Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > SeminaarKamer | Seminar Room > Afrikaans > Essays

Voorsittersrede: Derde Jaarvergadering van die ATR – 18 November 2011


Wannie Carstens - 2011-11-29

Prof WAM Carstens, Voorsitter ATR
Gelewer by die Afrikaanse Taalmuseum, Paarl

Dames en here

Dit is weer eens met groot genoeë dat ek hierdie voorsittersrede van die ATR lewer – dit is reeds die derde een. In die eerste voorsittersrede van Augustus 2009 in Pretoria het ek verslag gedoen oor die verloop van die proses wat opgebou het daartoe en ook tot die proses wat gelei tot waar ons vandag is. In die tweede voorsittersrede van Augustus 2010 is terugvoer gegee oor vordering met die aktiwiteite en die planne van die ATR in die tydperk 2009/2010. In hierdie rede rapporteer ek oor die vordering sedertdien. Ek kan dit kategories stel dat ek goeie vordering op verskeie vlakke kan aandui.

Ter verfrissing net weer die volgende: Die Afrikaanse Taalraad (ATR) is na afloop van ’n lang konsultatiewe proses op 24 Mei 2008 in Wellington gestig. Dit was ’n historiese dag vir Afrikaans omdat dit die waarmaak van ’n gesamentlike strewe verteenwoordig het: die totstand­koming van ’n liggaam wat ten doel het om koördinerend, netwerkskeppend, inklusief, bemagtigend en versoenend op te tree in die belang van die totale Afrikaanse taalgemeenskap. Hierdie liggaam het nie “sommer net” ontstaan nie, maar was die resultaat van harde werk (reeds sedert 2003) om ’n gedeelde ideaal vir die Afrikaanse taalgemeenskap waar te maak – die totstandkoming van ’n gekonsolideerde en inklusiewe stem wat namens Afrikaans kan praat. In die laat 1990’s was daar ’n poging om ’n ooreenstemmende Afrikaanse liggaam, toe bekend as die “Afrikaanse Oorleg­platform” te stig, maar weens die politiek van die tyd was dit nie geslaagd nie. As ’n mens terugkyk op die ATR se ontstaansproses, dan besef jy dat die atmosfeer meer ontvanklik was vir ’n nuwe inisiatief toe ons in Maart 2003 onder die vaandel van ’n “Nasionale Strategie vir Afrikaans” daarmee begin het. Aanvanklik is die proses bestuur deur die Nasionale Taalliggaam vir Afrikaans (NTLA), daarna deur die Voortsettingskomitee van die aanwesiges by ’n FAK-beraad op 13 Sept. 2003, en vervolgens deur die Nasionale Forum vir Afrikaans (NFA), wat toe op 24 Mei 2008 die Afrikaanse Taalraad (ATR) geword het.

Sedertdien is die statuur van die ATR as bedingingsliggaam vir Afrikaans deeglik gevestig en word die ATR wyd erken as dié rolspeler oor sake van belang vir Afrikaans. Wat onmiddellik uitstaan, is die sake en aktiwiteite waarby ons sigbaar betrokke was – daaroor rapporteer ek later. Ek kan wel sê dat ons infrastruktuur nou goed gevestig is (maar dat daar tog gevaarligte is), dat ons sukses behaal het met ’n klompie sake (maar dat ons ook nie oral ewe suksesvol was nie) en dat ons sigbaarheid beduidend verhoog is (ons logo is bekend in die Afrikaanse organisasiewêreld, en ons slagspreuk van Bemagtig, bevorder, beskerm is nie meer net leë woorde nie), ons webblad (www.afrikaansetaalraad.co.za) word goed besoek deur belanghebbendes by die Afrikaanse gesprek, en ons nuusbrief (die ATR-Koker) word wyd versprei en gelees in die Afrikaanse gemeenskap en begin ook reeds die koördineringsrol vertolk wat ons wil hê dit moet.

Die pad wat ons moes loop om uit te kom waar ons vandag is, is gekenmerk deur ’n paar oorwoë vertrekpunte:

  • Die besef dat ons met ’n proses besig is wat gaan tyd neem. In die loop van die tyd is hierdie uitgangspunt opnuut beklemtoon – dinge neem tyd om te ontwikkel en ons kan dit nie aanjaag nie, omdat ons met mense werk wat uit soveel hoeke op die saak aan die proses deelneem. Prof Neville Alexander het in Augustus 2004 tydens die Eerste Nasionale Afrikaanse Taalberaad op Stellenbosch ons gemaan met die woorde: “Wees bereid om voetjie vir voetjie vorentoe te gaan en wees ook bereid om soms selfs ’n tree terug te gee om vordering te kry.” Dit was wyse woorde – dit het ons deeglik in die ontvou van die proses geleer!

  • Die geduld om die proses kans te gee om te ontwikkel. Die produk sal hieruit volg. (In private gesprekke moes ons ons dikwels daaraan herinner om geduldig te wees met die proses én met mekaar.)

  • Die bereidwilligheid om baie hard te werk (veral ágter die skerms). Praat, praat en nogmaals praat om misverstande te voorkom. En omdat ons uit verskillende historiese hoeke na die proses kyk, gebeur misverstande en miskommunikasie so maklik!

