Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Boeke | Books > Resensies | Reviews > Afrikaans

Byleveld: Realiteit is altyd harder, kouer en meer skokkend as fiksie


Gerhard Uys - 2011-11-22

Byleveld: Dossier van ’n baasspeurder
Hanlie Retief
Uitgewer: Umuzi
ISBN: 9781415201428
Prys: R129.95

Klik hier en koop Byleveld nou van Kalahari.net!

“Die twee is honger. Hulle sny die vleis van die lyk se boude af en braai die stukke net daar: asof dit skaaptjops is. Maande later vra Piet Byleveld vir hulle hoe dit voel om ’n mens te eet na jy hom gesodomiseer het. Dis net vleis sê die kaalkop sonder emosie, sonder berou. Net vleis en hulle was honger.”

Hannelie Retief se Byleveld - Dossier van ’n Baasspeurder, oor die bekende Suid Afrikaanse reeksmoordspeurder Piet Byleveld, ruk jou rond, klap jou so paar keer met die realiteit deur die gesig, sluk jou in en spoeg jou dan moeg en geskok uit.

Geen fiktiewe moordverhaal of riller kan naby dit kom nie, want as die koue realiteit van reeksmoorde en verkragting dossier vir dossier vir jou uiteengesit word, dan besef jy die realiteit is altyd harder, kouer en meer skokkend as fiksie.

Vir diegene wat nie vir Piet Byleveld ken nie, sê die volgende drie paragrawe seker genoeg.

Hy was jare lank van Brixton se Moord en Roof-eenheid. Die hardste van die harde speurders wat Suid-Afrika nog gesien het.

Die Amerikaanse Federale Speurdiens (FBI), Londen se metropolisie (Scotland Yard), die Kanadese polisie en Mossad, Israel se Instituut vir Intelligensie en Spesiale Operasies, nader hom met reeksmoord-ondersoeke.

Kort voor sy aftrede het die Internasionale Polisie Vereniging (IPA) hom met ’n spesiale toekenning vereer – as een van die drie beste speurders te wêreld.

In ’n 38 jaar lange loopbaan het hy ’n 99 persent-suksessyfer in sy ondersoeke behaal, en dis dit wat hom die regte byl vir polisiewerk gemaak het.

Retief se jare in die koerantwese het haar pen vlymskerp geslyp. Die verslaggewer wat aan die woord is, is steeds opvallend, maar sy het die telegramstyl van koerante effe nek omgedraai en dit ’n storievertel-trant gegee wat maklik leesbaar en boeiend is. Haar styl is steeds kort en kragtig. Tot die punt. Op die man af. Noem dit wat jy wil. Maar die koue daarvan verdwyn. Die wie, wat, waar, wanneer en hoekom het lewe gekry.

Retief pak die skryf van die boek reeds in 2006 aan en dis asof sy ook speurder moes word. Vir Byleveld moes agtervolg. Sy vertroue wen. ’n Byleveld-dossier oopmaak. En dan vir die publiek al haar bevindings uiteensit as bewysstukke van wie die man eintlik is.

Haar ervaring van honderde koerantonderhoude met die wie’s wies van Suid-Afrika se denkslypers en nuusmakers het haar vermoë om die regte vrae te vra, geduldig te wag en mense se karakters en maniërismes te bestudeer, vlymskerp gemaak.

En dis hierdeur dat mens vir Byleveld leer ken. Haar ondersoek en speurwerk oor hom blyk net so obsessief soos sy eie antimisdaad-obsessie te wees.

Retief ondervra sy huidige vrou, sy kollegas, sy susters en broer. Sy ondersoek sy familiegeskiedenis en delf in sy verbrokkelde huwelik en daaropvolgende romanse in. Sy ry saam met hom na moordtonele. Sy stap rond in ou kantoorblokke en eet pasteie saam met hom op straathoeke. Selfs op Kersfees sit hulle twee en kuier alleen met moorddossiere en gru-foto’s van slagoffers as feesgetygeselskap.

