Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Nuwe skryfwerk | New writing > Snars poëtika

Om beter te kan lees, my kind


Bibi Slippers - 2011-11-24

Die week in woorde

Hierdie week vra my kollega Naomi Meyer vir haar van-genoot Deon Meyer om een wenk te gee vir skrywers. Sy antwoord was eenvoudig: lees, lees, lees.

Dit klink baie soos Nicole Jaekel Strauss se raad aan kortverhaalskrywers: Lees baie, en lees krities; wees net so puntenerig oor ander mense se werk as oor jou eie, en leer daaruit.

En Carina Stander se raad aan digters: As jy regtig wil groei, bestaan daar nie iets soos om vir ontspanning te lees nie. Selfs al lees jy ook ’n slapstick-komedie. Of jy nou blaai deur ’n mediese joernaal, ’n vakkundige natuurboek, ’n atlas, resepteboek, spreekwoordeboek of kinderboek, koerant en veral ’n digbundel: lees altyd met ’n pen in die hand, besig om die tricks of the trade te ontsyfer.

Joan Hambidge het die volgende te sê: Jy moet lees en as ’t ware kennis neem van al die fabrieksgeheime.

Toe ek ’n rukkie gelede opleeswerk gedoen het vir ’n onderhoud met Johann de Lange,  het ek sy sterk opinie gevind oor die verhouding tussen lees en skryf in ’n onderhoud wat Hennie Aucamp met hom gevoer het:

In die skryfkursusse wat ek aangebied het by Unisa en UCT het ek altyd die fokus laat val op lees eerder as skryf. Ek weet nie of ’n skryfskool van iemand ’n skrywer kan maak nie. Ek glo wel dat mens enigiemand béter kan leer skryf. En dat jy diegene met ware talent kan help om hulle stem vinniger te vind. Al wat ’n skryfskool die jong digter uiteindelik kán bybring, is tegniek. En daarop het ek altyd weldeeglik gefokus. ’n Goeie kennis van die tegnieke tot jou beskikking is baie belangrik.

Op hoërskool het ek (soos waarskynlik honderde ander) by André Brink aangeklop vir hulp, en tot sy ewige krediet het hy sonder aarseling gesê: stuur gerus aan – en sy raad en ondersteuning oor baie jare het ’n wankelrige talent aan die gang gehou. Een stukkie raad gee ek sélf nou aan beginners: lees, lees, lees. As jy van ’n gedig hou, probeer vasstel wáárom jy daarvan hou, wat dit spesifiek tot jou laat spreek; probeer vasstel hoe die digter sy effekte bereik. Op dié manier is jy beter toegerus volgende keer as jy self aan ’n gedig werk. Brei jou kennis rondom die vak uit.

My fokus met ’n skryfskool is dus eerder om voornemende skrywers beter lesers van hulle eie werk en van ander se werk te maak. Almal wat in ’n skryfskool sit, is daar omdat hulle ’n liefde het vir letterkunde. Maar nie almal gaan dit uiteindelik maak as skrywers nie. Nie eens dié met talent nie. Dit vat toewyding en determinasie en dikvelligheid om te slaag. Watter beter manier om jou liefde vir die vak te kan uitleef as om as ’n beter, ’n fyner leser van poësie daar uit te stap?

In dieselfde onderhoud praat Johann ook oor vertaling, en hoe die vertaling van ’n gedig jou dwing om stip te lees en te verstaan hoe al die aspekte van die gedig inmekaar steek. Vertaling is ’n manier om skrywers te dwing om beter en dieper te lees.