  • Die nastreef van ’n gesamentlike visie op die toekoms: eenheid onder die inklusiewe Afrikaanse taalgemeenskap. Dit bly ons droom en strewe.

  • Die geloof dat die Afrikaanse taalgemeenskap die vermoë het om hom te organiseer. By tye is ons wel geneig om so onder mekaar te baklei en te verskil dat die groot doel soms maar op onvaste pote staan. ’n Klaarblyklike doring in die vlees skyn die term “Afrikaner” te wees, maar ons sal as taalgemeenskap daarby verby moet kom.
  • Toewyding tot en ’n strewe na versoening en inklusiwiteit binne die Afrikaanse gemeenskap.

  • Die bereidwilligheid om aanpassings te maak soos die proses vorder, en die besef dat daar by tye selfs kompromieë aangegaan moet word. Die proses het laat blyk dat kompromieë van kernbelang is sodat daar nooit ’n verloorsituasie vir enigiemand ontstaan nie.

  • Die samewerking met die breë burgerlike gemeenskap – dus ’n soort vennootskap. By tye was (en is!) hierdie vennootskap maar broos, maar gelukkig is ons nog steeds op die regte koers.

  • Die benutting van die infrastruktuur van bestaande organisasies om take gedoen te kry. Eers die FAK (2003-2007) en daarna die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns (2007 tot hede), wat ons sekretariaat behartig. Die werklikheid wat ons moet bestuur, is dat die SA regering nie daarop ingestel is om Afrikaans (soos ook die SA swart tale) te bevorder nie en dat hierdie gemeenskappe dit sélf sal moet doen. Dit is dan inderdaad ook wat ons doen: ons koördineer en organiseer ons op so ’n wyse dat ons Afrikaans kan bevorder. Hopelik word ons in hierdie proses ook ’n voorbeeld vir ander taalgroepe ten opsigte van hoe om hulle te organiseer. Ons vervul graag hierdie rol!

Ter wille van die rekord moet ek net ook weer ons werkswyse en ons benade­ring tot die aanpak van sake uitlig:

  • Die ATR wil nie die taak van geassosieerde organisasies oorneem nie, maar ons wil eerder die aktiwiteite en funksie van hierdie organisasies so koördineer dat die potensiaal van die organisasies in die beste belang van Afrikaans ontgin word.

  • Die ATR wil deure vir Afrikaans (en by implikasie ook vir ander tale) by die Regering oopmaak. Dit is ’n proses wat ons energie en geduld tap, maar ons moet dit doen. Ons neem ons saak in ons eie hande en ons bepaal daardeur wat van ons gaan word. Ander gemeenskappe kan hierdie voorbeeld volg. As ons in die proses van werk vir die doelwitte wat ons nastreef ook ander tale kan bevoordeel, dan doen ons dit met graagte.

  • Die ATR bly by sy standpunt dat ons nie konfronterend wil optree nie, maar ons wil eerder op ’n konstruktiewe wyse ’n bydrae maak tot die SA gemeenskap. Konfrontasie lewer nie altyd die beplande dividende nie en daarom word volhoudend die sagter roete van samewerking, onder­steuning, gesprekvoering en oorreding (selfs agter die skerms) gevolg. Ek kan bely dit is nie altyd maklik om hierby te hou nie, omdat die Regering ons as taalgemeenskappe so dikwels in die steek laat. My openbare uiting van frustrasie in November 2010 (oor nasionale TV) oor die onvermoë van die Regering om werklik ’n verskil aan taalbevordering te maak (spesifiek rakende die ooreenkoms met die Nederlandse Taalunie), het daartoe gelei dat daar tans aan geen versoeke van ons om gespreks­voe­ring gehoor gegee word nie. ’n Mens moet dus seker versigtiger wees in hierdie verband en nie toegee aan versoeking nie!

  • Die ATR tree konsulterend op.

  • Ons moes strategies besin oor waar ons die grootste impak kan maak.  Dit het ons reeds etlike kere gedoen. En ons sal dit nog heelwat meer kere moet doen.

In my voorsittersrede in 2010 het ek aangedui dat die ATR van plan is om in 2011 aan ’n hele aantal sake aandag te gee. Die vraag is of ons vordering gemaak het daarmee in die afgelope jaar. Wat was van ons ander hoogtepunte in die afgelope jaar? Enkele hoogtepunte uit ’n projekte- en betrokkenheidshoek is die volgende:

