Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Onderhoude | Interviews > Afrikaans

Boem boem, die blou bonsmannetjie gaan groen


Naomi Meyer - 2011-11-16

Alta Joubert, Lollos, Disco en Minki Burger saam met 'n jong spulletjie


Lollos is soos om ’n stootwaentjie op te slaan – mens verstaan nie veel van die affêre as jy nie self klein kindertjies het nie. Vir diegene wat laat slaap op naweeksoggende en wat nie ken van chroniese oorinfeksies nie: Lollos is daardie singende, wippende blou karaktertjie wat mense soms beskryf as die Suid-Afrikaanse Barney. Toe Naomi Meyer hoor Lollos 3 (Boem Boem ons gaan Groen) is pas vrygestel en het amper dadelik goue status bereik, het sy Minki Burger en Hanli Brink (Alta Joubert is ook betrokke) oor die kêreltjie van Lalaland uitgevra.

Wat was eerste, moederskap of Lollos?

Minki Burger: Moederskap was beslis eerste. My vriende wat nog nie kinders het nie, dink steeds soms ek is bietjie mal om so rond te spring. Moederskap verander mos absoluut elke aspek van jou lewe en veral jou uitkyk op die lewe.

Hanli Brink: Moederskap beslis eerste vir ons almal. Ek dink nie mens kan Lollos so baie waardeer soos wanneer jy eerstehands die groot glimlag op jou kind se gesig sien elke keer as hy/sy Lollos op jou TV/laptop/papier sien nie ... dis ongelooflik! Dan weet jy sommer dit werk!

Ek het BComm-bestuursrek op Stellenbosch geswot, vyf jaar in Londen gewerk in belasting, toe my eie besigheid gehad waar ons Suid-Afrikaners in professionele werke gehelp het om in die VK te werk, visas te kry ens. Ek het toe ma geword van Adriaan (nou 4), en toe hy so drie maande oud was, het Alta en Minki my gevra of ek hulle nie wil help met hierdie Lollos-idee nie … en die res is, soos hulle sê, “history”!

Tussendeur Lollos maak ons natuurlik ook kinders groot! Alta is ma van drie. Hanli is ma van twee.

Wie het Lollos uitgedink?

MB: ’n Kinder-DVD was Alta (Joubert) se blink idee na sy haar eerste dogtertjie gehad het, maar ons moet vir seker dankie sê aan ons musiekvervaardiger met Lollos 1, 2 en 3 wat met ons heel eerste afspraak ivm die nuwe projek vir ons uit die staanspoor voorgestel het om die projek rondom ’n karakter te bou. Dit was goue raad en beslis die sleutel tot Lollos se geboorte. Dankie dus aan Johnny Jay van Hithouse Productions en natuurlik ook aan die man agter al die Lollos-prentjies en ontwerpe, uit wie se pen Lollos ’n vorm gekry het, Luan Serfontein.

HB: Luan Serfontein is ongelooflik! En Lollos sou natuurlik nie gewees het wie hy is sonder Luan nie. Hy het die grafiese ontwerp gedoen en hy teken elke liewe prentjie op ons DVD’s. Al die pragtige agtergronde gedurende elke liedjie word deur Luan gedoen. Hy is ontsettend talentvol! Hy het ook al die illustrasies gedoen vir ons boek, Lollos se vlerke. Dis werklik pragtig.
  
Hoe het Lollos ontstaan?

MB: Lollos is net een van daardie dinge wat gebeur het. Ons het hard gewerk en eintlik heel blind in die storie ingegaan. Vir my was dit regtig ’n lafenis om na baie jare wat ek my kreatiewe kant afgeskeep het, weer te kon begin skep. My seuntjie was 6 toe ons begin het en hy was op die ideale ouderdom om my te help dink aan idees, en baie van die eerste Lollos-liedjies gaan oor diere en dinge in ons eie huis. Dit was net pret. Ek en Alta het heel aan die begin vir God gevra om die projek te seën en wat gebeur het sedert die verskyning van die Lollos 1-CD is absoluut ’n voorbeeld van God se seëning. Ons het baie hard gewerk, maar die sukses van Lollos is nie in ons eie hande nie.

