Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Visueel | Visual > Artikels | Articles

Diane Victor herrangskik die landskap van emosie: Kuns as beswering van ’n samelewing se disfunksionaliteit


Amanda Botha - 2011-12-01

Diane Victor herrangskik die landskap van emosie: Kuns as beswering van ’n samelewing se disfunksionaliteit

Diane Victor het haar gevestig as ’n hooffiguur in die Suid-Afrikaanse en internasionale kunsgemeenskap. Haar werk lewer kommentaar op die vlietende Suid-Afrikaanse sosiopolitieke landskap. In hierdie reeks, Disasters of Peace, gee sy ook ’n kopknik na haar historiese voorgangers. Hierin toon sy haar veelsydigheid van uitdrukking, nie net deur die skep van veelvuldige betekenislae in haar werk nie, maar ook deur die rykheid van haar verbeelding en die krag van haar persoonlike narratief. Die werk in die reeks Disasters of Peace, wat Amanda Botha hier bespreek, is opgeneem in die Sanlam Kunsversameling.

Diane Victor het haar gevestig as ’n hooffiguur in die Suid-Afrikaanse en internasionale kunsgemeenskap. Sy is ’n meester in teken- en drukwerk. Haar tegniese vaardigheid en kompulsiewe liniêre besonderhede is sterk onderskeidende kenmerke van haar kunstenaarskap. Haar werk lewer kommentaar – meestal bytend en skerp – op die vlietende Suid-Afrikaanse sosiopolitieke landskap. Haar stewige en bestendige werk oor meer as twee dekades maak haar een van Suid-Afrika se belangrikste eietydse kunstenaars.

Die verskillende betekenislae van Diane Victor se werk is gelaai met globale historiese en mitologiese verwysings. Deur haar onderwerp, sowel as die medium waarin sy werk, bevraagteken sy waarde- en geloofstelsels, alles wat vastigheid sou kon bied. Temas wat in haar werk verteenwoordig word, is die sosiopolitieke kompleksiteit van Suid-Afrika, wat dikwels uitdrukking vind in geweld, rasse-angs en seksuele onderdrukking. Deur tematiese en tegniese vaardigheid skep sy kragtige idees wat die kyker konfronteer en tot nadenke wil dwing. As kunstenaar is sy vreesloos. Sy skerm nie weg van omstrede of taboe onderwerpe nie. Met kompromislose direktheid lê sy die sielkundige landskap bloot. In haar werk is daar nie ruimte vir die konvensionele gemaksones van die alledaagse nie. Dikwels is haar werk makabere tekeninge van fisieke, seksuele en psigologiese geweld. Ikonografiese motiewe word losgemaak in ’n spel van ironie, parodie, innuendo en ontheemding.

Victor het ’n intense idiosinkratiese persoonlikheid. In ’n onderhoud het sy haar belangstelling in die skep van beelde verbind met haar posisie as waarnemer van die lewe, dus ook as voyeur. Deur die medium van teken- en drukwerk verken sy verskillende wyses om “die massas beelde wat in my geheue en geestesoog opbou, te besweer”. Dit doen sy deur hierdie beelde en materiaal in haar ateljee te ondersoek en op haar terme en terrein te herkonfronteer. Die fisiese en psigologiese interaksie tussen mense en die skade wat hierdie spel aanrig, is wat haar interesseer.

Die oppervlak van die menslike liggaam word in haar hande ’n instrument waarmee sy die geskiedenis van eie optrede karteer en die effek van eksterne faktore daarop ondersoek. Vir haar is “vlees die dokument van begeertes en swakhede”. Dit word die mitologiese sfeer van haar skeppende werk.

Victor se werk is nie “maklik” nie. In die verwikkelde spel van tegniek en idees dwing sy die kyker om na te dink en te heroorweeg. Die grense van burgerlike gemaksones word direk gekonfronteer, nie as spel nie, maar omdat sy grensverskuiwend werk en dink. Haar werk behels nie net die kartering van ’n landskap nie, maar vereis ’n binnereis . In die woorde van die kunskritikus Johan Myburg “herrangskik” Victor “die landskap van die emosie”.