  • Die lede van die ATR sal onthou van die hofsaak wat Cerneels Lourens teen die Staat aanhangig gemaak het rakende die implementering van die taalbepalings in die Grondwet. Die Staat het opdrag gekry om teen Maart 2012 terugvoer aan die hof te gee oor vordering in hierdie verband – hoe hy naamlik "deur wetgewende en ander maatreëls (die) gebruik van amptelike tale reël en monitor". Die ATR was deurentyd aktief betrokke by hierdie proses en tree op versoek op as die koördineringsliggaam vir die stuur van die proses. Tydens ’n vergadering in Augustus vanjaar is verteenwoordigers van ’n klomp liggame byeengebring in Pretoria en is die saak van die nuwe talewet indringend bespreek en is daar op ’n paar daadwerklike stappe besluit. Ons gaan beslis saam met ander belang­heb­ben­des die saak verder neem. Hier is strategiese vennootskappe en samewerking nodig om sukses te kan behaal. Slegs deur gesamentlike druk kan ons sukses behaal. Daar is te veel vir ons op die spel om hier te verloor. Cerneels Lourens en prof Koos Malan van UP speel belangrike rolle in die verloop van die proses deur hulle betrokkenheid om druk te plaas op die afloop van die proses. Dit blyk sedertdien dat die Staat se poging tot die SA talewet nie veel meer is nie as ’n poging om aan die wetlike proses gehoor te gee en dat die letter en gees van die Grondwet nie nagekom word nie. Dit is eintlik tragies as ’n mens besef dat daar reeds in 2003 ’n wyd gekonsulteerde konseptalewet afgerond is en dat dit ’n hofsaak geverg het om die Staat te dwing om sy werk te doen! Harde werk lê nog voor op hierdie front in die komende paar maande.

  • Dit het in die loop van die jaar onder ons aandag gekom dat studente wat Afrikaans as vak wil neem, nie in aanmerking kom vir die Funsha Luzaka-beurse nie. Ons ervaar dit as diskriminasie teen Afrikaans. Op grond hiervan het die ATR met die hulp van Cerneels Lourens ’n saak teen die Departement Basiese Onderwys aanhangig gemaak in die gelykheidshof om Afrikaans as ’n gelyke taal te behandel. Die saak is in proses en ons vertrou dit sal positief vir Afrikaans afloop. Ons hoop natuurlik om die saak te skik voordat ons werklik in die hof beland!

  • In 2010 is gerapporteer dat die ATR betrokke is by pogings om Afrikaans by die raamwerk van die Nederlandse Taalunie te betrek. Ekself en Christo van de Rheede was in November 2010 in Brugge, België, deelnemers aan samesprekings tussen verteenwoordigers van die SA Departement van Kuns en Kultuur en ministers van Nederland en Vlaandere om ooreenkomste tussen SA en die Lae Lande te sluit. Die geleentheid was ’n viering van die Nederlandse Taalunie se 25-jarige bestaan. Dit het eers ná meer as agt maande ’n konkrete ooreenkoms opgelewer en as dit reg bestuur word, kan Afrikaans en ook ander SA tale hierby baat. Ek moet ook erken dat die geleentheid as sodanig ’n verleentheid was weens die SA regeringsdeelnemers se gebrekkige kennis van die samewerkingster­rei­ne. Hier is waarskynlik ’n gulde geleentheid verspeel. Pogings om sedertdien met SA regeringsverteenwoordigers oor die saak in gesprek te tree, veral oor die waarmaak van die ooreenkoms, het op doodse stilte en geen reaksie nie uitgeloop. Dit is frustrerend, omdat daar in die Afrikaanse gemeenskap voldoende kundigheid is om hierdie projek te laat realiseer.

  • In opvolging van 2009 en 2010 se rondetafelgesprekke in onderskeidelik Antwerpen en Amsterdam het ons inisiatief om Afrikaans in die Lae Lande te profileer, in 2011 uitgeloop op die histo­rie­se Eerste Festival voor het Afrikaans in Amsterdam (17‑19 Junie 2011). Danksy ’n komitee onder leiding van Joris Cornelissen en met die hulp en steun van Ingrid Scholtz (wat tans Solidariteit se verteenwoordiger in Europa is, maar volgens ooreenkoms ook take vir die ATR verrig) is hierdie fees in die pragtige Tropentheater op die Mauritskade in Amsterdam aangebied. Van die lede van die ATR-direksie was daar aanwesig: ek, dr Michael le Cordeur (wat ook ’n lesing gelewer het) en Christo van de Rheede. Die fees was werklik ’n fees! Christo van de Rheede het na afloop van die fees ook parlementslede van die Vlaamse Regering in Brussel gaan toespreek. Die ATR was ook via dr Karel Prinsloo in September vanjaar betrokke by ’n groot Plus50Beurs in Utrecht, Nederland, en hierdie geleentheid is benut om die ATR se aktiwiteite en werksaamhede verder bekend te stel. Dr Dione Prinsloo het voltyds by die skou inligting verstrek oor die ATR en meewerkende organisasies se aktiwiteite. Tydens die ses dae van die skou het 103 000 mense die geleentheid bygewoon en talle hiervan het die ATR se inligting ontvang. Ook hier is ons met ’n proses besig wat ons vertrou op die lang termyn die nodige dividende sal lewer.

