Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Film > Rubrieke | Columns > André Crous: Nabyskoot

Beginners sonder enige stroop


André Crous - 2011-11-17

Regisseur: Mike Mills
Kamerawerk: Kasper Tuxen
Rolverdeling: Ewan McGregor, Christopher Plummer, Melanie Laurent, Goran Visnjic
Looptyd: 105 minute

Uitreikingsdatum in Suid-Afrika: 11 November 2011

 

 

Beginners stel ons in staat om, op die maat van geheue, tussen hede en verlede te gly op ’n manier wat nostalgies is sonder om soetsappig te wees, en bied ons ’n indruk van die ingewikkeldheid van die menslike bestaan sonder om self ingewikkeld te wees. Hoewel die film gewikkel is in ’n ondersoek na die manier waarop mense voortbestaan ten spyte van lyding (die hoofkarakter is besig om te werk aan ’n strokiesprent wat die “geskiedenis van smart” uitbeeld), is die film nie neerdrukkend nie; dit is kreatief en emosioneel opbouend – ek sou argumenteer dis grotendeels danksy die toevoeging van akteur Christopher Plummer tot die rolverdeling.

Plummer vertolk die rol van Hal, en Ewan McGregor vertolk die rol van Oliver, sy seun. Aan die begin van die film is Hal reeds dood. Vier jaar voor sy dood, kort na die afsterwe van sy vrou, met wie hy ’n leeftyd lank getroud was, het Hal sy seun vertel dat hy gay is. Hal het altyd geweet sy ouers se huwelik was nie ideaal nie, maar sy blootstelling aan daardie gesinsomgewing het hom erg beïnvloed en hy is steeds enkellopend.

Die verband tussen die hede en die verlede word deurgaans duidelik gemaak deur die redigering van die materiaal en dikwels neem dit ’n oomblik voordat dit duidelik word of ons in die hede of die verlede is. In ’n (weliswaar eensydige) gesprek van Oliver vroeg in die film met sy pa se hond, Arthur, besin Oliver oor die invloed van die natuur teenoor dié van teling – of opleiding, in die geval van mense – op die lewe.




En hierdie gesprek so vroeg in die film, saam met die Freud-masker wat Oliver aantrek die aand wat hy ’n potensiële lewensmaat ontmoet, dui natuurlik op die invloed van die kinderjare, en telkens kom ons terug na tonele uit Oliver se jeug, waar sy pa bykans totaal en al afwesig was en sy ma nie behoorlike liefdevol hanteer het nie. Ongelukkig is ons enigste indruk van sy ma hierdie enkele tonele, en ’n sin of twee waarin sy pa verduidelik hoe die huwelik gewerk het, ten spyte daarvan dat hy die heeltyd gay was.

’n Vrees vir ons en vir Oliver is dat hy nooit aan die verlede sal kan ontsnap nie, of dat hy eers, soos sy pa, die lewe sal geniet wanneer hy al byna op die rand van die graf is. Wanneer ’n Franse aktrise, Anna (Mélanie Laurent), hom ontmoet en dit lyk of hulle goed oor die weg gaan kom, word sy vrese werklik getoets.

Almal het hul eie bagasie en die film is eerlik oor hierdie feit, en wanneer ’n aanhaling uit Velveteen Rabbit gelees word, waar die vraag gevra word oor die pyn wat jy kan voel as jy te doen het met die werklikheid, kan ons nie anders nie as om met hart en siel saam te stem.

Aan die een kant is daar die vrees wat Oliver het dat sy eie verhouding so oënskynlik liefdeloos soos sy ouers s’n gaan wees, maar aan die ander kant word hy en ons bewus daarvan dat mense en dinge soms vervang moet word – die vraag is of jy gemaklik daarmee gaan wees om die koers en die inhoud van jou lewe in die proses te verander.




Die sentrale fokus is op Oliver en Hal, en elke oomblik wat ons saam met die immeroptimistiese ou man spandeer, is ’n vreugde; ongelukkig beteken hierdie fokus dat ons nie werklik die vrouekarakters in die storie leer ken nie, selfs nie eens Anna nie. Die gefragmenteerde styl van die film doen egter geen afbreuk aan die storie nie, aangesien dit baie elegant gedoen is en die stukke styf inmekaar weef.

Beginners is ’n groot plesier om te kyk, danksy Mike Mills (wat vyf jaar gelede die baie aweregse Thumbsucker gemaak het) se talent vir skoon dog interessante beelde en die belang wat sy karakters by ons wek. Hy flits dikwels tussen die lewe vandag en die lewe destyds met vergelykings wat hartroerend is en sonder enige stroop aangebied word.