gereeld ’n helpende hand uitsteek met geleenthede dorp toe en dies meer. Sy vrou is oortuig dat hul ’n verhouding het en is eindeloos jaloers.

Die karakter van die kluisenaarvrou, Angelina, is oortuigend en die gedeeltes waar sy aan die woord (of dink) kom, is meestal besonder boeiend. Veral vanaf die middel van die roman af. Dit is ook in haar waarnemings en beskrywings van gebeure dat daar ’n sterk spanningslyn sit, veral omdat haar traumatiese verlede slegs stuk-stuk deur terugflitse vanaf bladsy 148 openbaar. Die beskrywings van die oerbos en haar lewe daar in die afgeleë huisie is vars en oorspronklik. Veral oor die natuurbeskrywings en haar interaksie met die diere. So is Estés se wolf (as argetipe van die wilde vrou) hier in die oerbos teenwoordig as ’n wyfiehiëna, of “tier”, soos dit vroeër in die volksmond geheet het. Sy self is ’n warse, andersoortige, getraumatiseerde siel wat haarself staande hou in die wildernis deur haar byeboerdery. Sy verskaf bye vir bestuiwing aan die boere, en uit die korwe win sy heuning en maak kerse van die was. Die wildevrou-argetipe eggo ook in haar karakter met sy sjamaanagtige trekke. Sy is die kunstenaar en outsider, ’n soort argetipe – daarom dat sy “droom van woorde soos water”.

Hierdie oerbos-in-die-Waterberg-gedeeltes herinner onvermydelik aan Eugène Marais se teenwoordigheid daar vanaf 1906 tot 1916, en sy vertellings, verhale en wetenskaplike studies daaroor. En inderdaad, ons kry ’n katalogus van insekte, meteens, op bladsy 162: “… die uur en minuut wanneer elke spinnekop, sprinkaan, kriek en koringkriek, duisendpoot, oorkruiper, malkopkewer, liewenheersbesie, vuurvlieg, vlinder, mot en perdeby, toktokkie, stokinsek en naaldekoker (…) versamel is”.

Ook Marais het in sy verhaal “Diep rivier”, ’n sonderlinge vroue-karakter uitgebeeld in “die jong gekleurde vrou”, Juanita, wat bedags as soelvellige wit vrou kon deurgaan, maar snags in die swart stat gaan vertoef het tussen haar pa se mense. Marais verwys na haar “sonderlinge verdubbeling van persoonlikheid” waaronder sy belas gegaan het, en haar natuurkundige kennis van die swart mamba se gewoontes, wat sy inspan om haar geliefde te probeer terugwen, maar uiteindelik self die slagoffer van word as sy sterf ná die slang se pik en sy “haar Diep Rivier uiteindelik self deurwaad”. Angelina en Juanita het heelwat gemeen.

Alles is egter nie pluis met hierdie roman nie. In die eerste helfte van Wildvreemd is daar weinig spanning en te veel afwisseling van perspektiewe, met min wat gebeur. Die spreekbeurte is te kort om altyd die aandag te hou. Bowendien is daar ’n te veel aan motiewe in die roman wat nie almal tot hul reg kom nie. Die bruin plaaswerkergesin sou ’n hele roman op sy eie kon word, soos ook die boerefamilie by wie hul werk. (Vergeet maar van ’n tweede Toorberg – daarvoor is die uitbeelding van die bruin familie se karakters en hul taalgebruik net eenvoudig té gestereotipeer, te kras op die oor.) Die onwettige gejag in die Ruig is ’n verhaaldraad wat uiteindelik verloop in niks, terwyl dit op sigself genoeg stof sou bied vir ’n aparte spanningsroman. Of die Mosambiekse trauma van Angelina sou ook alternatiewelik ’n hele aparte roman kon maak, saam met haar latere lewe. Die titel suggereer dit al: die hoofpunt wat hierdie teks maak, is dat sy ’n “wildvreemde” vrouekarakter is, niks meer en niks minder nie. Maar ten spyte van die veldbrand, die onwettige en wrede slagting onder die vrylopende wild, die pogings tot romantiese verhoudings, word die teks nooit werklik ’n roman nie. Daarvoor is die plot net te volgeprop met los verhaaldrade en uiteenlopende invalshoeke.

Wat die titel, Wildvreemd, suggereer, is die aard van die protagonis, die Byeboer en Skarlakenvrou uit Mosambiek. En dit is wat ’n mens onthou na jy die boek neergesit het, die karakter van die kluisenaarvrou, en wat haar daartoe gebring het om so te lewe. Onthoubaar is sy wel. Maar miskien sou ’n lang kortverhaal of novelle net met haar as hoofkarakter uiteindelik ’n beter eindproduk opgelewer het as hierdie oorvolgepropte, effe onaf teks. Maar so ’n novelle bestaan daar natuurlik al wel in Afrikaans, in Wilma Stockenström se Die kremetartekspedisie (1981). En dit speel ook in dieselfde soort ruimte in die noorde van die land af – die kluisenaarvrou wat woon in die kremetartboom, en ook nie kan kommunikeer met die Sanmense wat daar rond bly nie. Ook sy is anders, word vermy, en verken die omgewing, maak haar tuis daar, maar kies uiteindelik vir die dood, weens die onmisbaarheid van menslike kontak en warmte op die lang duur. En dis uiteindelik hierdie kluisenaarvrou wat met haar enigmatiese aard die langste in die geheue bly voortleef. Veral ook weens die meesterlike styl – gestroop tot op die been, met net die essensiële wat oorbly.

Wildvreemd bied sterk karakterisering in die hoofkarakter, en mooi beskrywings van die diere en oerbos van die Waterbergstreek. Maar dis in hierdie aspekte van die roman en die belofte in die skryfwerk dat die leser sy genoeë moet vind. ’n Geslaagde en bevredigende roman is dit ongelukkig nog nie, alle belofte ten spyt. Daarvoor is daar te veel eggo’s van sterker werke, te veel oordaad en te min gestrooptheid, en die eerste helfte van die teks te sonder samebindende spanning.