Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Film > Resensies | Reviews

The Adventures of Tintin – Kuifie, maar nie juis nie


Reinhardt Fourie - 2011-11-23

The Adventures of Tintin: The Secret of the Unicorn
Regisseur:
Steven Spielberg
Kamerawerk: Janusz Kamiński
Draaiboek: Steven Moffat, Edgar Wright, Joe Cornish
Rolverdeling: Jamie Bell, Andy Serkis, Daniel Craig, Simon Pegg, Nick Frost
Musiek: John Williams
Looptyd: 107 minute

Uitreikingsdatum in Suid-Afrika: 23 Desember 2010



Daar word gesê Hergé (pennaam van die Belgiese strokiesboekskrywer en -kunstenaar Georges Remi) het enkele weke voor sy dood vir Steven Spielberg aangewys as voorkeurregisseur sou Kuifie ooit in ’n groot Hollywood-produksie die sprong na die grootskerm maak. (Daar was al ’n aantal ander filmweergawes van Kuifie se avonture.) En nou, amper dertig jaar na Hergé se dood, hét Kuifie met behulp van Spielberg gespring: The Adventures of Tintin het op 26 Oktober in België begin draai en sal binnekort ook in Suid-Afrika te sien wees. Maar kom die geliefde strokieskarakters tot hul reg in Spielberg en vervaardiger Peter Jackson se animasiefilm?

Rolprente wat gebaseer is op romans of strokiesboeke het die afgelope tien jaar dramaties toegeneem. Met die eerste oogopslag is die redes hiervoor amper vanselfsprekend. Draaiboekskrywers het ’n reuse-verhaalkorpus waaruit hulle ’n suksesvolle storie aanmekaar kan slaan en daar kan van meet af staatgemaak word op aanhangers van die boeke om die filmaanpassing te ondersteun. Heel moontlik kry jy ’n reeks suksesvolle films uit die strokie-stal, soos Marvel en DC Comics alte goed weet. Maar faal jy, dan sit jy met swak rolprente soos Joel Schumacher se Batman and Robin (1998), Ang Lee se Hulk (2003), die aaklige Elektra (2005) en die onlangse Green Lantern. Die rolprentmakers het met The Adventures of Tintin boonop voor ’n ekstra uitdaging te staan gekom: Kuifie is baie populêr in Europa, maar Amerikaners het tot op hede nog nie werklik vat gekry aan dié reeks nie.

The Adventures of Tintin is ’n samesmelting van drie strokiesboeke uit die gelyknamige reeks: Die krap met die goue knypers, Die geheim van De Eenhoorn en Die skat van Rackham die Rooie. Die fliek begin met die jong joernalis Kuifie (Jamie Bell) en sy foksterriër Spokie wat ’n besondere modelskip, die Eenhoring, op ’n vlooimark in Brussel koop. Kuifie wys kort daarna ’n aanbod vir die skip van die geheimsinnige Ivan Sakharine (Daniel Craig) van die hand. Kort voor lank besef Kuifie die skip is ’n leidraad tot die ligging van Rackham die Rooie se skat. Met behulp van die (goedgeaarde, maar wispelturige) dronklap Kaptein Sardijn (Andy Serkis), en hier en daar dié van die onbeholpe speurders Uys en Buys (Simon Pegg en Nick Frost), ding Kuifie mee met Sakharine om die geheim van die Eenhoring te ontrafel.

Ten spyte daarvan dat The Adventures of Tintin ten volle in 3D-animasie geskep is, is dit duidelik dat die vervaardigers iets van Hergé se tekenstyl, die sogenaamde ligne claire,op die grootskerm wou vasvang. Die ligne claire-tekenstylbehels minimale gebruik van skadu’s en die tekenaar ag alle elemente in ’n skets gelyk. Dit skep sodoende realistiese en eenvoudige karakters teen ’n realistiese agtergrond, ’n tegniek wat Hergé ook op die intrige toegepas het. Hergé se karakters is almal dadelik herkenbaar in die film – selfs die vorm van Kaptein Sardijn se neus stem ooreen met sy strokies-eweknie s’n.

