Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Boeke | Books > Resensies | Reviews > Afrikaans

Bram Fischer: ’n Portret van teenstrydighede


Chris Marnewick - 2011-11-29

’n Seun soos Bram: ’n Portret van Bram Fischer en sy ma Ella
Hannes Haasbroek
Uitgewer: Umuzi
ISBN: 97814152014703
Prys: R220


Klik hier en koop ’n Seun soos Bram nou van Kalahari.net!



Soggens as ek oor Bram Fischerweg in Durban werk toe ry en my staal vir die dag se sake, wonder ek oor die advokaat wat Bram Fischer was. Wanneer ek smiddae op dieselfde roete huis toe ry en so in die ry van die advokaat in my ontslae raak, dan wonder ek weer oor die Bram Fischer wat ook so moes huis toe gegaan het elke dag na sy vrou en kinders toe. Met die lees van hierdie boek wonder ek al meer en meer, en ek kry geen duidelike beeld voor my nie. Daar is net te veel fasette aan die man wat Fischer was. Elke faset verdien waarskynlik ’n boek op sy eie, en dit is seker nie onverwags dat daar alreeds soveel oor hom geskryf is nie.

Die skrywer van hierdie boek, Hannes Haasbroek, is ’n boorling van die Vrystaat, net soos Fischer, en ’n historikus van formaat, met ’n doktorsgraad – van die Universiteit van die Oranje-Vrystaat, waar anders? – agter sy naam, en hy het reeds voorheen talle artikels en referate geskryf wat oor een of ander aspek van Bram Fischer en sy familie handel. Ek tel 18 bydraes van Haasbroek in die bronnelys agter in die boek. Foto’s verskyn orals in die boek by die toepaslike teks. ’n Persoonsregister – drie kolomme daarvan – strek oor vier bladsye. Daar is vier dubbelkolom-bladsye bronne en nie minder nie as 25 bladsye eindnotas. As Haasbroek nie reeds doktor Haasbroek was nie, sou hierdie boek ’n waardige DPhil-verhandeling kon gewees het. Dit is ook ewe duidelik dat die uitgewer besondere aandag aan die boek gegee het. Die taalgebruik is suiwer, idiomatiese Afrikaans, helder en duidelik, met kort woorde, kort sinne en kort paragrawe, inderdaad so mooi dat ek my skaam oor wat hier in die laaste uithoek van die Britse Ryk gebeur het met my vermoë om my moedertaal te praat en te skryf.

Wat inhoud betref, is dit ’n formidabele boek en ek kon dit selfs nadat ek dit deurgelees het, nie neersit nie. En wanneer ek dit wel gedoen het om te eet of televisie te kyk, het ek gevind dat ek so half onwillekeurig die boek weer opgetel het, laat oopval waar hy wil en dan weer gelees het. En met die tweede, gefragmenteerde lees was daar telkens nuwe insigte. Ja, daar word heelwat geskryf oor Bram se ma Ella, maar die boek gaan eintlik maar oor hom. En soos ek Ella Fischer se karakter lees, is dit waarskynlik hoe sy dit sou wou hê. Bram was haar eerste kind, en dit lyk vir my of daar tussen hulle daardie spesiale band was wat mens telkens tussen ’n ma en haar eerste seun kry, en tussen ’n pa en ’n eerste dogter.

Ella het uit die Fichardts gekom, Duitse immigrante van wie die eerste hom reeds in 1848 in Bloemfontein gevestig het, en Ella se pa, Gustav, het in 1853 gevolg. Die Fischers was ook Duitse immigrante, maar hulle stamvader het reeds in 1761 in die Kaap aangekom. Bram se oupa was volksraadslid en sy pa was regter-president. Bram was die derde-geslag-regsgeleerde in hierdie ry. In Bloemfontein en in die Republiek van die Oranje-Vrystaat was die Fichardts en die Fischers die adelstand, as ’n ware republiek ooit so ’n teenstrydigheid sou toelaat. Dit is juis die teenstrydighede in Bram Fischer wat hierdie boek vir my so unputdownable maak.

Die teenstrydighede in Bram Fischer maak nie van hom ’n onvolledige karakter nie, maar ’n komplekse een. Ek vermoed dat Fischer, as hy ooit sou gekyk het na dit wat hy daar diep binne-in homself sou sien, juis die konflik sou gesien het in alles waarvoor hy gestaan het, in alles wat hy geglo het en in alles wat hy gedoen het.

As advokaat vind ek dit byvoorbeeld ongewoon dat Bram Fischer in die Rivonia-verhoor as advokaat opgetree het terwyl hy self een van die samesweerders was. Die konvensionele
wysheid en etiek van die beroep vereis juis dat ’n advokaat nie persoonlik betrokke mag wees of raak met die kliënt se besigheid nie, soveel te meer as dit ’n misdadige besigheid is. Fischer was lid en by geleentheid selfs voorsitter van die Balieraad, wat onder andere die plig gehad het om daardie reël af te dwing. Die struggle – die boek stel voor dat dit nou ’n Afrikaanse woord geword het - word vandag as verontskuldiging aangebied. Maar ek wonder tog hoe Bram Fischer dit vir homself regverdig het. Hy was so gesteld op wat reg of behoorlik was. Hy het ook sy belofte aan die hof verbreek toe hy op borgtog vrygelaat is en toegelaat is om ’n saak in Londen te gaan waarneem. Dit is ook vir advokate ’n ernstige vergryp om ’n vals belofte aan die hof te maak, maar mens sou kon aanvoer dat toe hy die onderneming gegee het, Fischer dalk nog bedoel het om dit na te kom.

