Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Taal | Language

Een groot Afrikaanse familie


Michael le Cordeur - 2011-12-01

Michael, baie geluk met die aanstelling as voorsitter van die Afrikaanse Taalraad. Vertel ons asseblief wat jy as voorsitter as die grootste uitdagings sien.

Dankie vir die mooi woorde. Ek wil ook allereers erkenning gee aan my Skepper vir die gesondheid en talent, asook aan Wannie Carstens vir die onskatbare bydrae wat hy gelewer het. Ons eer Wannie daarvoor. Eerstens staan die ATR vir die diverse Afrikaanse gemeenskap, maw die kollektiewe waarde van Afrikaans en al sy sprekers. Vandaar die ATR se leuse: Bemagtig, Bevorder, Beskerm. Die woord bemagtig verwys juis na die ATR se rol in daardie deel van die Afrikaanse gemeenskap wat weens die verlede of deur nuwe maatskaplike faktore uitgesluit is van die hoofstroom-ekonomie en daagliks ’n stryd om voortbestaan voer. Ons werksaamhede om onder meer die vlak van geletterdheid van arm Afrikaanssprekendes te verbeter, is derhalwe een van die kernfunksies van die ATR.

Tweedens lê die wetlike beskerming van Afrikaans, soos vervat in die Grondwet van die RSA, ons na aan die hart. Ons pogings om te verseker dat die regering sy plig in hierdie opsig nakom, is hier ter sprake. Die ATR sal derhalwe op 17 en 18 Januarie aan die parlementêre komitee ’n voorlegging maak oor die nuwe voorgestelde Tale-wetsontwerp. Ons vernaamste uitdaging lê daarin dat baie Suid-Afrikaners, en veral Afrikaanssprekende Suid-Afrikaners, nog nie in hierdie ideaal van die ATR wil inkoop nie.

Een van my persoonlike uitdagings is om die ATR ’n huishoudelike naam te maak onder alle Afrikaanssprekendes, maar veral bruin en swart sprekers van Afrikaans. Dis asof mense nog nie besef dat as hul taal ondergaan, sal hulle hul magtigste, en vir sommige hul enigste, meganisme om uit armoede te ontsnap, verloor nie. Verder is dit ’n voortdurende stryd om die sakesektor te oortuig om in die ATR te belê. Ek het persoonlik al van deur tot deur gestap en by die groot Afrikaanse maatskappye gaan aanklop. Maar tot dusver moes ek elke keer met leë hande terugkeer. My vriend Wannie Carstens sê altyd: “Afrikaans is nie vir sissies nie”, so ons sal beslis harder hieraan moet werk. Die hoop beskaam nie.

In sy Voorsittersrede van 2011 verwys die uittredende voorsitter, Wannie Carstens, na ’n plofbare kwessie, vernaam op Stellenbosch: “Ons bly in gesprek met universiteite oor hul taalbeleide.” Gedurende jou loopbaan in die onderwys het jy sterk gefokus op moedertaalonderrig. Hoe dink jy kan die ATR leiding gee in die verband van Afrikaans as onderrigtaal by die US, in hierdie tyd waar Afrikaans by die US weer onder die loep kom? Of beplan die ATR hoegenaamd om hierby betrokke te raak?

Die derde visiepunt van die ATR is dat ons Afrikaans wil bevorder, veral op die gebied van onderwys en opleiding – vandaar ons betrokkenheid by hoër funksies soos die WAT (Woordeboek van die Afrikaanse Taal), die daarstelling van ’n taalstrategie, ons strewe na moedertaalonderwys op skool (hou asseblief hierdie spasie dop vir ’n akademiese artikel oor moedertaalonderrig deur my op LitNet Akademies) en ons verskeie navorsingsprojekte, soos dié oor die stand van Afrikaans in Afrikaanse kerke (waarvan die verslag onder leiding van Karel Prinsloo so pas gepubliseer is). Ons projek om die geskiedenis van Afrikaans te herskryf, vorder baie goed. Met die hulp van Christo van Rensburg gaan die ATR binnekort ’n nuwe boek bekend stel oor die oorsprong en onstaan van Afrikaans. Verder is ek en Ronel van Oordt van die NWU betrokke by die skryf van skoolhandboeke wat almal ’n hoofstuk oor die nuwe geskiedenis van Afrikaans sal insluit.

