Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > SeminaarKamer | Seminar Room > Afrikaans > Essays

Rooi kaarte aan Pierre de Vos én Marié Heese


Christo van der Rheede - 2011-11-29

Ek volg met belangstelling Pierre de Vos en Marié Heese se bekgeveg oor Afrikaans en die US. Albei spoeg vuur vir die vale en skroom nie om mekaar sleg te sê nie. Terwyl ek begrip het vir albei se perspektiewe, dus nou De Vos se aandrang op regstelling van die ongeregtighede van die verlede versus Heese se aandrang op moedertaalonderrig, kan ek nie anders as om ’n paar rooi kaarte uit te deel aan albei van hulle nie. En die redes is soos volg:

Aan Pierre: dis onsin dat Afrikaans as onderrigtaal swart studente uitsluit. Engels sluit ook uit; erger nog, dis ’n verleidelike taal wat sy tweedetaalspekers dikwels in ’n web van plagiaat en clichés vasvang, maar meer hieroor later. Duisende swart en bruin studente sit in Afrikaanse skole en sal die geleentheid in albei hande aangryp om aan ’n Afrikaanse universiteit te studeer, mits die onderrig van ’n hoë akademiese standaard is, die navorsingsgeleenthede van wêreldstandaard is, en hulle beurse kry. Hierdie studente is egter nie ons residensiële universiteite se “voorkeurstudente” nie, want hulle kom nie uit die middelklas nie, studeer ook nie aan voormalige Model C-skole nie, en hulle ouers het ook nie die geld om hulle verder te laat studeer nie.

Pierre, dit is dus nie taal wat uitsluit nie, maar die ekonomiese klasseskeiding van die nuwe Suid-Afrika wat duisende jongmense op grond van hul ekonomiese status die geleentheid ontsê om verder te studeer.

’n Ander kommerwekkende ding is die toekenning van staatsbeurse bloot op grond van ras. In ’n ministeriële verslag wat onlangs vrygestel is, word hierdie tendens soos volg bevestig en word daar voorgestel dat sosio-ekonomiese status, eerder as ras in ag geneem te word in die toekenning van beurse.

The Review Committee found that the allocation formula to universities, which is based on the Full Cost of Study (FCS) and the demographic profile of the student population at an HEI, is inappropriate. The formula recognises race as a proxy for socio-economic need. The result is that a historically advantaged institution (HAI) with affluent black students who do not need financial aid gets the same NSFAS allocation as a historically disadvantaged institution (HDI) with poor black students who all qualify for financial aid. The Committee agrees with Higher Education South Africa (HESA) that socio-economic status should serve as the criteria for access to NSFAS support.

In hoe ’n mate daar gehoor gegee is aan dié aanbeveling, bly ’n onbeantwoorde vraag.

Aan Marié: Afrika se bevryding van armoede, agterlikheid en bakhandmentaliteit sal spoedig wyk sodra ons die inheemse Afrikatale en inheemse kennispraktyke op ’n wetenskaplike wyse begin benut en ontsluit vir mense-ontwikkeling. Dit geld ook vir Suid-Afrika, waar ons juis Afrikaans moet behou as volwaardige onderrigtaal op minstens drie universiteite, dis nou Stellenbosch, Vrystaat en Potchefstroom. En dis krities belangrik, want sonder dit staan Zoeloe, Xhosa en Sotho nie ’n kat se kans om as volwaardige wetenskapstale en onderrigtale op universiteitsvlak te ontwikkel nie.

Dus, Marié, maak dit nie liefs sin om kragte saam te snoer met ons inheemse taalgenote nie en die stryd vir die behoud van Afrikaans as universiteitstaal oor die boeg van ’n ontwikkelingstrategie vir Afrikatale te gooi nie? Die XhosAfrika-netwerk wat verlede jaar in die Wes-Kaap begin is, bied juis so ’n platform vir Afrikaans- en Xhosasprekendes om saam te werk, maar dit moet raap en skraap om aan die gang te bly. Dít terwyl Afrikaans-uitsluitlike organisasies mildelik deur Afrikaanse trusts en sakemanne ondersteun word.

