Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Film > Rubrieke | Columns > André Crous: Nabyskoot

Outside the Law: Een van die beste films van die jaar


André Crous - 2011-12-01

Oorspronlike titel: Hors la loi
Regisseur: Rachid Bouchareb
Kamerawerk: Christophe Beaucarne
Rolverdeling: Jamel Debbouze, Sami Bouajila, Roschdy Zem
Looptyd: 135 minute

Uitreikingsdatum in Suid-Afrika:
18 November 2011

 

 

Die oploop tot die onafhanklikheid van Algerië, te midde van erge onderdrukking deur die koloniale magte van die Franse regering, word op dikwels skokkende wyse uitgebeeld in hierdie majestueuse film wat draai om die betrokkenheid van drie broers in die weerstandsbeweging.

Frankryk het, nes die Verenigde Koninkryk, eers teen die 1960’s daaraan begin dink om sy kolonies prys te gee en die oorspronklike inwoners hul regte te gee. Dit was nie ’n kwessie van genade nie, maar eerder omdat hierdie groot moondhede met hul rug teen die muur gestaan het. Indië en Pakistan, en later Bangladesj, is reeds kort na die Tweede Wêreldoorlog die keuse gegee om van die Britse Rykdom weg te breek, maar dit was omdat hulle ’n groot leier in die vorm van Mahatma Gandhi gehad het. In Afrika was dinge nie heeltemal dieselfde nie.

Outside the Law begin en eindig met tonele van vreeslike, gewelddadige onderdukking deur die Franse weermag en polisie. Individue wat vreedsaam aan protesoptogte deelneem word op skokkende wyse aangerand, en hierdie twee gebeure het uiteindelik die Franse laat besef dat die Algeriërs te honger is vir onafhanklikheid om die stryd sommer net gewonne te gee. Hierdie tonele het werklik plaasgevind, maar hieroor word tot vandag nog geswyg in Frankyk. Michael Haneke het in sy skitterfilm Hidden in 2005 vir die eerste keer die Parys-bloedbad van 1961 eksplisiet aangeraak. Die ander groot skande het plaasgevind die dag wat Europa weer vrygemaak het na die Oorlog, 8 September 1945, toe Algeriërs in die dorp Sétief ook aangedring het op hul eie vryheid, en eenvoudig afgemaai is deur Franse regeringsmagte.


Outside the Law kyk na een Algeriese gesin – drie broers en hul ma – wat ná vreeslike pyn in hul vaderland besluit om te vlug. Die een broer, Messaoud, gaan veg in Indochina en leer hoe die mense daar dit reggekry het om die koloniale juk af te skud. Die ander broer, Abdelkader, word opgesluit in ’n tronk in Parys, waar hy dag na dag uit sy venster kan sien hoe nog een van sy Algeriese vriende onthoof word. Ja, glo dit of nie, Frankyk het die guillotine nog tot 1977 gebruik, en baie dikwels was dit Algeriërs of Tunisiërs se koppe wat gerol het.

Die derde broer, Saïd, gespeel deur die bekende Jamel Debbouze (die jong groenteverkoper in Amélie), trek saam met sy ma na ’n plakkerskamp aan die rand van Parys. Algeriërs is onderhewig aan ’n aandklokreël, hoewel ander Noord-Afrikane nie so duidelik die teikens van diskriminasie is nie. Om geld te maak raak Saïd betrokke as ’n hoerboer (“pimp”) en maak so sy geld uit die sisteem deur self mense te onderdruk. Hy gee die meisie ’n stuk brood en net ’n breukdeel van die geld wat sy self verdien deur haar lyf te verkoop.

Intussen besluit die Franse polisie dat hulle die sogenaamde terroriste, die Algeriërs wat die regering se fabrieke opblaas om hul punt te maak, sonder om ooit enigiemand te beseer, ’n les moet leer en hul taktieke is brutaal. Abdelkader speel ’n groot rol in die ontwikkeling van die weerstandsbeweging en hy is ’n vasberade man wat duidelik ’n enorme begeerte het om sy land en sy mense vry te sien. Dit is ’n begeerte wat hom ’n heldhaftige karakter maak, ’n idee wat deur die musiek in die film ondersteun word, wat in sleuteltonele effens opbou, maar nooit uitspattig raak nie.

Dit is interessant dat die plakkerskamp in die buurt van Nanterre in Parys is, want dit is hier waar die studentoptogte in 1968 begin het wat gelei het tot die verkrummeling van De Gaulle se regering.




Maar die film, wat al byna twee jaar gelede verfilm is, is baie meer as ’n historiese dokument. Dit het die onlangse “Arabiese Lente” voorgespring, en hoewel die gebeure van 2011 draai om interne politiek eerder as koloniale invloed, is die spanning en die geweld tussen regering en volk dieselfde. Daar is iets ongelooflik arrogants omtrent ’n regering wat optree asof dit die reg het om sy eie mense te onderdruk.

En natuurlik kan ’n mens in al hierdie soort films nooit anders as om te dink aan die nimmereindigende situasie in Palestina nie. Onderdrukking, marteling, die idee van een party met mag wat ’n ander, groter maar magtelose party onderdruk ... dit is alles deel van die Israel-Palestina probleem en dit is opnuut ontstellend om gebeure te sien wat jou herinner dat die wêreld sulke gebeure toelaat.

Outside the Law is ’n verstommende blik op die geskiedenis van die Algeriese beweging om onafhanklikheid vir die land te verseker deur die groot Franse ryk aan te vat. Dit is jammer dat die film teen die einde nie meer opbou tot die gebeure van 17 Oktober 1961 nie, maar die fokus op die drie broers gee die verhaal ’n menslike eerder as ’n historiese dimensie, en verseker totale betrokkenheid vanaf die kant van die kyker.

Een van die beste films van die jaar.