Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Nuwe skryfwerk | New writing > Fiksie | Fiction > Afrikaans > Gepubliseerde skrywers

Op die Waagplein


Marlise Joubert - 2011-12-01

Ek het lanklaas iets van jou gehoor.

My man het melding gemaak, net terloops, van jou e-pos-brief – reeds maande terug – wat die troue van jou seun, Balt, in die klein stad Kampen langs die Ijselmeer, beskryf het. Hy sou die brief vir my wys, maar soos dikwels het hy tussen al die saketransaksies vergeet daarvan. Nie moedswillig nie. Net vergeet.

Ek het nou daarvan onthou.

Ek het ook onthou dat ek lanklaas enigiets van jou gehoor het.

Ek was die hele dag ongelukkig hieroor, oor die woord “lanklaas” en oor al my vriende wat ek nie meer sien nie. Wat ek net mooi niks van hoor nie. Eers het hulle net afwesig geraak, skaarser en skaarser; die dae tussen die gesellige kuiers of telefoonoproepe het maande geword. Die oorblyfsels van sogenaamde kontak het in virtuele ruimtes saadgeskiet, maar mettertyd het selfs dit ook soos verlepte plantjies begin omkap. In die niet verdwyn.

Jou briewe was die enigste en heel laaste konstante.

Maar nie meer nie.

Al hoe minder, en nou verkiesliker een brief af en toe aan my man, ook gerig aan my, glo. Maar ek sien dit nooit nie. Want dit rank deur sy rekenaar en nie deur myne nie. En my man vergeet om my te wys. Of om die brief uit te druk. Nie moedswillig nie. Dis nie vir hom belangrik nie. Hy kla dat jou briewe te lank is. Dat hy ook nie meer tyd het om jou te antwoord nie.

Dis vir my belangrik om gedurig te dink oor vriende. Dis soos ʼn voortbestaan, soos asemhaal. Het jy dit geweet?

Nee, jy weet dit nie.

Jy sit vooroor gebuig, verdiep in jou eie vingers wat ritmies golf oor klawers. Die vleuelklavier. Ek onthou. Ons was eenmaal daar met ʼn besoek. In die holte van ʼn groot kamer. Die gladde plankvloer, amber en blink soos lang goudstawe waar dit met die son deur die ruite gevlek word. Die boekrakke. ʼn Enkele leunstoel van leer. Met ʼn kussing daar voor vir jou voete. Dis waar ek gesit het. Kan jy onthou? En die klavier. Glimmend swart. Was dit ebbehout? Niks meer in die vertrek nie.

Daar moet baie ruimte wees, sodat die lied dit volledig kan opeis, het jy gesê.

In die tuin staan jou goedige vrou, tussen die blombeddings wat sy so knaend en vreugdevol versorg. Sy stap ligvoets oor die grasperkie tot by die visdam. Jou musiek onder jou vingers rys op, stap agterna, raak liggies aan haar skouer. Haar nek waar die silwergrys hare opgekam is.

Sy kyk om.

Ons oë ontmoet.

ʼn Paar tellings te lank.

Sy kyk dan vinnig weg, stap dieper die tuin in. Tot by die twee grasstoele langs die vyfer, waar my man op een van hulle sit, verdiep in ʼn reisgids. Ek sien die persblou vlekke van irisse wat voluit blom. Die rose flap oop in salmpienk keramiekhouers. Ek sien die twee jong boompies wat sy langs die vyfer in ʼn perfekte komposisie geplant het, oortrek met wit blaartjies. Soos witte boterhammetjies, het jy eenkeer opgemerk.

Ek het wel ʼn foto van jou ontvang. Enkele maande gelede. Net die één foto.

Jy het die foto geneem bo uit die toring van die ou Romaanse Martinikerk.

Ek is klein op die foto, maar sigbaar genoeg. Ek kyk op, die ligte wind sleep my hare na agtertoe en effens weg aan die een kant. Ek het ʼn donkerbril op. Ek lyk verbaas. My mond is effens oop. Ek is besig om oor die straat te stap, na die markplein toe. My treë is lank en doelgerig. Haastig.

Ek wou nie in die toring op nie. Te veel trappe, dit maak my moeg, was my verskoning.

