Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Rubrieke | Columns > Afrikaans > Jason Lloyd: Hotnotsgot

Bok-afrigter: storie van hartseer, maar ook van hoop


Jason Lloyd - 2011-11-22

Die storie van Peter de Villiers as Bok–afrigter – nog tot volgende maand (?) – is ’n storie van hartseer, maar ook van hoop en blydskap.

Toe hy vier jaar gelede die geleentheid gekry het – weliswaar op omstrede wyse – is hy vanuit die staanspoor uitgeskel as ’n “transformasie-afrigter”. Die rede vir dié beskuldiging moet ook deels op die brood van die rugbybaas, Oregan Hoskins, gesmeer word, omdat hy gesê het Div se aanstelling was nie net oor rugbykennis en afrigtingsvaardigheid nie, maar ook oor transformasie.

Einde verlede maand het Div teruggekap: “Niemand het my gelike oor my kleur nie. Baie mense wou my uit my job gehad het. Dit is hoekom ek baie min ondersteuning gekry het.”

Die rugbyskrywer Mark Keohane het verlede maand weer die ou wonde oopgekrap deur te skryf: “De Villiers got a Bok coaching freebie and he survived for four years, because of the colour of his skin.”

De Villiers het met sy komieklike sêgoed baie keer die tafel self gedek vir kritiek teen hom. Rugbyskrywers het as ’t ware hul lippe afgelek oor wat hulle volgende oor Snorre gaan skryf.

Kyk, soos Div self in ’n onderhoud in Rapport in 2009 gesê het, hy het ’n wag voor sy mond. “Maar daai wag slaap verdomp heeltyd.”

En te wyte aan die omstrede sêgoed wat hy in die openbaar kwytgeraak het, is dit miskien heel veilig om te vra hoekom hy nie die wag wakker geklap of geskop het nie. So het hy gesê die Bok-span ondersteun Bees Roux “100 persent” nadat dié toe nog Bulls-speler van die moord op ’n metropolisieman aangekla is. Hieroor was hy uit alle oorde skerp gekritiseer.

Ook het Div verklaar dat hy nie koerante lees nie, maar wel genoeg van joernaliste weet om hulle as “halfgeleerde” mense uit te kryt. Daar was die geval toe Div sy werk aan “die wit mense” wou teruggee omdat hy betrek is by ’n beweerde seksvideo.

So kan Snorre se “gevleuelde” woorde of skokuitlatings een vir een opgehaal word.

Op die laaste been van sy loopbaan as Bok-afrigter – naamlik die pas afgelope Wêreldbekertoernooi – is hy veral beskuldig van blinde lojaliteit teenoor spelers soos John Smit, Victor Matfield en Bryan Habana. Div se lojaliteit teenoor dié spelers – so word daar gesê – het die Bokke duur te staan gekom.

Hoe dit ook al sy, ten spyte van al die kritiek en foute het De Villiers tog ’n enorme positiewe impak op Suid-Afrikaanse rugby gemaak.

In September 2009 is Div en sy Drienasies–kampioene deur pres Jacob Zuma uit Nieu-Seeland terugverwelkom as “spesiale landsburgers” omdat hulle die vorige vyftien maande rekord na rekord in die geskiedenisboeke herskryf het. In die onlangse Wêreldbeker-kwarteindstryd teen Australië het Snorre se Bokke die spel op die veld gewen, maar ongelukkig op die telbord verloor.

Na vier jaar van harde bene kou as eerste gekleurde Bok-afrigter staan Div nou op die piek van die berg. Dit gee hoop en blydskap vir toekomstige gekleurde Bok-afrigters.