  • Daar is nog talle ander organisasies wat nie betrokke is by die ATR nie en daarom het ons begin met ’n inisiatief om Afrikaanse organisasies wat nog nie lede is van die ATR nie, nader te trek. Daar is byvoorbeeld tans min organisasies waarby bruin sprekers van Afrikaans betrokke is, by ons geaffilieer. Dit bly ’n groot prioriteit om dit reg te stel en ons suidelike verteenwoordiger, mev Ria Olivier, is tans hard aan die werk hieraan. Ons het vanjaar van die “Rekenmeesters vir Afrikaans” bewus geword en probeer om hulle sowel as die Afrikaanse Handelsinstituut (AHI) as lede by die ATR te laat aansluit.

  • Die onderwysberaad van 26-28 Augustus 2010 by Kunstekaap in Kaapstad was ’n groot sukses en het daarin geslaag om nuwe deelnemers by die proses te betrek. Planne is aan die gang om die resolusies wat tydens hierdie beraad geneem is, in werking te stel. Prof Pierre Theron en sy onderwyskomitee het wonderlike werk in hierdie verband gedoen. ’n Publikasie oor die beraad het in die loop van 2011 verskyn en dit word gebruik as riglyne vorentoe. Die direksie het pas besluit dat prof Theron en sy kommissie (met die koöptering van ander kundige rolspelers) die saak nou met erns sal aanpak sodat planne gemaak én uitgevoer kan word. Hieroor sal in 2012 verslag gedoen word.

  • Tydens vanjaar se AJV fokus ons op die rol van die kunste in die uitbou van Afrikaans. Hieruit gaan ook planne kom wat ons as lidorganisasies verder sal moet neem. Dit blyk dat fondse wat vir die kunste in SA beskikbaar is, selde na Afrikaans vloei en dat die toeken en bestuur van die fondse in burokratisering vasgeval het as ’n waarskynlike poging om die onbevoegdheid van die rolspelers te verbloem. Dit is moontlik ook so dat politieke voorkeure ’n al hoe groter rol speel in die toeken en bestuur van die fondse.

  • Die jeug is in 2011 aktief betrek by die aktiwiteite van die ATR. Tydens ’n jeugberaad as deel van die US Woordfees 2011 het daar op versoek van die aanwesiges ’n ATR-jeugvleuel tot stand gekom. Die eerste ATR-jeug­beraad is gehou op 18 Junie vanjaar en verteenwoordigers van verskeie universiteite het dit bygewoon en planne gemaak met die oog op die toekoms. Die komitee, met Vera Argyle en Vergilio Daniëls aan die spits (en met Natalie Geldenhuys en Charl Oberholzer as die ander lede), word van harte bedank vir hulle werk in hierdie verband. Hier kom mooi dinge vorentoe.

  • Ons bly in gesprek met universiteite oor hulle taalbeleide. Die ATR het saam met ander organisasies in Februarie vanjaar deelgeneem aan ’n daggesprek oor die beskouing van Afrikaans as ankertaal aan bepaalde universiteite. Ons gaan by hierdie proses betrokke bly omdat ons glo dit is ons taak om Afrikaans as tersiêre taal in die land te behou en uit te bou. Die ATR het ook in beginsel ’n onlangse mosie (November 2011) gesteun van die Konvokasie van die US om ’n groter rol vir Afrikaans aan hierdie universiteit te verseker. Ons gekwalifiseerde steun is ongelukkig verkeerd gereflekteer in die media, asof die ATR en ander organisasies ’n mosie van wantroue in die Raad van die Universiteit van Stellenbosch sou instel. Dit was natuurlik nie die geval nie en dit is nie tegnies moontlik nie, omdat die ATR as sodanig nie ’n konvokasielid is nie. Die doel met gesprekke is om as fasiliteerder tussen die US en die verwagtinge van die Afrikaanse taalgemeen­skap op te tree sodat die gesprekke nie doodloop nie. Solank mense met mekaar praat, is daar altyd hoop op kompromieë. Ons moet egter nie só praat dat ons eerder deure toemaak nie. Dit is teenproduktief.

  • In 2010 is berig dat ’n projek beplan word om ’n populêre publikasie oor die gedeelde verlede van Afrikaans saam te stel. Dit sal help om die volle storie van Afrikaans wyer bekend te stel. Afrikaans het nie net ’n wit of bruin of swart geskiedenis nie. Ons het ook ’n óns geskiedenis en dit is wat ons wil vertel. Ons is baie opgewonde hieroor. Die taak is sedertdien aan prof Christo van Rensburg, kenner van die geskiedenis van Afrikaans en afgetrede hoogleraar aan die UP, opgedra en ons verwag om teen middel 2012 die boekie op die mark beskikbaar te hê. Die plan is om die boekie ook in ander tale te laat vertaal sodat Afrikaans se unieke inklusiewe storie wyd gehoor kan word. Saam hiermee word daar tans deur dr Ronel van Oort (NWU) en dr Michael le Cordeur (US) leermateriaal vir ’n reeks skoolhandboeke ontwikkel wat reeds op skoolvlak die volle verhaal van Afrikaans gaan vertel. Gaan luister ook Saterdag na prof Van Rensburg se vorderingsverslag oor hierdie projek.

