Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Onderhoude | Interviews > Afrikaans

Steward van Wyk gesels oor die uitkomste van die Jan Rabie en Marjorie Wallace Skrywersbeurs


Steward van Wyk - 2011-11-18

Untitled Document

Steward van Wyk, mede-professor en voorsitter van departement Afrikaans Nederlands aan die UWK, praat met Naomi Meyer oor die vorige keer se beurswenner van die Jan Rabie en Marjorie Wallace Skrywersbeurs – en vertel wat die komitee twee keer na ’n beursaansoek sal laat kyk. Steward dien in die algemene bestuurskomitee wat die fonds hanteer, en in die beurskomitee wat aansoeke oorweeg en aanbevelings aan eersgenoemde komitee maak.

Steward van Wyk
Ons almal is nuuskierig om te verneem hoe dinge verloop met die roman wat verlede keer deur die beurs befonds is. Wanneer verskyn die boek?

Ingevolge die kontrak wat die beurswenner met die universiteit sluit, moet daar gereeld verslag gedoen word oor die vordering met die skryfprojek. Die 2009 pryswenner, André P Brink, het in sy onlangse verslag aangedui dat die manuskrip feitlik voltooi is, maar dat hy nog ’n tydjie vra vir die roman om, soos skrywers dit stel, “ryp te word”. Die verwagting is dat die roman vroeg in 2012 sal verskyn.

Behalwe om ’n roman te skryf word daar ook van die beurshouer verwag om konferensies, seminare en lesingreekse aan te bied. Weet jy dalk wat die uitkomste op hierdie gebiede was?

André Brink was op verskeie maniere betrokke gedurende sy jaar as beurshouer, wat ingesluit het dat hy op 22 September 2010 die Jan Rabie en Marjorie Wallace Gedenklesing gelewer het met die titel “Ground Zero: Die literêre landskap na Apartheid”. Die lesing is destyds ook op LitNet geplaas. Hy het ook lesings vir voorgraadse studente in die Departement Afrikaans en Nederlands aangebied en deelgeneem aan ’n seminaar met skrywers uit Indië.

Wat sou julle twee keer na ’n aansoek vir vanjaar se beurs laat kyk?

Dit sal alles afhang van die motiverende dekbrief en die projekplan en in watter mate die skryfprojek uiting gee aan die gees van Jan Rabie en Marjorie Wallace se werk en strewe ten opsigte van Afrikaans as taal van ’n breë gemeenskap, soos in die advertensie gemeld word.

Is dit die primêre doel om ontwikkelende skrywers te ondersteun, skrywers uit voorheen agtergeblewe gemeenskappe, jonger skrywers (wat wit skrywers insluit)?

Nee, die primêre doel van die beurs, volgens die testament, is om kreatiewe skryfwerk in Afrikaans te ondersteun, sonder om enige kategorieë te spesifiseer. Dit is waarom daar op ’n oop aansoekproses besluit is. Die testament van wyle Marjorie Wallace meld die volgende: “Die opbrengs van die erflating moet aangewend word vir ’n beurs wat elke tweede jaar toegeken word aan ’n persoon wat hom of haar op die skryf – of skilderkuns toespits.”

Toe hierdie beurs die vorige keer toegeken is, is dit in die vooruitsig gestel dat dit jaarliks toegeken sou word. Is daar enige rede waarom dit nie verlede jaar gebeur het nie?

Die Universiteit van Wes-Kaapland het die opsie om die beurs jaarliks toe te ken deeglik ondersoek, maar die testament is duidelik daaroor dat ’n beurs tweejaarliks toegeken moet word. As deel van die universiteit se verantwoordelikhede ten opsigte van die bemaking moet daar met omsigtigheid te werk gegaan word om te sorg dat die kapitaal in reële terme nie verminder nie, sodat ’n gedeelte van die opbrengs in die vorm van die tweejaarlikse beurs Afrikaanse skrywers vir nog baie jare kan bevoordeel. In die huidige ekonomiese omstandighede sou ’n jaarlikse toekenning in elk geval nie moontlik wees nie.

Ondersoek die komitee nog die moontlikheid om skilderkuns te bevoordeel, soos in ’n vorige onderhoud genoem is?

Dit is iets wat ons in die toekoms sal oorweeg. Volgens die testament moet voorkeur egter gaan aan die skryfkuns en slegs indien daar nie “’n verdienstelike kandidaat in die Afrikaanse skryfkuns gevind kan word nie”, mag die skilderkuns oorweeg word.

Jan Rabie en Marjorie Wallace
Word een enkele groot prys toegeken? Waarom nie die prysgeld verdeel onder gevestigde en niegevestigde skrywers en dalk meer geleenthede vir skryf skep nie?

Ook in hierdie geval word ons gelei deur die bepalings van die testament, wat melding maak van “’n beurs”. Ons het die regsmening van ’n senior advokaat hieroor ingewin wat ons absoluut gelyk gegee het, ook in ander aspekte betreffende die vorige beurstoekenning. Dit is die duidelike intensie van die beurs om tweejaarliks finansiële steun aan ’n individu te gee wat aan daardie persoon die unieke geleentheid bied om op hulle skeppende werk te kan fokus.

Die universiteit is verbind tot die bevordering van skryfwerk in die breë gemeenskap en goeie resultate word reeds bereik in ons kreatiewe-skryfwerk-kursusse, slypskole en seminare.

Gestel ’n nie-akademikus wen die beurs, sou ’n nie-akademiese persoon kon voldoen aan die vereiste om “in loop van die jaar” deel te neem aan “konferensies, seminare en openbare lesingsreekse”?

Dit sou verkeerd wees om die aanname te maak dat slegs akademici aan bogenoemde aktiwiteite kan deelneem. Die genoemde aktiwiteite neem ook verskeie formate aan en daar sou met die beurswenner onderhandel word om sy/haar voorkeure in ag te neem. Daar word nêrens melding gemaak dat ’n akademikus voorkeur sal kry nie en dit word hoegenaamd nie in ag geneem by die toekenning van die beurs nie. Soos voorheen vermeld, vorm die projekaansoek en dekbrief die basis vir die toekenning.

Is die name van die beoordelaarskomitee bekend, of is dit vertroulik?

Die beurskomitee is reeds saamgestel en hul name sal met die aankondiging van die beurswenner bekend gemaak word. Die reglement bepaal dat die komitee sal bestaan uit die voorsitter van die Departement Afrikaans en Nederlands en twee persone uit die geledere van die breë Afrikaanse skrywersgemeenskap buite die universiteit.