Voorts is ons pogings om ’n vaste plek vir Afrikaans op tersiêre vlak te verseker, deel van ons kernbesigheid. Oor die taalkwessie aan die US was die ATR nog altyd in gesprek met die US-bestuur, en ons sal daarmee voortgaan. Ons glo daarin om konstruktief met die US-Raad en die US-Bestuur saam te werk. Ons voel dit is ons plig; ons lede verwag dit van ons en die Grondwet skep die geleentheid daarvoor. Die ATR staan vir ’n Afrikaans wat vanuit ’n benadering van beperktheid gegroei het tot ’n praktyk waar alle Afrikaanssprekendes welkom is. Die ATR is ingestel op ’n breër, inklusiewe en Suid-Afrikaanse visie en praktyk. Daarom glo ons dat die US ’n inklusiewe Afrikaanse instelling moet wees. Parallelmediumonderrig en simultane tolking is as geskikte strategieë bevind om gestalte aan hierdie inklusiewe benadering te gee en verdien gevolglik ons steun.

Jy is voorsitter van die Wes-Kaapse Taalkomitee, voorsitter van die bestuur van die Breytenbach-sentrum in Wellington, ondervoorsitter van die Raad van die Afrikaanse Taalmuseum in die Paarl, ondervoorsitter van Media24 se Rachel’s Angels Bemagtigingstrust, en lid van die Raad van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns. Hoe op aarde hou jy al die balle in die lug? En hoe sluit al die organisasies by mekaar aan en rus dit jou toe vir die taak wat by die ATR voorlê?

Heel eerste is dit belangrik om te weet dat al hierdie organisasies een ding gemeen het: Afrikaans. En ek is ontvang en gebore in Afrikaans in die hartjie van die Boland, Wellington. My liefde vir Afrikaans is reeds in my huis gekweek, waar my pa en ma albei Afrikaanse mense in murg en been is. Albei my ouers is versot op lees, en jy sal ver moet gaan soek om iemand te vind wat ’n blokkiesraaisel vinniger as my ma kan invul. En hulle is albei eenvoudige werkersklasmense. Hierdie liefde is op skool voortgesit, en ek was van kleins lief om die werke van Adam Small en SV Petersen te lees, maar ook ander digters. Ek het ’n handvol gedigte wat ek êrens in ’n geheime laai in die huis bêre; ek het nog nie die moed kon bymekaarskraap om dit vir die wêreld te wys nie.

En toe is ek UWK toe, en ten spyte daarvan dat ek ’n beurs ontvang het om in die ekonomie te studeer (my punte daarin was goed), het ek my hart gevolg en Afrikaans en Nederlands studeer. Dit was die begin van my Afrikaanse ontdekkingsreis. Ek het die voorreg gehad om vanaf my eerste jaar tot in my honneursjaar klas te kry by Afrikaanse ikone soos Jakes Gerwel en Tony Links; die een letterkunde, die ander taalkunde. Dit het gevoel asof my pa dood is toe Tony Links tragies in ’n motorongeluk omkom, maar tot vandag toe het ek kontak met Jakes Gerwel en beskou ek hom steeds as een van my mentors.

Ek sou daarna vir 16 jaar Afrikaans gee in matriek aan drie verskillende hoërskole,die eerste een my alma mater, Bergrivier op Wellington, en die laaste een Kylemore op Stellenbosch, waar ek die skoolhoof was. My betrokkenheid by Media24 se Rachel’s Angels Bemagtigingstrust is dus gebore uit my liefde vir en my betrokkenheid by die bruin Afrikaanssprekende matrikulant wat oor al die talent beskik om suksesvol op universiteit te wees, maar wat dit geldelik nie kan bybring nie. Ek glo derhalwe dat ek uitstekend toegerus is om as trustee van Rachel’s Angels hierdie jongmense se loopbaan te bevorder en terselfdertyd ’n slag te slaan vir Afrikaans terwyl ek so ’n verskil maak aan die diversiteitsprofiel van Maties, waar ek klas gee.

