Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Opvoeding | Education > LitNet Akademies > LitNet Akademies (Geesteswetenskappe)

’n Jungiaanse perspektief op die reekstekeninge van ’n seksueel mishandelde kind


Carel van Wyk - 2011-11-22

Untitled Document

Opsomming 

’n Groot aantal kinders is slagoffers van seksuele mishandeling. Hierdie slagoffers presenteer met ’n wye verskeidenheid biopsigososiale gevolge wat hulle sosiale en emosionele ontwikkeling strem. Dit impliseer dat terapeutiese hulpverlening vir hulle noodsaaklik is. Die studie behels ’n ondersoek na die potensiële psigiese helingsproses van ’n kind as gevolg van tekeninge wat sy tydens die terapeutiese proses gemaak het nadat sy aan die trauma van seksuele mishandeling blootgestel was. Die tekeninge is in ’n reeks gedoen en dit word vanuit die Jungiaanse paradigma verken, beskryf en verklaar. Volgens die Jungiaanse paradigma is die psige in staat om homself te heel indien die regte psigologiese klimaat bestaan, in hierdie geval die skep van ’n reeks prente in die teenwoordigheid van ’n terapeut. Die instrumentele gevallestudie is as navorsingsmetode benut, aangesien daar op slegs een respondent gefokus word om ondersoek in te stel na die impak van die toepassing van ’n intervensiemodel. Die gevallestudie as navorsingsmetode het sekere tekortkominge, soos byvoorbeeld min respondente en geen kontrolegroepe nie. Bevindinge kan gevolglik nie veralgemeen word nie. Daar is bevind dat die seksueel mishandelde kind se simptome in remissie was na die benutting van die reekstekeningmodel as intervensiemetode. Verskeie alternatiewe verklarings van die seksueel mishandelde kind se gedrag, soos byvoorbeeld verhoogde aandag, word ook bespreek.

Sleutelwoorde: seksuele mishandeling, kind, Jung, terapie, tekeninge, reekstekeninge


Abstract

A Jungian perspective on a series of drawings by a sexually abused child

The theory of the Jungian paradigm and the serial drawing model were discussed in a previous article (Van Wyk 2010). In this article the theories on the series of drawings that were created by a sexually abused child are applied by analysing the symbols in the pictures.

Sexual abuse is a global phenomenon. It is described as any sexual act between an adult or older child and a minor who is unable to consent to such a deed. These sexual acts can include physical contact (for example, inappropriate touching) or non-physical contact (for example, the displaying of pornographic material), or a combination of the two. This can result in various biopsychosocial consequences for the victim, among which could be behavioural, emotional and somatic problems. As sexual abuse can lead to various psychosocial consequences for the victim, therapeutic intervention is necessary.

The purpose of the study is to investigate the potential therapeutic impact of the creation of a series of drawings by a sexually abused child. This is addressed through the drawings that the sexually abused child creates during the therapy session, and which are described according to the Jungian paradigm by analysing their symbolism.

The sexually abused child is a ten-year-old girl whose parents are divorced and who was sexually abused by her aggressive stepfather, who had inappropriately touched her upper body and genitalia. She presented with the following biopsychosocial problems: physical fights with friends; bad relationships with peers; nightmares; the belief that someone was watching her; fear of being separated from her mother; and symptoms indicative of depression. The sexually abused child was treated therapeutically within the context of the Jungian-based serial drawing model.

The serial drawing model consists of a beginning, middle and termination phase. During the first phase the child normally provides an overview of his subconscious world, feelings of helplessness are reflected, and contact with the therapist is indicated. During the middle phase basic emotions, the struggle between ambivalent emotions, the deepening of the relationship with the therapist and the declaration of an underlying problem through pictures are expressed. Positive images, humouring the manifestation of a central symbol of the self, and detachment from the therapist are aspects that are projected during the last phase of the serial drawing model. During the therapeutic process, the client draws a picture in the presence of the therapist on an A4-sized page with an HB pencil for approximately thirty minutes. This normally occurs on a weekly basis. In this case, however, the sexually abused child preferred to paint. Seven of the pictures she painted during the various phases of the series of drawings model are discussed by highlighting the possible symbolism of each picture.

It was found that the symptoms that the sexually abused child had initially presented with went into remission during the course of the therapy sessions. Alternative explanations for the positive changes in her psychosocial functioning can, however, also be determined. The alternative explanations include, among others, maturation, increased attention that she had received during the therapy sessions, and her own resilience. In spite of the alternative explanations for the positive changes of her psychosocial functioning, it seems that she could nevertheless portray her inner world on paper through means of painting. Consequently, the ego was able to integrate the negative aspects. Due to the integration of emotionally painful aspects with the ego, her behaviour was no longer determined by complexes. Therapists can, therefore, utilise the model to treat sexually abused children therapeutically. However, further research is required to meet all the requirements of evidence-based therapeutic interventions.


1. Inleiding

Hierdie artikel volg op die artikel “Die reekstekeningmodel in die terapeutiese hantering van ’n seksueel-gemolesteerde kind” (Van Wyk 2010:1–8). In daardie artikel is die Jungiaanse interpretasie van die funksionering van die psige uiteengesit en bespreek. Daar is ook ag geslaan op sowel die rasionaal van die benutting van tekeninge in die terapeutiese proses as op die interpretering daarvan.

Die doel van die studie, die instrumentele gevallestudie en die reekstekeningmodel, wat op Jungiaanse beginsels gebaseer is, word hier onder aangebied. Die agtergrond van die seksueel mishandelde kind en die tekeninge wat sy tydens terapie gemaak het, word ook in die gevallestudie bespreek.


2. Probleemstelling en doel

Die probleemstelling omsluit statistiek aangaande die voorkoms van seksuele mishandeling asook ’n kort beskrywing van die potensiële biopsigososiale gevolge wat dit vir die slagoffer inhou. ’n Definisie van seksuele mishandeling word as vertrekpunt vir die probleemstelling en doel van die studie gestel.

Johnson (2004:462) definieer die seksuele mishandeling van kinders as “enige aktiwiteit met ’n kind voor die wettige ouderdom van toestemming vir die seksuele bevrediging van ’n volwassene of aansienlik ouer kind” (my vertaling). Dit sluit die volgende aspekte in:

  1. genitaal-orale seksuele kontak
  2. genitaal-genitale seksuele kontak
  3. genitaal-rektale seksuele kontak
  4. hand-genitale seksuele kontak
  5. hand-rektale seksuele kontak
  6. hand-borste seksuele kontak
  7. ontbloting van geslagsdele
  8. vertoning van pornografie
  9. gebruik van ’n kind in die vervaardiging van pornografiese materiaal (Johnson 2004:462).


Die seksuele mishandeling van kinders kom wêreldwyd algemeen voor. Stoltenborgh, Van IJzendoorn, Euser en Bakermans-Kranenburg (2011:79) het byvoorbeeld ‘n meta-analise van die wêreldwye voorkoms van seksuele mishandeling van kinders gedoen en bevind dat die geskatte voorkoms daarvan 127/1 000 (12,7 persent) vir selfverslagstudies en 4/1 000 (0,4 persent) vir beriggewerstudies is. (Selfverslagstudies behels studies waar persone aangaande hulleself rapporteer dat sekere seksuele dade met hulle gepleeg is, terwyl beriggewerstudies verwys na ’n derde party, soos ’n staatsdepartement, wat aangaande seksuele mishandeling van kinders rapporteer.) Stoltenborgh et al. (2011:79) kom in hulle meta-analise tot die gevolgtrekking dat seksuele mishandeling van kinders ’n wêreldwye probleem van aansienlike omvang is. Die voorkoms van hierdie soort seksuele mishandeling in Suid-Afrika word na aanleiding van Collings (2002:62) in Tabel 1 opgesom:


Tabel 1. Opsomming van voorkoms van seksuele mishandeling in Suid-Afrika (1989–2008)

Navorser

Bevinding

Populasie

Levett 1989 in Collings (2002:62)

30,9%

Vroulike studente wat as kinders seksueel mishandel is

Collings 1991 in Collings (2002:62)

28,9%

Manlike studente wat as kinders seksueel mishandel is.

