Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > SeminaarKamer | Seminar Room > Afrikaans > Essays

Die toekoms van gedrukte media in Suid-Afrika, à la Bun Booyens


Francois Verster - 2011-11-16

Op 10 November 2011, in ’n volgepakte HB Thom-teater op Stellenbosch, het die redakteur van Die Burger as genooide spreker by die Konvokasie van Stellenbosch Universiteit opgetree. By hierdie geleentheid is die toekoms van Afrikaans as voertaal in die universiteit bespreek, ‘n tema wat al geruime tyd in die nuus was en wat waarskynlik nog lank in die nuus sal wees. Maar Booyens het oor die bedreiging van ’n ander “spesie”, die gedrukte media, kom praat. Hoewel hy op die koerantwese gefokus het, is die uitdagings wat koerante in die gesig staar, ook toepaslik op boeke en tydskrifte.

Dat die media vinnige en groot omwentelings ondergaan, is geen oordrywing nie; inteendeel, dis nie eens nuus nie. Maar wat almal oor práát maar niemand oor wéét nie, is wat die toekoms inhou – nie die verre toekoms nie, sommer nou-nou. Soos Booyens dit gestel het: “Here today, gone later today.” Hy beweer dat die antwoord lê by begrip van die markte, en hy reken dat Naspers, wat al amper ‘n eeu bestaan, die grootste mediamaatskappy in Afrika is juis omdat hy aanpasbaar is – “soepel en taai genoeg om die druk van ander media te weerstaan”. Hy het verskeie voorbeelde genoem van hoe die gedrukte media in simbiose met nuwe media-genres saamleef. Soos: toe televisie opdaag, druk tydskrifte en koerante TV-programme, gee agtergrondsketse of skindernuus van filmsterre, met kleurfoto’s, en niemand knip ’n oog nie. Hoewel mense opgewonde raak oor programme soos Idols, en terwyl veral die jonger geslag musiek in enorme hoeveelhede van die internet aflaai, is dit nie die begin en einde van die musiekbedryf nie - volgens Booyens kan Huisgenoot dalk nog die Suid-Afrikaanse musiekbedryf oorheers met sy “Skouspel”-inisiatief.

“Inisiatief” is inderdaad die sleutelwoord – en die gedrukte media het dalk ‘n voordeel in die sin dat terwyl elektroniese media so vinnig beweeg, mens dit agterna kan ontleed en kyk waar jy leemtes kan eksploiteer en toegevoegde waarde bied. Neem mens die saamleef van papiergebaseerde en elektroniese media in oënskou, is dit vir my duidelik dat die (relatiewe) permanensie van papier steeds ’n plek het in die hedendaagse samelewing – net soos televisie nie die radio en bioskope doodgemaak het, en boeke steeds bestaan ondanks alles, Kindles en dies meer ingesluit. Dit lyk asof dit eerder ’n geval is van meer keuses, maar nie noodwendig vervanging van een medium met ’n ander nie.

Ja, koerante vou wel (veral sover) oorsee, en kwaliteit waarborg nie oorlewing nie, soos die New York Times wat in 2009 reeds, ten spyte van vyf Pulitzer-pryse, moes geld leen om te oorleef, en daar word voorspel dat die gedrukte media in die VSA net sewe jaar oor het, tien jaar in Brittanje en 35 jaar in Suid-Afrika.

Maar hoekom soveel langer grasie aan ons? Mens sou dink die Engelstalige pers, met die voordeel van ’n wêreldtaal en die grootste uitgewershuise in New York en Londen, kan mos nie vinniger ondergaan as ons nie? In hierdie geval is dit egter ’n voordeel om nie ’n Eerste Wêreld-land te wees nie - eers wanneer breëband hier alledaags is en almal hulle programme direk op rekenaars kyk, dán skuif ons op in die “death row van drukmedia”.

Booyens verwys na die verskynsel waar tegnologie die bepalende rol in die mediabedryf speel – ironies genoeg net so revolusionêr as die Gütenberg-drukpers (in 1450), en die verwikkelinge in die opkomende moondhede soos Indië en China as die son/drukmedia wat in die Weste sak, maar in die Ooste opkom. Inderdaad: geen wonder Naspers het sy bedrywighede soontoe uitgebrei nie. Een van die grootste Naspers-coups, seker die grootste nóg, was toe Naspers in 2001 daarin geslaag het om 46 persent van Tencent te bekom. Vandag , ten spyte van fluktuasies in die aandelemark, skakel 137 miljoen Chinese daagliks in op Tencent om uit 45 000 verskillende produkte te kies, wat hulle aanlyn koop.

