Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Onderhoude | Interviews > Afrikaans

Afrikaans, 'n burger van die wêreld


Jerzy Koch - 2011-11-30

Die School of English van die Adam Mickiewicz University (UAM) in Poznań, Pole, is oop vir lektorsaansoeke. Naomi Meyer het vir Jerzy Koch uitgevra oor Suid-Afrikaans en Afrikaans by dié universiteit.

Dankie vir die geleentheid tot gesprek, Jerzy. Ek lees op jul School of English-lektorskap-aansoekvorm se inligtingstuk:  "[T]he South African reality serves as microcosmos for the study of various dimensions of a multicultural world." Maar wat was die allereerste rede waarom Suid-Afrika ’n fokus-studieveld aan ’n universiteit in Pole geword het?

Alles het begin met my eie belangstelling in en entoesiasme vir Afrikaans en Suid–Afrika. Dit klink nou wel nie beskeie nie, maar ek het in 1992 toe ek na Suid-Afrika gekom het vir ’n Neerlandistiekkongres, byna drie weke lank gekuier. Die idee het toe by my posgevat dat ek as Germanis en Neerlandikus, met belangstelling in die (post)koloniale, wyer moet kyk. Ek het onmiddellik in Wrocław, waar ek tot onlangs gewerk het, met ’n kursus “Inleiding tot die Afrikaanse taal, literatuur en kultuur” begin. Sedert 1997 werk ek ook in Poznań, waar daar aan Adam Mickiewicz Universiteit meer belangstelling, geleenthede en ruimte was om hierdie studierigting aktief te ontwikkel. My persoonlike belangstelling het bo alle verwagtinge gegroei en ek het drie boeke oor die Afrikaanse literatuur geskryf: een in Nederlands (2002) en twee in Pools (2004 en 2008). My droom het werklikheid geword. Ook danksy die bestuur wat my projekte gesteun het, en soos gewoonlik danksy die hulp van ’n hele span wat geleidelik gegroei het. Sonder rugdekking, sonder spanbou, kan jy niks onderneem nie.

Om dieper op jou vraag in te gaan, wil ek verder sê dat alles wat mens in Suid-Afrika sien en hoor en lees, ’n geweldige uitdaging vorm wat ’n mens op ’n baie besonderse manier in die didaktiese situasie kan verwerk. Op die ou end is ons aan die universiteite nie net met kennis en vaardighede besig nie, maar ons lei mense op tot selfstandige refleksie en denke. Die talige, kulturele, politieke situasie in Suid-Afrika, vandag en vroeër, gee voldoende en uitdagende stof tot nadenke. En daar is boonop heelwat ooreenkomste, ten spyte van die bestaande verskille, met die Poolse situasie, waar transformasie op alle gebiede sedert 20 jaar gelede plaasvind, soos in Suid-Afrika. Afrikaans het my persoonlik bemagtig, maar ons bemagtig hierdie taal ook op ons eie manier.

Vertel ons van jul Afrikaans-departement, asseblief. Wie studeer daar, wat word nagevors?

Suid-Afrikaanse Studies (filologia południowoafrykańska) word aangebied as ’n aangepaste en verrykte module binne Engelse studie. ’n Aantal vakke uit die Engelse kurrikulum is geskrap, die ander aangepas, en ook ’n klomp nuwes bygevoeg. Die basiese idee is dat ons studente as volwaardige angliste afstudeer, maar dat hulle hul onderskei van hul maats wat suiwer Anglistiek gestudeer het. Die werwing vind nou apart plaas, los van die Anglistiek as sodanig.