Collings 1997 in Collings (2002:62)

34,8%

Vroulike studente wat as kinders seksueel mishandel is

Madu 2001 in Collings (2002:62)

25,6%

Vroulike en manlike studente wat as kinders seksueel mishandel is (slegs kontak seksuele mishandeling)

Nicholas (2008:47)

28,5%

Vroulike en manlike studente wat as kinders seksueel mishandel is.


Uit bogenoemde studies blyk dit dat ’n groot aantal kinders in Suid-Afrika aan seksuele mishandeling blootgestel word. Dit blyk dat die voorkoms van seksuele mishandeling van kinders in Suid-Afrika hoër is as in ander lande. (Metodologiese kwessies, tipe studies en die definiëring van die verskynsel kan bevindinge aangaande die voorkoms hiervan beïnvloed. Dit is egter nie die doel van hierdie studie om op sulke kwessies te fokus nie.)

Seksuele mishandeling hou ’n verskeidenheid biopsigososiale gevolge vir die slagoffer in, waaronder die volgende: swak akademiese prestasie, angs, gedrag- of sielkundige probleme, emosionele probleme, MIV, wegloop van huis, neuro-endokriene disfunksie, obsessief-kompulsiewe gedrag, paranoïede ideasie, swangerskap in adolessensie, psigotiese gedrag, posttraumatiese stresversteuring, somatiese probleme, substansafhanklikheid, selfmoord of selfmoordpogings (Johnson 2004:463), verliese en hulpeloosheid, swak selfbeeld, gramskap en vyandigheid, skuldgevoelens en skaamte, vermyding van intimiteit, pseudovolwassenheid of ontwikkelingregressie, ongepaste seksuele gedrag, selfvernietigende gedrag en dissosiasie, diefstal en die vertel van leuens (Spies 2006:53–8). Aangesien seksuele mishandeling ernstige biopsigososiale gevolge vir die slagoffer kan inhou, behoort die slagoffer terapeuties ondersteun te word om die trauma daarvan te verwerk.

Soos hier bo aangedui, is seksuele mishandeling  ’n wêreldwye probleem van aansienlike omvang (Stoltenborgh et al. 2011:79) en hou dit verskeie biopsigososiale gevolge vir die slagoffer in, met die gevolg dat die slagoffer waarskynlik terapeutiese ingryping benodig. Die doel van hierdie studie is derhalwe om ondersoek in te stel na die potensiële terapeutiese impak van die maak van tekeninge vanuit die Jungiaans-gebaseerde reekstekeningmodel deur ’n diepgaande begrip van die simboliek van ’n seksueel mishandelde kind se prente in ’n Suid-Afrikaanse konteks wat sy tydens die terapeutiese proses geverf het, te ontwikkel.


3. Navorsingsmetode

Die navorsingsmetode word aan die hand van ’n bespreking van die gevallestudie en sekere inligting van die seksueel mishandelde kind uiteengesit. Dit word opgevolg met ’n bespreking van die seksueel mishandelde kind se prente wat sy tydens terapeutiese sessies geverf het.


3.1 Die instrumentele gevallestudie

Fouché en Schurink (2011:320) dui aan dat gevallestudies benut word om ’n diepgaande kennis aangaande die leefwêreld van respondente te verkry. Dit word gedoen deurdat die navorser hom verdiep in die aktiwiteite van die respondente. ’n Gevallestudie kan ’n individu of klein aantal persone insluit (Fouché en Schurink 2011:320). Daar word tussen drie tipes gevallestudies onderskei, te wete die intrinsieke, instrumentele en kollektiewe gevallestudie. Die intrinsieke gevallestudie fokus op ’n beter begrip van ’n individuele geval en nie ’n breër maatskaplike aangeleentheid nie. Instrumentele gevallestudies fokus op die uitbreiding of toets van ’n teorie. Die kollektiewe gevallestudie behels die benutting van verskeie individuele gevallestudies om tot ’n dieper insig van ’n maatskaplike aangeleentheid te kom en om ’n teorie te valideer en uit te brei deur onder andere vergelykings tussen gevalle en teoretiese konsepte te tref (Fouché en Schurink 2011:321–2).

Aangesien die fokus in hierdie studie val op ’n individuele geval wat terapeuties volgens die reekstekeningmodel hanteer is, word die instrumentele gevallestudie gebruik. Volgens Leitch (2008:37) is die benutting van kinders se tekeninge om data te verkry ’n erkende metode in die kliniese en diagnostiese navorsingstradisie van onder meer die psigoterapie. Die projeksies (deur middel van prente) tydens die terapeutiese proses (reekstekeningmodel) van ’n seksueel mishandelde kind word in diepte verken, beskryf en verklaar.

Kazdin (2011:4) waarsku dat afleidings nie sonder meer gemaak kan word van data wat uit gevallestudies verkry is nie – as gevolg van die afwesigheid van kontroles, sistematiese assessering en prosedures om dit wat plaasgevind het, te verifieer. Die gevallestudie as navorsingsmetode het egter ook sekere sterktes, waaronder die volgende:

  1. Gevallestudies kan die bron van idees en hipoteses wees.
  2. Dit kan dien as bron vir die ontwikkeling van terapeutiese tegnieke.
  3. Buitengewone/seldsame verskynsels kan deur middel van gevallestudies ondersoek word (Kazdin 2011:5).

 

3.2 Agtergrondinligting aangaande die seksueel mishandelde kind in hierdie gevalle studie

Die seksueel mishandelde kind is ’n tienjarige meisie wie se ouers geskei is. Haar moeder het weer in die huwelik getree en sy was die enigste kind in die huis. Haar stiefvader het alkohol misbruik, was verbaal en fisies aggressief en het die kind seksueel mishandel deur haar bolyf en geslagsdele by verskeie geleenthede te betas. Sy is deur dreigemente verbied om die seksuele mishandeling bekend te maak.

Met aanmelding het die seksueel mishandelde kind met die volgende simptome presenteer, wat aanduidend was van die trauma waaraan sy blootgestel was: voortdurend betrokke by fisieke bakleiery met maats, oor die algemeen ’n swak verhouding met haar portuurgroep, nagmerries, die oortuiging dat iemand haar dophou (paranoia), vrees vir skeiding van haar moeder, en simptome aanduidend van depressie. Vir Carey (2006:15) is trauma enige situasie waar die psige in so ’n mate oorweldig word dat die individu nie in staat is om sy gebruiklike psigologiese verdedigings aan te wend of om op sy gebruiklike wyse te funksioneer nie. Die trauma waaraan hierdie kind blootgestel was, het tot gevolg gehad dat sy nie meer op haar gebruiklike wyse kon funksioneer nie. Die gevolg was dat emosionele en gedragsprobleme ontwikkel het.

