Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Taal | Language > Nederlands | Dutch > Rubriek: Refleksies

Nuwe voorsitter van die ATR praat, k uit Amsterdam


Carina van der Walt - 2011-11-25

Untitled Document

Michael le Cordeur

Op 18 November is Michael le Cordeur verkies tot die nuwe voorsitter van die Afrikaanse Taalraad (ATR). Le Cordeur is ’n onderwysman van formaat. Tans is hy as dosent verbonde aan die Fakulteit Opvoedkunde van die Universiteit Stellenbosch. Sy navorsingsterrein is die verbetering van lees en skryf deur middel van nuwe media en die inligtingstegnologie. Vroeër was hy kringbestuurder, skoolhoof, taalonderwyser en skrywer van verskeie skoolhandboeke.

Reeds voor die direksievergadering van die ATR op 18 November moes Le Cordeur sy woorde goed kies en die standpunt van die ATR verdedig teen inskakeling by die Afrikaner Belange Netwerk (ABN). Die ABN staan onder leiding van Flip Buys van Solidariteit. Buys neem namens Solidariteit te vanselfsprekend aan dat Afrikaner ’n selfdefiniërende term is (Beeld, 29 Oktober). Hy verwar twee verskillende groepe met mekaar: die volksgroep en die taalgroep.

Terwyl alle Afrikaners waarskynlik Afrikaans praat, is nie alle Afrikaanstaliges Afrikaners nie en wíl hulle ook nie die term Afrikaner om hulle nekke gehang hê nie. Dit is ’n baie groot groep. Dit is trouens die grootste groep mense wat Afrikaans praat. Tereg sê Le Cordeur aan Beeld:

Die ATR staan vir ’n Afrikaanse taal vir alle Afrikaanssprekendes en verwoord dus nie net die sienings van Afrikaners nie. Ons het al dikwels in die verlede die punt gemaak dat vir die ATR Afrikaans nie die ekwivalent van Afrikaner is nie. Ons staan vir die diverse Afrikaanse gemeenskap, dus die kollektiewe waarde van Afrikaans en al sy sprekers.

Met die eerste fees vir Afrikaans in Amsterdam in Juniemaand vanjaar (2011) het ek in ’n kort onderhoud drie vrae aan Le Cordeur gestel. Hier is hulle, en sy antwoorde.


Wat dink u daarvan dat Afrikaans nou op haar eie fees hier in Amsterdam gehoor word?

Dis vir my baie gepas dat Afrikaans met hierdie fees Nederland toe gebring word. Baie, baie jare gelede was dit die mense van Nederland wat Kaap toe gekom het en Nederlands saamgebring het. Ons glo hulle het vir Nederlands ’n stukkie goud van ’n kultuurskat daar kom raakboor. Nou sien ek die proses in dieselfde lig, maar net omgekeerd. Nou bring ons Afrikaans Amsterdam toe en boor ’n stukkie goud van ’n kultuurskat vir Afrikaans hier raak.

Michael le Cordeur gesels by die eerste Fees vir Afrikaans in Amsterdam.

U spreekbeurt op die fees is nou verby. Hoe kyk u daarop terug?

Ek is baie bevoorreg dat ek gevra is om iets te sê en om spesifiek ’n stem vir die Afrikaanse bruin mense te wees. Ek kan maar net hoop dat ek my goed van my taak gekwyt het. Waaroor ek besonder bly is op hierdie fees, is die meerstemmigheid van Afrikaans. Ek hoor ook Griekwa-Afrikaans, Namakwa-Afrikaans en ander variante van Afrikaans.

Nederlanders sit in die laaste tyd regop oor die jong digtalent uit die Kaap, Ronelda Kamfer. Maar is daar ook ander (van die ouer garde) bruin digters wat u aan hierdie fees sou wou voorstel?

Ronelda is ’n besonderse talent op wie ons baie trots is, maar as ek kon hoop dat my wildste wens waar word, sou ek Adam Small hier wou hê. Ek sou wou hê dat hy moes kan sien hoe sy pogings van vyftig jaar gelede om vir ons ’n toekoms in Afrikaans te skep, nou die vrugte dra. In my spreekbeurt het ek ’n gedig van Peter Snyders voorgelees. Dit was maar my beskeie manier om hom hier aan die publiek voor te stel. Snyders skryf nog aktief. Hy het ’n skerp brein en ’n sterk sin vir humor.

Ten spyte van sy talle toekennings in die verlede, bly Le Cordeur ’n nederige mens. Dit het duidelik uit ons gesprek geblyk. Met sy arm stewig om sy vrou vertel hy van die jong skrywerstalent wat in ’n projek in die Breytenbach-sentrum onder háár leiding ontwikkel word. Ek kan nie anders as om hom ’n baie vrugbare tyd as nuwe voorsitter van die ATR toe te wens nie. Hulle leuse lê Le Cordeur na aan die hart en hy leef dit ook van ganser harte uit: Bemagtig, Bevorder, Beskerm.