  • Tydens 2010 se jaarvergadering het ons die “opdrag” gekry om ons taalstrategie weer behoorlik uit te werk en by vanjaar se byeenkoms te kom terugrapporteer. Dit doen ons graag Saterdag. Dr Karel Prinsloo en sy span kundiges het wonderlike werk in ’n moeilike tyd gedoen. Ek vertrou hierdie stra­te­giese raamwerk gaan ons lig wees op die pad vorentoe, soos die plan van 2005 ook was.

  • Die verslag van die ATR se Navorsingskomitee (onder die leiding van dr Karel Prinsloo) oor die omvattende kerktaalondersoek is vanjaar gepubliseer. Tydens Saterdag se sessie sal u meer terugvoer hieroor kry. Hierdie verslag is ook ’n paar keer oor die radio bespreek.

  • Die ATR ondersteun steeds die gedagte van ’n Vrye Afrikaanse Universiteit (VAU) omdat ons glo dat dit die geleentheid bied vir diegene wat nie die kans het om aan die tradisionele universiteite in hulle moedertaal te studeer nie. Ons gaan nie ons droom laat vaar nie, maar ons weet ook hier lê nog baie spit- en dinkwerk voor. Die inisiatief van Solidariteit om ’n akademie vir tersiêre onderrig tot stand te bring, is sterk ondersteunend vir wat ons op die lang termyn wil regkry. Ons bly in gesprek oor hierdie saak.

  • Die ATR het beplan om in die loop van 2011 meer uit te reik na die platteland. Besoeke is in die loop van Augustus vanjaar afgelê aan George en Oudtshoorn. Die George-besoek het saamgeval met ’n dagbestuurs­vergadering van die ATR asook ’n Afrikaanse kultuuraand van die George-gemeenskap. Dit was ’n wonderlike aand van kultuur in Afrikaans – van rap tot volkspele tot koorsang. Die besoek aan Oudtshoorn het die begin van nuwe vriendskappe ingelui. Die plan is om op die lang termyn op elke dorp in SA ’n verteenwoordiger van die ATR te hê en ons werk tans aan planne om dit waar te maak. Gebiede wat in 2012 besoek kan word, is onder meer Upington, Pietersburg/Polokwane, Atlantis, die Oos-Kaap (Port Elizabeth) en minstens een dorp in KwaZulu-Natal. Strategies behoort ’n dorp in élke provinsie jaarliks aan die bod te kom.

  • Persverklarings is ook oor ’n hele aantal sake uitgereik. Ons probeer telkens vinnig reageer op ’n verdienstelike taalsaak sodat ons stem gehoor kan word waar dit Afrikaans raak.

  • Tydens verskeie radiogesprekke op RSG se Die tale wat ons praat (Son­­dag net ná die nuus om 11:00) is daar deur die voorsitter verslag gedoen oor aktiwiteite van die ATR. Dr Karel Prinsloo het ook by geleent­heid op hierdie program gepraat oor die kerktaalondersoek, asook die beplande nuwe taalstrategie vir Afrikaans. Prof Jacques van der Elst was ook ’n paar keer aan die woord. Ons dank aan RSG, wat ons die geleentheid gee om op hierdie wyse ’n wye gehoor te bereik. Verteenwoordigers van die ATR het ook onderhoude gevoer met ander radiostasies, veral streekstasies.

  • Die voorsitter en ondervoorsitter (dr Michael le Cordeur) asook ander lede (Christo van de Rheede en dr Danny Titus) het by verskeie geleenthede opgetree op radio of TV om Afrikaans se saak te stel, onder andere oor die US, Jeugdag (16 Junie), die VAU en ander taalsake.

  • Ons beplan om in die toekoms besoek af te lê aan van die plekke wat vir Afrikaanssprekendes van belang is, soos Genadendal, die Voortrekker­monu­ment, die Vryheidspark, die Hector Petersen-monument, ensovoorts. Van hierdie besoeke word om simboliese redes beplan. Ek kan rapporteer dat ons op Sondag 13 Maart 2011 die besoek aan Genadendal afgelê het en dat dit ’n uitstekende besoek was waartydens ons die ATR kon bekend stel. Goeie bande is ook gesmee.

  • Die NALN-debakel is ongelukkig nie vanjaar opgelos nie ten spyte van harde werk agter die skerms. Die ATR bly via die voorsitter en die HUB betrokke by gesprekke en prosesse om hierdie saak te beredder. Die Erfenisstigting en die SA Akademie neem hier die leiding.

  • Vanaf 2011 bied die ATR ’n jaarlikse ATR-diskoersreeks tydens die US Woordfees aan. In 2011 het die jeug (onderwerp: “16 Junie 1976. Die pad vorentoe?”) aan die bod gekom en in 2012 word gefokus op die “groen” tema (“Die jeug is nie groentjies nie”, met verwysing na hul kennis oor taalsake). Ons hartlike dank aan die bestuur van die Woordfees, wat ons op hierdie wyse deel maak van die fees.

