Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Nuwe skryfwerk | New writing > Poësie | Poetry > Afrikaans > Gepubliseerde digters

Tokio, 'n meditasie


Joan Hambidge - 2011-12-01

Tokio, ’n meditasie

’n Nokia met ’n buik gelaai vol sms’e,
’n Dell Vostro met leggers vol herinneringe
en foto’s geneem met ’n digitale kamera,
twee e-posbusse wat swel by die dag.
Ek maak my los van hierdie boodskappe,
aanmanings, registrasies. You’ve got mail!
raas die inboks in die Shiba Park-hotel.
Vroeër immer so ’n kamer gedeel of verlang
na die ander, die immer afwesige of vertrekkende.
Nou is die hotelkamer ’n lafenis, meer as ’n bed
in ’n stad sonder straatnommers, flitsende neon.
Ook die stad van tussenin-wees, ’n bardo dus.
Oosters, onbekend, maar wegwyser na die Weste.
En jy? Jy is reeds in San Francisco lesend aan Borges,
met ’n glas Merlot van Francis Coppola, wagtend
op ’n boodskap van my amper in die Pickwick Hotel.
Ek sal jou alles vertel van Tokio en hoe ’n gedig
Borges-agtig my gevange hou totdat jy dit lees.