Volgens die kunshistorikus Elizabeth Rankin, wat ook ’n dosent in die Universiteit van die Witwatersrand se kunsskool was toe Victor in 1986 daar gegradueer het, het Victor “deur versuim” (“by default”) ’n grafiese kunstenaar geword. By Wits was die studiekeuse tussen verfwerk, beeldhou en drukwerk. Victor “thinks in line” en die etsnaald het haar in staat gestel tot verwikkelde liniêre besonderhede, wat met verloop ’n waarmerk van haar kunswerk geword het.

Sy het onder Giuseppe Cattaneo, self ’n gerekende etsmeester, studeer. Die etsproses is stadig en uitdagend. Dit benodig opvolgende stadia van werk om die verskillende beelde op die etsplaat bloot te lê. Die etsmedium vereis eindelose intensiewe tekeninge en obsessiewe lae van besonderhede wat noukeurig op die etsplaat aangebring moet word. Dit blyk Victor se temperament en werkmetode te pas.

As meester van haar tegniek is sy oop vir eksperimentering en soek sy steeds na tegniektoepassings om vernuwend met die medium om te gaan. Sy het vroeg reeds die aanvaarde kleinskaalse intimiteit van die ets verwerp en die skaal van haar werk vergroot en verbreed deur kleiner etsplate te kombineer. Só kon veelvuldige komposisies oor ’n aantal velle papier strek tot drieluik- en vierpaneel-werke. Ander vernuwings was die byvoeging van kleur, bosselering van die oppervlak van papier, die verbinding van litografieë en houtskooltekeninge, en haar ontwikkeling van akwatint waarmee sy verskillende kontraste van kompakte swart ink kon druk sonder om ooit die boeiende besonderhede van haar werk in te boet.

In die jongste tyd werk sy vindingryk met rookwerke – portrette wat in ’n oogwink uitgewis kan word. Dit word gemaak van rook en houtskoolstof wat op velle papier gestrooi word.

Deur fyn waarneming en besonderhede te inkorporeer skep Victor ’n persoonlike taal van realisme en naturalisme. Die herkenbare beelde word dikwels tot ekspressiewe uiterstes gevoer wat soms selfs aan die karikatuuragtige kan grens. Haar figure vertolk ikonografieë wat op historiese gegewens terugval, maar waaraan sy ’n persoonlike kinkel gee, terwyl die mitologiese verwysings dikwels uit die kunstenaar se persoonlike lewe gehaal word. Mense wat sy ken en insidente uit haar eie lewenservaring word die grondstof van haar visuele vertolkings.

Victor, wat in 1964 in Witbank gebore is, het as finalejaar-kunsstudent aan Wits ’n reisbeurs in 1986 gewen om haar eerste buitelandse besoek na Rome te onderneem. In 1988 meld sy haar teenwoordigheid op die Suid-Afrikaanse kunstoneel aan as die wenner van die Volkskas (nou ABSA) Atelier Toekenning met ’n groot houtskooltekening, "The Problem With Being God These Days". Haar verblyf in Parys by die Cité International (as deel van haar prys) was van kritieke belang in die ontwikkeling van haar kunstenaarskap. Nie net was daar die blootstelling aan die werk van ander teken- en drukwerkkunstenaars nie, maar sy kon ook in professionele ateljees te werk waar sy met nuwe tegnieke kon eksperimenteer.

In haar ouer etswerk is Victor, die puntenerige kunstenaar, manjifiek aan die werk. Sy maak gebruik van ál die opsies wat die medium bied om gekontroleerd te werk. Dit is die werke waarin sy, in haar eie woorde, “everything and the kitchen sink” inkorporeer. Uit dié jare dateer ’n werk soos "Adoration of St Eugene" (ets en akwatint) met die AWB-leier Eugène Terre’Blanche as hooffiguur, en in die middel-negentigs lewer sy skerp kommentaar in ’n drieluik, "Going to the Dogs", wat die Suid-Afrikaanse leefwyses as tema het.