  • Die ATR het vanjaar (12 Augustus 2011) in gesprek getree met lede van die senior bestuur van die ANC. Beloftes wat gemaak is oor inisiatiewe (onder andere oor NALN, die Funsha Luzaka-beurse en die SA talewet) het weliswaar nog nie gerealiseer nie, maar ons moet aanhou probeer om ons stem te laat hoor teenoor die regerende party van die land. ’n Meningsartikel van Christo van de Rheede oor taal as bemagtigingsinstru­­ment is wel opgeneem in een van die invloedryke interne ANC-publi­ka­sies. Ons hoop dit is die begin van nog sodanige geleenthede.

  • Lede van die bestuur van die ATR is vanjaar benoem op ander rade en strukture: die uittredende voorsitter is aangewys as voorsitter van die Raad van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns, terwyl dr Michael le Cordeur ook as Raadslid benoem is. Die uittredende voorsitter is verder verkies as voorsitter van die Raad van die Afrikaanse Taalmuseum en Taalmonument in die Paarl en dr Le Cordeur is ook hier ’n Raadslid. Ná twee termyne as voorsitter van die Wes-Kaapse Taalkomitee het dr Le Cordeur op 16 November 2011 uitgetree. Mnr Hendrik Theys is ook lid van die Wes-Kaapse Taalkomitee en beide hy en dr Danny Titus is lede van die bestuur van die SBA. Mnr Christo van de Rheede is met ingang 1 Januarie 2012 aangestel as die nuwe hoof van die AHI. Ons wens hom sterkte toe met hierdie belangrike nuwe taak. Mev Amanda de Stadler dien reeds in haar tweede termyn as lid van die Voortrekkermonument en Erfenisstigting, terwyl me Alana Bailey met haar eerste termyn op hierdie komitee besig is. Dr Danny Titus is ook lid van die Menseregtekommissie.

  • Laastens: Die verwyt is soms dat ons as ATR nie effektief genoeg is nie. Ek is van oordeel dat ons, gegewe ons verdelende geskiedenis en die proses wat ons deurloop om die geskiedenis meer inklusief te maak, wel uiters suksesvol was. Waar ons was in 2003 en waar ons nou in 2011 is, is ’n groot verskil omdat ons op verhoudingsvlak ver gevorder het en mekaar as lede van die diverse Afrikaanse gemeenskap beter leer ken het. Sodoende kon ons die waarde van eerlikheid aanleer en kon ons leer om na mekaar te luister. Dít kan net tyd, geduld en toewyding aan ons drome en ons visie, en volgehoue harde werk doen. Moet ons dus nie nou al oordeel nie – wag eers tot die proses afgeloop is en ons die pad voorberei het vir die volgende geslagte.

Vanuit ’n administratiewe hoek kan ek berig:

  • Bestuur en administrasie: Ons het reeds kort ná ons totstandkoming besef dat om die werk gedoen te kry en om die nodige koördinering te kan doen, ons voltydse amptenare sou moes kry. Die uitvoer van die verantwoordelikhede van die ATR is nie die werk van ’n komitee waarvan die lede elders voltyds in eie werkskringe betrokke is nie. Ons tussentydse stappe sal nou in voltydse stappe omgesit moet word as ons werklik wil groei en ons doelwitte wil bereik. Idealergewys moet ons ook ’n persoon kry om ons belange in Europa te hanteer en danksy Solidariteit verrig mev Ingrid Scholtz tans hierdie taak ook vir ons.

  • Sekretariaat: Die Raad van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns het in Augustus 2009 onderneem om die ATR-sekretariaat vir ’n verdere drie jaar te dra (2009-2012). Ons groot dank aan die Akademie hiervoor! Sonder prof Jacques van der Elst, Nellie Engelbrecht en Marietjie Botha sou ons kwalik kon funksioneer.

  • Vergaderings en beplanning: Ons het talle kere as volle bestuur vergader sodat ons ons strategie kon bespreek en planne kon maak: 25 Augustus 2010 (Kunstekaap, Kaapstad), 22-23 Oktober 2010 (Pretoria) en 11-12 Maart 2011 (tydens die Woordfees op Stellenbosch). Die dagbestuur het in persoon op 18-19 Augustus 2011 in George vergader en verder is daar via die telefoon talle vergaderings in 2011 gehou: 20 Januarie, 24 Februarie, 17 Maart, 23 Mei, 5 Julie, 26 Julie, 30 Augustus, en 19 Oktober.

  • Komitees van die ATR het ook gereeld via die telefoon vergader, soos die Onderwyskomitee op 4 Maart 2011 om die resolusies van die beraad in Augustus 2010 te bespreek en op ’n plan van aksie te besluit. Die Navorsingskomitee het ook ’n paar keer telefonies vergader (onder meer op 3 Junie 2011 en weer in Augustus 2011). Afgesien van die eerste jeug­beraad op 18 Junie 2011 (Pretoria) het die ATR se jeugvleuel ook telefonies vergader op 12 Mei 2011 en 24 Oktober 2011.