Ek kyk na julle bo in die toring. Jou vrou waai met albei hande vir my, haar palms oop soos blomme. My man blaas  soene van sy lippe af. Jy staan met die kamera voor jou oë. Ek weet dat jy my afneem waar ek oor die straat stap. Agter my fiets iemand verby. En ek stap verder tussen die malende mense in.

Ek stap deur die stalletjies. Ek kyk na klere. Ek kyk na die ou verslonste tweedehandse boeke, die plate uit die jare toet. Ek kyk na helder en blinkgepoleerde vrugte. En na oorbelle. Ek eet ʼn kroket. En ʼn pakkie patat. Ek stap verby ʼn fluitspeler.

Ek gaan sit later by ʼn tafeltjie op die Waagplein. Teen die muur van ʼn gebou versamel ʼn groepie musikante. Glo Russiese musiekstudente, vertel die kelnerin my. Hulle speel tuba en trompet. Die klanke omsingel my met weemoed. Daar is ʼn skildery teen die muur geverf. Art deco-styl. Ek het onthou van jou storie oor die fresko’s van Giotto wat jy in ʼn kelder iewers in Italië gesien het. En die ligte aardbewing waarvan jy toe net betyds weggekom het. Ek kan nie alles onthou wat jy vertel het nie, en of van die fresko’s vernietig was of nie.

Ek het die Waagplein verlaat, verder gestap. Ek is toe na die Prinsenhoftuin, net skuins agter die Martinikerk. Die wandeltuin met die roostonnels en die kruidenhof. In die tuinpoort was die sonwyser met ʼn Latynse spreuk op. Ek het dit probeer verstaan. Dit was iets oor die verlede tyd wat niks is nie, en die toekoms wat onseker is, en die teenwoordige tyd wat onstandvastig is. En dat jy moet sorg dat die hede, wat eintlik jy self is, nie verlore moet gaan nie. Kortom, dat jy maar net getrou aan jouself moet bly.

En is ek dan nie?

Want ek is ʼn romantikus en ek sal dit altyd wees.

Vergewe my dus dat ek só oor jou dink. Ek dink ook so oor my man. Maar dis anders. Die romantiek word vinnig met strakker werklikhede uitgeskil, ʼn realiteit waarbinne ek soms verlore gaan, waarin ek soms lang rukke vertoef, juis omdat dit koesterend is, hoe teenstrydig dit ook al mag klink. En dan, meteens, kom die benoudheid. Die vasgevangenheid daarvan. Iets waaruit ek nie kan ontsnap nie. En ek weet ook nie of ek regtig wíl ontsnap nie. Daarom is fantasie die antwoord. Die kleur waarmee ek ver vriende teken. Verstaan jy dit? Ek wil jou nie hê soos in die verkenning van asem of enige intieme gedagtes nie. Nee, ek wil jou slegs verromantiseer. Jy moet daar wees daarvoor. Is ek selfsugtig? Ek weet nie, maar op dié manier kry ek meer balans in my lewe, ʼn wyer wisselwerking, ʼn uitkoms. Om al die inhoude, die gevoelens, die meedoënlose spoed van jare te verwerk. Die afweeg van tyd.

Hoe het dit dan gebeur dat ek vanaand so baie aan jou dink? So hartseer is?

Ek sal jou vertel. Ek het voor my rekenaar gesit. ʼn Kaartspel oopgevou. Maar ek het ingedagte na die talle foto’s teen die viltbord regs van my gekyk. Ek het na myself gekyk. Daar waar ek stap oor ʼn oker plein, die hare wat opwaai, die donkerbril, die haastige voete, die handsak wat swaai. Die Gotiese boustyle in die agtergrond. Ek het die geur van vars gebak in die lug onthou. En jy bo in die 15de-eeuse toring van die Martinikerk, waarvan die spits glo eenkeer afgebrand het, weer herbou is in die 17de eeu, veel hoër, en met die beeld van Sint Maarten op ʼn perd. Ver en hoog het jy gestaan, bokant my windverwaaide kop, met die kamera wat jou gesig verberg.