Simptome aanduidend van ’n major depressiewe episode was nie teenwoordig nie, maar dit het geblyk dat die kind eerder met ’n “glimlag-depressie” presenteer. Hollis (1996:70) verduidelik hierdie begrip soos volg:

Many of us are burdened with “walking depression”, or even “smiling depression”. We manage to function well enough, but carry a heavy soul and never feel the lightness, which is also part of the journey. Such a depression is common and often undiagnosed. It erodes the quality of one’s life. We may collude with it by feeling unworthy and not up to the challenges of life.

Heymann (2002:85–6) sien depressie as ’n geleentheid vir psigiese groei. Hierdie aspek kan ook gesien word in die prente van hierdie kind, soos later verduidelik word (sien die bespreking van prent 7).

Livingstone (2001:17) verduidelik dat trauma “innerlike demone” skep en dat hierdie demone tot selfvernietiging kan lei. Hierdie meisie was aan verskillende vorme van mishandeling blootgestel, wat tot die ontwikkeling van “innerlike demone” kon lei. Hierdie “innerlike demone” het in haar simptome, soos hier bo aangedui, gemanifesteer. Dit het uiteindelik tot haar persoonlike “selfvernietiging” gelei. Dukes (2005:53) sien depressie spesifiek as ’n demoon en “grant[s] it the status of a living being, a demon.

Die simptome kan egter ook in ’n positiewe lig gesien word, aangesien dit ’n teken is dat die psige die projeksies van die mishandelaar beveg. Sou hierdie kind algeheel magteloos gevoel het, kon projektiewe identifisering ontwikkel het, met ander woorde, die slagoffer identifiseer met die projeksies van die mishandelaar en identifiseer ook met die persona van die mishandelaar. As gevolg van laasgenoemde proses kan ’n geïnternaliseerde beeld van magteloosheid ontwikkel, wat dan byvoorbeeld daartoe kan lei dat die persoon voortdurend in verhoudings betrokke raak waarin hy/sy misbruik word (Hollis 1998:23).

Met terminering van terapie was bogenoemde simptome in remissie. Kort na die terminering van die terapie het die meisie en haar moeder na ’n ander dorp verhuis, omdat haar moeder ook besig was om van die kind se stiefvader te skei. Op ’n later geleentheid het ek ’n telefoonoproep van die kind ontvang waartydens sy my meegedeel het dat dit steeds met haar “goed gaan”.

Die feit dat die simptome van die kind in remissie gegaan het en dat dit met haar “goed gaan”, moet nie noodwendig geïnterpreteer word as dat sy “genees” is van die trauma nie. Dit behoort eerder gesien te word as dat haar psige op daardie stadium in staat was om die emosionele pyn by haar ego te integreer; met ander woorde, die emosionele pyn is ’n onlosmaaklike deel van haar, maar sy word nie meer daardeur beheer nie.

Vervolgens word die prente wat die meisie geverf het, bespreek. Dit word gedoen soos wat die verskillende fases van die reekstekeningmodel verduidelik word. Die foto’s van die prente wat sy geverf het, word aan die einde van elk van die fases van die reekstekeningmodel verskaf. Slegs vyf prente wat sy tydens die terapeutiese proses geverf het, word bespreek. Daar word gefokus op die ontvouing van die psigiese materiaal wat sy in haar prente geprojekteer het. Die ontvouing van die kind se geprojekteerde psigiese materiaal moet teen haar persoonlike agtergrond verstaan word.


4. Die reekstekeningmodel

Die reekstekeningmodel behels dat ’n kind vir 20 tot 30 minute, verkieslik elke keer in dieselfde vertrek, in die teenwoordigheid van die terapeut ’n prentjie op ’n A4-grootte papier met ’n gewone HB-potlood moet teken (Allan 1988:27). Omdat die sessies slegs 20 tot 30 minute duur, behoort kleurpotlode, kleurkryt, liniale en uitveërs buite die sig van die kind geplaas te word. Die kind moet elke sessie van ’n stuk skoon A4-grootte-papier voorsien word. Daar moet egter aan die wens van die kind voldoen word indien sy sou verkies om aan die prent van die vorige sessie te werk. Die prent word nie aan die einde van die sessie aan die kind oorhandig nie. Gedurende die sessies behoort die terapeut langs die kind te sit en ook nie te veel te praat nie, behalwe indien die kind ’n gesprek inisieer. Die terapeut raak nie aan prente tydens die sessie nie, maar neem die kind waar – hoe die kind die prent aanpak, die plasing van figure, die simbole wat voorkom en temas wat in die prente manifesteer (Allan 1988:29–30). Aspekte soos dieselfde tyd en plek waar die terapie in die teenwoordigheid van die terapeut plaasvind, skep gevolglik ’n temenos vir die kind. "Temenos" is ’n Griekse woord wat "heilige plek" beteken. In die Jungiaanse konteks word die terapeutiese prosedure en proses onder andere as ’n "heilige plek" geag. Die terapeut skep ’n "heilige plek" vir die kliënt deur middel van die tyd en plek van die terapie asook die terapeutiese verhouding waar die kliënt veilig voel en emosioneel kan groei (Van Wyk 2010:2–3).

Nadat die kind klaar is met die tekening, moet dit terapeuties deur die terapeut geprosesseer word deur byvoorbeeld die volgende vrae aan die kind te stel: Vertel die prent ’n storie? Wat gebeur in die prentjie? Het jou prentjie ’n naam? Wat het vooraf gebeur? Wat gaan volgende gebeur? Die terapeut kan ook enige ongewone beelde terapeuties verken of byvoorbeeld aan die kind vra waaraan sy gedink het terwyl sy besig was om ’n sekere item te teken, aangesien sy baie tyd daaraan bestee het (Allan 1988:29–30).

Met die terminering van terapie moet die terapeut al die prente voor die kind uitpak en dit met die kind bespreek. Daar kan byvoorbeeld aan die kind gevra word wat sy dink as sy al die prente so voor haar uitgepak sien. Die terapeut kan dan opsommende aanmerkings maak deur byvoorbeeld aan die kind te noem dat toe sy met terapie begin het, sy sekere prente gemaak het en dat haar prente met die afsluiting anders voorkom. Die terapeut lig sodoende die psigiese ontwikkeling van die kind wat tydens die terapeutiese proses plaasgevind het, aan haar uit. Daarna word besluit of die kind die prente wil neem en of die terapeut of die ouers dit moet bewaar (Allan 1988:46). Deur die prente met probleme van die verlede en die hede te koppel en interpretasies te maak, word onbewuste psigiese materiaal na die bewuste vlak gebring (Walsh en Allan 1994:5). Integrasie van psigiese materiaal in die ego kan geskied en gedrag en gevoelens word dan nie meer deur die onbewuste psigiese materiaal (komplekse) aangedryf nie. Die “innerlike demone” wat as gevolg van die trauma ontwikkel het, kom gevolglik tot ruste.



4.1 Fases van die reekstekeningmodel

Die reekstekeningmodel bestaan uit drie fases, te wete die begin-, middel- en termineringsfase. Elke fase het sy eie besondere kenmerke, maar dit gebeur dat die fases mekaar oorvleuel en dat kinders op hulle eie individuele tyd deur hierdie fases beweeg (Walsh en Allan 1994:11). Daar kan ook na die begin-, middel- en termineringsfase as onderskeidelik die chaotiese fase, die worstelingsfase en die oplossingsfase verwys word. In die chaotiese fase word die innerlike chaotiese emosionele toestand in die media (prent) en op die terapeut geprojekteer, met ander woorde, die innerlike chaos word geëksternaliseer. Gedurende die worstelingsfase word die stryd tussen goed en kwaad en ander negatiewe gevoelens uitgebeeld. Die “goeie” begin in beheer kom, wat dui op ego-ontwikkeling. In die oplossingsfase word temas van heling en herstel aangedui (Allan en Brown 1993:31–2).