  • Kommunikasie na buite: Ons eie nuusbrief, die ATR-Koker, het twee keer verskyn in die loop van 2011. Die ideaal is dat dit ’n maandelikse nuusbrief sal kan word. Die ATR se brosjure is ook vanjaar grondig herskryf en in drie tale (Afrikaans, Engels en Nederlands) beskikbaar gestel. Dit is onder andere wyd versprei tydens die fees in Amsterdam asook tydens die Plus50Beurs in Utrecht. ’n Hele aantal ATR-baniere is ook gemaak en aan lidorganisasies gegee om tydens hulle byeenkomste te vertoon. Op hierdie wyse word die ATR ’n al hoe bekender stem in die Afrikaanse gemeenskap. Organisasies wat ook van hierdie baniere wil hê, kan daaroor navraag doen by die HUB.

  • Finansies: Fondse bly maar ’n probleem, maar ons was gelukkig om konkrete steun te kry van ’n aantal instansies en individue: die Dagbreek Trust, die Hiemstra Trust, die Het Jan Marais Nationale Fonds, die Marie Luttig Gedenktrust, die ATKV, die Vlaamse verteenwoordiger in SA (mnr David Maenaut), Die PUK-Kanselierstrust, en ook ander. Die bydraes van organisasies (soos Afri­forum, Solidariteit, die ATKV, die SBA, die SA Akademie, die Afrikanerbond en die Vriende vir Afrikaans) om van die lede van die ATR-bestuur se koste te dra, word baie hoog waardeer. Ons moet fondse bekom om in die toekoms te kan volhou om ons basiese take uit te voer. Dit is nie ’n mak­like taak in ’n swak ekonomiese tyd nie. Ons het ’n groot borg nodig wat die vertroue in ons sal hê om die take uit te voer wat nodig is, en ook om ’n meer permanente struktuur vir die ATR te vestig. Ons wag tans op terugvoer oor so ’n aansoek.

Vanselfsprekend wag daar talle uitdagings op ons.

  • Ons moet seker maak dat die diversiteit van die volle Afrikaanse gemeen­skap ook in die ATR en sy aktiwiteite weerspieël word. Daar lê nog baie werk voor in hierdie verband.

  • Ons moet baie groter sensitiwiteit vir die verskillende groeperings in die ATR aan die dag lê. Die onlangse mediadebat oor die ABN (Afrikaner Burgerlike Netwerk) is iets wat die gevaarligte laat flikker. Hoe verdraagsaam is ons oor mekaar se geskiedenis? Toon ons genoeg begrip vir die verskillende agtergronde waaruit ons kom?

  • Ons moet mekaar se strukture en netwerke deel waar ons kan. Saam is ons net soveel beter!

  • Ons moet indringend besin oor elke strategie. Wat is op hierdie stadium die belangrikste vir Afrikaans? Is dit byvoorbeeld die vestiging van ’n Afrikaanse kontakkantoor in die Lae Lande of eerder iets anders in SA self?

  • Ons moet die onderlinge samewerking en kommunikasie van Afrikaanse organisasies verder aanmoedig en selfs fasiliteer. Ons moet by mekaar leer oor ons suksesse en mislukkings.

  • Ons as organisasies moet beter leer kommunikeer. Daar kom nog te veel oorvleueling en duplisering voor. Ons praat nog nie genoeg met mekaar nie en dít is hoekom ons mekaar so maklik verkeerd verstaan. Ons sal daarom ’n nuwe opname moet maak oor wie tans wat doen en daaruit sal ons behoorlike samewerkingstrategieë moet bepaal. Idealergewys behoort ons ’n skakelbeampte van die ATR te hê om seker te maak dat optimale skakeling en kommunikasie plaasvind.

  • Ons moet mekaar se terreine respekteer en mekaar die ruimte gun om elke organisasie se doelstellings en nisse uit te leef. Kom ons hou dit so, maar kom ons werk ook saam waar ons kan.

  • Ons moet volhou om aan te dring op Afrikaans se regte as taal in SA. Ons durf nie hier slap lê nie. Strategies sal dit sin maak om die ander taalgroepe as vennote hier te betrek sodat ons ’n verenigde front kan vorm.

  • As leiers van die Afrikaanse taalgemeenskap moet ons aanhou hoop gee aan die lede van die Afrikaanse gemeenskap. Ons kan dit nie doen deur die hele tyd te kla en te wroeg nie. Ons moet positief wees. En dit moet ons doen deur dít wat ons bind (Afrikaans en die strukture wat dit ondersteun) – kom ons deel mekaar se energie, entoesiasme, passie, kragte, strukture en kundigheid.

  • Daar is nog baie werk te doen. Ons moet bereid wees om dit te doen.  Hier­­voor is werkers (organisasies en individue) nodig. Ons vra hierdie wer­kers se tyd, energie, entoesiasme, geld, geduld en kundigheid.