Piet Byleveld was nie altyd die meester wat hy nou is nie. Nie altyd so braaf nie. En Retief vat die leser op die reis van die jong, maer plaasseun wat predikant wou word, na die harde, pistool-op-die-heup-vergeet-niks-speurder wat Grand-Pa en Coca-Cola sluk om wakker te bly as die nagte van ondersoeke lank raak.

Die boek neem lesers ook deur van die bekendste misdade wat Suid-Afrika nog gesien het, van die Stander-bende tot die hamermoordenaar.

En baie van Byleveld se sieninge oor sake soos die doodstraf of rehabilitasie van moordenaars of verkragters gaan party mense laat rooi sien.

Hy is ook vinnig met opinies oor hoekom die meeste huismoorde gebeur en wie verantwoordelik is vir watter tipe misdade.

Mense sal met hom verskil, maar om te sê hy praat uit ervaring uit, is ’n onderbeklemtoning.

Kritiek?

Goed laat my wonder. Retief blyk pro-Byleveld te wees. Asof hy niks verkeerd kan doen nie. Dat hy ’n meester is, is nie betwyfel nie. Maar met kollegas wat hulself van hom distansieer en sy eksvrou wat haarself deesdae in die media teen sy woorde verdedig, wonder mens oor die anderkant van stories.

Maar dit is die enigste kritiek.

Ek lees die boek ’n tweede maal. Die eerste keer was ’n warrelwind-lees. Maar by bladsy 80 rond sit ek dit neer. Dis genoeg. Dit maak my paranoïes. Die areas waar die moorde en verkragtings gebeur het, is te naby aan die woonbuurte waar ek werk. Te naby aan paaie wat ek oor naweke na vriende toe ry. Te naby. Die gru-besonderhede is te veel. Die beelde wat deur Retief se woorde geskep word, te skerp. Te lewend. Ek kan die foto van ’n wurgknoop om ‘m slagoffer se nek nie vergeet nie. Die gewoonlik vriendelike gesigte van moordenaars is ’n raaisel vir my.

Vir die man of vrou op straat wat al deur misdaad getref is – ’n huisbraak, smash and grab, gewapende roof – is die lees van die boek dalk net een te veel. Dit oorweldig.

Het Retief geslaag?

Sy vertel self hoe sy op ’n uitstappie in die berge ’n onderbroek aan ’n tak sien hang en dadelik ongemaklik bang begin wonder oor wat dit daar soek en wie dalk in die omtrek mag rondhang.

Ek wonder of ek nodig gehad het om hierdie boek te lees. Moord en doodslag is elke dag op die voorblaaie, en koerante wat op ons etenstafels lê, is vol daarvan. En nou lê die makabere besonderhede daarvan langs my bedlampie.

Maar ons gryp daarna, dan nie? Hierdie geweld. Ons praat langs braaivleisvure daarvan. Op facebook stig ons groepe daarteen. Ons kla daaroor en emigreer as gevolg daarvan.

En hoe kan ons nie? In my gesin alleen is daar onder ses mense al twee karre gesteel, twee straatrowe, drie huisbrake, waarvan twee gewapend was. En as jy eers oor familie en vriende begin praat …

Retief se boek, beide Afrikaanse en Engelse vertalings, het soos soetkoek uitverkoop. Raak ons nooit gatvol vir geweld nie?

Wat trek Suid-Afrikaners na geweld toe? Is ons voyeurs? Wat het die boek so suksesvol gemaak? Moet daar ’n bloeddors êrens by ons geles word?

Met dié boek is dit nie die geval nie.

Ek dink ons hou daarvan dat daar mense soos Piet Byleveld daar buite is wat aan sy sigaret trek, die rook stadig uitblaas, ’n pistool op sy heup vasgespe en dan uitgaan om die mense wat ons almal se waardigheid met messe en klippe en pistole van ons af wegvat, te vang. Te vang en hulle dan lank weg te bêre in ’n tronksel dat ons veiliger kan slaap.