Die gekose prente wat hierdie seksueel gemolesteerde kind tydens elke fase van die reekstekeningmodel geskep het, word vervolgens bespreek. Prente wat die onderskeie fases van die reekstekeningmodel en die kind se psigiese groei verteenwoordig, is uitgekies. Daar is nietemin streng by die chronologiese volgorde waarin sy dit geverf het, gebly.

4.1.1 Die begin- of chaotiese fase (sessies een tot sewe)

Drie aspekte staan uit in die begin of chaotiese fase van die reekstekeningmodel:

  1. Die kind verskaf gewoonlik ’n oorsig van haar onbewuste leefwêreld.
  2. Die kind reflekteer gewoonlik ook gevoelens van hulpeloosheid.
  3. Kontak met die terapeut word in die tekeninge aangetoon (Allan 1988: 32–3).

Hierdie aspekte het soos volg gemanifesteer in die terapeutiese tekeninge wat hierdie kind geverf het en word vervolgens afsonderlik bespreek.

4.1.1.1 ’n Oorsig van die kind se onbewuste leefwêreld word verskaf

Kinders dui gewoonlik aan die beginfase van die reekstekeningproses op ’n simboliese wyse deur middel van die prente aan wat die oorsaak van hulle probleem is (Allan 1988:23). In haar eerste prent (Figuur 1) beeld hierdie kind ’n droom uit. Die groot rooi figuur is ’n “spook” wat haar (die kleiner figuur) in haar slaapkamer wil vang wanneer sy gaan slaap. Op ’n later stadium (sien prent 3, Figuur 3, hier onder) van die terapeutiese proses het sy genoem dat haar stiefvader dikwels in die nag na haar kamer gekom en haar seksueel betas het. Sy het gevolglik reeds met die eerste prent op ’n simboliese wyse ’n oorsig van haar onbewuste leefwêreld verskaf, te wete haar gevoelens van vrees en magteloosheid wat sy jeens haar stiefvader ervaar het as gevolg van die seksuele mishandeling.

Sekere kleure wat sy benut het om die prente te verf, staan uit. Hierdie kleure se simboliese betekenisse kan aanduidend van die psigiese prosesse in haar onbewuste leefwêreld wees en dit word kortliks bespreek. Alhoewel Allan (1988) aanbeveel dat die kinders moet teken, het die seksueel mishandelde kind verkies om te verf. Allan (1988) het psigoterapie met kinders by skole gedoen en tyd was dus ’n belangrike faktor. In hierdie geval het die terapie met die seksueel mishandelde kind in ’n kliniek-opset geskied met meer tyd tot beskikking van die terapeut. Behalwe dat die terapeutiese sessies met haar langer geduur het, kon daar nie in die gevallestudie vasgestel word dat die terapeutiese proses negatief daardeur beïnvloed was nie.

Die kind het die spook in die eerste prent in rooi en swart geverf. Rooi is ’n aktiewe manlike kleur wat onder andere energie, aggressie, gevaar, liefde en vreugde simboliseer. Dit het egter ook ’n negatiewe aspek, aangesien dit met boosheid geassosieer word (Tresidder 2004:409). Swart simboliseer veral negatiewe aspekte en ongelukkige gebeurtenisse (Tresidder 2004:70). Alhoewel blou, die kleur van die basis van die bed in die prent, veral positiewe aspekte simboliseer, simboliseer dit ook melancholie en hartseer (Tresidder 2004:73). Die kopstuk van die bed wat die kind geverf het, is geel. Geel is ook die kleur waarmee sy die buitelyne van die figuur wat haarself voorstel, verf. Sy het egter verskillende kleure gebruik om die figuur wat haarself voorstel, in te kleur (Figuur 1). Geel het verskeie positiewe simboliese betekenisse, maar dit word ook met dood en die lewe na die dood in verband gebring (Tresidder 2004:527). In teenstelling met die eerste prent, is die spook in die tweede prent wit. Oor die algemeen het wit ’n positiewe simboliese betekenis, maar dit verwys ook na vrees, lafhartigheid, oorgawe en koudheid. Spoke en ander afstootlike geeste word dikwels in wit uitgebeeld, na analogie van die bleekheid van ’n lyk en die wit van beendere. In China, byvoorbeeld, is wit ook ’n simbool van rou (Tresidder 2004:517).

Gesien in die konteks van die kind se psigososiale omstandighede en die beginfase van die reekstekeningmodel waarin sy haar bevind het, neem die terapeut aan dat veral die negatiewe aspekte van die verskillende kleure hier ter sprake is. Op simboliese vlak sluit die kleure se negatiewe elemente bymekaar aan en verteenwoordig waarskynlik ’n negatiewe boodskap. Die boodskap wat haar Figuur 1 deur middel van die verskillende kleure stuur, is dié van boosheid, ongelukkigheid, melancholie en dood in haar onbewuste leefwêreld. Sodoende het sy ’n oorsig van haar onbewuste leefwêreld verskaf, kenmerkend van die beginfase van die reekstekeningmodel soos hier bo aangedui.

4.1.1.2 Gevoelens van hulpeloosheid word weerspieël

’n Verlies aan innerlike beheer, soos hulpeloosheid, word dikwels in die prente van kinders gedurende die eerste fase van die reekstekeningmodel aangedui. Die negatiewe of destruktiewe magte wat in die prente geïllustreer word, oorwin gewoonlik (Allan 1988:23, 33). Hierdie aspek manifesteer in die eerste twee prente (Figure 1 en 2) wat hierdie kind geverf het. Sy toon nie beheer oor die destruktiewe mag in haar lewe, soos deur die spook gesimboliseer, nie. Die gebrek aan beheer oor die destruktiewe mag in haar lewe word waarskynlik vergestalt in die seksuele mishandeling aan die hand van die stiefvader waaraan sy blootgestel was.

Die een element van die eerste prent wat uitgestaan het, was die spook en dat die spook aanvanklik in ’n droom gemanifesteer het. Drome is volgens Tresidder (2004:444) “visions of delight or horror; slaap word simbolies gesien as die “broer van die dood”. Van Rensburg (2002:145) dui aan dat kinders hulle drome as ’n realiteit ervaar en dat dit daarom noodsaaklik is dat hulle afstand van die inhoud van hulle drome moet behou. Die kind moet die droominhoud as ’n eksterne objek hanteer om dit uiteindelik te kan bemeester (Frank 2004:157).

Die kind se droomprent is terapeuties hanteer soos wat enige ander prent terapeuties geprosesseer sou word. Frank (2004:149) waarsku juis dat kinders se drome nie ontleed/geïnterpreteer behoort te word nie. Die kind moet daarom self betekenis aan die droom in die terapeutiese prosessering daarvan, met behulp van die terapeut, verskaf.

