Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Onderhoude | Interviews > Afrikaans

Guy Buttery verlei weer eens met uitsonderlike kitaarspel


Retha Ferguson - 2011-11-17


Dinsdagaand in Langstraat was Guy Buttery se eerste Kaapstad-bekendstelling van sy nuwe album To Disappear in Place. Die album bestaan uit B-kante van sy laaste uitreiking, Fox Hill Lane (wat in 2010 die SAMA vir beste instrumentele album gewen het) en is uitgereik as ’n old-school LP wat in beperkte uitgawe verkoop word. Die rede vir hierdie argaïese formaat is volgens Buttery om waarde te skep vir sy aanhangers wat steeds betekenis heg aan ’n tasbare en visueel aantreklike produk in hierdie tyd van digitale wesenloosheid.

Enigiemand wat gekonfronteer word met Buttery se musiek kom onverwyld tot ’n dilemma oor hoe om sy musiek te klassifiseer. Sy besonderse vinger-kitaarspel beweeg vloeibaar tussen style, met meevoerende energie.

Fotograaf Retha Ferguson het by The Waiting Room met hom gesels.

In ’n kort bespreking in een van jou video's op YouTube beskryf jy hoe musiek die vermoë het om nuwe emosies te skep. Hierdie idee interesseer my baie. Vir my is uitsonderlike musiek iets wat jou aan die kraag gryp en jou neem na plekke in jou kop wat jy voorheen nog nie besoek het nie. Jou hoogs komplekse musikale komposisies het ’n manier om nuwe denkgange oop te maak wat verbalisering te bowe gaan. Is daar enige stuk musiek waaruit jy spesifiek baie inspirasie kan put in hierdie opsig en wat vir jou nuwe emosies ontbloot het op ’n baie impakvolle manier?

Wel, daar is ongelooflik baie stukke musiek wat hierdie konsep vir my suksesvol implementeer. As ek dink aan sekere van Bob Dylan en Van Morrison se albums kan ek met sekerheid sê dat ’n deel van my net in daardie 45 minute van musiek bestaan. As ek die inspirasie nog moet vernou na een lied, sal ek Van Morrison se "When Heart is Open" uitlig as ’n stuk musiek wat vir my baie impak het in daardie opsig, ’n vyftien minuut lange musikale doolhof van Keltiese soul en folk jazz wat my in ’n baie spesifieke gemoedstoestand sit.

In dieselfde video sê jy dat jy daarvan hou om aan lewenservaringe te dink terwyl jy skryf en nie net aan tegniese aspekte nie, en sodoende die musiek meer diepte gee. Is daar enige spesifieke aspek of tema waarna jy baie terugkeer terwyl jy skryf?

Musiek-skryf is ’n vreemde ding. Somtyds ontplooi dit as ’n baie sterk en duidelike idee en ander tye is die idees wat dit omvat, so abstrak dat dit beskrywing beperk. Die een tema waarna ek aanhoudend terugkom, is die KwaZulu-Natal-landskap. Ek is nie seker wat dit is wat my aantrek om inspirasie te put uit daardie landskap nie, maar ek dink graag dat ek ’n baie sterk konneksie met die landskap en die mense van my tuisprovinsie het wat dieper strek as net dat ek daar grootgeword het.




Jy reis baie. Het dit enige invloed op jou musiek en indien wel, hoe?


My reise het ’n impak op my musiek en ek put definitief inspirasie daaruit. Ek reis verskriklik baie, so op ’n manier móét ek inspirasie daaruit put om te oorleef. Die een aspek van reis wat inspirasie baie aanmoedig, is dat dit jou uit jou eie persepsie van jou identiteit dwing en jou dus toelaat om ander identiteite te ondersoek. So dra dit by om dele van jouself te ontdek wat jy nie geweet het bestaan nie – al hierdie meervoudige invloede dra by tot ’n groter raamwerk waaruit jy inspirasie kan put.

Het jy nog altyd baie gereis?

Ja.

Het dit bygedra tot die feit dat daar soveel verskillende styl-invloede op jou musiek is?

Op ’n manier, ja. Dit, en die feit dat ek na ’n groot verskeidenheid musiek luister. Alhoewel: ek neem aan die twee aspekte voed op mekaar. Ek dink ook baie aan my musiek as die ontdekking van nuwe klanklandskappe, en ek probeer altyd om myself te distansieer van die term "kitaarspeler", want soms plaas dit ’n beperking op hoe jy veronderstel is om die kitaar te gebruik. As jy klank sien as ’n wyd-uitgestrekte veld en die kitaar as ’n medium om die veld te verken, laat dit ’n baie breër visie toe.

Vergesel Guy Buttery Saterdag 19 November by Theatre in the District in Woodstock vir sy amptelike Kaapstad-bekendstelling van To Disappear in Place.