En toe het ek na ander foto’s gekyk op die bord. Na die foto van my seun. Pedro. Toe hy vier jaar oud was. Hy is onlangs getroud, het jy geweet? Net soos jou Balt van wie jy glo in jou brief vir my man – oftewel, vir ons – vertel het.

Ek het na my seuntjie gekyk. Hy is vier jaar oud. Hy sit iewers teen ʼn baksteenmuur. Hy het ʼn blou hempie aan. En rooi kruisbande. Ek het die kruisbande in Utrecht gekoop. Dit was so lank gelede – meer as ʼn kwarteeu terug. Jy het nie geweet dat ek en my man daar was nie. En ek het nie geweet dat jy ook in dieselfde tydperk daar gewoon het nie. Dit was voordat jy noordwaarts vertrek het.  Sou ons dalk bymekaar verbygeloop het langs die Oude Gracht? Sou ek dalk eenkeer klaviermusiek gehoor het toe ek verby jou pa se musiekwinkel gestap het? Sou jy dalk daar gesit en speel het, intens en afgetrokke? Dan skielik opkyk en iets van ʼn jong vrou geregistreer het, iemand wat ʼn oomblik stilstaan in die deur en na jou luister, verwonderd na jou kyk?

My seun.

Pedroekie het ek hom toe genoem.

Hy het ʼn blou langmouhempie aan.

En skielik kon ek alles visualiseer. Die moment wat vasgevang in die foto na my toe uitreik. Ek kon veral die hempie onthou. Ek kon die tekstuur van die materiaal onder my vingers voel asemhaal. Die effense riffelrigheid daarvan. Fluweelagtig. Ek kon my hande op sy skraal skouertjies voel. Ek kon weer ervaar hoe hy teen my vasdruk, die gladheid van ronde wange. Die kuiltjie in die een wang as hy lag. Maar veral het die sagte grein van die hemp teen my kom lê.  En ek het gehuil.  Oor ʼn verlede wat ek nie kon terugwen nie, nie kon herhaal nie. Oor ʼn hempie wat weg is. Wat die vorm van my kind net vir kort rukkie kon omsluit. En omdat die gevoel van sy klein lyf soos ʼn vaas van delikate porselein weer onder my hande was.

Ek het my man gebel. Hy is weg met ʼn sakebesoek. Ek wou in sy simpatieke woorde treur oor die verganklikheid van dinge, oor die gevoelens wat in ʼn vrou bly rondhang, selfs nadat jou kind lankal uit die huis uit is. Lankal man geword het. Maar my man kon my weemoed nie peil nie, hy kon die breekbaarheid in my stem nie hoor nie. Hy kon nie. Die gesprek met ʼn sakevennoot langs hom in ʼn restaurant was die belangrikste op daardie oomblik. En ek het eintlik inbreuk gemaak. Dit was die verkeerde tyd om hom te bel.

Ek het die foon neergesit sonder om te praat oor die foto van Pedro en my binneste wat skielik losgeketting het omdat ek die hempie in die tekstuur van my emosies weer kon aanraak, hoe lank gelede dit ook al was.

Dis toe dat ek weer aan jou gedink het.

Aan jou brief oor Balt wat ek nooit gelees het nie. Aan die afwesigheid van alles, jou lewe in ʼn stad wat as sanddorp begin het. Ver, in die heel noordelikste punt van die Hondsrug in Nederland.

Ek het weer aan die Martinikerk gedink. Die Waagplein. Waar mense lank gelede stawe van goud geweeg het.

Wat het toe van al die goud geword? het ek gewonder. Wat het van die ou gewels in rococo geword? Wat het van daardie dag geword met die musikante wat op tuba en trompet gespeel het? Die roostonnels in die Prinsenhoftuin? Die sonwyser? Van jou vrou wat haar hande soos blomme na my toe draai. Van jou, onbereikbaar ver in die spits van die toring, met die kamera voor jou gesig?

Wat het van my laggende man geword wat die soene uit sy mond na my toe waai?

Ek weet nie, maar ek weet dat ek alles kan onthou.

Dat ek die lied daarvan kan registreer, die romantiese vertroosting daarvan.

Lank, lank nadat almal opgehou het om dit te speel.

 

© Marlise Joubert. 2011