Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Boeke | Books > Resensies | Reviews > Afrikaans > Biebouw-resensies

Hiervandaan: Baie meer as ’n road movie


Harry Kalmer - 2011-11-24

Hiervandaan: Op reis in die geliefde land
Dana Snyman
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780798151139
Prys: R142.95


Klik hier en koop Hiervandaan nou van Kalahari.net!




Hulle is besig om dood te gaan.

Die ooms wat Old Spice gedra het.

Die ooms wat kortbroeke, kniekouse en pampoengeel Grasshoppers gedra het.

Die ooms wat nooit oorsee gegaan het nie.

Die ooms wat hulle Joseph Rodgers-knipmesse se lemme smal geslyp het. (Vir ’n slypsteen was hulle beslis nie bang nie.)

Die ooms wat gedink het apartheid is ’n goeie idee.

Selfs lank nadat die geskiedenis hulle verbygesteek het.

Die ooms vir wie jy “Oom” gesê het sonder om twee keer te dink.

Dana Snyman se pa was een van hierdie ooms.

En na die einde van hierdie boek gaan Dana se pa dood.

Maar voor dit gebeur, gaan die leser op reis saam met Snyman en beleef die koddighede en verskrikkinge van Suid-Afrika.

En die voortdurende gekopstampery tussen Paterfamilias en seun.

Meer as drie honderd jaar na die geboorte van die eerste Snyman in Afrika wonder Dana of hy nog hier hoort.

Die meeste Suid-Afrikaners ken daardie gevoel en vra hulleself dikwels saam met oorlede Bernoldus James Niemand-Philips af: “How do I live in this strange place?”

Rian Malan het hierdie aanhaling as motto gebruik in My Traitor’s Heart in 1990 en die eerste postapartheid-boek geskryf in ’n genre wat sedertdien ’n belangrike deel van Suid-Afrikaanse lettere geword het: outobiografiese skrywes van vertellers wat hulleself in die land wil kontekstualiseer en hul plek hier beide bevraagteken en verantwoord. Werke soos The Native Commissioner deur Sean Johnson; Kevin Bloom se Ways of Staying; Daryl Accone se All under one Heaven; Victor Dlamini se Native Nostalgia; en die skrywes van Chris van Wyk, Antjie Krog en Max du Preez spreek almal hierdie kwessies aan.

Snyman tree nie net in gesprek met sy joernalistieke kollegas nie, maar vind ook raakpunte met fiksieskrywers soos Ivan Vladislavic, Karel Schoeman, FA Venter, Etienne le Roux, Alan Paton en JM Coetzee.

Vladisivic word ingespan met die motto “How much past can the present bear?”. Schoeman se roman word erken in die subtitel “Op reis in die geliefde land”; en beskrywings van verval op die platteland dra eggo’s van Schoeman se apokaliptiese meesterstuk. FA Venter word deel van die storie terwyl die verteller probeer om Werfjoernaal te lees en ook sy plaas besoek. Etienne le Roux se plaas word besoek en ’n paragraaf deur die meester oor verandering op die platteland word woordeliks aangehaal. Paton word vereer word met die “onthou” van die beroemde openingsin uit Cry the beloved Country,en JM Coetzee se versugting uit Boyhood, “En as hy hulle nie onthou nie, wie sal?” kom in verskillende gedaantes dwarsdeur die boek voor.

Snyman is ’n waardige “hy”as dit by die onthou van “hulle”kom. En tussenin doen hy steeds alles wat sy lesers van hom verwag, briljant. Niemand skryf soos hy oor die koddige, die menslike en dit wat verby is nie. Maar terwyl hy dit doen, ondergrawe hy met ’n gemoedelikheid, moedswilligheid, die erg Afrikaanse verlange na “goeie ou dae”. Want die verlede, soos wat seun Snyman keer op keer tevergeefs vir pa Snyman probeer sê, was glad nie so fantasties soos hulle dink nie.

Een van die mense met wie Snyman langs die pad gesels, Henk Human, die boer van Lindley wat op die bebloede lyke van sy bure, die Potgieters, en hulle dogtertjie Willemientjie afgekom het, verwoord dalk Snyman se invalshoek die beste: “Kom ek sê vir jou so: Ek is nie teen die nuwe Suid-Afrika nie. As dit nog die ou Suid-Afrika was, sou dinge baie erger gewees het, baie erger. Hier sou nog meer moorde gewees het … Ek was in die weermag, ek was in Angola. Ek bly eerder hier as om ooit weer in Angola te wees.”

Hiervandaan is gekonstrueer rondom Snyman se joernalistiek wat reeds elders verskyn het. Ek het nie teruggegaan na die oorspronklike skrywes nie, maar met ’n aaneenlopende lees van die boek voel dit asof Snyman probeer om ’n werk met ’n groter emosionele omvang as sy dagbladjoernalistiek te skep deur ’n onderbou van ’n road trip en die ingewikkelde verhouding tussen pa en seun deel van die storie te maak. Die selfoongesprekke word ’n roerende verhaal op hulle eie terwyl pa en seun mekaar om die beurt misverstaan, baklei en elke keer weer op ’n lomp manier vrede maak.

Maar iewers tussen Pofadder en Carnarvon verloor die vertelling vir my koers en stoom. Daar is ’n gebrek aan fokus op die verteller se selfopgelegde mission statement: “Ek wil weet of ek nog hier hoort”, en ’n reëlmatigheid in die beskrywing van landskap en die herhaling van gesprek en insident wat nie boeiend genoeg is wanneer dit as deel van ’n groter geheel aangebied word nie.

Die krag en fokus van die laaste deel van die boek besweer egter hierdie enkele voorbehoud met ’n kragtige en liriese emosionele uitklophou.

Uit ’n besoek aan Memel (waar die nou gestorwe ds Snyman kind was), Bloedrivier, Jacob Zuma se homestead in Nkandla en die Geloftekerk in Pietermaritzburg, komponeer Snyman ’n roerende requiem vir sy pa.

In die “nuwe” (Zoeloe-) museum by Bloedrivier besluit hy watter vier dinge hy in ’n (figuurlike) memory box sal plaas om sy pa te onthou: “’n Geel Eveready Flits, ’n Bottel Old Spice naskeerroom, ’n knipmes waarvan die lem al smal geslyp is, ’n los papiertjie waarop staan: Museum in Pietermaritzburg” (bl 163). En beantwoord met ’n ompad dalk die vraag wat Vladislavic aan die begin van die boek vra: “How much past can the present bear?”.

Die gemaklikste wat ons aan die geskiedenis kan dra, is deur dit te verpersoonlik tot op die vlak van die dooies se vrese, reuke, gewoontes en (onuitgevoerde) planne vir die toekoms.

En deur dit te doen dra ons met liefde aan die geskiedenis van dié wat ons die liefste in hierdie lewe het. Hulle wie se leë plekke in ons lewens net deur een ding gevul kan word: die stories wat ons oor hulle vertel.