Ons is baie lief vir kinders en elke show is anders en baie vervullend, want die verwondering op die kindertjies se gesiggies is so kosbaar en nooit dieselfde van een na die ander nie. Lollos was egter nog altyd in die "werk"-kategorie van my lewe. Ons bou die hele produksie van die grond af op, al die musiek, die choreografie, die uitrustings, die teks, die logistieke rondom toere, die vervaardiging van die DVD, ens. Dit is iets wat ek ongelooflik baie geniet en vir geen ander werk sal verruil nie, maar dit is my werk.

HB: Dit het als so vinnig gebeur. Alta en Minki het die eerste CD opgeneem en toe het ons besluit hier moet ’n DVD gemaak word. Ons het alles self gedoen – sjoe! Ons was seker bietjie mallerig! Studio gehuur, kameramanne, klank, make-up, outfits reggekry, draaiboek geskryf – en toe is dit aksie! Kabous Meiring (’n wonderlike vriendin van ons al drie) is die regisseur op al ons DVD’s. So ons lag nou nog almal lekker saam vir hoe ons dinge geleer het. Deur als kan ek eerlik se ons het super-baie pret!

Ek het nog altyd gewerk – die vermaakbedryf is net ’n ander industrie en ek dink beslis nie ek sal maklik weer hier kan uit nie! Ons pas ons kinders in so tussen deur die werk. Natuurlik probeer mens altyd jou kinders eerste stel, maar dis beslis nie altyd so maklik nie! Daar is maar baie kere dat mens bietjie skuldig voel oor lang ure werk ens, maar ons werk almal baie fleksie-ure, so ons kan alles inpas: verhoudings, familie, kinders, vriende en werk!

Ons kinders is egter ook baie deel van Lollos – hulle sing saam op die CD’s, verskyn in die DVD’s, kom na vertonings – en is van ons grootste aanhangers! Dis heerlik!

Onthou julle nog die eerste show?

MB: Hahaha – die eerste show ... Ons het dit op die Huisgenoot-verhoog by die KKNK gedoen. Hulle het ons niks betaal nie en daar was min mense, want dit wat vroeg in die oggend. Ons het ons beste gegee en ek dink ons was baie goed voorbereid, maar dit was vir seker nie die Lollos-show van vandag nie. Die Lollos-kostuum wat ons toe gebruik het, was die dag voor die tyd eers gereed en ons kon nie daarmee repeteer nie. My nefie, wat toe in graad 9 was, het sommer in die pak geklim. Behalwe daarvoor het ons in die strate van die fees rondgeloop met Lollos en sommer daar gesing en dans. Die mense het gedink ons is mal! Hahaha! Ons het gegaan met baie oorgawe en inspirasie en dit is al wat belangrik is.

Hoe het meer mense van Lollos gehoor?

MB: Die proses van hoe die mense Lollos begin ken het, was ’n baie stadige een. Ek vind dit baie vreemd. Niemand het ooit eintlik daarvan geweet nie en toe skielik na so twee jaar het ek begin agterkom die momentum het nou opgetel. Dit was net hier en daar wat iemand my in Tygervalley sou snaaks aankyk en dan hoor ek hoe fluister hulle: "Is dit nie daai vrou van die Lollos-DVD nie?" Hierdie laaste paar maande het ek regtig agtergekom die bal is nou sterk aan die rol en ek kry gereeld wildvreemde kindertjies wat na my toe hardloop in Checkers en my omhels. Dit is regtig baie spesiaal om te kan sien dat ons iets mooi en positief vir die kinders bring. Ek is ’n baie gelukkige vrou.

