Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Film > Rubrieke | Columns > André Crous: Nabyskoot

In a Better World lig nuwe gesprekspunte uit


André Crous - 2011-12-06

In a Better World
Oorspronlike titel:
Hævnen
Regisseur: Susanne Bier
Kamerawerk: Morten Søborg
Rolverdeling: William Jøhnk Nielsen, Mikael Persbrandt, Markus Rygaard, Ulrich Thomsen
Looptyd: 110 minute

Uitreikingsdatum in Suid-Afrika: 25 November 2011



 

Die Deense regisseur Susanne Bier was in 2007 aan die stuur van ’n formidabele film genaamd After the Wedding. Ongelukkig, soos so dikwels gebeur, is die film nooit in Suid-Afrika uitgereik nie, wat dalk juis bewys hoe goed die film was. Dis moeilik vir die verspreiders om sulke films raak te sien terwyl monstrositeite soos Transformers en Spider-Man 3 ons mark vanuit Hollywood binneval. After the Wedding was my gunstelingfilm van 2007, en met Bier se jongste produksie, In a Better World, slaag sy weer eens daarin, met duidelike begrip van menslike emosies en met behulp van ’n sterk storielyn, om ons aandag te hou en ons te ontroer.

Die film open in ’n afgeleë kamp iewers in Afrika, waar Anton (Mikael Persbrandt), ’n Sweedse dokter, sy bes doen om die mense van die omgewing te help. Van tyd tot tyd word vroue na hom gebring met ’n groot meswond in die buik en hy verneem dat ’n plaaslike vent met die bynaam Big Man ’n weddenskap met sy vriende aangaan om te raai wat die geslag van ’n baba gaan wees. Indien ’n vrou swanger is, dan sny hy of een van sy handlangers die vrou oop om te kyk of hy die weddenskap wen of nie.

Dit is ’n erg sadistiese man hierdie, en dit is natuurlik wat diep in ons vasteland aangaan. Ek het ’n paar jaar gelede verneem van ’n man wat werk gedoen het in die suide van Soedan en vertel het hoe ’n plaaslike leier, wat meestal dronk was, babas verkrag het vir die pret. Niemand kon enigiets aan hom doen nie, want hy het die mag en die wapens gehad. Hierdie Suid-Afrikaner het dus besluit om die man te “vergoed” vir sy leiding in die gemeenskap en hom gepeper met die sterkste alkohol moontlik – kiste daarvan. Binne ’n paar maande het die monster homself doodgesuip en van alkoholvergiftiging gesterf.



Hoewel die besonderhede verskil, is dit die tipe situasie waarteen Anton te staan kom. Intussen, in Denemarke, word sy eie seun, Elias, vreeslik geboelie by die skool deur ’n skoolseun wat op een of ander manier die posisie van amptelike boelie ingeneem het en dus ondersteun word deur ’n paar skoolkinders wat glo hulle sal, danksy hul ondersteuning, nie deur die einste boelie gesteur word nie. Die onderwysers het ook hul hande in die hare en vind dit makliker om Elias se ouers, wie se huwelik op die rotse is, te blameer vir hul seun se afgesonderde houding, eerder as om die boelie te konfronteer.

Dit is ’n nuwe seun, Christian (William Jøhnk Nielsen), wat erge woede in hom dra na sy ma se onlangse dood, wat by die skool aankom en die onreg sien wat teenoor Elias gepleeg word. Christian het ’n volwassenheid van optrede wat seldsaam in iemand wat so jonk is, en hoewel hy gemartel word deur jeug en sy eie demone, neem hy die leiding en help Elias. ’n Vriendskap ontwikkel, maar Christian is duidelik nog nie klaar met wraak nie, en ons begin agterkom dat die mense op wie hy sy wraak wil uitoefen – hoewel hulle almal weliswaar reggesien behoort te word – eintlik net plaasvervangers is vir die eintlike rouproses waardeur hy moet gaan. Die film se Deense titel, Hævnen, beteken “wraak”.



Die tema van boelies is ’n baie nodige een om aan te spreek en saam met hierdie film wil ek ook graag aanbeveel dat lesers die 2007 Estlandse film Klass (Class) in die hande kry, wat meer spesifiek handel oor ’n erg realistiese en insiggewende hoërskoolkultuur van boelies. Die onderwerp is kompleks en Bier kwyt haar baie goed van haar taak om ons bewus te maak van die verreikende gevolge van aksies.

Die film suggereer net dat Christian dalk self die rol van boelie kan inneem, sonder om te veel op die punt te hamer, en dit is ’n uiters goeie besluit, want die film kon maklik verval het in ’n simplistiese lewensles van goed en sleg wat mekaar konfronteer met eenvoudige resultate. Die karakters is so ryk soos die kleure van die film – kameraman Morten Søborg laat werklik die landskap lewe, en vul die menslike storie ook met nabyskote van insekte of klippies.

In a Better World is ’n uitsonderlike film oor ’n onderwerp wat tot dusver nog nie genoeg aangespreek is nie en lig ’n hele aantal nuwe gesprekspunte uit. Dit is ’n film om te sien en om oor na te dink.