Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Onderhoude | Interviews > Afrikaans

Wow, dis al tyd vir die Kerskonsert


Naomi Meyer - 2011-11-24

Fiona van Kerwel

WOW-Kerskonsert
Neethlinghof
27 November 2011: 18h30
R100 (R50 vir skoliere)
Bespreek by Computicket
Of bel 021 8082019

Die Woordfeeskantoor, vertel Melt Myburgh, is baie trots op Fiona van Kerwel, die WOW-projekbestuurder. Sy is pas deur die Universiteit Stellenbosch met ’n rektorstoekenning vereer vir haar uitstekende werk met die WOW-projek. Naomi Meyer het Fiona uitgevra oor vanjaar se WOW-Kerskonsert.

Fiona, dit klink my julle hou nou al heeljaar lank Woordfees as vanjaar se WOW-konsert in November plaasvind – lekker! Wat is die gedagte hieragter – waarom ’n Woordfees-konsert naby Kersfees? 

Die WOW-Kerskonsert is ’n inisiatief van die WOW-projek om ons fondse te verstewig vir al ons projek-aksies. Dit is die produk van die harde werk van Neil Rademan en ook ’n manier waarop die WOW-projek hoop om groter bewustheid van ons projek te kweek. En dis waar, ons is omtrent heel jaar besig en die Kerskonsert is so ’n gepaste wyse om ons verrigtinge vir die jaar af te sluit.

Wat word van die geld wat ingesamel word? 

Soos bo genoem, sal dit deel vorm van ons fondse wat aangewend word vir al ons 31 projekte. Ons het vanjaar meer as 80 000 leerders, onderwysers en gemeenskapslede bereik met wonderlike projekte wat ons by skole in die Wes-Kaap aanbied. Ons Spelfees was vanjaar baie suksesvol; met  sewe streeksfeeste sowel as ons Gala-geleentheid was 98 skole betrokke, 439 onderwysers, en het ons bykans 40 000 persone bereik.

Dis die tweede keer wat hierdie konsert aangebied word. Hoe het dit verlede jaar met die eerste konsert gegaan? Wat sal julle vanjaar anders wil doen? 

Die eerste konsert was inderdaad ’n magiese ervaring en ons het ’n stampvol teater gehad. Die kunstenaars en kore wat opgetree het, was fantasties, maar vanjaar het ons twee kinderkore wat deel was van ons jaarlikse koorfees. Die kunstenaars is egter nog steeds net so formidabel. Neil het ’n fantastiese program saamgestel en Jak de Priester, Minette du Toit-Pearce, Nedine Blom, Simangele Mashazi, Andrea Winckler en Riaan Grobler sal tesame met die kore van Beaumont en St Thomas primêre skole gewilde Kersliedere sing. Die Kaapstadse Stadsballet sorg vir danspassies wat die gehoor sal meevoer. Die gewilde blonde komediant Dowwe Dolla kom vertel haar eie Kersverhaal.  Vanjaar is anders, omdat die konsert van meet af aan in ’n piekniek-gedaante aangebied word. Mense moet dus onthou om hul komberse saam te bring na Neethlingshof. Pikante piekniekmandjies is by die geleentheid te koop met heerlike versnaperinge en wyn van die landgoed.

Klik op die prent vir ’n groter weergawe.

Die WOW-projek kom al ’n lang pad en ek dink dis uniek aan die Woordfees, dié soort gemeenskapsprojek. Skets asseblief vir ons ’n bietjie agtergrond en vertel ons hoe die projek deur die jare gegroei het. 

Die projek is inderdaad uniek aan die US Woordfees en deur taalbemagtiging en leesbevordering kan woorde soveel wêrelde vir mense oopmaak, wêrelde wat hulle nie eens gedink het bestaan in hul eie omgewings nie. Die waarde van geletterdheid deur woorde en die kunste is vir vele ’n ervaring wat perspektiewe verruim. Die besef dat jou woorde ook vir jou op ’n bepaalde en unieke manier kan wêrelde open en jou leefwêreld vergroot en verbeter, is vir vele leerders ’n manier om hul eie omstandighede aan te spreek. Vanaf 2003 tot 2011 het ons databasis op verskeie maniere gegroei. Ons het vandag 31 projek-aksies waarmee ons reeds bykans 80 000 mense se lewens aangeraak het. Ons kantoor word bedryf deur slegs twee permanente personeellede, maar ons het vele vennote wat ons fantasties ondersteun met al ons uitreike. Deur die wonderlike ondersteuning van al ons ander donateurs, soos die ATKV en die Dagbreek Trust, word dit vir ons moontlik om hierdie projekte aan te bied.

Watter WOW-projekte is vir jou die lekkerste om te organiseer – en watter besorg die meeste kopsere? 

Jong, dis ’n tricky een! Al hierdie projekte is lekker, maar sommige verg baie meer en fyner organisering omdat dit soveel groter is as die ander. Die skrywersbesoeke aan skole met skrywers soos Dana Snyman, Diana Ferrus,  Elias P Nel, EKM Dido, Johan Bakkes, Lina Spies, Melvin Whitebooi, Peter Snyders, Willem D Kotzé , Zulpha Otto-Salies is maar baie lekker, so dinamies, en elke keer anders. Die WOW-dag tydens die US Woordfees is ’n belewenis wat menige leerder nooit vergeet nie. Die Spelfees laat jou weer die pret en waarde van woorde besef. En deur die werkswinkels vir skryfwerk ontsluit leerders soveel potensiaal en gee ook aan ons ’n manier om hulle wêrelde beter te verstaan. Die feit dat ons aan leerders die geleentheid kan bied om ’n tersiêre kwalifikasie aan die US te behaal, en baie keer eerste-geslag-graduandi van hul families te word, is ’n ervaring wat jou hartsnare baie diep roer. So jy't seker nou al agtergekom, daar is nie eintlik iets wat ons baie kopsere gee nie; net die tekort aan hande en fondse laat ons soms rondlê omdat ons die projek verder wil uitbrei.