Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Bieg | Confess

’n Deurmekaar biegsessie uit ’n deurmekaar hart


Flenterkies - 2011-11-25

Hierdie blad bevat moontlik erotiese verwysings. Indien jy jonger as 18 is, verlaat die blad asseblief onmiddellik. | The following page may contain erotic references. If you are under the age of 18, please exit this page immediately.

Gister lees ek op BiegNet dat EasyRider gereageer het op die briefie wat ek geskryf het. En dit is na aanleiding van wat jy gesê het, EasyRider, dat ek hierdie kon skryf. Dankie vir dit.

Dit is seker al ’n paar maande terug sedert ek daai biegsessie geplaas het, en ek moet eerlik wees as ek sê dat nog niks verander het nie. Ek verlang nog net so baie na hom. Dit vat baie inspanning van my kant af om nie my selfoon op te tel en net te sms nie, of selfs vir hom ’n e-pos te stuur nie. Ek weet nie eintlik waarvoor ek so bang is nie. Of eintlik weet ek. Ek is bang dat ek wel sms, of ’n e-pos stuur, en ek kry nie ’n antwoord van hom af nie. Sy nommer is nie gestoor op my selfoon nie, maar dit is ’n nommer wat ek nooit sal vergeet nie. Ek is bang om die waarheid te aanvaar. Dit is al ’n hele paar maande verby tussen ons, en ek het gehoop met tyd sal dit beter raak, maar dit doen nie. Week na week moet ek na die plek gaan waar hy werk. Ek probeer altyd eers te kyk of ek sy motor buite geparkeer sien staan, en as dit nie daar is nie, weet ek nie of ek verlig of teleurgesteld moet wees nie. Ek het nou al ’n hele paar keer in hom vasgeloop, en dan groet ons mekaar asof ons "vriende" is. Net ’n koue “Hallo, hoe gaan dit ...” en daai koue maak my dood. Dis moeilik om dié twee persone bymekaar te sit ... die een wat so lief vir my was dat hy bereid was om als op ’n stadium vir my op te gee, en dan die ander een, die vreemdeling. Na ek hom die laaste keer gesien het, het ek na my motor toe geloop, en toe ek in die motor sit, het ek begin huil, en ek het gehuil en gehuil, met my kop op die stuurwiel. Toe ek opkyk, het ek gesien dat hy ’n entjie van my af staan, en hy moes gesien het hoe ek huil. Ek het weggery sonder om in sy rigting te kyk. Kort daarna het ek ’n sms gekry om te sê dat hy jammer is, dat hy my nooit wou seermaak nie, en dat hy nooit wou verantwoordelik gewees het dat daar trane oor my wange loop nie. Maar dat wat hy doen, vir die beste is, vir ons al twee. Sinies het ek gedink hoe ironies dit is dat ek oor hom huil, en vir die eerste keer was ek regtig kwaad gewees, want ek het toegelaat dat hierdie seer in my lewe kom. Ek het die onvergeetlike gedoen, seker een van die grootste sondes wat mens kan pleeg ... buite-egtelike verhouding ... Ek is daai ander vrou oor wie mense altyd lees.

Soos ek hierdie briefie skryf, loop die trane weer oor my wange, want die vrek weet, ek mis hom – nie net bietjie nie, met my hele hart en siel. Ek het hom regtig lief.

Maar soos ek hier sit, belowe ek ... hierdie trane wat nou hier loop, sal my laaste trane oor jou wees. Ek moet aanbeweeg, sonder jou in my lewe, dit is wat jy alreeds gedoen het. C, ek het my hart vir jou gegee, teen my beter wete, en ek weet jy het ook joune vir my gegee. Ek is jammer dat dinge nie altyd tussen ons was soos jy dit dalk wou gehad het nie. Dat ons nie altyd vir mekaar kon sien wanneer ons wou nie. Dinge was net nie so bedoel vir ons nie. Jy het vir my ’n liedjie gegee om na te luister ... Jy is te dierbaar ... Dankie vir die wonderlike tyd wat ons saam gehad het. As ek daai liedjie luister, is dit jy wat in my gedagtes is. Ek treiter myself deur dit oor en oor te luister, maar vandag moet dit stop. Ek het jou en jou vrou al intussen weer saam gesien by ’n winkel, en dit was vir my verskriklik erg. Ek’t agter julle in die ry gestaan, en ons moes maak of ons mekaar glad nie ken nie. Ek weet sy het jou lief, anders sou sy nie vir jou baklei het nie. Mag julle nog baie jare saam hê, en gelukkig wees.

Hierdie is my laaste biegstorie oor my seer hart, en oor jou, C. Maar ek het ’n wonderlike man, en twee wonderlike kinders wat vir my wag by die huis. ’n Wonderlike alkoholis vir ’n man, wat nou al vir meer as ’n maand skoon is, wat besef het dat die drank ons familie uitmekaar skeur, en ek weet dit was ook een van die redes waarom jy vir my ’n anker was. Jy het my deur alles gehelp. My man het my lief, soos ek vir jou. Ek weet ek het hom ook lief, ons het mekaar net êrens verloor langs die pad. Harde werk lê voor, maar al hierdie liefde wat in my hart is vir jou, gaan ek op hom uitstort, en vir hom wys dat ek hom lief het, en trots op hom is dat hy doen wat hy doen. Dis ’n siekte hierdie, dit is ’n ernstige siekte, maar ek gaan hom help, en saam sal ons deurkom.

So vir oulaas C, wil ek vir jou sê, ek het jou lief gehad, en ek mis jou ... Vaarwel, C.

Flenterkies