Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Boeke | Books > Boekartikels | Articles on books > Afrikaans

Dana-kragtoer tref Boland


Francois Verster - 2011-11-29

Dana Snyman en die musiekgroep Klopjag


Die naweek van 26 en 27 November was besonders vir die Boland: Dana Snyman het die Saterdagoggend by Protea se boekwinkel op Stellenbosch gesels oor sy nuwe boek, Hiervandaan. En Sondagaand was dit weer hy, en die musiekgroep Klopjag, wat Bolanders naby Wellington vermaak het. Die naweek was omtrent ’n snoesige storie, knus tussen twee Dana-buiteblaaie verpak.

By Protea Boekwinkel het Louis Esterhuizen iemand aangehaal: “Hiervandaan lees soos ’n roman.” Vir die meeste lesers is romans die hoogtepunt van literatuur. Punt. Hoewel dit dus as ’n kompliment bedoel is, is die feit dat Snyman juis nie romans skryf nie, die groter kompliment – want al lees die meeste mense eerder ’n roman as ’n kortverhaal- of reisbundel (altans in Suid-Afrika), is Dana Snyman se naam genoeg om hulle tot koop en lees te kry. Ek was onlangs met ’n uitgewer in gesprek wat presies dít gesê het: Dana se náám verkóóp. Roman of nié roman nie.

Esterhuizen het verduidelik dat Hiervandaan se “toon, die kýk en die sterk melancholiese onderbou” die rede is vir hierdie verskynsel. Dana se styl, sy stém, is vergelykbaar met dié van gewilde romanskrywers, en die “kyk” waarvan Esterhuyse praat, is die fenomenale talent om ráák te beskryf wat sinoniem aan Snyman is. Hoewel hy nie as ’n nostalgiesmous bekend wil wees nie – hy benadruk die feit dat hy nie dink die verlede is nét wonderlik nie – is hierdie treffende beskrywings van halfvergete maar alombekende plekke, mense en situasies sy handelmerk.

Snyman meen hy sou nie sy stories in die ou Suid-Afrika kon skryf nie. Dalk nie, en hoe jammer sou dit nie wees nie. Maar tog; dis nóú wat ons Dana Snyman kan waardeer. Ja, op die huidige kolletjie op die historiese tydlyn wat ons tans beset, is daar tog veel om na terug te verlang, afhangende waarvandaan jy kom. Maar Snyman wil nou kommentaar lewer op waar ons is en waarheen ons gaan. Ironies, het Churchill gesê: om verder vorentoe te sien, moet jy verder terug kyk. Meer ironies vir ’n reisverhaalskrywer – geografiese bewegings, soms vorentoe, maar steeds op ou spore terug. En in tyd; ’n abstrakte teruggaan, maar in werklikheid onmoontlik.

Bowenal skryf Snyman nie net vermaaklike anekdotes nie; hy lewer sosiale kommentaar en hy dra by tot ons kultuurhistoriese skat. Dalk wil hy ook meer in ’n gesamentlike databank deponeer as voorheen. Daarom sê hy dat hy nie wil teruggaan na die Dana wat oor ou omies en ou Valiants langs die pad, soos in sy Weg-dae, wil vertel nie. Dit gaan nie meer net oor die Glory Days à la  Bruce Springsteen nie.

You can never go back
. Nogtans doen hy dit, vergelyk hy sy eie backtracking met die Australiese Aborigines – en “ons” Boesmans – se hunkering om op die oerpaaie van die voorgeslagte te gaan loop. Die walkabouts waarvan hulle Down Under praat. Die Aborigines het geglo die aarde is geskape terwyl hulle voorsate geloop en sing het. En die, ja, Boesmans van ons eie Down Under, die suidpunt van Moeder Afrika, het soortgelyke mites, sê Snyman terwyl hy nogmaals ’n traan van onder sy bril uit pink. Hy krap aan sy oor, en sy asem kom hard, hortend, oor die mikrofoon.

Hy is emosioneel oor hierdie boek, benadruk hy telkens; hy praat moeilik daaroor. Hy hink tussen humoristiese sketse van kroeg-ervarings, altyd met ’n laggie, maar met simpatie (dis wat humor impliseer teenoor suiwer snydende satire), en dan weer tragiese gevalle, soos die Lindley-moord, en hoe hy gehuil het met die gesin se beangste hondjie in sy arms. Daar was toe ’n veiling, sê hy, en ’n hele lewenswyse is onder die afslaer se hamer deur. En daar was ’n boer, daar by die veiling, wat gesê het hy wil nie die ou Suid-Afrika terughê nie. En niemand daar het gebrom “Kom ons gaan skiet k****ers” nie. Én die ANC Youth League se vroue het selfs die boere ondersteun. Dis hierdie menslikheid wat ons aan mekaar koppel (ons DNA-stringe ook?) wat Snyman wil “predik”, met ’n skalkse glimlaggie en ’n treffende beskrywing, soos: “Bloukolle op kroegmeisies is soos ’n taal wat net hartseerwoorde het.”

