Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Nuwe skryfwerk | New writing > Fiksie | Fiction > Kompetisies | Competitions

Kersverhaal-kompetisie: ’n Tweede kans vir Kersfees


Maritza Meiring - 2011-11-29

 Verslons en verslete ploeter hy in die straat rond. Van asblik tot asblik, honger vingers vat en gryp en grou. Niks! Leeg! Net leë papiersakke – niks vir sy grommende, leë maag nie!
“Vrate!” skel hy. “Selfsugtige vrate!” Skoorvoetend en skoppend strompel hy sy weg deur die eensame straat. Moeitevol knyp hy die koerant, al geel van ouderdom, stywer onder sy arm vas. Die koerant is al wat hy oor het van sy lewe. ’n Lewe wat was. Al wat nog vir die dag oorbly, is om ‘n warm skuiling vir die nag te vind, ’n slaapplekkie vir ’n moeë siel.

Een bankie na die ander strompel hy voort – almal beset, geen plekkie vir hom nie. Sy kop voel dof, sy tong dik. Hy is moeg. Hy struikel oor ‘n leë drankbottel en die koerant val onder sy arm uit. Deksels! Hygend … bewend buk hy om die koerant op te tel.

“Meneer … Meneer, is als reg?”

“Waar is ek?” Sy oë is verwilderd. Sy gesig vreesbevange. Die polisie! Hul het hom kom haal! Hy probeer orent kom. Val terug op die grond. “O, die pyn! Help my! Help my!” Als word donker om hom, pikswart.   

“Waar is ek?”

“U is in die hospital; u is nou veilig …” troos die sagte stem. Sagte vrouehande trek sy kombers op tot teenaan sy ken en druk dit liefdevol saggies onder hom in.

Hy gryp haar hand vas net toe sy wil omdraai en loop. “Hoe kom ek hier?”

“’n Barmhartige Samaritaan het u in die park opgetel en hierheen gebring,” verduidelik sy.

“Is daar nog iets wat ek vir Oom kan doen?”

Net toe hy sy kop wil skud, onthou hy. “My koerant … waar is my koerant?”

“In die bedkassie, Oom – die man wat u ingebring het, het gesê u het aan die koerant vasgeklou. Ek het dit maar vir u gebêre.”

“Dankie,” prewel hy.

“Is dit al, Oom?” Hy knik sy kop.

Dis al wat hy het ... ‘n Foto in ‘n koerant. Hulle is weg. Vir altyd weg.

Hoe lank is dit nou? Tien jaar. Twintig jaar. Het hulle hom al vergewe?

Skielik gryp hy na sy hart. Die pyn ruk en skeur deur hom.

Hy maak sy oë toe.

Hy sien die vrou langs sy bed staan. Skok en skrik flikker deur sy oë.

“Marinda? Marinda, is dit jy?”

Trane begin oor sy wange loop. Soveel jare, pyn en seer.

“Ja Stefan, dis ek.”

‘n Beweging by die deur vang sy oog.

Dis die mooi meisiekind van vroeër.

“Ma,” vra sy sag. ”Is dit Pa, Ma?”

“Ja, my kind,” antwoord sy.

Hy begin huil; sy krom, maer skouers begin ruk.

“Pa, als is ... oukei, Pa,” troos sy.

“Stefan, die Here het jou huis toe gebring – ’n beter Kersgeskenk kon ons nie voor vra nie!”