Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Nuwe skryfwerk | New writing > Poësie | Poetry > Afrikaans > Gepubliseerde digters

Washington DC, ’n meditasie


Joan Hambidge - 2011-11-23

Untitled Document

Washington DC, ’n meditasie

’n Sondagoggend in hierdie stad
leer my alles van hóé om eensaamheid
te verstaan: alleen op ’n dubbeldekker-bus,
solo in ’n koffiewinkel, enkel in ’n restaurant
in Georgetown. Klanklose televisie,
’n soutpot sonder maat, ’n Spaanse kelner
sukkelend met ’n bestelling en ’n hotelkamer
sonder ’n concierge of nagbestuurder.
Maar dis eers om vyf vm, post hierdie Sondag,
toe ek die stad van gedenktekens verlaat,
die stad der allergeregtighede, dat ek onthou,
hoe verlange na jou presies hierdie storie herhaal:
ek op vertrek na ’n vreemde bestemming,
op ’n sabbatsreis in sonderlinge stilte  –
jy wat peper gooi oor ons verbintenis
en ek wat my oorgee aan die vreemde bedryf
van pyn vertaal in dít wat jy nooit sal begryp.