Frank (2004:150) dui aan dat wanneer kinders die dreigende figure in hulle drome konfronteer en dit verdwyn of verander in welwillende figure, die kind waarskynlik in die proses is om hanteringsvaardighede aan te leer en die “monsters” in hulle werklike lewe die hoof te bied. In die eerste prent (Figuur 1) vlug die kind van ’n dreigende figuur – die spook. Daar is met ander woorde hier nie sprake van die teenwoordigheid van enige hanteringsvaardighede nie, maar hulpeloosheid word eerder uitgebeeld.

Die tema van die spook word in die tweede prent (Figuur 2) herhaal. In die prent word ’n wit spook wat op blou wolke staan, uitgebeeld. Die son is gedeeltelik bedek deur die wolke en die tuin is vormloos en kaal. Die kind het ervaar dat hierdie spook haar aanstaar wanneer sy buite hulle huis in die tuin wil gaan speel. ’n Ligte vorm van paranoia kom klaarblyklik na vore. Simbole wat hier uitstaan, is die tuin en die spook.

Maree (1997:126–7) beskryf die sien van ’n spook as “’n blote skim” (“herinnering wat in ’n visuele beeld omgesit word”).Maree (1997:208) is verder van mening dat spoke na skuldgevoelens en herinneringe wat ’n persoon nie met rus wil laat nie, kan verwys. Die woord spook is ook ’n algemene woord wat gebruik word vir die beskrywing van die verskyning van ’n persoon wat reeds dood is. Hierdie wesens word gesien as siele wat tussen die fisiese en die hiernamaals vasgevang is (Croxon 2003:116). In die konteks van die huidige kind se psigososiale omstandighede kan die spook met ander woorde dui op die seksuele mishandeling aan die hand van haar stiefvader wat haar nie met rus wil laat nie. By nabetragting word daar gespekuleer dat die stiefvader die kind op die een of ander wyse gedreig het dat hy haar “dophou”; vandaar die spook wat haar dophou en die ligte graad van paranoia.

Aangesien die kind in haar prent uitgebeeld het dat die spook haar spesifiek in die tuin dophou en die tuintema telkens in haar prente herhaal word, is dit belangrik om die simboliese betekenis daarvan te verstaan. Tresidder (2004:200) dui aan dat ’n tuin die perfekte wêreld, kosmiese orde en harmonie simboliseer; die verlies aan die paradys en die herwinning daarvan. Die trauma waaraan die kind blootgestel was, het tot gevolg gehad dat sy die paradys verloor het; vandaar die tuin sonder haarself daarin, soos uitgebeeld in Figuur 2. Indien ’n visuele vergelyking tussen prente twee (Figuur 2) en vier (Figuur 4) en vyf (Figuur 5) gemaak word, blyk dit egter dat sy in die proses was om haar paradys te vind, aangesien daar meer lewe en groei in laasgenoemde twee prente is.

4.1.1.3 ’n Medium waarmee die kind met die terapeut kontak maak, word uitgebeeld

Kinders gebruik dikwels tekeninge om ’n verhouding met die terapeut te begin. Die terapeut kan byvoorbeeld as ’n vriendelike reus, ’n dokter, ’n verpleegkundige of ’n loods uitgebeeld word (Allan 1988:23, 33). In hierdie geval manifesteer ek as terapeut nie simbolies in die prente wat die kind geverf het nie. (Daar is egter op ’n later stadium afgelei dat ’n positiewe rapport tussen haar en my as terapeut ontwikkel het, aangesien sy spontaan ’n foto’tjie van haarself aan my oorhandig het en my telefonies gekontak het.)

In die eerste fase van die reekstekeningmodel het die kind simbolies aangedui wat die aard van haar probleme is en hoe magteloos sy daaromtrent voel.

Figuur 1. Prent 1: Begin-/chaotiese fase

Figuur 2. Prent 2: Begin-/chaotiese fase


4.1.2 Die middel- of worstelingfase (sessies vyf tot agt)

Volgens Allan (1988:26, 34–9) reflekteer tekeninge in die middelfase van die reekstekeningmodel gewoonlik die volgende aspekte:

  1. Uitdrukking van emosie in sy basiese vorm.
  2. Stryd tussen ambivalente gevoelens/teenstellings.
  3. Verdieping in die verhouding met die terapeut.
  4. Bekendmaking van ’n dieperliggende probleem.

Bogenoemde aspekte word hier onder aan die hand van die huidige kind se prente bespreek.

4.2.1.1 Uitdrukking van emosie in sy basiese vorm

Die uitdrukking van emosies in hulle basiese vorm vind plaas deurdat die onderskeie pynlike emosies van mekaar geskei en in ’n suiwer vorm uitgedruk word (Allan 1988:34). In prent drie (Figuur 3) het die ’n son geteken wat agter die wolke is. Sy het verduidelik dat alhoewel die son in sy geheel gesien kan word, dit agter die wolke is en dit slegs by een klein plekkie tussen die wolke deurskyn. Tydens die terapeutiese prosessering van die prent het die kind genoem dat haar hele lewe donker is, behalwe vir die klein stukkie waar die son deurskyn.

Die basiese emosie wat die kind hier uitdruk, is neerslagtigheid, met ander woorde, ’n depressiewe gemoed. Haar gemoed word gevolglik in die prent wat sy geverf het, geprojekteer. Die simbole wat in prent drie (Figuur 3) uitstaan, is die son en die wolke.

Verskillende kulture heg verskillende simboliese betekenisse aan die son. Cooper (1978:163) dui aan dat die son vanuit ’n Christelike perspektief vir God as vader, heerser en onderhouer van die wêreld wat Sy lig en liefde uitstraal, verteenwoordig. Die positiewe simboliese elemente van die son kan na aanleiding van Biedermann (1992:330) soos volg opgesom word: “[D]estroyer of darkness […] you who illuminate darkness, light up the heavens, and annihilate evil above and below […]”. Tresidder (2004:454) noem onder andere die volgende moontlike simboliese betekenisse van die son: die son is ’n dominante simbool van kreatiewe energie wat onder meer vitaliteit, passie, moed of ewige vernuwende jeug as die bron van hitte verteenwoordig. As bron van lig verteenwoordig die son onder andere kennis, intellek en waarheid. As die glansrykste hemelliggaam is die son ook die embleem van koninklikheid en imperiale grootsheid. Volgens Tresidder (2004:444) simboliseer die son ook bonatuurlike magte en dit word verder geassosieer met superioriteit, dominansie en spirituele ontwikkeling en strewe.

Die afleiding word gemaak dat die sonkwaliteite van hierdie kind op daardie stadium van haar lewe beskikbaar maar onbereikbaar was, aangesien net ’n klein gedeelte daarvan deur die wolke kon skyn. Dit is egter aanduidend van hoop op genesing. Die sonkwaliteite word steeds oorheers deur die basiese pynlike emosie van depressiwiteit.

Alhoewel wolke in die algemeen ’n positiewe simboliese betekenis het, sê Cooper (1978:38) onder andere die volgende: “Living ‘under a cloud’ is disgrace.” Die kind het onder die skande/ongenade van die seksuele mishandeling aan die hand van haar stiefvader geleef en dit het gemanifesteer in haar negatiewe overte gedrag. Die wolk (seksuele mishandeling) verhoed dat haar “sonkwaliteit” kan deurbreek.

