Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Boeke | Books > Resensies | Reviews > Afrikaans

The other Booker Prize: Sonderlinge verhale vanuit die rand van ons gesigsveld


Chris van der Merwe - 2011-11-16

The other Booker Prize
Azila Talit Reisenberger
Uitgewer: Pretext Publishing
ISBN: 9780987004239




Azila Reisenberger het in ’n Hebreeuse huisgesin in Israel grootgeword, as jong vrou die wêreld deurreis, en haar later saam met haar Duitse man in Kaapstad gevestig. So pas het van hierdie merkwaardige vrou ’n tipe “vermomde outobiografie” verskyn met die raaiselagtige titel The other Booker Prize. Die hoofkarakter heet Abigail Pearlmutter, ’n karakter wie se lewensloop in baie opsigte ooreenstem met die lewe van Azila Reisenberger. Die hoofkarakter se naam en van verklap alreeds iets van ’n sentrale tema in die boek: die verrykende en verwarrende samesyn van verskillende tale. Abigail is die Hebreeuse naam van ’n verstandige vrou met wie koning Dawid getrou het; die van Pearlmutter verbind weer die Duits en die Engels; dit bevat ook die suggestie dat hierdie perlemoen ’n kosbare pêrel bevat wat die wêreld nie sien nie.

’n Sentrale tema is dié van die buitestander – in haar geval, die immigrant wat in ’n vreemde land en taalgebied moet leef. Soos sy dit stel: “Immigrants into languages new to them are seen as dimmer than they really are ... This adds to their cultural Otherness which makes them shy and awkward” (233).

Vir iemand soos die hoofkarakter, wat ’n brandende behoefte het om te skryf, bring die lewe buite die eie taalgebied besondere probleme mee: “The publishing houses in South Africa have no inclination to publish Hebrew books, and the Israeli publishing houses have no inclination to publish authors who live overseas” (282). Azila se oplossing vir die probleem was om sover moontlik in Hebreeus te skryf, maar ook in Engels, soos in hierdie fiksionele outobiografie. Sy skryf egter haar Engelse verhaal in ’n “alternatiewe Engels” waarin taalfoute soms (doelbewus) voorkom – ’n taal wat haar eie aksent dra, want, soos sy dit stel: “Why should I erase my accent which, with the passing years, had become my trademark?” (197).

The other Booker Prize is ’n tipe “alternatiewe outobiografie”. Dit vertel nie van grootse gebeure en indrukwekkende prestasies, soos outobiografieë dikwels doen nie; dis nie die verhaal van “going places” nie. Abigail, telkens misgekyk deur die “powers that be”, loop haar eie pad, ’n pad waarop daar meer wonderbaarlikhede plaasvind as in die wêreld van die belangrikes. As buitestander sien sy ander raak wat misgekyk word en vertel van hulle, want sy kan onthou hoe dit voel om onsigbaar te wees. So is daar byvoorbeeld die verhaal van haar bediende Maria, wie se man haar verlaat het vir ’n jonger vrou; dié jonger  vrou het hom egter verlaat toe hy kanker kry – en Maria het haar plig gedoen soos sy dit gesien het, om die man wat haar verlaat het, tot sy dood te versorg. Wanneer sy uit haar werk bedank om hierdie taak te verrig, kry sy vir Hettie in haar plek – ’n enkel-ma met geen inkomste nie, vir wie haar kerk die afgelope jare elke dag van mieliepap en rys voorsien het.

Sonderlinge verhale vanuit die rand van ons gesigsveld. Die episodes wat die outeur kies om te vertel, is nie roemryke gebeurtenisse nie, maar handel oor die klein-alledaagse lewe. Dikwels word die verhale vertel om ’n belangrike lewensles na vore te bring – hierin speel die stories wat haar vader aan haar vertel het, ’n belangrike rol. Die lewenswaarhede bring telkens ’n nuanserende reaksie op konvensionele sienings, soos in die hoofstuk met die mooi titel “What’s right is right, even if it is a little wrong”. Teenoor die siening van vergifnis as ideaal, stel sy geregtigheid as voorwaarde vir versoening. Dit vind ons onder andere in die dramatiese (ietwat geforseerde) toneel waarin daar van ’n moord sprake is. Ten spyte van die lewenslesse wat deur die verhaal vervleg is, word dit nooit prekerig nie – daarvoor sorg die humor en die selfspot, soos in die kostelike hoofstuk “Not quite Arthur Rubinstein”.

In die loop van die outobiografiese vertelling kom ’n sprankelende persoon met allerlei boeiende teenstrydighede na vore. Aan die een kant het sy ’n verlange om mense te plesier, om liefde en erkenning te ontvang – “Please come to my funeral,” heet een van die laaste hoofstukke. Aan die ander kant weet sy hoe om haarself te handhaaf, knoop sy die stryd teen onreg aan, daag sy selfs die maghebbers van haar universiteit uit. Die liefde vir haar man en haar kinders straal deur die vertelling, maar aan die ander kant is sy ook ’n selfstandige vrou, iemand wie se mees fundamentele identiteit in haar skrywerskap geleë is. In baie opsigte het sy my laat dink aan Elsa Joubert soos ons haar leer ken uit haar outobiografiese tweeluik ’n Wonderlike geweld en Reisiger.

Reisenberger is ’n gebore verteller. Haar storie verloop in kort hoofstukke wat snel op mekaar volg, waarin telkens vooruit gewys word na dinge wat later vertel sal word, sodat die leser net nie kan ophou lees nie. Die boek staan in die tradisie van orale vertellings met ’n gesprekstoon, waarin mettertyd ’n intieme verhouding tussen die verteller en die leser ontwikkel. Die leser voel sterk, aan die einde van die verhaal: hierdie boek verdien sowaar die “Other Booker Prize” - die prys wat nie aan die gekanoniseerde skrywers toegeken word nie, maar aan die gemarginaliseerdes.
 

  • Hierdie resensie is oorspronklik uitgesaai oor Fine Music Radio, in die  program Boekkeuse.