Booyens se uitspraak ivm die begrip vir markbehoeftes laat my nogal wonder: een redakteur het al aan my gesê dat enige redakteur wat sê hy ken sy mark praat twak. Ook noem Booyens dat ’n senior Nasperser aan ’n groep redakteurs gesê het dat indien daar nog ‘n Bybelboek ná Jesaja was, dit “Die Redakteurs” sou geheet het, want hulle verbeel hulle dat hulle profetiese insig het. Een ding wat Booyens nie is nie, is ’n doemprofeet en ek glo baie hoop hy en sy mederedakteurs is eintlik Rigters wat die gedrukte media deur die woestyn – of noem dit sommer op sy naam: begraafplaas – kan lei.

Dat Naspers nog altyd aanpasbaar was, is beslis waar. Só het die maatskappy met die stigting van De Burger in 1915 as mondstuk vir die verarmde (in baie gevalle hulpbehoewende) Afrikanervolk ’n groot rol gespeel in die politieke en ekonomiese opkoms van die groep. En mettertyd het dit die monster wat dit help skep het, naamlik apartheid, die rug gekeer (amptelik in 1990 toe Ebbe Dommisse, destydse redakteur van Die Burger,verklaar het dat die koerant hom losmaak van die NP). Gedurende moeilike ekonomiese tye het Nasionale Pers-mense gehuur om teen lae salarisse lang ure te werk – ook die senior personeel – en daarom kon die maatskappy na ander sektore uitbrei, ook na die Engelse en swart markte. Nóg ’n Rubicon is oorgesteek toe Koos Bekker in 1985 M-Net aan Suid-Afrika gegee het; nie om die gedrukte media te versaak nie, maar om te wys Naspers aanvaar dit wat vir redakteurs baie moeilik is om te sluk: dat koerante nie meer die alleendraers van nuus is nie, maar deel is van ’n van nuus-ekosisteem, soos Booyens dit noem.

Om aan te pas beteken dus om te aanvaar dat koerante nie meer die spitstyd-monopolie het nie – joernaliste kyk deesdae eers op Twitter wat aangaan, soos met die onlangse skorsing van Malema, en verifieer nuusbrokke deur dit op verskillende media te vergelyk. Dan spring hulle aan die werk en bied iets aan deur te doen wat hulle steeds die beste doen, naamlik om konteks aan nuus te verskaf.

En wat doen die gedrukte media wêreldwyd om aan te pas? Hulle krimp hulle voetspore - koerante maak hulle blaaie kleiner (dié wat kan; Die Burger kan nie, want sy rolperse kan nie so konfigureer nie) en hulle gaan ooreenkomste aan met ander koerante om nuus te deel, soos Naspers se hoofstroomblaaie Die Burger, Beeld, Volksblad en Rapport. Hulle maak ook buitelandse kantore toe, en hulle erken die ou waarheid: anker jou inhoud in jou eie streek. Dit beteken dat nie alle nuus in al Naspers se koerante ooit dieselfde sal wees nie. En dat streekskoerante steeds ’n bestaansreg het. Al kan jy nie ’n koerant in jou broeksak steek soos ‘n iPod of selfoon nie, hou baie mense immers nog van die gevoel van papier. En in ‘n land soos hierdie, veral in ons uitgestrekte platteland, is die koerant nog koning. Altans vir die afsienbare toekoms - dit behoort nog ’n paar dekades te neem voordat rekenaars en die internet deel is van elke Suid-Afrikaner se alledaagse bestaan.

Kyk mens globaal na hoe mense begin inkope doen – deur elektroniese middele soos selfone – kan advertensies steeds ‘n groot rol speel om inkomste te genereer – al sou die nuus later slegs elektronies gelees word. Want, sê Booyens, mense is wel bereid om te betaal vir nuus, tans eerder deur hul selfone as internetrekeninge, maar dié tendens is reeds waarneembaar: mense betáál, sê Booyens. So, al sterf koerante, sal nuus nie sterf nie. Want uiteindelik is nuus vaardighede, nie papier nie. Dit gaan dus oor die diens wat gelewer word nieteenstaande die medium.

Booyens sê ‘n papierlose nuusbedryf het in elk geval voordele. Dit sal ‘n skoner sakemodel beteken: bome word nie afgekap nie, fisiese vervoer is onnodig, wat tyd en brandstofverbruik bespaar én besoedeling verminder. Verder het hy genoem dat die tydskrif Life wel dood was, maar soos Lasarus opgestaan het en meer geld maak uit argiefmateriaal as uit destydse sirkulasie-inkomste. Hy reken Die Burger kan ook hierdie voorbeeld volg – daar is amper 100 jaar se argiewe wat ontgin kan word.

Nou wonder mens nogal: Gaan iemand Scope ook uit die dode opwek? O, die nos-tal-gie ... as Scope maar net ’n Naspers-produk was. Maar dan sou dit seker nog bestaan het – so who’s the dinosaur now, pray tell?

Met of sonder sensuur, ons drukmedia – en ons taal – het al talle aanslae oorleef. Kombuistaal? Watwou! Dit was vroeër lekker gesellig om koerant te lees by ‘n warm stoof. Nou doen ons dit in ons braaikamers. En steek die vuur aan met gister se nuus.