Die reeks "Disasters of Peace", waaraan Victor sedert 2000 werk, is ’n voortgaande projek. In die Sanlam Kunsversameling is ses uitstaande voorbeelde wat die satire uitbeeld wat Victor se artistieke en vakkundige vermoë meesterlik toon. In die reeks lewer sy kommentaar in gedetailleerde etse op die rampe van die gemeenskap – hier in besonder die wisselwerking tussen goed en kwaad in “vredestyd”. Werke in die reeks het opslae gemaak – iets waarvoor sy nie teruggedeins het nie.

In die Disasters of Peace-reeks, waarvan die eerste sestien afdrukke in ’n beperkte oplaag as kunstenaarsboek in 2003 verskyn het, het Victor na konvensionele etsprosesse teruggekeer en het sy in beskeie afmetinge (22 x 29 cm) gewerk. Vir haar is die reeks ’n geleentheid om ontstellende beelde uit die daaglikse lewe, wat in haar gedagtes plaas neem, op papier te plaas. Elke afdruk in die reeks is gebaseer op werklike gebeure. Ontstellend vir haar is dat die vergrype nie altyd in die media die aandag ontvang het wat dit verdien het om die gedrag volledig te ontbloot nie. Haar indruk was dat die tragiese voorkoms van sulke gedrag kan meebring dat mense liefs nie daaroor wil dink nie.

Die reeks is krities oor sosiale kwessies soos korrupsie in die openbare domein en oortredinge in die private lewe. Victor het die oortuiging dat ’n staat van oorlog nie nodig is om sulke wreedhede te pleeg nie. In ’n tyd van “vrede” kan die afskuwelikhede, wat sy met die werk skerp veroordeel, net so erg – en selfs erger – wees. Die onderwerpe word piëteitloos met swart humor hanteer in die tradisie van die satiriese afdrukke van Hogarth, Daumier en Goya. Goya se Disasters of War was ’n vertrekpunt vir haar.

Toe Victor vir die eerste keer hierdie werk by die regsfakulteit van die Universiteit van Pretoria uitgestal het, het dit so ’n ophef veroorsaak dat sy die werk elders moes hang en twee daarvan onttrek moes word. Die debat hieroor is opgeneem in ’n spesiale publikasie wat daarvoor geskep is. PULP Fictions 1 is in November 2005 deur die regsfakulteit uitgegee.

Ons kyk nou spesifiek na voorbeelde van die reeks in die Sanlam-kunsversameling.

"Disaster 2: Why Defy", etsstuk, 2000, 21 x 28 cm

"Why Defy" is ’n verwysing na ’n aaklige bendeverkragting waar die slagoffer se gesig deur ’n warm strykyster vermink is. Die titel is ’n vernuftige woordspeling in rym wat met die titel Die strykyster  deel kon uitgemaak het van ’n gevatte advertensieveldtog. Die verwysing, wat as ’n siek grap beskou kan word, word ’n nuttige afleiding om die aakligheid van wat gebeur het, in perspektief te sien. Die werk word ’n kommentaar op die walglike verkragting op vlees en gees.

"Disaster 3: In Sheep's Clothing", etsstuk, 2000, 21 x 28 cm

"In Sheep’s Clothing" handel oor die seksuele misbruik van kinders. Hier word gesinspeel op die kind wat enersyds “pappa se liefling” is en die reël “One for the master” uit die kinderrympie “Baa Baa Black Sheep”, terwyl daar in die agtergrond ’n wolf wat herinner aan die sprokie Rooikappie, die onskuldige kind verlei. Die kinderkamer, toneel van die misbruik (en misdaad), word treffend voorgestel met die pantoffels voor die bed en speelgoed wat onder die beddeken uitsteek. Op die voorgrond is ’n gehurkte man wie se gesig verberg word tussen die bene van die dogtertjie, ’n “lam-kind” wat nie weerstand kan bied nie. Die resultaat is ’n ontstellende beeld wat die seksuele misbruik van onskuld blootlê.

