Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > SeminaarKamer | Seminar Room > Afrikaans > Essays

Die HB Thom is ’n mikrogolfoond


Naomi Meyer - 2011-11-16

"Julle sal sien," sê die man op RSG en sy stem bewe van emosie. "Ons is nie alleen nie."

Die gesprek is op ’n einde; ek hoor net genoeg om te besef waaroor dit handel.

Daar is lewe op ’n ander planeet vanaand. En dit het niks met die alien Malema te doen nie. Ek parkeer naby die halfuitgebrande Wilcocks-gebou. Dis aand. Dus stap ek vinnig na die naaste teken van lewe: twee ander vroulike studente voor my. Hulle kyk vinnig om om seker te maak hulle is self veilig. Een vra selfs: "Are you lost?"

In ’n ander wêreldsfeer sou dit dalk nie so sigbaar gewees het nie, maar onder hierdie Suid-Afrikaanse straatlig sien ek duidelik hulle is swart.

"No," sê ek. En, ongemaklik oor ek amper agter hul aangehardloop het, verduidelik ek ek's op pad na die Thom.

"Is there a play on tonight?" vra een, steeds wantrouig oor my teenwoordigheid. Dis die straatlig se skuld. Hy tint ons almal.

"No," sê ek. "Tonight they’re talking about ... you know ..."

As hulle weet, laat blyk hulle dit nie. Hulle gaan staan stil. Hulle wag dat ek praat.

"... Afrikaans at Stellenbosch University."

Hulle wil vinnig aanstap. Hulle draai om. Nou of nooit.

"You girls," vra ek. "Do you study here?"

Hulle knik, ongemaklik.

"In what language?"

Kyk vir mekaar.

"We don't want to cause trouble."

Agter my, by die Thom, raak ek bewus van ’n rumoer. Baie geesdriftige geluide. Entoesiasme, of drif, of opstand. Musiek, selfs. Dis sekerlik die jongmense wat saamdrom oor hierdie debat rondom Afrikaans. Daar, agter my rug, moet ek kom. Ek moet verslag lewer.

Maar hierdie twee. Hulle wag nou dat ek, wat hulle gestop het om op hul pad voort te gaan, by my punt wil uitkom.

Julle gaan nie in die moeilikheid kom nie, sê ek vir hulle. Ek wil weet in watse taal het julle klas, dis al.

Hulle het gesê dit gaan wees soos by Tukkies, sê een en kyk vir haar vriendin. Ons sal kan kies: Engels of Afrikaans.

"We're not complaining," hou die ander een vol.

Ek weet, stel ek gerus. Asseblief, vertel verder.

Een studeer voedseltegnologie, die ander ingenieurswese. In hul eerste jaar, vertel albei my, kon hul kies of hul klas in Engels of Afrikaans wou ontvang. Hul het Engels gekies, want hul verstaan nie Afrikaans goed nie. Toe, van daar af, was dit gaandeweg meer en meer Afrikaans totdat hul nou, albei derdejaars, net Afrikaans is.

Een klas in Engels, sê een vinnig.

Die rumoer agter my rug raak hewig. Dis waar ek moet wees. Dáár.

Het julle geweet dis ’n Afrikaanse universiteit hierdie? vra ek die gelaaide vraag.

Blikke word weer gewissel.

"The other students they ask us too," sê een. "If we tell them we don't understand the classes, they tell us we should have thought about it before we came to study here."

Hulle begin wegstap. Hulle wil nie hulle name vir my vertel nie. Hulle haas hulle weg; die een se kitaar bons op haar rug so vinnig maak hulle spore.

Ek stap vinnig om die draai. Die rumoer ís studente, ek was reg. Maar hulle is toe nie by die Thom nie. Hulle sit oorkant die Thom in die kroeg, rokersgedeelte. Hulle kuier asof môre nie bestaan nie. In die sigaretdampe van die straatligte is hulle baie wit en baie dronk.

Binne die voorportaal van die Thom is daar ander aliens – hulle is bruin. Hulle dra kelner– en kelnerinpakkies en sekuriteitswagklere en beweeg rond in die dampe van koeksisters en vetterige tertjies. Hulle staan by wynbottels, gereed om vir die gaste te skink, en glimlag vir my. Teen hierdie tyd weet ek nie meer in watter taal om die glimlag te vertaal nie: Is dit valsrikaans of verengels?

Ek sluip bo na ’n sitplek op die galery en luister hoe Russel Botman die konvokasie bedank vir die termyn. Ek kyk hoe die hele gehoor van vyftigerplus wit mans almal hande klap.

Kort daarna stel Ernst Marais en Jacques du Preez hul sake. Ernst bedank sy meisie van drie maande "vanaand byna tot op die uur" vir haar ondersteuning die afgelope tyd.

Hulle gesels oor die inklusiwiteit van Afrikaans, oor sy transformasiemoontlikhede, oor hoe Engels op universiteit getolk kan word, oor parallelmediummoontlikhede, oor versoening en oor moedertaalonderrig en Zoeloe op ’n universiteit in KwaZulu-Natal. Hulle praat in die taal waarin ek gekies het om my kinders groot te maak, al die jare van hulle lewe waartydens ek en my gesin op ’n buiteruimtelike planeet gewoon het. Hulle praat in die taal waarin ek self grootgemaak is en in die taal wat hoofsaaklik die voertaal is van die rekenaarwebwerf wie se inhoud ek omhels weens die dinamika daarvan en die ryke, soete smaak van sy klanke.

Maar, op daardie oomblik, weet ek: vanaand gaan geen nuwe bevindings gemaak word nie – sowaar as wat al die kaas hier op die toebroodjies in die voorportaal is en nie is waarvan die maan gemaak is nie. Hierbinne, in hierdie saal, word gesprekke opgewarm soos verversings. Ek weet ek het geen taal om te vertaal wat ek wil sê nie; dalk gaan niemand in hierdie land generasies lank ’n taal hê om hulle tonge in te laat val nie.

Dalk moet almal se tonge maar bietjie ophou val. Dalk is dit wat al die volke tot ’n val bring, al die gerondvallery tussen tongvallerye deur.

Ek staan op terwyl die gesprek binne die saal nog woed en ek stap uit.

Buite is die maan groot en geel. En ek stem nie saam met die man op RSG vanoggend nie, maak nie saak hoe hy sy woorde bedoel het nie. Onder hierdie asemrowende maan is ons almal baie alleen.

Ek wens ek kon in my ruimteskip klim en teruggaan huis toe, 473 ligjare van hier, waar daar antwoorde is. Maar niks taal nie.

  • Naomi Meyer en haar gesin het nege jaar lank in die buiteland gewoon en nou is sy terug in Suid-Afrika en is sedert 26 September LitNet se inhoudsbestuurder.

Klik hier om na die US-taaldebat-miniseminaar te gaan.