4.2.1.2 Stryd tussen ambivalente gevoelens/teenoorgesteldes

Ambivalente gevoelens, of die stryd tussen goed en sleg, is ’n sentrale aspek van die middelfase van die reekstekeningmodel. Prente in die middelfase van genoemde model bevat sowel positiewe as negatiewe elemente (Allan 1988:34). Hierdie aspek kom ook in prent drie (Figuur 3) voor. Die wolk (negatiewe aspek) staan teenoor die son (positiewe aspek), met ander woorde, die gevoel van neerslagtigheid van die kind staan teenoor gevoelens van hoop. Die stryd tussen die teenoorgesteldes kom nie noodwendig net in een prent voor nie, maar ook tussen die verskillende prente.

In prent vier (Figuur 4) word sekere ambivalente aspekte geïdentifiseer. In genoemde prent kom die son gedeeltelik agter die wolke uit. Die tema van die son en wolke word in hierdie prent herhaal. Die prent het die gevoel van ’n meer tipiese kinderprentjie by die terapeut ontlok, aangesien sigbare blommetjies, gras, ’n boom en ’n dammetjie duidelik voorkom. Die wolke staan teenoor die ander simbole (water, boom, blomme) in prent vier. Vervolgens word hierdie simbole bespreek om dit te kontrasteer met die wolkesimbool soos hier bo aangedui.

Tresidder (2004:513) noem dat water ’n antieke en universele simbool van onder andere die bron van lewe is. Dit word verder beskryf as ’n simbool van “vormlose potensiaal”. Water as ’n middel vir reiniging kom in verskeie religieuse rituele voor. Die doop as ritueel in die Christelike godsdiens staan hier uit. Water dien as ’n metafoor vir geestelike versorging en groei. Water simboliseer ook wysheid, aangesien dit altyd ’n pad om/deur ’n probleem sal vind. Vanuit ’n psigoanalitiese perspektief dui water op die onbewuste (Tresidder 2004:514). Water, soos die son, simboliseer sterk positiewe elemente. Die kind in hierdie geval begin waarskynlik psigiese versorging ervaar, en haar potensiaal om te groei ontwikkel ook.

’n Boom word gesien as die simboliese sintese tussen hemel, aarde, water en die natuurlike simbool van dinamiese groei, seisoenale dood en regenerasie. Ten spyte van sy falliese voorkoms dui ’n boom ook op versorging, beskutting en beskerming, met ander woorde, die vroulike aspek van die Groot Moeder (Cooper 1978:176 en Tresidder 2004:484).

Verskillende soorte en kleure blomme het spesifieke simboliese betekenisse. Dit blyk egter dat blomme oor die algemeen ’n vroulike, passiewe beginsel simboliseer, en dit is ook ’n universele simbool van jong lewe (Cooper 1978:70 en Biedermann 1992:135). Bogenoemde simbole (bome en blomme) het een eienskap gemeen, te wete groei/regenerasie/jong lewe. Die eienskappe van die simbole kan gevolglik daarop dui dat daar ’n proses van psigiese heling in dié kind se psige ontwikkel. Sy is met ander woorde in die proses om psigies “gesond” te word.

Die meeste simbole soos hier bo bespreek, kom ook in prent vyf (Figuur 5) voor. Dit is opvallend dat die son- en wolketema hulle herhaal. In hierdie prent (Figuur 5) het die son egter heeltemal agter die wolke uitgekom. ’n Huisie en mense kom ook voor. Dit skep gevolglik die indruk van ’n meer tipiese kinderprentjie. Uit bogenoemde blyk dit dat integrasie tussen die ambivalente gevoelens/teengesteldes, soos simbolies in die prente (Figure 3, 4 en 5) van die middelfase voorkom, plaasgevind het.

4.2.1.3 Die verhouding met die terapeut verdiep

Tydens die middelfase van die reekstekeningmodel kan die terapeut in die prent van die kind as ’n positiewe, hulpverlenende beeld geïnkorporeer word (Allan 1988:36). Hierdie aspek het steeds nie in die prente wat die huidige kind geverf het, na vore gekom nie. Dit blyk egter dat die verhouding tussen haar en my as terapeut verdiep het, aangesien sy die seksuele mishandeling bekend gemaak het, soos vervolgens verduidelik word.

4.2.1.4 Die bekendmaking van ’n dieperliggende probleem

In die middelfase gebruik ’n kind dikwels die tekeninge as ’n brug om ’n pynlike situasie direk verbaal te verken of om ’n geheim te ontbloot. Dit is belangrik dat die terapeut op hierdie tydstip die inhoud van die tekeninge en die kind se probleme direk in verband moet bring (Allan 1988:36–7).

Die kind het tydens hierdie fase van die reekstekeningmodel tydens die terapeutiese prosessering van haar prente, die seksuele mishandeling aan my bekend gemaak. Sy het onder andere spontaan aan my geverbaliseer dat haar stiefvader haar weer seksueel betas het, en sy het die vorige insidente ook beskryf. (Ek het die aangeleentheid met die moeder en polisie opgeneem en die aangeleentheid is aangemeld, soos wetlik vereis.)

Tydens die middelfase het haar moeder en ’n onderwyser geverbaliseer dat haar negatiewe gedrag aan die afneem was. Sy het makliker met maatjies gesosialiseer en sy het ook minder baklei. Dit het met ander woorde geblyk dat die terapeutiese proses op daardie stadium van die kind se lewe besig was om sy doel te dien en dat die termineringsfase van die reekstekeningmodel betree kon word.

Figuur 3. Prent 3: Middel-/worstelingfase
Figuur 4. Prent 4: Middel-/worstelingfase
Figuur 5. Prent 5: Middel-/worstelingfase


4.1.3 Die terminering- of oplossingsfase (sessies nege tot twaalf)

Wanneer die dieper gevoelens en emosionele pyn simbolies of verbaal uitgedruk is, vind ontwikkeling na ’n oplossing plaas en die prente in die termineringsfase toon gevolglik die volgende kenmerke:

  1. Beelde van oorwinning/selfbeheer/selfwaarde kom voor.
  2. Positiewe beelde verskyn.
  3. Humor kom na vore.
  4. ’n Sentrale simbool van die self kom na vore.
  5. Losmaking van die terapeut word uitgebeeld (Allan 1988:26; 39–42).

Die prente wat die seksueel mishandelde kind tydens hierdie fase geskep het, word onder genoemde kenmerke van die termineringsfase bespreek.

4.1.3.1 Beelde van oorwinning/selfbeheer/selfwaarde kom voor

Beelde wat gevoelens van oorwinning, selfbeheer en/of selfwaarde reflekteer, kom dikwels in die tekeninge wat tydens die termineringsfase deur kinders gemaak word, voor (Allan 1988:39). Prent ses (Figuur 6) beeld die kind uit waar sy haarself geteken het waar sy in reën, afkomstig van donker wolke, op groen gras speel en dans. Tydens die terapeutiese prosessering van die prent het sy aangetoon dat sy “gelukkig” voel en dat sy die ervaring om in die reën te dans as positief ervaar. Die wolke, wat aanvanklik as ’n minder positiewe simbool geïnterpreteer is, het tog reën gebring. Die tema van die wolke kom daarom ononderbroke voor. Die bykomende simboliese element in hierdie tema is die reën.

Cooper (1978:136) gee die simboliese betekenis van reën soos volg weer:

Divine blessing; revelation; the descent of the heavenly influences; beatitude; purification, both as fertility and spiritual revelation; in this respect rain joins in the symbolism of the sun’s rays and light. All sky gods fertilize the earth by rain. The rain, falling from the sky, impregnates the earth, so that she gives birth to plants and grain for man and beast.

