Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Onderhoude | Interviews > Afrikaans

Van prikkelende tot omstrede temas by die Daring Doccies Dokumentêr-filmfees


Steyn du Toit - 2011-11-23

Untitled Document

Sonja Ruppersberg en Paul Blom
Foto: Francois Oberholster

Die Daring Doccies Documentary Filmfees vier vanjaar sy tweede bestaansjaar. Steyn du Toit het met Paul Blom, die organiseerder, gaan gesels oor wat feesgangers als te wagte kan wees op die program.

Wat presies is die Daring Doccies Dokumentêr-filmfees?

Dit is ’n dokumentêre-rolprent-fees met prikkelende, omstrede en uiters interessante flieks van regoor die wêreld wat mens nie gou op ’n Suid-Afrikaanse teaterskerm te siene sal kry nie. ’n Wye spektrum temas word aangeraak, wat insluit: plaasmoorde hier in Suid-Afrika, Hurricane Katrina se verwoesting en die menslike foute sowel as regeringsonderdrukking van informasie, Amerika se gebroke skoolsisteem, die wetenskap van dwelms, 2012, die heilige bloedlyn, sameswerings, kriminele en nog baie meer.

Ons (ek en Sonja Ruppersberg) is lief vir rolprente in alle vorme, maar veral dié wat bietjie van die hoofstroom afwyk. Ons het gevolglik in 2005 die jaarlikse South African HorrorFest Film Festival begin, en van daar af het ons alternatiewe rolprentfeeste uitgebrei om ook die X Fest, Celludroid, Cinemaniacs, Reel Ink, Sound on Screen en natuurlik Daring Doccies in te sluit. Ons hou al ons rolprentfeeste by die legendariese Labia Teater in Kaapstad. Al die feeste kan by www.flamedrop.com/events gevind word.

Hoe presies is/word die films gekies?

Dis ’n lang proses. Deur die jaar kyk ons gedurig rond vir rolprente wat in ons verskeie feeste se temas kan pas. Dit gebeur deur iets op die internet raak te sien, wanneer gaste op internasionale nuusprogramme soos MSNBC verskyn ivm hulle nuwe rolprentprojek (dis hoe ons Harry Shearer se The Big Uneasy gekry het), of iemand kontak ons met ’n voorstel om ’n titel te ondersoek. Dan is daar ook ’n aantal wat na ons aangestuur word deur die vervaardigers wanneer ons wêreldwyd nuus uitstuur dat inskrywings oop is vir die fees - en vind sodoende verrassings wat ons nie noodwendig sou van geweet het nie.

Wat presies is die literatuur-element van hierdie fees?

Ons het ’n paar jaar gelede met die HorrorFest ’n literêre element begin inwerk, en het gedink ons sal dit ook met Daring Doccies probeer. Ons het ’n paar skrywers en verspreiders gekontak met boeke wat ’n gesprek kan aanhits. Hierdie boeke gaan by van die vertonings as gehoorpryse uitgedeel word, so waar ons voel al die kykers sal die teater verlaat na ’n fliek met iets om oor te dink en hopelik na die tyd te debatteer met ander, sal van hulle nog dieper in ’n ander interessante tema kan inklim met die boek wat hulle gekry het. Die boeke sluit in eks-Suid-Afrikaner Ilana Mercer wat nou in die VSA woon se Into The Cannibals' Pot: Lessons for America From Post-Apartheid South Africa; Ali H Soufan se The Black Banners: Inside The Hunt For Al Queda; en Greg Mills se Why Africa is Poor and what Africans can do about it.

Wat is van vanjaar se hoogtepunte wat gewys word?

Daar is ’n aantal: ’n Suid-Afrikaans-vervaardigde dokumentêr, War of the Flea, kyk na die omstrede plaasmoorde wat voortduur; Harry Shearer (bekende satirikus en stem op The Simpsons) se The Big Uneasy kyk na wat die ware oorsaak van Hurricane Katrina se verwoesting in New Orleans was en hoe die owerhede dit onderdruk het, en sluit in ’n Suid-Afrikaans-gebore ingenieur wat daarby betrokke geraak het (en hoe sy reputasie geknak is). 

The Nature of Existence kyk na die vraag hoekom ons hier is (met ’n af en toe humoristiese oog). 

Dirty Pictures fokus op die chemiese wetenskaplike wat MDMA (beter bekend as ecstasy) geskep het, saam met ’n reeks ander psychedelics. 

Fat Belly: Chopper Unchopped kyk na die lewe van die omstrede Australiër Mark Chopper Reid. 

The Murder of Mary Magdalene ondersoek die vraag of sy vermoor is en of die Katolieke Kerk die heilige bloedlyn probeer uitroei het. 

2012 An Awakening neem ’n dieper standpunt in aangaande hierdie kataklismiese tydperk wat vir die mensdom voorlê as die vae eeu oue voorspellings.

A Hole In The Head kyk na "trepanation", ’n metode waar daar ’n gat in die skedel geboor word om "enlightenment" te bevorder, en wat vandag nog toegepas word. Hierdie rolprent word vergesel deur die kort dokumentêr Egypt: Insights Into A Revolution

In The War on Kids word daar gekyk na Amerika se skoolsisteem en die menigte tekortkominge.

The Conspiracy to Rule the World het drie temas waaroor daar groot vraagtekens hang, van 9/11 se verdagte verklarings en die misterieuse groep Common Purpose, tot die vraag of die maanlandings regtig gebeur het.

Vir diegene wat omgekrap is deur die eerste deel van Zeitgeist, hier in Zeitgeist: Refuted word dit vanuit ’n Christelike standpunt teengedryf. Vervaardiger Aaron Russo se frustrasie met die VSA se sistematiese beweging in die rigting van ’n totalitêre staat word hier deur hom uitgebulder in Mad as Hell.

Dit is die tweede jaar wat hierdie fees aangebied word. Wat het julle by verlede jaar se fees geleer wat julle hierdie jaar op verbeter het?

Sedert ons HorrorFest, wat al in 2005 begin het, en ons ander feeste, het ons al ons metode goed agtermekaar. Een ding wat vanselfsprekend gewoonlik die stryd is (soos hier bo genoem), is om borge en finansiers aan boord te kry wat promosie van die feeste wyer kan uitbrei. Die grootste taak is altyd om nuus oor die rolprentfeeste by soveel mense as moontlik uit te kry.

Waar kan die skedule gesien word en kaartjies gekoop word?

Daring Doccies vertoon by die Labia Teater (Orangestraat 68, Tuine, Kaapstad) van 25 November tot 1 Desember (en word dadelik gevolg deur ons Sound On Screen Music Film Festival, 2-10 Desember). Die volle skedule met al die rolprente, hul informasie en vertoontye kan gevind word by www.flamedrop.com/daringdoccies.

Kaartjies kan by die Labia gekoop word (R30 elk), of bel 021 424 5927 om sitplekke te bespreek.