In teenstelling tot ander 3D-animasiefilms soos Shrek is daar deur die gebruik van performance capture in The Adventures of Tintin gepoog om die karakters ’n unieke realistiese liggaamlikheid te gee. Dit behels dat die akteurs nie net die stemme verskaf nie, maar ook hulle handelinge uitvoer soos in ’n gewone film, terwyl ’n tegnologies gevorderde pak deurgaans elke beweging volg en in ’n rekenaar invoer, wat dan in die animasieproses gebruik word om die karakters natuurliker te laat beweeg. Die uiteindelike doel hiervan is om lewensgetrouer optredes daar te stel, maar ek is bevrees dit het nie vir my heeltemal geslaag nie, ten spyte van die goeie stemwerk.

Die karakters in The Adventures of Tintin lyk dikwels soos wasbeelde (veral Kuifie self), waarskynlik omdat die film iets tussen animasie en live action is. Soms word hierdie realisme oordadig. In een toneel roer die wind so sagkens aan byna elke haartjie op Sakharine se kop dat mens sou dink hy het ’n donsveredos in stede van hare. In baie van die aksietonele lyk die karakters se bewegings geforseerd. Niks lyk dan spontaan nie – dis asof elke ding wat gebeur, noukeurig vooraf beplan is en die betrokke partye hulle handelinge soos danspassies uitvoer. Kuifie se jaagtog op ’n motorfiets word ’n akrobatiese roetine, wat baie treffend is, maar nie juis vir my strook met Kuifie se karakter nie. Die uitsondering is die vegtoneel op die Eenhoring.

Sommige van die ikoniese tonele uit die strokie word baie goed herskep en geïnterpreteer. Dit was vir my ’n vreugde om na afloop van die film deur my Kuifie-boeke te blaai en te sien dat sommige tonele raampie vir raampie na die skerm oorgedra is. Die watervliegtuig-vlug in die storm was indrukwekkend, al het die rolprentmakers dit ietwat verander. In hierdie toneel kom een van Hergé se wonderlikste tegnieke waarlik tereg: selfs wanneer sy karakters in lewensgevaar verkeer, tree daar net die nodige slapstick in, en dit skep ’n ewewig wat voorkom dat die oomblik in absurde drama of humor ontaard.

Jammer genoeg is die aksietonele dikwels op merkbare Spielbergse wyse uitgevoer. ’n Jaagtoneel in die fiktiewe hawestad Bagghar in Noord-Afrika ontaard in ’n eienaardige mengsel van Kuifie en daardie ander bekende avonturier Indiana Jones. Dit voel boonop deurgaans asof John Williams se Indiana Jones-temamusiek enige oomblik deur die luidsprekers gaan bars, aangesien Williams ook The Adventures of Tintin se klankbaan behartig het. In ’n ander toneel word die ontwikkelende parallelle van twee karakters se verlede ontsier deur ’n tweegeveg wat gevoer word met hyskrane; ’n besige en deurmekaar toneel wat tesame met die driedimensionele aanbieding van die film hierdie kyker se oë uit sy kasse wou ruk.

Ek het The Adventures of Tintin geniet, maar as avontuurfilm, nie as ’n sorgsame aanpassing van ’n klassieke strokiesavontuur nie. Ek was bly dat Kaptein Sardijn se alkoholverbruik darem nie uit die fliek gesensor is nie, maar al is daar talle huldeblyke aan die strokiesboeke en Hergé self, staan groot dele van die film se fokus in skrille kontras met Hergé se unieke styl. Of filmgangers die rolprent gaan geniet, hang beslis af van hulle voorkennis van die strokies. Dit is ook waarskynlik nie die laaste wat ons van hierdie weergawe van Kuifie sal sien nie. Indien die film ’n sukses is, kan twee vervolgfilms ook gou verwag word.