Tresidder (2004:514) noem verder dat reën as heilig gesien kan word en dat dit ook oor genesende eienskappe beskik. Hieruit word afgelei dat die getraumatiseerde psige van die seksueel mishandelde kind steeds in die proses is om die emosionele pyn te verwerk. Die innerlike proses van die psige word steeds deur middel van die prent wat sy geverf het, geëksternaliseer.

4.1.3.2 Positiewe beelde verskyn

Positiewe beelde verskyn in die tekeninge wat kinders in die termineringsfase maak en daar is ’n afwesigheid van oorlog en geweld in die tekeninge (Allan 1988:40). Die reën en die reënboog in prente ses en sewe kan as positiewe beelde gesien word. Daar is ook ’n afwesigheid van negatiewe elemente en destruktiewe magte in prent sewe, wat ook die laaste prent was wat die kind geverf het. Die spookfiguur of wolke kom ook glad nie meer in die prent voor nie. Die reënboog in prent sewe sluit aan by die reëntema van prent ses. Nadat dit gereën het, het die reënboog uiteindelik verskyn.

Cooper (1978:136) dui aan dat ’n reënboog op die volgende aspekte dui: transfigurasie, hemelse glorie, verskillende state van bewustheid, die ontmoeting van hemel en aarde, en ’n brug tussen hierdie wêreld en die paradys.In antieke China is die reënboog gesien as die vereniging van Jin en Jang (Biedermann 1992:278). Ook Tresidder (2004:405) dui aan dat die reënboog gewoonlik ’n optimistiese simbool is. Dit staan ook vir ’n oorbruggingsimbool tussen die bonatuurlike en natuurlike wêrelde en is ’n teken van versoening. In die konteks van die huidige kind kan dit geïnterpreteer word as ’n sintese van wat in haar onbewuste plaasgevind het en wat transformasie van die psige tot gevolg gehad het. Die teenstellende elemente in die psige het versoen geraak, met gevolglik minder psigiese angs wat in negatiewe gedrag manifesteer.

4.1.3.3 Humor

Allan (1988:40) dui aan dat die simboliese negatiewe magte in die tekeninge van kinders tydens die termineringsfase vervang word met tekeninge waarin humor voorkom. Humor is nie in die prente van die huidige kind geïdentifiseer nie.

4.1.3.4 ’n Sentrale simbool van die self kom na vore

Die kind het tydens hierdie fase ’n selfportret gemaak. Dit verskyn in Figuur 6, waar sy haarself geteken het waar sy in die reën dans en speel. Dit sluit aan by Allan (1988:40) wat noem dat ’n kind byvoorbeeld ’n selfportret in die termineringsfase van die reekstekeningmodel kan maak. Mandala-vorme soos vierkante, sirkels of driehoeke rondom die sentrale beeld kan ook verskyn. Die tekeninge toon dikwels grense/rame wat die inhoud daarvan beskerm (Allan 1988:40). Laasgenoemde aspekte word nie in die prente (Figure 6 en 7) van hierdie kind geïdentifiseer nie.

4.1.3.5 Losmaking van die terapeut word uitgebeeld

Tydens die laaste fase van die reekstekeningmodel begin die kind om haar libidinale energie van die terapeut te onttrek (Allan 1988:41). In Jungiaanse terme verwys libido na psigiese energie en moet dit daarom nie met Freud se siening, wat libido en seksuele energie gelykstel, verwar word nie (Chalquist 1997:5). Elemente aanduidend van losmaking van die terapeut het nie spesifiek in die prente van die kind na vore gekom nie.

Figuur 6. Prent 6: Terminerings-/oplossingsfase
Figuur 7. Prent 7: Terminerings-/oplossingsfase


5. Bevindinge en gevolgtrekkings

Deur die skep van ’n temenos vir die seksueel mishandelde kind was sy skynbaar in staat om psigies te ontwikkel. Die temenos het haar in staat gestel om haar onbewuste psigiese prosesse op papier deur middel van verf te projekteer. Bydraend tot haar psigiese ontwikkeling was die terapeutiese prosessering van die prente wat sy geteken het. (Hier word spesifiek die frase psigiese ontwikkeling en nie heel geword nie gebruik, aangesien heelwording in die Jungiaanse paradigma onder andere ’n lewenslange proses van individuasie behels.)

Die foto’s van die prente wat die kind geverf het, is op sigself ’n visuele voorstelling van haar psigiese ontwikkeling. In prent een (Figuur 1) het sy ’n destruktiewe mag voorgestel en min besonderhede het daarin voorgekom, terwyl haar laaste prent (Figuur 7) ’n reënboog is, wat transformasie aandui. In elke opeenvolgende prent het die kind in meer besonderhede geverf. Vergelyk byvoorbeeld die tuin in prent twee (Figuur 2) met die tuine in prente vier en vyf (Figure 4 en 5). Die spook in prent een (Figuur 1) het ook mettertyd letterlik uit die prentjie verdwyn. Dit het plek gemaak vir mense, soos in prent vyf (Figuur 5). Namate daar verandering in die psige van die kind plaasgevind het, is dit in haar prente geprojekteer.

Van die belangrikste uitdagings was om die universele betekenisse van die simbole in die konteks van hierdie kind se kultuur, maar ook haar persoonlike lewenskonteks, te begryp. Vervolgens moes daar ook gewaak word teen persoonlike projeksies deur die terapeut. Projeksies van die terapeut kan veral ’n rol speel wanneer daar terapeuties met simbole gewerk word, as gevolg van die wye verskeidenheid betekenisse wat daaraan geheg kan word. Kazdin (2011:8–9) noem dat gevallestudies swaar steun op anekdotiese inligting, op grond waarvan uiteindelik interpretasies gemaak word. Hierdie uitdaging is ondervang deur te poog om streng by die teorie te bly en terselfdertyd empaties saam met die kind in haar tekeninge in te beweeg. Sodoende kon ek haar beter verstaan en haar gevolglik help om haarself beter te verstaan.

Soos aangedui, was die simptome waarmee die kind aanvanklik gepresenteer het, in remissie by die terminering van die terapeutiese proses. Die kind het klaarblyklik gebaat by die benutting van die reekstekeningmodel as terapeutiese intervensie.

Bostaande gevolgtrekking moet egter met omsigtigheid bejeën word en in die konteks van die beperkinge van die gevallestudie as navorsingsmetode beskou word. Dit is moeilik om ’n direkte, kousale verband tussen die huidige emosionele stand van ’n respondent en ’n intervensiemetode te tref, aangesien daar ook verskeie alternatiewe verklarings vir die gedragsverandering by die respondent kan bestaan (Kazdin 2010:525). Daar word na hierdie veranderlikes as “niespesifieke behandelingsfaktore” of “algemene faktore” verwys en dit sluit byvoorbeeld die volgende in: bywoning van terapeutiese sessies; ontmoeting met ’n terapeut; verwagting om te verbeter; en verwagting vir verbetering deur byvoorbeeld ouers en gesin (Kazdin 2010:525).

5.1 Alternatiewe verklarings vir verandering

Soos hier bo aangedui, bestaan daar sekere alternatiewe verklarings vir ’n respondent se gedragsveranderinge. In die terapeutiese hantering van hierdie kind kon die onderstaande algemene faktore ook tot haar gedragsverandering en psigiese groei bygedra het.

In hierdie geval het die kind se moeder besluit om te skei. Die verdwyning van die simptome kan gevolglik ook toegeskryf word aan die feit dat die kind nie meer in die teenwoordigheid van haar stiefvader was nie, wat impliseer dat hy haar nie verder seksueel kon mishandel nie.