HB: Dit was regtig nogal vinnig. Ek onthou goed hoe ons nog twee jaar gesit en dink het hóé ons meer vertonings kan kry. Nou het ons al besprekings tot en met Oktober 2012! Dis wonderlik! Hulle sê ’n besigheid vat 1 000 dae om suksesvol te wees. Ek dink werklik dis waar! Ons is nou drie-en-’n-halfjaar jaar aan die gang en dit gaan nou lekker!

Ons het hierdie jaar die SAMA gewen vir beste Afrikaanse kinder-CD! En ons is benoem vir twee Huisgenoot-Tempo Toekennings, in die beste kinder-CD-kategorie én die beste kinder-DVD-kategorie (sommer saam met Romanz en andere! )

Wat kan grootmense by Lollos se show verwag?

MB: Verwag ’n groot glimlag op jou kind se gesiggie. :)

HB: Dis amper soos ’n rock show – maar vir kinders!

Watter temas word deur Lollos aangespreek en hoe kies julle die temas?

MB: Ek en Alta is verantwoordelik vir al die kreatiewe inhoud en ons besluit dit saam in ’n werkswinkel-tipe van atmosfeer. Ons gebruik materiaal uit ons eie lewens en maak veral gebruik van die inspirasie wat van ons kinders af kom. Ek onthou ons het een aand by Innibos-fees gesit en gesels oor ’n glasie wyn saam met Hanli en die res van die Lollos-span toe ons besluit het op die “groen”-tema. Dit is maar ’n organiese proses wat groei soos wat ons aangaan.

HB: Ek, Alta en Minki het vandag ’n groot dinkskrum gehad vir Lollos 4. (Ja, kan jy glo! Lollos 3 is ’n maand gelede vrygestel en hier gaan ons alweer!) Al wat ons nou kan sê, is dat ons vreeslik opgewonde is oor Lollos 4 se tema – dit gaan net nog lekkerder raak! Die CD sal so April 2012 vrygestel word en die DVD Oktober 2012. Dit is egter stap 1 van die proses – dit vat baie lank om die DVD te kry tot die finale produk!

Wie skryf die liedjies?

MB: Ek, Alta, ons musiekvervaardigers, Elizna Vermeulen (wat vir Lollos werk) en ander skryf almal liedjies. Ons is omring deur ’n klomp talentvolle mense.

Hoe lyk ’n dag in die lewe van die Lollos-span?

MB: Ons bring elke jaar ’n CD en ook ’n DVD uit. Wanneer die nuwe musiek gereed is, ontwikkel ons die nuwe vertoning rondom dit en dit is dan ook die materiaal vir die DVD. Dus is die eerste paar maande van die jaar baie besig: eerstens om die nuwe vertoning uit te werk en te repeteer en daarmee te begin shows doen, daarna om voor te berei vir die skiet van die DVD en natuurlik die opname. Aan die kreatiewe kant raak dinge dan baie rustiger, tot die volgende jaar, wanneer die volgende episode van Lollos moet verskyn, maar agter die skerms begin die groot werk om die DVD te redigeer en perfek te kry. Ons poppe word in China vervaardig en ons het ook T-hemde en storieboeke wat ons self laat vervaardig in Suid Afrika. Ons doen natuurlik deurlopend vertonings regdeur die land en dit hou ons altyd besig, veral oor naweke. Die administrasie van die besigheid het ook in ’n reusagtige werk verander en ons kan nie vir ’n beter bestuurder, bemarker, vervaardiger ens vra as vir die wonderlik Hanli Brink nie.

HB: Haha! Dankie Minki! Die agter-die-skerms-werk van Lollos is ’n reuse-taak! Om op e-posse te antwoord, ons Facebook-blad aktief te bemark en vrae te beantwoord, vertonings te reël, vlugte, verblyf te reël. Finansies, bestellings, voorraad te beheer. Bemarking!