Een van my eerste opdragte toe ek met my kursus in kreatiewe skryfkuns begin het, was om ’n handvol gedigte uit Engels in Afrikaans te vertaal. Een van hulle was Auden se gedig "Musée des Beaux Arts"

Musée des Beaux Arts
WH Auden

About suffering they were never wrong, 
The Old Masters; how well, they understood 
Its human position; how it takes place 
While someone else is eating or opening a window or just walking dully along; 
How, when the aged are reverently, passionately waiting 
For the miraculous birth, there always must be 
Children who did not specially want it to happen, skating 
On a pond at the edge of the wood: 
They never forgot 
That even the dreadful martyrdom must run its course 
Anyhow in a corner, some untidy spot 
Where the dogs go on with their doggy life and the torturer's horse 
Scratches its innocent behind on a tree. 
In Breughel's Icarus, for instance: how everything turns away 
Quite leisurely from the disaster; the ploughman may 
Have heard the splash, the forsaken cry, 
But for him it was not an important failure; the sun shone 
As it had to on the white legs disappearing into the green 
Water; and the expensive delicate ship that must have seen 
Something amazing, a boy falling out of the sky, 
had somewhere to get to and sailed calmly on.

Dis eers wanneer jy begin lettergrepe tel, woorde naslaan, rymskemas teken en subtiliteite in die teks optel dat jy besef hoeveel weefwerk in ’n enkele gedig soos hierdie een ingaan. Vir ‘n leser is dit opwindend en geweldig bevredigend. Vir ‘n skrywer is dit opwindend en geweldig intimiderend.

Leon de Kock is ’n virtuoos-vertaler van poësie. Hy is pas met ’n SALA-toekenning vereer vir sy vertaling van Cas Vos se gedigte. In ’n besonderse artikel oor vertaling op LitNet skryf de Kock waarom vertaling belangrik is, en wat mens daaruit kan leer. Hy sê:

Literary translation is an alternative way into writing, and a relatively safe way, at that. You won’t be taking quite the same risk of professional spite and jealousy, public ridicule, empty flattery or, even worse, being completely ignored, which are just some of the risks that South African writers take all the time. Writing is mostly a thankless, lonely and money-bereft occupation which also tends to make intimate relationships problematic. Be a writer at your peril! But translation, in a sense, is a more measured way into the writing process.

En nou kies ek hierdie pad, hierdie "alternative way into writing", eerder as my normale hasepad. Hiermee my vertaling van ’n gedig uit Phillippa Yaa de Villiers se bundel The Everyday Wife. Vir die liefde van die saak, en om dit beter te kan lees, my kind.

Unfinished business

Die stad skryf homself op agter my ooglede as ek slaap.
Die strepe verkeer soos ’n alfabet van ambisie
lê ’n raster van doelwitte neer, en vir ’n rukkie
weet ons waarheen ons gaan. In die niemandsland
lê verlate ontwikkelinge met hul bene oop
soos dronkgatte ingehaal deur die oggendlig.


Wen!

Een leser kan ’n eksemplaar van The Everyday Wife deur Phillippa Yaa de Villiers wen. Stuur ’n e-pos aan wen@litnet.co.za met WIFE in die titel, en verduidelik waarom jy die wenner moet wees. (Antwoorde wat rym sal onregverdig bevoordeel word, maar gewone sinne is ook welkom.)

Verlede week se wenner


Ansie Coetzee is die wenner van Sirkusboere met haar snor-titel: Die middag van die snorre (na ’n soortgelyke gedig van Zandra Bezuidenhout). Ansie, jou snor-boek is oppad.

Nuwe skryfwerk op LitNet


Lees Cas Vos se gedig "Il Gigante" uit Duskant die Donker / Before it darkens, en Leon de Kock se vertaling daarvan.

Lees De Waal Venter se vertaling van ’n gedig deur die Nobelpryswenner Tomas Tranströmer.

Lees Joan Hambidge se jongste gedig, “Washington DC – ’n meditasie”.

Lees Philippa Yaa de Villiers se gedig "Stolen Rivers" uit The Everyday Wife hier.



Uit die argief


Vertalings, verwerkings, weergawes en ’n gedig oor vertaling uit ons argief.

Karlien van der Schyff
translating the untranslatable


İlyas Tunc, vertaal deur Charl-Pierre Naudé
ha ha ha ha
Alles het ’n afloop
Van sand het ons gepraat

Agi Mishol, vertaal deur Johann de Lange
Martelares

Johann de Lange
Brueghel in Parow

Marion Bloem vertaal deur Jean Lombard
Vryheid

Leon de Kock
Vat dit


Tot volgende week. 
Bibi