Aan Pierre: die idee dat alle Suid-Afrikaanse universiteite moet verengels, is nie net ongrondwetlik nie, maar ook dom. Dom in die opsig dat ons niemoedertaalsprekers van Engels (dis ongeveer 80 persent van ons bevolking), verdoem tot akademiese middelmatigheid en dus die volle ontsluiting van hul kreatiwiteit en kritiese denke aan bande lê. Wat dít aanbetref, skryf Neville Alexander:

An English-only, or even an English-mainly policy necessarily condemns most people, and thus the country as a whole, to a permanent state of mediocrity, since people are unable to be spontaneous, creative and self-confident if they cannot use their first language.

Wat die ekonomiese potensiaal en werkskeppingsmoontlikhede van ons inheemse tale aanbetref wat ook ondermyn word, wil ek nie eens praat nie.

Dus, Pierre, met Neville Alexander stem ek heelhartig saam. Om ’n paar redes, maar ek volstaan met die volgende ervaring wat ek eerstehands in skole beleef het. Duisende jongmense wat in Engels onderrig word, word deur onderwysers wat self nie Engels magtig is nie, onderrig. Hulle lot word verder vererger deur ’n gebrek aan Engelse taalverwerwingsprogramme in die klas sowel as steun tuis, die afwesigheid van woordeboeke en addisionele leesmateriaal. Ja, daar is ’n handjievol wat akademies presteer, maar die oorgrote meerderheid sukkel. Ek is dus van mening dat een van die foute wat ons in 1994 tydens die demokratisering van die politieke landskap gemaak het, was om die demokratisering van die tale-landskap te verwaarloos. Dink net in hoeverre ons elke Suid-Afrikaner kon bemagtig het indien ons ons inheemse tale omvattend begin benut het as instrumente vir opvoedkundige, sosiokulturele en ekonomiese ontwikkeling. Maar néé, die taal van die nuwe politieke elite moes voorrang geniet. Gee wonder die massas kom vandag in opstand nie.

Aan Marié, my laaste rooi kaart. Dit pla my as die “bruin” mense van die Wes- en Noord-Kaap voortdurend voorgehou word as Stellenbosch se maatskaplike verantwoordelikheid. Stellenbosch se primêre verantwoordelikheid is om akademiese uitnemendheid deur middel van Afrikaans na te streef en sorg te dra dat sy studente ewe goed ook in Engels kan skryf en navorsing kan doen. Ons bevind ons immers in die kennis-era en is deel van ’n globale kennis-ekonomie. Om volwaardig mee te ding in die kennis-ekonomie vereis egter bepaalde vaardighede, waarvan die grondslag op voorskoolse, primêre en hoërskoolvlak gelê word.

Dus, as ons opreg omgee vir die lot van veral minderbevoorregte Afrikaanssprekende “bruin” en “swart” mense, kan ons nie anders om ’n holistiese benadering te volg en ’n omvattende instaatstellende program in elke gemeenskap reeds vanaf voorskoolse vlak van stapel te stuur met die doel om akademies uitmuntende studente vir die US te kweek nie. Ja, daar is enkele voorbereidingsprogramme wat deur die US self en andere van stapel gestuur word, maar dis onvoldoende. In dié verband het jy en baie ander vermoëndes vir wie die saak van Afrikaans na aan die hart lê, ’n groot rol te speel om Russel Botman se Hoop-projek en die werksaamhede van veral Afrikaanse organisasies wat fokus op bemagtiging en die onderwys, te steun.

Deur egter steun te weerhou, mekaar oor en weer te beskuldig en sleg te sê bring net verder vervreemding en konflik mee. Afrikaans se toekoms as onderrigtaal op tersiêre vlak kan op ’n rasionele manier besleg en ook so verseker word.

Lees nog artikels oor die taaldebat.