Wat vir my begin het as ’n werkie so deeltyds, is nou beslis voltyds! Ek is amptelik die bestuurder/bemarker/BD/DVD-vervaardiger/finansiespersoon. Ek het darem ook dié jaar besef ek kan nie meer als doen nie en het ’n wonderlike assistent, Elizna Vermeulen, aangestel wat my ontsettend help. Lollos is ’n reuse-suksesresep en ek is baie trots om saam met Alta en Minki die maatskappy te bestuur! Ons is mal oor ons werk!

Vertel ons meer van die gaskunstenaars op die nuwe DVD.

MB: Met ons heel eerste jaar by KKNK het ons vir Emo ontmoet en ek en hy het goeie vriende geraak. Ek het onmiddellik gedink ons moet hom betrek by Lollos juis omdat ek so ’n groot aanhanger is van hom en ek het net geweet die kinders sal mal wees daaroor om hom op ’n Lollos-DVD te sien. Emo is ’n wonderlike vriend van Lollos en ons en ons aanhangers geniet hom vreeslik. Dit was so suksesvol om ’n gaskunstenaar te gebruik dat ons besluit het om elke keer iemand anders te gebruik, en veral iemand wat by die kinders sal byval vind. Daarom het ons vir Robbie Wessels gevra – hy is skreeusnaaks!


Ons was bevoorreg genoeg dat Nianell ons genader het en aangebied het om deel te wees van Lollos 3 en sy verleen ’n baie spesiale dimensie aan die nuwe DVD. Sy het ook die ongelooflikste mooi liedjie spesiaal geskryf: “Mamma's lief vir jou”. Die video is pragtig en baie spesiaal, omdat haar drieling ook op die liedjie is.

HB: Behalwe dat die kinders moet aanklank vind by die gaskunstenaars, dink ek ook dit maak dit net soveel lekkerder vir die ouers om vir die twintigste keer die Lollos-DVD te kyk in ’n ry (en dit gebeur regtig!). Die gaskunstenaar-liedjies is almal so lekker – die ouers dans net so heerlik saam.

Ons het hierdie jaar baie “last-minute” besluit om die Lollos Bokopskop te verfilm en die musiekvideo moes ‘live’ gaan binne minder as ’n week! Dit was rondom die Wêreldrugbybeker. Ons het vir Emo Adams gevra of hy nie lus is om saam te kom dans nie en toe bring hy sommer vir Wicus van der Merwe ook saam. Wow – hoe nice van hulle! Hulle het op ’n snikhete Stellenbosch-dag die Bokopskop omtrent 1 000 keer gedoen in die son! Die regisseur, Ebert Jansen van Noordwyk, het net nie so warm soos die res van ons gekry nie! Maar die lied en video is fantasties.



Tussendeur al die verfilming het Emo en Wicus wraggies nog grappies ook gemaak en ons almal se kinders vermaak – ons is groot fans van hulle! 

Het julle enige planne vir die toekoms?

MB: Ons beplan om elke jaar ’n CD en ’n DVD uit te bring en het ’n hele paar nuwe verrassings in die pyplyn sodat dit nie elke keer dieselfde is nie. Lollos gaan nog sy vlerkies wyd oopsprei. Ek dink die toekoms van Afrikaanse kinderliedjies is baie helder. Die ander nuwe produkte en kunstenaars wat tans die mark betree, lewer uitstekende werk en Lollos is beslis hier om te bly.

HB: Lettie gaan beslis ’n nog groter rol speel in die toekoms. Dalk gaan ons nog ’n taal aanpak. Ons beplan nog ’n boek en moontlik selfs ’n reeks boeke. Legkaarte. Meer klere. Lollos-partytjietoebehore ... daar is só baie moontlikhede! Kompetisie is goed! Ons dink die toekoms is rooskleurig en dis wonderlik dat daar so ’n verskeidenheid Afrikaanse kindermusiek op die mark is.


Waar kan mense bespreek?