Daar is ook ander teenstrydighede. Fischer het uit ’n gesin van Afrikaner-nasionaliste gekom en hy word deurgaans voorgehou as ’n Afrikaner. In regter Colin Lamont se onlangse uitspraak in die Malema-haatspraaksaak word Afrikaner gelyk gestel aan Boer, en daar is natuurlik baie wat hulleself so noem. Maar die kommunis in Bram Fischer is juis die teenoorgestelde van nasionalis. Wie was hy dan, die een of die ander? Hoe kon hy albei wees?

Dit is die wonderlike van die boek. Dit laat mens dink en wonder.

Ek wonder ook oor die Bram Fischer wat saans huis toe gery het om sy ondergrondse werk te doen. Hy word voorgehou as ’n gesinsman wat gesteld was op die welsyn van sy vrou en kinders, maar het hy gedink oor die gevare wat sy ondergrondse bedrywighede vir sy vrou en kinders en vir sy pa en ma ingehou het? Hy wou die land red van onderdrukking, maar het juis die onderdrukkers die geleentheid gegee om hom en sy geliefdes te laat les opsê. Ek wonder.

Die antwoord, so lyk dit vir my, skemer tog deur in die boek. Ons moet almal gereeld kompromieë aangaan, selfs met ons diepste beginsels en ernstigste geloofsoortuigings. Geen beginsel is absoluut nie en geen praktyk wys nie krakies wanneer dit ernstig onder die loep geneem word nie. Ons staan teen die doodstraf, maar wil tog sekere misdadigers dood hê. Ons is teen vrugafdrywing en genadedood, maar sal nie skroom om dit toe te pas wanneer dit ons pas nie. Soos wat Bram en sy vrou Mollie gedoen het toe hulle ’n swart meisie aangeneem het en hulle by sy ouers gaan eet het. Vir Ella sou dit nie aanvaarbaar gewees het om die swart meisie saam aan die etenstafel te laat sit nie. Dus het Bram en Mollie al drie die meisies – hulle eie twee dogters en die aangenome digter – in die kombuis sitgemaak vir aandete.

Terug na die boek en die skrywer. Die boek lees soos ernstige, wetenskaplike navorsing, maar terselfdertyd soos ’n lekker skinderstorie. Die Fichardt- en Fischerfamilies se binneste geheime word blootgelê, en nie net so agter die hand sydelings nie, maar elke sin of paragraaf met sy bewyse in die eindnotas. In die voyeuristiese milieu waarin ons leef, is dit ’n lekker boek om te lees, en ek verstaan nou waarom ek die boek telkens weer optel en sommer so, woerts-warts, lees, vorentoe en agtertoe, en my verwonder aan die besonderhede van Bram Fischer se lewe en sy verhouding met sy ma.

Die boek het ’n lang aanloop voordat mens by Bram Fischer se loopbaan as advokaat en sy deelname aan die struggle uitkom. Die oorlog van 1899-1902, die Rebellie van 1914, die lewe op die plaas, Ella se doen en late (wat ’n omstrede boek insluit), die hartseer – gemeng met trots – van ’n geliefde seun wat weggaan om in die vreemde te gaan studeer, Bram se loopbaan as advokaat en die Rivonia-verhoor, sy arrestasie en daaropvolgende mishandeling in die tronk, en die tragiese einde. Wat egter in elke hoofstuk en op elke bladsy blyk, is dat Bram Fischer ’n vegter was wat onwrikbaar geglo het in geregtigheid en die juistheid van sy saak.

Allerhande vrae duik by my op. Noudat die struggle verby is en die kommunistiese ideologie orals agteruitgaan, sou Bram Fischer weer oorgehel het na sy ander kant toe, waar hy nasionalis was? Die Grondwet beskerm tog minderhede se identiteit, taal en kultuur, dan nie? Wat sou hy sê van die wyse waarop Afrikaners nou orals eenkant toe geskuif word en net nader geroep word wanneer een of ander van sy voormalige makkers ’n goeie advokaat nodig het? En wat sou die kommunis in hom sê van die uitspattighede van sy eertydse makkers, met hulle lang slap motors, luukse privaatvliegtuie, onnodige oorsese reise, prag-en-praal-huise en al die vertoon wat daarmee saamhang? Wat sou hy sê oor parlementslede wat van die parlement steel, ministers wat hulleself in hulle poste verryk of regters wat agteraf met kollegas knoei om sake hierdie of daardie kant toe te laat beslis?

Ek dink nogal Bram Fischer sou aan die ander kant voortbaklei, teen ongeregtigheid, uit watter oord ook al. Dit is wat die sterkste uit die boek skemer. Terwyl ek weer eens oor Bram Fisherweg ry, wonder ek: Sou Bram selfs toegestem het dat sy naam op ’n straatpaal aangebring word?

’n Man soos Bram Fischer het altyd ’n cause nodig. Wat sou sy cause vandag wees? Ek dink nogal dat die nasionalis in hom sou veg vir die behoud van Afrikaans en die Afrikaner se kultuur. Maar as hy hom teen Julius Malema sou vasloop, sou die teenstrydigheid binne hom weer te voorskyn kom, dink ek. Ek kan hom nogal sien waar hy vir Malema hard op die een wang klap oor sy skiet-die-Boer uitlatings, maar hom terselfdertyd op die ander wang soen omdat hy met Malema saamstem oor die nasionalisering van die myne en die ander rykdomme van die land.

Dit is ’n goeie boek hierdie en vir beide die navorser en die leek is die boek ’n bron van groot vermaak en kennis. Dit laat mens dink en wonder hoe dinge anders kon gewees het.