Maturasie (bedreiging vir interne geldigheid) by respondente kan verandering tot gevolg hê (Kazdin 2011:30). Die verdwyning van simptome kan gevolglik aan maturasie toegeskryf word en nie noodwendig aan die benutting van die reekstekeningmodel nie.

Verhoogde aandag (bedreiging vir konstrukgeldigheid) aan ’n respondent kan ook verandering tot gevolg hê (Kazdin 2011:38). Die kind het vir verskeie individuele terapeutiese sessies ingeskakel waar sy verhoogde individuele aandag ontvang het, wat ook kon bydra tot die verandering in haar simptomatiese gedrag.

Blundo (2009:34) haal verskeie navorsingstekste aan waarin bevind is dat “no particular treatment or approach is demonstrably superior to another, across disorders or within disorders”. Verandering by die kliënt word veral toegeskryf aan faktore of kwaliteite eie aan die kliënt en die terapeutiese verhouding tussen die kliënt en die terapeut (Blundo 2009:34). Die persoonlike kwaliteite (byvoorbeeld veerkragtigheid) van hierdie seksueel mishandelde kind, asook die terapeutiese verhouding, kon daarom ook ’n rol in die verdwyning van haar simptomatiese gedrag gespeel het.

6. Aanbevelings

Aangesien die resultate van ’n gevallestudie nie sonder meer veralgemeen kan word nie, behoort bewysgebaseerde, gerigte navorsing aangaande die benutting van die reekstekeningmodel gedoen te word. Sodoende kan die Jungiaanse teorie aangaande terapie met kinders bewys (of nie) en verbreed word.

Volgens Kazdin en Weisz (2010:5) behoort minstens twee studies die volgende navorsingskriteria te volg om te verseker dat die terapeutiese intervensie bewysgebaseerd is: duidelike spesifisering van die pasiëntpopulasie, benutting van behandelingshandleidings, multi-uitkomstemetings, statisties beduidende verskille tussen die behandeling- en kontrolegroep, en replikasie.

Aangesien dit blyk dat die benutting van die reekstekeningmodel die geleentheid aan ’n seksueel mishandelde kind bied om die trauma van die seksuele mishandeling by die psige te integreer, kan terapeute genoemde model benut in die terapeutiese hantering van seksueel mishandelde kinders. Terapeute wat die reekstekeningmodel benut, behoort oor sowel deeglike kennis aangaande Jungiaanse beginsels as die verskynsel van seksuele mishandeling te beskik.

Bibliografie

Allan, J. 1988. Inscapes of the child’s world. Jungian counselling in schools and clinics. Dallas: Spring.

Allan, J. en K. Brown. 1993. Jungian play therapy in elementary schools. Elementary School Guidance and Counseling,28(1):30–41.

Biedermann, H. 1992. The Wordsworth dictionary of symbolism. New York: Fact on File.

Blundo, R. 2009. The challenge of seeing anew the world we think we know. Learning strengths-based practice. In Saleebey (red.) 2009.

Carey, L. (red.). 2006. Expressive and creative arts methods for trauma survivors. Londen: Jessica Kingsley.

Chalquist, C. 1997. A glossary of Jungian terms. http://home.earthlinknet/~chalquist/jungdefs.html (30 Mei 1999 geraadpleeg).

Collings, S.J. 2002. The prevalence and characteristics of child sexual abuse among South African university students: Comments on S.N. Madu. South African Journal of Psychology, 32(3):62–3.

Cooper, J.C. 1978. An illustrated encyclopaedia of traditional symbols. Londen: Thames & Hudson.

Croxon, P.B. 2003. The Piatkus dictionary of mind, body and spirit. Londen: Piatkus.

De Vos, A.S., H. Strydom en C.S.L. Delport (reds.). 2011. Research at grass roots. For the social sciences and human service professions. 4de uitgawe. Pretoria: Van Schaik Uitgewers.

Dukes, R. 2005. Uncle Ramsey’s little book of demons. The positive advantages of the personification of life’s problems. Londen: Aeon.

Fine, A.H. (red.). 2010. Handbook on animal-assisted therapy. Theoretical foundations and guidelines for practice. 3de uitgawe. Londen: Elsevier.

Fouché, C.B. en W. Schurink. 2011. Qualitative research designs. In De Vos, Strydom en Delport (reds.) 2011.

Frank, E. 2004. Die droomboek. Kaapstad: Human & Rousseau.

Heymann, T. 2002. Die pad na heelheid. Ontdek jou innerlike krag. Hermanus: Hemel & See Vermont.

Hollis, J. 1996. Swamplands of the soul. New life in dismal places. Toronto: Inner City.

—. 1998. The Eden project. In search of the magical other. A Jungian perspective on relationship. Toronto: Inner City.

Johnson, C.F. 2004. Child sexual abuse. Lancet, 364:462–70.

Kazdin, A.E. 2010. Methodological standards and strategies for establishing the evidence base of animal-assisted therapies. In Fine (red.) 2010.

—. 2011. Single-case research designs. Methods for clinical and applied settings. 2de uitgawe. New York, Oxford: Oxford University Press.

Kazdin, A.E. en J.R. Weisz. 2010. Introduction. Context, background, and goals. In Weisz en Kazdin (reds.) 2010.

Leitch, R. 2008. Creatively researching children’s narratives through images and drawings. In Thomson (red.) 2008.

Livingstone, B. 2001. Redemption of the shattered: A teenager’s healing journey through sandtray therapy. San Mateo: Selfpublikasie.

Maree, K. 1997. Kobus Maree se nuwe droomboek. Verklaar jou drome. Pretoria: J.P. van der Walt.

Nicholas, L.J. 2008. Assessing unwanted early sexual experiences in a South African sample. Journal of Sex and Marital Therapy, 34:45–9.

Saleebey, D. 2009. The strengths perspective in social work practice. 5de uitgawe. Boston, New York en elders: Pearson.

Spies, G.M. 2006. The effect of sexual abuse on a child. In Spies (red.) 2006.

Spies, G.M. (red.). 2006. Sexual abuse. Dynamics, assessment and healing. Pretoria: Van Schaik Uitgewers.

Stoltenborgh, M., M.H. van IJzendoorn, E.M. Euser en M.J. Bakermans-Kranenburg. 2011. A global perspective on child sexual abuse: Meta-analysis of prevalence around the world. Child Maltreatment, 16(2):79–101.

Thomson, P. (red.). 2008. Doing visual research with children and young people. Londen, New York: Routledge.

Tresidder, J. (red.). 2004. The complete dictionary of symbols in myth, art and literature. Londen: Duncan Baird.

Van Rensburg, C. 2000. Jou drome. Die onbewuste het al die antwoorde. Kaapstad: Van Schaik.

Van Wyk, C.J. 2010. Die reekstekeningmodel in die terapeutiese hantering van ’n seksueel-gemolesteerde kind. Child Abuse Research in South Africa, 11(2):1–8.

Walsh, D. en J. Allan. 1994. Jungian art counselling with the suicidal child. Guidance and counselling, 10(1):3–7.

Weisz, J.R. en A.E. Kazdin (reds.). 2010. Evidence-based psychotherapies for children and adolescents. 2de uitgawe. New York, Londen: Guilford Press.



Eindnota
Die seksueel mishandelde kind in hierdie gevallestudie het egter verkies om te verf. Dit word aangespreek in 4.1.1.1