"Disaster 1: Blind Justice", etsstuk, 2000, 21 x 28 cm

In "Blind Justice" word die onthutsende beeld geskep waar die regter met ’n sak oor die kop uitspraak lewer. Die groep mense, wat dui op ’n jurie (die breër publiek), maak hulle sonder teenspraak aandadig aan die oordeel. Die allegoriese gehoringde swewende beeld op die agtergrond verteenwoordig die verkragting van die regspraak.

"Disaster 20: Mad Bob", geen datum, 21 x 28 cm

"Mad Bob" is direkte kommentaar op die Zimbabwe-krisis, waar ’n land in puin kan lê en produktiwiteit opgeskort word om aan die waansinnige vashou aan mag van ’n diktator onderhewig te wees. Soos in Rome, waar die vioolspeler speel terwyl die stad brand, is die vioolspeler dalk hier ’n verwysing na die “stille diplomasie” van Mbeki. Die bejaarde Mugabe word weer kind(s) en tokkel op sy babatrommetjie. Links is ’n beeld van die verdwaasde Zimbabwiese boer wat sonder toevlug die skade aanskou.

"Disaster 17: An Easy Wind-Up", etsstuk, geen datum, 21 x 28 cm

"An Easy Wind-Up" is Victor se bytende satiriese kommentaar op geweld en die verontmensliking daarvan. Die hooffiguur (links) stel mag voor wat aangeskakel kan word soos hy daarvoor “opgewen” word. Hierdie wellus van mag eis slagoffers wat nie teenstand kan bied nie. Die toneel wat ’n hospitaalsaal voorstel, dui ook op die ontoereikendheid van die hospitalisasie of die gesondheidsisteem in die algemeen. Onder die hospitaalbed lê pasiënte in afwagting van mediese aandag – sommige dalk reeds sterwend. Die weerloses in die samelewing word die prooi van dié walglike magsvertoon.

 

"Disaster 18: Witch Hunt", etsstuk, geen datum, 21 x 28 cm

Die magteloosheid van die vrou, uitgelewer aan politieke, kulturele en sosiale magte, word in "Witch Hunt" verken. Op die vloer lê die vroue wat reeds geval het – slagoffers van seksuele en geweldsdade. Die patriargale veroordeling word deur die bok verteenwoordig. Hande met klippe gereed om die vrou te stenig wys in die middelste hand dat die netjies-geronde klip met sy kruisteken ook sou wou aandui dat die kerk hier skynheilig meedoen deur ondiskreet ook die vrou as heks te veroordeel.

In hierdie reeks, Disasters of Peace, erken Victor die potensiaal van die tradisionele etsmedium en gee sy ook ’n kopknik na haar historiese voorgangers. Hierin toon sy haar veelsydigheid van uitdrukking, nie net deur die skep van veelvuldige betekenislae in haar werk nie, maar ook deur die krag en rykheid van haar verbeelding en die krag van haar persoonlike narratief. Sy staan in hierdie opsig in die voorste ry van kunstenaars wat ongenadiglik op heersende politieke en sosiale kwessies kommentaar lewer, soos haar meer moderne voorgangers Egon Schiele, George Grosz, Käthe Kollwitz, Hans Hadike, Max Bechmann en Otto Dax. Kunstenaars wat, soos Victor, in disfunksionele samelewings sin moet maak.


Bronnelys

Atkinson, Brenda. 2001. Clear: An Exhibition of Diane Victor’s satuarade contemporary art. Artthrob, November.
Myburg, Johan. 2008. Stil oomblik tussen stof en rook. Die Burger, 4 Oktober.
O’Toole, Sean. 2003. Diane Victor – an artist in the public eye. Artthrobe, Februarie.
Rankin, Elizabeth en Karen von Veh. 2008. Diane Victor, Taxa-013. David Krut Publishing, Johannesburg.
Roper, Chris. 1998. Each to his/her own. Mail & Guardian, 8 Mei.
Van Rensburg, Herlo. 1995. An interview with Diane Victor. Image and Text. Nr 5, Augustus.
—. 1996. Purging in the work of Diane Victor: Contradiction and Convergence www.up.ac.za/academic/art/gallery.html. Junie.