Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Onderhoude | Interviews > Afrikaans

Boeke maak ’n verskil


Steyn du Toit - 2011-11-24

Untitled Document

Books4Change gee jou die geleentheid om tweedehandse boeke teen goeie pryse te koop, asook liefdadigheidsorganisasies te ondersteun.

Books4Change is in 2009 begin deur ’n ma-en-dogter-span van die Helderberg, Amelia en Christine Mulder. Steyn du Toit het by hulle gaan uitvind presies hoe die konsep werk, en presies hoe dit by liefdadigheid inpas.


Waar het die idee agter Books4Change ontstaan en wie het dit begin?

Ons wou al lankal ’n besigheid saam begin, maar het lank gewik en geweeg tussen die verskillende moontlikhede. Amelia is ’n kranige leser met ’n BA-graad in drama en Afrikaans en Nederlands en ’n agtergrond in toneel, onderwys en vryskutskryfwerk. Sy het ook kennis opgebou omtrent aanlynbesigheid en -bemarking in haar vorige werk en kleinsakeonderneming. Christine is ’n afgetrede mikrobioloog wat ’n wye kennis van boeke uit toeka se dae na die besigheid bring. Haar voorliefde vir lees kom uit haar kinderjare toe daar dikwels nie veel anders was om te doen op die Karoo-plaas waar sy grootgeword het nie. 

Uiteindelik het ons besluit op ’n aanlynwinkel vir tweedehandse boeke, omdat dit ’n manier was om ons liefde vir boeke met ’n wye mark te deel en terselfdertyd ook die liefdadigheidsorganisasies in die Helderberg en omgewing te ondersteun. Al die unieke aspekte van die besigheid – herwinning, liefdadigheid, ens – spruit voort uit ons persoonlike passies eerder as dat dit ’n besigheidstrategie was, maar dit werk goed as ’n besigheidstrategie, omdat ons geniet wat ons doen en graag ’n bydrae wil lewer tot die opheffing van gemeenskappe in die land. 

Hoe het julle die boeke-konsep by die liefdadigheidselement byeengebring?

Tweedehandse boeke en liefdadigheid loop al ’n lang pad saam in Suid-Afrika. Omtrent al wat ’n liefdadigheidsorganisasie is, hou elke nou en dan ’n verkoping van boeke wat aan hulle geskenk word om hul inkomste aan te vul. Dit het ons egter opgeval dat boeke wat eintlik baie werd is, vir ’n appel en ’n ei verkoop word – dikwels aan boekhandelaars wat dan alleen die winste geniet. Liefdadigheidsorganisasies het nie die kennis, tyd of hulpbronne om die regte kopers by die regte boeke uit te bring vir die regte prys nie, en is dus gedwing om so vinnig as moontlik daarvan ontslae te raak vir die minimum wins om hulself nie te belas met berge boeke nie. Hulle het immers belangriker werk om hulself mee besig te hou!

Dit is waar Books4Change inkom: ons neem die harde werk van boekverkope uit ons liefdadigheidsvennote se hande en deel op die ou einde in ’n heelwat aantrekliker inkomste. ’n Wen-wen-verhouding dus.   

Watter organisasies help Books4Change uit?

Ons het op die oomblik twee hoofliefdadigheidsvennote, maar beoog om binnekort nog ’n paar aan boord te neem. Help2Read bied geletterdheidsondersteuning aan meer as ’n honderd skole in Suid-Afrika, terwyl Safe House Stellenbosch skuiling, beskerming en berading bied aan slagoffers van geweld en seksuele uitbuiting. Verder ondersteun ons ook gereeld liefdadigheidsorganisasies in ons omgewing deur boekaankope. 


Waar kom al julle boeke vandaan?

Die oorgrote meerderheid van ons boeke kom van skenkings ten bate van ons liefdadigheidsvennote en aankope by ander liefdadigheidsorganisasies. Ons koop byvoorbeeld nie boeke aan van die publiek nie. Op hierdie manier maak ons seker dat ’n groot deel van ons omset aangewend word vir sosiale opheffing. Boekskenkings sorg vir ’n lekker wye verskeidenheid leesstof, met alles van hedendaagse topverkopers tot hoendertandskaars versamelaarsitems uit vervloë dae beskikbaar op ons webwerf.

Hoe kan mens van julle boeke koop?

Dis maklik – gaan na www.books4change.co.za, waar jy boeke kan opsoek volgens titel, outeur, sleutelwoord of die kategorie waaronder dit val. Laai dan die boeke wat jy wil hê in jou mandjie, verskaf jou afleweringsadres en kies dan hoe jy wil betaal. Sodra ons jou betaling ontvang het, verpak ons jou bestelling en stuur dit gewoonlik dieselfde of die volgende dag al uit. Posgeld is gratis op alle bestellings wat in Suid-Afrika afgelewer word!

Doen julle ook versoeke?

Ja, op ons webwerf is daar ’n “Request a Book”-bladsy waar jy die besonderhede van die boek wat jy soek, kan invul. Ons sal jou dan laat weet sodra ons op die boek afkom. Afhangende van hoe skaars die boek is, kan dit vanaf ’n week tot etlike maande duur voordat ons na jou toe terugkom. Moet egter nie dink ons het daarvan vergeet nie! As ons ’n boek opgespoor het, is jy onder geen verpligting om dit te koop nie, en jy kan ons ook laat weet as jy dit self opgespoor het of dit nie meer soek nie. 

Ons begin ook binnekort ’n e-poslys met skaars Afrikaanse en Africana-boeke wat ons beskikbaar het. Lesers kan aan ons ’n e-pos stuur as hulle hierdie nuusbrief wil ontvang.

Books4Change bied ’n spesiale vyfpersent-afslag vir LitNet lesers. Al wat hulle hoef te doen is om "LitNet" te tik in die afslagkoeponboksie wanneer hulle ’n aankoop op ons webwerf doen. Dit kan gebruik word saam met ander spesiale aanbiedinge. Vir meer inligting, besoek www.books4change.co.za.