Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Onderhoude | Interviews > Afrikaans

Deon Meyer vertel van sy skryfwerkswinkel by die Freedom to Create-fees


Naomi Meyer - 2011-11-22

Untitled Document

Deon Meyer


Deon, baie dankie vir die gespreksgeleentheid. Ons verneem jy het pas by die Freedom to Create-fees ’n skryfwerkswinkel vir jongmense aangebied. Jy het, as ’n wêreldwye topverkoper, en gesog en geag as skrywer, sekerlik al baie skryfwerkswinkels aangebied. Was enigiets verskillend by hierdie een?

Ek moet bieg: ek help maar met een of twee werkswinkels per jaar – wens daar was tyd om meer betrokke te raak. Die groot verskil met die Freedom to Create-werkswinkel was dat die betrokkenes skoliere of studente was, en die meerderheid uit agtergeblewe gemeenskappe gekom het.

Ons sou graag ’n vlieg teen die muur wou gewees het by die skryfwerkswinkel, maar moet nou agterna probeer uitsnuffel: Wat het jy vir die jongmense by jou kursus aangebied/geleer?

Weens die beperkte tyd (ons het net meer as drie ure gehad), was my hoop om ’n paar basiese beginsels oor te dra: skryf is groot pret, maar binne dié lekker moet mens streef na respek vir die leser, stewige struktuur, en respek vir die leser. En die twee basiese boublokke: lees aanhoudend, en skryf aanhoudend.

Wie was jou kursusgangers? Het jy voor die tyd van hulle werk gelees? Watter soort ervaring was hierdie aanbieding van die werkswinkel vir jou?

Die kursusgangers was jongmense – studente en skoliere – meestal uit die Kaapse townships. Ek het ongelukkig geen voorafskryfwerk van hulle ontvang nie. Dit was vir my ’n uiters stimulerende oggend. Die geesdrif, passie en verskriklike leergierigheid van die groep was ’n openbaring en inspirasie.

Glo jy inherent dat mense deur kreatiwiteit bo hul omstandighede kan uitstyg?

Absoluut. Maar ek vermoed harde werk, toewyding, dissipline en ’n bietjie geluk is ook ter sprake.

As jy een skryfwenk het vir ons LitNet-lesers, wat sal dit wees?

Lees, lees, lees.

Is jy maar altyd aan die skryf, of neem jy ooit ’n blaaskans?

Ek moet beken ek het lanklaas ’n blaaskans gehad.

Watter boeke lees jy op die oomblik?

Troy Blacklaws se fenomenale Cruel Crazy Beautiful World, en die Steve Jobs-biografie deur Walter Isaacson.

Watter ander dinge geniet jy om te doen, behalwe lees?

Toer op die motorfiets, tuinmaak op Loxton, fliek, kook, eet ...


Deon Meyer se skryfwerkswinkel by die Freedom to Create-fees


Foto's verskaf