Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Taal | Language > Nederlands | Dutch > Rubriek: Refleksies

Blou Lyn-projek dupe in Durban


Carina van der Walt - 2011-12-02

Met die bekendstelling van Sculpting the Earth ontmoet ek weer Strijdom van der Merwe die afgelope September in Stellenbosch. Vandat hy tydens die kunstefees Oerel 2009 op die Nederlandse eiland Terschelling sy landskapskuns vertoon het, volg ek sy internasionale loopbaan. Hy was borrelend entoesiasties oor sy Blou Lyn-projek. Hierdie projek het hy vir Kaapstad beplan met die oog op die komende internasionale konferensie oor klimaatsverandering (COP 17). Die konsep van die projek was eenvoudig en glashelder. Maar ’n konsep is iets wat gekaap kan word. Dit ontdek ek op die voorblad van Trouw van 28 November in Nederland.

Voorblad van die Trouw in Nederland op 28 November

Die Blou Lyn-projek moes die potensiële katastrofe van klimaatsverandering uitbeeld. As die temperatuur wêreldwyd met meer as 2ºC styg, sal die kuslyn bedreig word. ’n Styging van met minstens een meter in die seevlak sal baie eiendomme en vakansie-oorde laat oorstroom. In die kontemporêre kunswêreld is ’n sterk konsep van die uiterste belang. Dit kan die finale kunswerk maak of breek. Aan Kamcilla Pillay sê Van der Merwe: “Every drawing begins with a line so, as basic as it may seem I felt like this was my contribution to bringing attention to the impacts of global warming” (Daily News, 22 November).

Van der Merwe se konsep was om ’n blou lyn deur die stad te verf op presies die hoogte waar die see ná ’n een-meter-styging sou aanspoel. Ek skat die lyn moes so ongeveer ’n meter breed wees, want al die BBP’s en die verteenwoordigers van die internasionale belangegroepe by COP 17 moes op die lyn gaan loop.

In ’n e-pos-wisseling tussen my en Strijdom vertel hy later dat die projek Durban toe moet skuif, omdat COP 17 daar gehou sal word. Logies. Die lyn moes dus verskuif na ’n strook tussen Ushaka Marine World en die Suncoast Casino, ook bekend as die Golden Mile.

Op daardie stadium het Van der Merwe nog nie geweet dat sy weldeurdagte kunsprojek in ’n politieke kopstampery gaan ontaard nie. Die probleem het gelê by die omstrede stadsbestuurder van Durban, Mike Sutcliffe. Volgens Van der Merwe is hy daarvan beskuldig dat hy nie omgee vir die armoede in die land nie; dat die lyn bruin geverf moet word en dat die blou kleur van die voorgestelde lyn Sutcliffe herinner aan die DA. Sutcliffe ontken dit egter teenoor Pillay: “I don’t know where this DA thing came from” (Daily News, 22 November).

Kuns in die strate van Berlyn op 6 Mei 2010

Daarteenoor haal Odette Geldenhuys (filmmaker en menseregte-prokureur) Sutcliffe aan na hulle ontmoeting op 21 Oktober: “The line must be brown. Climate change is not nice. Brown is the colour of excrement ... Brown is a very good colour. Its lack of visibility is saying to people, ‘climate change is going to creep up upon you without you seeing it’” (Natal Mercury, 30 November). Geldenhuys verbind Sutcliffe se gevoeligheid vir blou aan sy persoonlike nederlaag in 2008 toe die Blou Vlag-status vir skoon strande teruggetrek is.

Benewens die kleur van die lyn het Sutcliffe Van der Merwe se voorlegging ook afgeskiet as ’n “boring European project” (Natal Mercury, 30 November). Sy onkunde oor Van der Merwe as Suid-Afrikaanse kunstenaar skree ten hemele. Miskien is die allure van die projek wél internasionaal, want Van der Merwe werk lankal nie meer net in Suid-Afrika nie, maar regoor die wêreld. Verder getuig Sutcliffe se houding van ’n gevaarlike konserwatiewe behoudendheid, waarin slegs plek is vir bekende dinge. Van der Merwe se projek was nie herkenbaar Suid-Afrikaans genoeg nie.

Sutcliffe verwys na padveiligheidsredes vir sy afkeuring. Hiermee onderskat Sutcliffe die intelligensie van die gemiddelde padgebruiker.

Anne Roselt van Plascon het Van der Merwe ook laat weet dat dit ’n pragtige projek is, maar “Our paint is made to last!”.

Kunstenaars met ’n waterbasisverf in die verkeer is eintlik nie so vreemd nie. Om maar een voorbeeld te noem: verlede jaar het die kunsprojek Art Attack op Rosenthaler Platz in Berlyn die verkeer opgevrolik.

Die uitvoerders in Durban het egter met ’n enorme probleem gesit, want dát die BBP’s die lyn op die opening die afgelope Sondag moes loop, was ’n uitgemaakte saak. Geen lyn mag egter geverf word nie. Watter kleur moes dit word? Op hierdie stadium het Van der Merwe al onttrek. Hy het sy konsep oorhandig aan Jenny Cargill en andere en “they did have my blessing,” skryf hy in sy e-pos op 28 November. Self het hy nie die opening bygewoon nie. Hy kon maar net hoop en bid dat die projek só aangepak sou word dat hy dit later weer met ’n ander geleentheid op ’n ander plek kan uitvoer.

KwaZulu-Natal premier Zweli Mkhize (in blou) langs Suid-Afrika se adjunk-president Kgalema Motlanthe regs en die Minister van Omgewingsake, Edna Molewa loop saam met die lyn by COP 17 in Durban.

Foto: Wanda Hennig

Noudat die Blou Lyn-projek enkele ure na die opening van COP 17 in Durban en maande na ons gesprek met ’n eerste oogopslag in Nederland geïdentifiseer is, besef ek dat Van der Merwe se hoop verydel is. Sutcliffe het in sy magsposisie sonder die nodige kennis van sake die intellektuele eiendom van een van ons grootste kontemporêre kunstenaars geannekseer.

Gelukkig steur Van der Merwe hom nie sigbaar aan hierdie kortsigtigheid nie. Hy fokus alweer op sy volgende projek. Saam met Greenpeace samel hy 20 000 handtekeninge in om die regering bewus te maak van son- en windkrag. Die name sal op bamboes gegraveer word en opgehang word sodat die wind daardeur kan speel.

Lees ook ’n onderhoud met Strjdom van der Merwe hier.

Lees Lesley Perkes se standpunt “Notes on the making of ‘In Durban, all roads lead to ...’” hier.