My instelling se naam is die Departement vir Nederlandse en Suid-Afrikaanse Studies. Dis hoekom die navorsing interdissiplinêr is. Ek skryf byvoorbeeld aan deel twee van my geskiedenis van die Afrikaanse literatuur (1899–1935) en het nou in Pole borge gekry om deel een (van die begin tot 1899) in Engels te vertaal. Saam met twee ander kollegas werk ons aan ’n kompendium oor die geskiedenis van die Nederlandse literatuur vir die Poolse mark. Ander kollegas skryf oor reisverhale, oor Poolse navorsers wat in die verlede in Suid-Afrika ondersoek ingestel het (soos Antoni Rehman of Roman Stopa), oor die Nederlandse tussentaal in Vlaandere, oor tweetaligheid, oor die beeld van Pole in die Nederlandse en Britse pers, die verhouding tussen fiksie en niefiksie, kulturele oordrag tussen die Lae Lande en Sentraal–Europa, en baie ander onderwerpe. My departement is akademies baie aktief. Op hierdie stadium is daar onder ons drie lede van die Suid–Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns (ek, Fanie Olivier en Pawel Zajas) en drie navorsingsgenote aan universiteite in Suid-Afrika (Pawel Zajas aan UP en ek en Ewa Dynarowicz aan UV).

Val die klem in jul Afrikaans-departement op die sosiale konteks van Suid–Afrika, of op die letterkunde – in so verre mens natuurlik in staat is om dié twee aspekte te skei?

Die idee is juis om verskillende aspekte nié van mekaar te skei nie, maar inklusief of selfs holisties te werk te gaan. Dis hoekom Kulturele Studies een van die belangrikste vakke is. Maar sowel binne die praktiese aanleer van taal as in die vakke waar dit oor die Engelstalige en Afrikaanse letterkunde in Suid-Afrika gaan, word by ons interdissiplinêr te werk gegaan. As voorbeeld: ek het die afgelope weke met die tweedejaars oor die Afrikaans-Arabiese geskrifte gepraat en oor die Morawiërs se bydrae tot die Suid-Afrikaanse skriftelike kultuur (alles binne die raamwerk van die geskiedenis van die Afrikaanse letterkunde). En dit gaan gepaard met my eie fotostorie oor die Bo-Kaap en karamats in die Kaapse sirkel. Ons luister na die Nederlandslied wat deur Maleierkore gesing word, of dit gaan saam met die verhaal oor die Genadendalers as moderniseerders van die bruin mense se bestaan in die begin van die 19de eeu, wat die gelyktydige akkulturasie van die Khoi en ander prosesse uit die koloniale periode nie uitsluit nie.

Dink jy Afrikaans is, van buite gesien, ’n ingewikkelde taal om aan te leer?

Ja en nee. Vir my was Nederlands die pad wat my na Afrikaans gelei het. Dit het gehelp, maar dit het my tegelyk vasgebind. Ons het in Poznań altyd baie bekwame moedertaalsprekers – op die oomblik is dit Fanie Olivier en Tertius Kapp – en die studente leer Afrikaans sonder Nederlands daartussen, wat anders is as op ander plekke, maar nietemin uitstekend werk. Hulle ken Pools as Slawiese moedertaal, maar ook ander Germaanse tale soos Engels of Duits, sommige ook ander tale, byvoorbeeld Frans. Hul verwysingsraamwerk is nie klein nie, en as die motivering groot is, kry hulle dit reg, soos hulle hierdie jaar in Suid-Afrika gedurende hul studiereis, of in Amsterdam tydens die Festival vir Afrikaans, bewys het.

Nederlands word by jul Departement saam met Afrikaans gegroepeer. ’n Afrikaans-Nederlandse komponent by ’n Poolse universiteit. Dink jy Suid-Afrika – maar spesifiek: Afrikaans – is besig om homself los te wikkel van sy isolasie? Dink jy Afrikaans, as taal, word ’n wêreldburger?

Hierdie kombinasie is ’n gevolg van my opleiding en nie noodwendig natuurlik-ewig nie. Ek sien dat my Poolse studente in Poznań wat los van Nederlands met Afrikaans kennis maak, baie goeie vordering maak. Veral vir die koloniale periode is Nederlands van belang, maar as ons die huidige Suid-Afrika neem, aansienlik minder. Die probleem van kleiner tale ken ons in Pole en in Europese verband ook. En ook die kwessie van ’n minderwaardigheidsgevoel omdat jy nie by die grotes hoort nie. Die belangrikste is om, sonder om te megalomaan te wees, jou taal te aanvaar en trots te wees daarop. Die taal is ’n wêreldburger, soos ander tale ook. Daar is te veel mites en onnodige wensdenkery onder party Afrikaners. Want die belangrikste is die praktiese kant: om Afrikaans te bly praat.