Toe hy sê hy het nou alles gesê wat hy wou, kom een tannie se stem uit die gehoor: “Liewe Dana. Deur jou stories het ek vir jou lief geword.” En toe tjank ek ook. Al laggende.

Ná die Protea-belewenis het ek en ’n vriendin gaan koffie drink en ek sê toe ek en my vrou gaan môreaand weer vir Dana luister. Met die komplimente van Bolander se gawe redakteur ... en toe die dag aanbreek, is ek en vroutjie inderdaad so windverwaaid soos die wit maanhaarkuiwe bokant die berge agter Wellington daarheen: Slanghoek en Hex is twee name wat ek skaars uitmaak en toe skuif ons reeds in ’n stofwolk tot op die werf van Arauna. Net betyds om deur Anna-Rita, die flukse, vietse, blonde boervrou selwers – ons ken mekaar rakelings sedert ons studentejare – tussen die bome deur na die lokaal begelei te word waar Dana en Klopjag gaan optree. Die vertoning is hierheen verskuif weens ’n kragonderbreking in die Paarl. Een se dood, ander se brood ...

Bernus “Die Boer” van der Westhuizen, is toevallig ook ’n oud-Eendragter en ons vertel gou vir die omstanders van meelbomaanvalle en aalwynsap-op-tandeborsel-gevalle uit die koshuisdae. Amanda Kreitzer, redakteur-eienaar van Wellington se eie koerantjie, Val de Charron, neem die begeleiding oor en verseker selfs twee sitplekke in die knus geboutjie waar die orkes begin regstaan. Daar is vyf manne en ’n dame. Sy speel tjello en die res tokkel ’n versameling kitare. Twee het baard, twee dra hoed en omtrent almal dra kniebroeke, T-hemde en plakkies. Een ou dra ook bril en hy’s die hoofsanger. Ek bekyk vinnig die dekor – inlegflesse op rakke saam met wat lyk na olyfbottels, waartussen een hengse vonkelwynmagnum uittroon. Aan die riet-en-balke-dak hang groot modelvliegtuie (só groot hulle is eerder vliegtuigmodelle). In een hoek hang ’n waterverfskildery in die Japanese styl, van ’n perd. En toe is dit tyd vir besigheid: Dana Snyman daag op en sorteer gou die stoele uit, en ná een lied – nee, ’skies, sulke ouens is mos ’n band en hulle doen mos songs, is dit storietyd.

Dana – nou is ek al (teoreties) so handoppieblaas dat dit op voornaambasis is – val weg met “Iets is verkeerd ... ons almal weet dit ... ons vryheid is vertrap ... ons word kwaad, ons wil iets doen, desperáát iets doen.” Hy verwys na die Swart Dinsdag-optog na die Parlement; noem dat hy in ’n begrafnisondernemer se venster kon sien dat daar nou twee kiste vir een se prys beskikbaar is – maar net, nét vir Desember. Hy skilder ’n donker prentjie, maar mens verwag tog enige oomblik ’n kwinkslag – niemand in die stil gehoor lyk neerslagtig nie. Klopjag klop nog twee songs uit, alles in hierdie somber, lae toon: Dana se Hartseergrafsteensangers, en Dana begin opnuut praat. Oor plekke waar jy net twee keer huil, as jy daar kom en as jy weggaan, die soort ougatterige plekkies wat sy pa skynbaar aangetrek het. Soos Daniëlskuil, waar hy grootgeword het, want, sê hy,  iémand móés daar grootword (ek grynslag, want ek het daar naby skoolgehou, so twee leeftye gelede, met my eie herinneringe).

En hy skets “sy” volwassewordingsritueel wat toe, doer innie boendoes, tradisie was: anders as Oskar van The Tin Drum moes hy noodgedwone grootword. En dit het beteken jy gaan skiet ’n bok. Die res van die storie behoort eintlik kopiereg te hê, so ek noem net dat daar na Annelie van Rooyen geluister is, wat an aquired taste is wat my (ook) betref, soos Portugese Fado, maar die “Travelling Snymans” het darem meer by die Grieke gehou – Leandros en Mouskouri se name is genoem. En sy oupa se ywerige slaapgekwyl so in sy hemp se bosak in, op sy Volkskas-sakboekie se voorblad met son- en maanbewegings, het dalk elders op die planeet die springgety omvergewerp. Tussendeur is steeds plaashekke oop- en toegemaak en sy pa het met alle vreemdelinge (ook armblankes) Zoeloe gepraat tydens piepie-en-petrolstoppe. Maar nadat Oupa uiteindelik sy sê gesê het, was Dana Snyman ’n regte man. Nie meer bekend as “die kind” nie.

