Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > SeminaarKamer | Seminar Room > Afrikaans > Miniseminare

12 gender (3)


Joan Hambidge - 2011-12-05

Untitled Document

My pa

My pa
wou ons Sondae treat
met ’n ete in die Masonic
of in oom Boetie Michaels se hotel,
ja, daardie hotel wat in die vloed bly staan het
toe sy ma op die boonste verdieping toekyk vanuit die Ark
en die off-sales besteel word en die Vaalrivier oor sy walle stroom.
Ek onthou die spyskaart van daardie Sondae:
Tamatie- of roomsop, vis en spaarsgekerfde lamsboud
en doodgekookte groente. Met roomys of dadelpoeding en vla …
En my pa wat smak aan ’n groen Grünberger Stein
Ek skryf hierdie vers in ’n Italiaanse restaurant
met ’n eksotiese plakkaat van Venesië teen die muur:
hier kan jy jou eie menu saamstel:
Gnocchi of Capeletti, dalk Lam Tortellini
asof in ’n vreemde land, daardie plek met sy water
en gondolas en water-taxi’s …
Hy het my nie alleen die vreugdes van uiteet
geleer nie, my pa, nee, hy het my verál wysgemaak:
die lewe is ’n spyskaart,
een wat jý saamstel
met ’n onbetaalbare rekening.

Gender is ’n konstruksie. En ek reageer in my hoedanigheid as digter met ’n gedig wat heet: “My pa”. My vader is aanwesig regdeur my digkuns. ’n Hele bundel word aan hom gewy: Dad (2006). Eers as opstandige jongeling, later aanvaardend. Hoekom praat ’n mens met jou pa? Jou pa (nom-du-père, aldus Lacan) is die identiteit en opstand teen vaderfigure of gesagsfigure is dikwels ten nouste gekoppel aan ’n onopgeloste konflik met die werklike vader. Jy is ’n mens deur ander mense. Maar jy is uiteindelik net volledig mens as jy die naam van jou vader aanvaar en vrede maak met die vader (Vader). Waarskynlik dra ouers geweld oor op hul kinders (in woorde, in stiltes, met fisieke geweld) omdat hulle verwond is deur hul ouers. Of vader. Dus beleef ons in hierdie samelewing geweld teen vroue (deur mans), geweld teen kinders wat gekoppel is aan stem-loosheid wat Alice Miller so skerpsinnig uitwys in haar studie The Drama of the Gifted Child (1979). Feminismes het geweldig baie vermag om die magsbasis van die patriargie te ondermyn en kritiseer. Wat moet ’n mens in die plek stel hiervan? ’n Ewewig tussen patriargie en matriargie en ’n aktiewe bewus-wees om nie die verwonding van jou eie ervaring aan jou kinders of studente oor te dra nie. Of eerder weg te stap van verhoudinge wat die verwondings bly intensiveer.

Solank as wat die balans tussen die manlike en vroulike nie gevind word nie, en wedersydse erkenning gegee word aan ’n én ... én-posisie eerder as ’n óf ... óf-een, sal mense (onbewustelik) ’n magsposisie toe-eien of ’n ander een verminder. Gender-posisies, en hiermee inbegrepe, magsposisies, verander voortdurend. Die lewe is ’n spyskaart met vele keuses. Dikwels (vir sommige mense, altyd) is die rekening onbetaalbaar, onvereffenbaar.

As ’n mens egter deur ’n gedig, essay of enige bydrae mense kan bewus maak van die menslike kondisie se sielkundige én fisieke geweld, het jy iets vermag.

Die aanvaarding van jou eie unieke geskiedenis en die narratief van jou lewe kan jou beskerm teen emosionele geweld, skryf Alice Miller.

Ek moes ver reis, vreemde landskappe besoek om by hierdie waarheid uit te kom.
En nou kan die Ark se deur oopgaan, want die vloed is verby.



Alice Miller Revisited

VWL

Die dag treur in goue akkerblare,
tot in die kelders van onthou.
Die troostelose dag draai en draai
soos ’n lendelam, geroeste windpomp.
Laat alles val wat seermaak of verbrou,
ook die stamelinge van so ’n omdraai.
Die woedes, verliese, afwysings,
en Godweet, dít wat roep om verswyging.
O gode van my jeug: Camus en Sartre,
deur Boeddha terúg tot by daardie Iets.
Wis elke afdraaipad of misverstand uit.
Die dag treur in goue akkerblare,
immer in die kelders van vergeet.

(Lot se vrou verskyn volgende jaar by Human & Rousseau.)

Joan Hambidge



Jane Gallop. 1982. The Daughter's Seduction - Feminism and Psychoanalysis. Ithaca: Cornell University Press.

Marjorie Garber. 2000. Bisexuality and the Eroticism of Everyday Life. New York: Routledge.

Julie Mitchell. 1975. Psychoanalysis and Feminism. Londen: Penguin.