Verder is my strategie dat die insette wat ek op nasionale vlak lewer (soos die ATR en die Akademie) gebaseer is op my ervaring en kennis van Afrikaanssprekendes op voetsoolvlak weens my betrokkenheid by die BBS (Breytenbach-sentrum) en die Taalmuseum in die Paarl. Sedert ek daar betrokke geraak het, is ons fokus lankal nie meer net die bewaring van Afrikaans as ’n dooie taal in die geskiedenis nie; dit was juis Breyten wat ons aangemoedig het om die BBS ’n lewende hawe vir belowende Afrikaanse inwoners te maak. Toe die ATR dus onlangs sy jaarvergadering hier gehou het, kon ek die vergadering met trots kombineer met Afrikaans se onlangse verlede (by die Taalmuseum is mense op toere geneem sodat hulle ons taalgeskiedenis kon waardeer) asook Afrikaans se nuwe, opwindende toekoms (by die BBS is die afgevaardigdes een aand getrakteer op die pragtigste musiek en dans en kuns wat hier onder plaaslike talent gekweek word). So byvoorbeeld werk my vrou, Sonja, ’n Afrikaansonderwyseres, by Bergrivier Hoër, met belowende digters (die Piempdigters) van haar skool. Deur middel van hierdie slypskole word hulle sodanig bemagtig dat hulle by verskeie funksies optree, en ’n seun en ’n dogter uit hierdie groep is pas verkies tot die skool se hoofseun en -dogter vir volgende jaar.

Min mense weet dat ek betrokke was by die opstel van die Taalbeleid van die Wes-Kaap, sodat ons nou drie amptelike tale het. Ons uitgangspunt hier was eenvoudig: elke provinsie se amptelike tale moet bestaan uit Engels (die taal wat toegang tot verder studie verleen), die provinsie se grootste taal (Afrikaans) en die grootste Afrikataal (isiXhosa). So ’n beleid “cover all the bases”, soos die Engelsman sou sê. Dit bied geleentheid om in elke provinsie ’n inheemse taal te bevorder, verbreed die voetspoor van Afrikaans (omdat dit in die meeste provinsies as die derde taal aangewys sou word), terwyl die hegemonie van Engels nie ontken word nie. Danksy my ervaring hier sal ek op 17 Januarie 2012 ’n voorlegging in die parlement maak tydens die besprekingsdebat van die nuwe voorgestelde Taalwet van Suid-Afrika. Ek moet net noem dat ek aan die einde van 2011 uittree as voorsitter van die Wes-Kaapse Taalkomitee nadat ek reeds die toelaatbare drie termyne gedien het, die laaste twee as voorsitter.

Dan is daar my lewe as akademikus in Afrikaans: as dosent by Maties neem ek elke jaar my studente op toere na die Taalmuseum en Taalmonument, die BBS, en selfs om na die opvoerings van Adam Small te gaan kyk in die KunsteKaap, wat weer moontlik gemaak is deur een van my oudstudente wat nou direkteur by die KunsteKaap is, Marlene le Roux. Ek deel ook my ervaringe in die Afrikaanse leefwêreld met die breë publiek deur gereeld artikels in koerante en geakkrediteerde tydskrifte te publiseer, en dit is hier waar my betrokkenheid by die Akademie my die geleentheid bied om my passie en verworwe kennis van Afrikaans uit te leef, soos byvoorbeeld die artikel “Die verskillende variëteite van Afrikaans: ’n sosiokulturele perspektief”wat ek eers as referaat by die Afrikaanse Fees in Amsterdam gelewer het en wat binnekort in die Tydskrif vir Geestewetenskap verskyn, asook ’n artikel getiteld “Moedertaalgebaseerde tweetalige onderwys: ’n moontlike oplossing vir Suid-Afrika se geletterdheids- en syfervaardigheidsprobleme” wat nog hierdie week by LitNet Akademies verskyn. Daar is nog baie ander.

Dus om op te som: danksy die ATR is ons een groot Afrikaanse familie, en ons steun op mekaar se kennis en ervaring sonder dat ons die wiel van voor af probeer uitvind. Dit verlig die lading op ons almal en skep ’n netwerk sonder weerga waarby Afrikaans net kan baat. En weet jy wat? Ons doen dit sonder vergoeding, net vir die liefde daarvan.

 Wie het die ATR die mandaat gegee om namens Afrikaanssprekendes te praat. Hoe is dit bepaal?

