Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Rubrieke | Columns > Afrikaans > Jason Lloyd: Hotnotsgot

Alle mense is stories


Jason Lloyd - 2011-11-16

Dit is ’n bekentenis of belydenis wat ek teenoor Jakes Gerwel moet doen omdat ek die verhaal oor ’n uitsonderlike inwoner van Somerset-Oos nog nooit geskryf het nie.

Die besoek aan Somerset-Oos wat dié belofte voorafgegaan het, het so begin. Dit was 22h00 op 15 April 2009 en ek het pas my kamer in die Somerset Hotel in Somerset-Oos oopgesluit. Soos die skrywer Alan Paton in 1946 in sy hotelkamer in Noorweë aangekom het en gaan sit het en begin skryf het, net so het ek ook in my skrywersdagboek aantekeninge gemaak:

Toe ek vroeër die aand – net so voor 20h00 – Somerset-Oos binnegery het, het die skaduwee van die nabygeleë Bosch-berg die helder dorpsligte effens gedemp. Daar het toe ’n stilte oor die dorp geheers; net by Spar was ’n heen-en-weer-lopery aan die orde van die Karoo-aand. Die res van die dorp was al besig om aan die slaap te raak.

Ek het versigtig die hoofstraat afgery op soek na die hotel; net soos Henk de Melker – die hoofkarakter in Etienne Heerden se roman 30 Nagte in Amsterdam – versigtig leef. Hoekom kan almal nie hartstog en begeerte soos Henk hanteer en dit sover moontlik op ’n veilige afstand hou nie. Dit is tog verweer teen allerhande onheilighede – het die uwe gedink terwyl ek voor die hotel stilhou.

Vroeër die aand sou Gerwel my by sy huis in Pauletstraat van hierdie besonderse Somersetter vertel. Ons loop by die hek uit tot binne-in dié straat. Gerwel wys met sy hand op in die straat. “Die man bly ver op in die straat.”

Met die instelling van die groepsgebiedewet het die man geweier om die dorpsgebied – wat toe ’n wit gebied verklaar was – te verlaat.

Alle gekleurdes was geforseer om die middedorp te verlaat en moes aan die buitewyke van Somerset-Oos gaan bly. Net een man en sy gesin het vasgestaan en nooit getrek nie. Hy bly vandag nog waar hy destyds gebly het. Die man bly nog steeds “op in die straat”, soos Gerwel beduie het.

’n Paar dae later stuur Gerwel ’n e-pos oor ’n ander saak, maar klits die storie oor die man aan die einde in. “Moenie die storie oor die man vergeet nie. Dit is iets om te vertel.”

Nou is dit meer as twee jaar later en ek het skandelik nog nie die storie geskryf nie. Die gesoek na die man was egter nie sonder moeite nie. Dit vertraag ook die skryf van die storie.

Die storie van hierdie held moet ek eendag vertel, want in die letterkunde is die gesegde dat niks so waar soos ’n storie is nie.

Alle mense is stories. Die sin van ons lewe en ons verhoudings met andere word deur stories begrypbaar gemaak. Wat ons was, wat ons is en wat ons wil wees, word deur stories vertel. Ons skep waardes, begeertes en verlangens deur stories.