Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Teater | Theatre > Resensies | Reviews

Die groot geel M wat Phantom of the Opera is


Naomi Meyer - 2011-12-06

Andrew Lloyd Webber se The Phantom of the Opera
Die oorspronklike produksie deur Cameron Mackintosh en die Really Useful Group
Komponis: Andrew Lloyd Webber
Regie:
Harold Prince
Choreograaf: Gillian Lynne
Akteurs: Jonathan Roxmouth, Magdalene Minnaar/Robin Botha, Pauline du Plessis, Hanlee Louw, Angela Kilian, James Borthwick, Jason Ralph, Cat Lane, Thabiso Masemene, Anthony Downing
Kunstekaap, Kaapstad
22 November 2011 – 15 Januarie 2012
Kaartjies:
Vanaf R125, beskikbaar by Computicket

Die eerste beskrywende woorde wat ons in persvrystellings omtrent Phantom of the Opera lees, is op die trant van "unforgettable score, jaw-dropping scenery, exquisite costumes and breathtaking special effects ..." Die program by die deur bevat buitelandse name wat agter die skerms betrokke was: Gillian Lynne, choreograaf, is ’n Brit; Harold Prince, regisseur, is ’n Amerikaner; die Really Useful Company is ook van Brittanje – om van al die voor die hand liggende name soos Andrew Lloyd Webber nie te praat nie.

Met die intrapslag in die Kunstekaap word elke lid van die gehoor getransporteer na die Operahuis in Parys – die kandelaar hang swierig in die dak. Wanneer die dramatiese orrelmusiek begin speel en die ligte flikker soos die fantoom sy eerste vloek oor die konsertsaal uitspreek, wrewelrig dat dit nie Christine is wat sing nie, is mens verplaas na ’n ander dimensie. In hierdie sfeer is alles blinker en harder en luidrugtiger as in die werklike lewe.

Daar is ’n oordadig-groot olifant op die verhoog, daar is populêre deuntjies, rook en spieëls, die drywende boot geluidloos in die mis, trappe se silhoeët wat in die lug kantel, geweerskote en vuurvonke wat onverwags op die verhoog ontvlam. Sodanig is die spesiale effekte dat selfs ’n gesofistikeerde gehoor, wat televisie se oëverblindery gewoon is, wip van die skrik vir onverwagse spesiale effekte. En die skone stem wat gedring word om hoër en hoër te sing soos wat Christine onder die fantoom se invloed/mag kom ...

Daar is nie ’n ander beskrywende woord hiervoor nie: Phantom of the Opera is ’n onbeskaamde skouspel.

Die woord "skouspel" laat mens ewe sinies voel as baie beskrywende woorde soos "jaw-dropping". Te veel verwagting wat geskep word, kan net teleurstel. “Skouspel” se assosiasie is ’n mankoliekige verhoog tussen die strooibale van ’n kunstefees, met ’n skril-fluitende mikrofoon tussendeur. Met hierdie ingeboude subteks sit die hele gehoor, wat elk die teks van die program in hul hand vashou. En binne die program is daar advertensies wat dui op ’n ander blok aan die Phantom se been.

As die storie jou geïnspireer het, sien jy in die program als wat jy kan aankoop om die aand te onthou: T-hemde, sleutelhouers, bekers, CD's, pette, hangertjies. Die produksie is nie iets wat in ’n kerksaal opgevoer word nie; dis nie eens iets wat "normaalweg" in ’n Suid-Afrikaanse teater ’n plek vind nie. Phantom of the Opera is ’n industrie.

Boonop het hierdie betrokke Kaapse weergawe van die Phantom ’n klein bietjie geskiedenis, vooraf, gemaak. Amper-amper het die spook van die operahuis amok in Kaapstad se teater aangerig. Eers moes ons hoor die vloer is nie droog nie en die eerste kleedrepetisie was waarlik net ’n kleedrepetisie, met niemand van die akteurs wat op die verhoog mog beweeg het nie. Toe is André Schwartz se stem weg. Die gemaskerde gedaante van ’n kroonprins van die skouspel, die hoofsanger.

Die Skouspel, die Industrie, had probleme vir Afrika.

Maar laat ek berig, tot my eie verbasing: die Phantom het my daardie aand getoor. Jonathan Roxmouth het volwaardig die skoene van die spook volgestaan. Tussen hom en Magdalene Minnaar, wat Christine op die aand wat ek daar was, vertolk het, was my siniese oor oortuig. Die passasie waar die fantoom vir Christine hoër en hoër laat sing, was onvergeetlik genoeg dat ek dit dae later nog kan hóór.

Terwyl ek Christine sit en beluister het, was daar skielik so baie vrae wat ek haar wou vra, asof die aktrise die regte mens is: "Wat voel jy vir die fantoom? Is dit liefde, afsku – of ’n wederkerige obsessie? Beleef jy ’n Stockholm-kompleks, is jy heimlik innig verlief op hierdie donker wese?"

Dit was toe moeilik om my persoonlike afstand en objektiwiteit te behou. Toe die res van die gehoor op hul voete spring en hul hande teen mekaar slaan – so ’n oergebruik! – steier ek sommer so saam-saam, in die bondel, orent.

Want dis die eienaardige ding. Mens sit nie net met jou intellek en jou kop daar en probeer uitpluis hoe om hierdie blink gedoente te resenseer nie. Wat maak dit tog saak as dit ’n skouspel is, ’n industrie, ’n skreeuharde gedoente. Ek was meegesleur.

As jy Phantom of the Opera wil gaan kyk hierdie Kersfees, net dít: jy moet weet waarvoor jy jou inlaat. As mens McDonald’s toe gaan, wil jy tog iets hê wat generies is. Dit moet soos McDonald’s proe, van die plat broodjie, tot die manier waarop die agurkies geposisioneer is. Dis hoekom jy in die eerste plek in die vetterige ry gaan staan het. Moenie Phantom of the Opera toe gaan en iets gans anders gaan verwag nie.

En agterna, as jy die hele spulletjie wil afmaak as ’n goedkoop hamburgertjie en al wat jy hoef te doen is om die tamatiesous van jou mou af te vee, gaan jy, net dalk, verkeerd bewys word. The Phantom of the Opera sal, op al die tye wat jy dit die minste verwag, in jou onbewuste kom spook.