Dit is ten slotte nodig om dank uit te spreek teenoor ’n paar individue en instansies: die personeel van die kantoor van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns vir hulle fantastiese administratiewe steun (waarsonder ons nie sou kon funksioneer nie!); die Raad van die SA Akademie vir die toestemming aan die SA Akademie se personeel om hierdie funksie te kan verrig; prof Jacques van der Elst in sy persoonlike hoedanigheid vir veral sy gewilligheid om as deeltydse HUB die donkiewerk te doen en vir sy visie en entoesiasme; die twee koördineerders van die ATR (dr Dione Prinsloo en mev Ria Olivier) vir hulle harde werk in die belang van die ATR; Christo van de Rheede en die SBA, dat hulle die tuisbasis vir die ATR in die suide was; ons borge (reeds vroeër genoem), waarsonder ons hoegenaamd nie sou kon funksioneer nie; die lede van die bestuur van die ATR vir hulle onbaatsugtige opoffering en die (gratis) afstaan van hulle tyd, energie en entoesiasme om die ATR te dien; die Afrikaanse Taalmuseum in die Paarl vir die gebruik van die fasiliteite vir 2011 se jaarvergade­ring en die bestuur van die Breytenbach-sentrum op Wellington vir hulp met Vrydagaand se geleentheid. In die besonder weer eens dank aan mnr. David Maenaut van die Vlaamse owerheid vir die borgskap vir die dek van die koste van Vrydagaand se geleentheid.

Dit is ook my laaste voorsittersrede en daarom ’n paar woorde oor my ervarings in hierdie tyd: Dit was ’n voorreg om van die begin af (Maart 2003) betrokke te kon wees by die proses wat gelei het tot die ATR. Toe ons begin het, was dit ’n droom en ’n ideaal wat ons nagestreef het. Dat ons in so ’n kort tyd as Afrikaanse gemeenskap so ver kon vorder hiermee, het my (en ek dink ook ander se) stoutste verwagtinge oortref. Ek dank die lede van die direksie wat my met hierdie pos toevertrou het en dat hulle my vertrou en gesteun het in wat ek in hierdie tyd gedoen het. Die pos as voorsitter van ’n organisasie soos die ATR is nie altyd maklik nie, omdat ’n mens soveel uiteenlopende persoonlikhede en ook sienings van en oor sake bymekaar moet bring én bymekaar moet hou. Dit was nie aldag maanskyn en rose nie en in hierdie proses het ek opnuut besef Afrikaans is beslis nie vir sissies nie! Ons as bestuur kom uit soveel hoeke en by tye het ek gewonder of ons dit gaan maak as organisasie, omdat ons oor soveel goed hewig verskil. Tog het ons dit gemaak! Ek het permanent versoening nagestreef, ook in ons eie geledere ... Ek wou in my tyd seker maak dat ons ons statuur en status as organisasie vestig en dat ons strukture goed funksioneer. Ek dink ons kon dít minstens regkry onder my leiding. Tussendeur was daar ook my werkgewer, die NWU, wat ek gelukkig moes hou en waar ek as akademikus moes funksioneer – dit het werklik fyn tydsbeplanning geverg omdat ek ook nog my huwelik in stand moes probeer hou. Ek hoop ek kon die nodige balans handhaaf en my take volgens verwagting uitvoer. Dit is natuurlik moontlik dat ek nie almal tevrede kon stel nie, maar dit is nie in my aard nie, want dan sou ek nie veel meer as ’n ja-broer gewees het nie. Dít kan ek nie wees nie. Van die direksielede het waarskynlik ook van my manier van doen verskil en dit was hulle goeie reg. Foute het ek ook beslis gemaak en daaroor kan ek net my spyt uitspreek, maar my bedoeling was altyd om Afrikaans en die ATR se belange te bevorder. Ek het ook wonderlike vriende in hierdie proses gemaak en ek is dankbaar dat ek soveel by hulle kon leer. Ek het van die begin af die visie gesteun wat die ATR kenmerk en ek vertrou dat ek in my termyn kon help om die ATR in daardie rigting te stuur. Ons het begin op ’n baie onsekere pad, maar ons het intussen ons koers gekry op daardie pad danksy ons goed oorwoë taalstrategieë. Dit was ’n voorreg om die afgelope bykans nege jaar die voorloopwerk op hierdie pad te kon doen. Dankie dat ek in hierdie proses kon deel hê aan die geskiedenis van Afrikaans. Wat my rol in die ATR vir my verder inhou, weet ek nie, maar ek help graag waar ek kan. Soos die lede van die ANC sal ek seker ook nou “herontplooi” word om elders my bydrae te lewer ... Ek weet net ek het nou meer tyd om die belange van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns en die Afrikaanse Taalmuseum te stuur en hopelik ook nog my beplande boek oor die Afrikaanse taalgeskiedenis te kan skryf. Ek wens my opvolger baie sterkte toe en gee graag raad as hy dit sou nodig hê. Hy gaan ons almal se steun baie nodig hê in die volgende fase van die Afrikaanse pad. Dit is nou tyd vir nuwe energie en nuwe planne. My rol is gespeel.

Ter afsluiting: Ek kan rapporteer dat die derde jaar van die ATR se bestaan ’n verdere goeie jaar was, waarin ons op verskeie vlakke nog meer gevorder het. Ons sou seker nog meer wou gedoen het, maar vir ’n organisasie met drie deeltydse werkers en ’n direksie wat elders ander voltydse verpligtinge het, het ons waarskynlik in die verslagjaar nie te sleg gevaar nie. Ek vertrou dat ons aan die einde van die vierde verslagjaar nog meer vordering sal kan rapporteer.

Baie dankie!