Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Lyste | Lists

Desmond Painter oor David Kramer


Desmond Painter - 2011-11-23

Desmond Painter

My gunsteling van David is ... 

Moeilike vraag. Ek het ’n sentimentele verbintenis met veral twee songs: “White Cortina” (van Delicious Monster) en “Oranje, Blanje, Blou” (van Hanepootpad). My oom het albei daardie albums in 1984 vir my getape. Delicious Monster was op kant 1, en Hanepootpad op kant 2 van ’n EMI-kasset. Dit was ’n 60-minuut-kasset, so die laaste song op albei albums was onvolledig opgeneem. “Oranje, Blanje, Blou”, want dit is eenvoudig ’n briljante folk song, en dit het my begeerte vir akoestiese kitaar en bekfluitjie aan die brand gesteek, my op tienjarige ouderdom voorberei vir die Dylan en die Springsteen wat sou kom. “White Cortina” … dis vandag nog een die hartseerste, mees “understated” songs wat ek ken. “It’s time to go. Dont you know? It’s time to go.” Niemand het nog ooit die ondraaglike en onverwoordbare leegheid van sommige Sondagmiddae in die (wit) noordelike voorstede van Kaapstad so goed vasgevang nie. Apartheid gedissekteer as eksistensiële gegewe? The unbearable whiteness of being? Maak nie saak nie, dis ’n meesterstuk. Dis so goed soos die beste snitte op Springsteen se Nebraska.

My boodskap aan David is ...



As jy in West Virginia eerder as die Wes-Kaap grootgeword het, het Bob Dylan waarskynlik hierdie jaar jou toetrede tot die Rock ‘n Roll Hall of Fame behartig en Bruce Springsteen jou Lifetime Achievement Grammy aan jou oorhandig. Jy sou Tom Waits waarskynlik op sy nuwe album uitgehelp het. Maar wag, om hierdie soort goed te sê is om te val vir die soort koloniale mentaliteit, daardie idee dat ons onsself aan “hulle” moet meet, waarvan jy ons musiek juis help verlos het. Ons het nie West Virginia nodig nie, ons het die Karoo! Grootsheid behoort aan hulle wat hulle eie tyd en plek in die oë kan kyk. En dit het jy gedoen, en doen jy nog steeds. Nou hou op lees en gaan maak nog musiek!