Die tweede storie begin met Dana wat wakker gekraai word langs die pad naby  Hanover, en daar was ’n gebed vir ’n amper-dooie donkie. Dana moes uit die Bybel vir hom lees (Biliam se esel het weer die dag gered) en daar was ook iets oor ’n vanity-kassie met een haarkruller in. Dana reken dit kon handig wees as jy iets soek om jou mee te krap. Ek, weer, het aan Bill Haley en sy kuif gedink. Maar, dis nie my storie nie. Ewenwel, Dana skat sedertdien geloof is “om te onthou wat jy op Sondagskool geleer het”, soos oor Biliam. Met ’n haan se derde kraai, uit ’n kuip op die donkiekarretjie, is hy daar weg.

Klopjag dreun weer lae trillende tone uit, die tjello voor in die koor. Een band-lid met ’n blou hempie sing sedig voor; dit klink na ’n oorgedoende-en-opgewarmde halleluja-lied. Die hele band staan met toe oë. Glimlag eers weer toe Dana begin praat. Die volgende storie gaan oor sy vriend Attie Apostolie, wat sy hond uit sy pa se Datsun Laurel se linkeragterwieldop kosgegee het. By hulle kon Dana Ruiter in Swart gaan lees sonder vrees om tot blindheid geslaan te word (sy ma se dreigement). Later gaan hy saam met At om sy pa uit die kroeg te kry, sommer so in die Laurel se kattebak – At deponeer die oom daarin en Dana dra sy een Grasshopper agterna. Sending afgehandel en At gee die motorsleutels aan sy ma, wat steeds  aan haar Rothmans teug op die rooi trappe van haar stoep. Uit respek vir sensitiewe lesers laat ons die volledige dialoog weg, maar dit kom daarop neer dat At moeg was vir sy pa. Dit kon Dana ook duidelik aan sy krom skouertjies sien.

Die band sing van skoenlappers en son, en kaalvoet dansers. Twee ouens het hoede op en twee het baarde, teken ek pligsgetrou aan. Een ou laat die rou, klaerige klanke van sy bekfluitjie hoog deur die donker ghoem-ghom van die tjello skeur. Trillend, verontrustrend styg dit op, op. Die laaste storie gaan weer oor kroegmeisies en  Driekie is nie meer (dalk) Drinky nie en dié slag is Happy Hour twaalf, nie agt minute lank nie. Drink die Wellingtonners vinniger as die Stellenbosse Akkerdopkoppe, wonder ek. Later vra ek hom en sy lakonieke antwoord is: “Kry ’n lewe, boet.” Dalk verstaan hy nie hoe iemand twee dae ná mekaar na Dana Snyman kan luister nie. Ek vermoed egter hy is al een wat dít nie verstaan nie.

Die band donder los in die kleinerige ruimte met ’n Engelse lied – hier word die T-opsie nie gevolg nie. Afrikaans het immers ’n klipgooi  van hier af sy babaskoene laat verbrons, soos Dana s’n is (uitgestal in sy wall unit, langs sy ouma se teelepelversameling en sy blindederm in ’n botteltjie). Die song is Leonard Cohen se “Hallelujah”, en dit gly nie uit ’n toring af nie, maar styg van diep uit die harte van die band. Dêm goed gedoen, dink ek, wat ’n geharde Cohen-aanhanger is.

Dana sluit toe af met ’n opsomming oor wat “kommin” is, al hou ons rockspaaiders (haai nee, wag; dis nou ook ’n band se naam) nie van die woord óf die implikasie nie. Tog is sy beskrywing oudergewoonte so in die kol dat die gehoor spontaan nog voorbeelde uit hulle verlede aanbied, teruggevoer na kombuise, en elmboë op gespikkelde tafelblaaie. My ma s’n was geel, my vrou se ma s’n groen. Dana se herinneringe oor Fonnie du Plooy en ’n Raps voor middernag oor sy radio met die gekleurde liggies laat ons vir oulaas kraai soos daai hoender langs die arme donkie.

Nadat die band ’n laaste song  eer aangedoen het, klap ons hande, jammer dis verby. Dana sê ons Afrikaners hóú darem van musiek en stories en niemand sal stry nie. Want niemand wíl nie: feite; al soek jy van Bredasdorp tot Bulawayo, sal dit altyd so wees.  Solank die land sulke storievertellers en musikante blý kweek.

O ja, en, namens Wellington, dankie Escom!