Soos ek hier bo genoem het, is die ATR ’n breë netwerk. Ons verteenwoordig meer as 40 organisasies en meer as 400 000 mense. Net om die lesers ’n idee te gee: die uitvoerende bestuur van die ATR bestaan uit 14 lede (ons kan so ’n groot bestuur kies, omdat almal hul dienste vrywillig en gratis aanbied). Elke lid verteenwoordig ’n ander Afrikaanse organisasie of gemeenskap en ek noem hulle graag: ek verteenwoordig die BBS en die Taalmuseum; dan is daar Wannie Carstens (SA Akademie en die WAT en die akademici en Afrikaans se hoër funksies); Jacques van der Elst (SA Akademie en FAK); Dione Prinsloo(FAK); Christo van der Rheede (SBA en binnekort ook die AHI); Danny Titus (ATKV); Karel Prinsloo (Gryskrag); Pierre Theron (Afrikanerbond); Hennie de Wet (Solidariteit); Alana Bailey (Afriforum); Hendrik Theys (SBA en die Wes-Kaapse Taalkomitee); Ria Olivier (Xhosafrika); Gerrit Brand (I-Mag); en Amanda de Stadler (Vriende van Afrikaans). Verder het ons ook verteenwoordigers van Afrikaanse gemeenskappe wat tot nou toe uitgesluit was uit die debat, naamlik Waldy Kastoor (skoolhoof van Atlantis); Karen Hauman (onderwyser van die Oos-Kaap); en Anzil Kulsen (’n jong skrywer van die Noord-Kaap, wat in samewerking met LAPA-uitgewers baie goeie werk lewer om geletterdheid te bevorder onder die agtergestelde gemeenskappe van Upinton en Kimberley). Voeg hierby dat ons ook twee verteenwoordigers in ons bestuur het van die ATR se jeugvleuel en dat ons selde ’n besluit neem sonder dat ons almal konsensus daaroor bereik het, en jy sal begryp dat ons namens ’n groot groep Afrikaanssprekende mense praat.

’n Ander area waaroor jy navorsing gedoen het, was die verbetering van lees met behulp van inligtingstegnologie en media in die skoolkurrikulum. Vertel ons asseblief nog hiervan.

Hierdie is ’n lewenslange passie wat spruit uit my baie jare as Afrikaansonderwyser toe ek agtergekom het dat ons leerders se leesvermoë ver benede die standaard is wat van hulle verwag word om internasionaal te kan kompeteer of ekonomies aktief te wees. Dit hang saam met my heel eerste punt in hierdie onderhoud: om daardie deel van die Afrikaanse gemeenskap wat weens die verlede of deur nuwe maatskaplike faktore uitgesluit is van die hoofstroom-ekonomie en daagliks ’n stryd om voortbestaan voer, te bemagtig. Daar is by my geen twyfel dat dit Suid-Afrika se heel belangrikste onderwysfokus behoort te wees nie, want slegs so sal ons ’n verskil kan maak aan mense se lewens.

Sistemiese evaluering van geletterdheid en syfervaardigheid vir graad 3 en graad 6 wat deur die Nasionale Departement van Basiese Onderwys onderneem is, toon dat leerders in Suid-Afrika se geletterdheid en syfervaardighede veel laer is as wat nodig is om hulle doeltreffend te laat leer en ontwikkel. Ek glo die probleem begin in die grondslagfase, waar leerders nie die basiese vaardighede bemeester nie, omdat baie kinders nie in hul moedertaal onderrig word nie. Dit het ’n groot uitwerking op leerders se vermoë om te leer lees en reken. In my navorsing ondersoek ek die waarde van moedertaalonderrig vir leerderprestasie teen die agtergrond van die lae vlak van geletterdheid en syfervaardigheid. Ek fokus ook op die waarde van Afrikatale vir geletterdheid en syfervaardigheid in die lig daarvan dat min vordering nog gemaak is om die status van dié tale te bevorder. Ek glo ook dat die huidige taal-in-onderwys-beleid te veel tekortkominge het en grondige hersiening benodig. My jongste (LitNet Akademies-) artikel maak ’n paar voorstelle in die verband.

Die resultate van my navorsing dui daarop dat leerders wat leesprobleme ondervind, wel oor die vermoë beskik om ’n verskeidenheid leesstrategieë aan te leer wat hul leesbegrip en leesvlotheid kan bevorder. Deur media en inligtingstegnologie soos rolprente en musiek by die leesprogram te integreer, word die leerder se leefwêreld by die leesproses betrek, wat tot beter hemisferiese integrasie en uiteindelik verbeterde lees en optimale leesbegrip lei.

Lees ook die uittredende voorsitter, Wannie Carstens, se Voorsittersrede: Derde Jaarvergadering van die ATR.

 Lees nog oor die Afrikaanse Taalraad.