Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Boeke | Books > Resensies | Reviews > Afrikaans

Woord vir woord: ’n Genotvolle stukkie werk


Daantjie Badenhorst - 2011-11-16

Woord vir woord: 'n lewensreis
Johan Stemmet
Uitgewer: The Penguin Group
ISBN: 9780143528180
Prys: R129.95

Klik hier en koop Woord vir woord nou van Kalahari.net!




Die afgelope twintig jaar is Johan Stemmet ’n bekende gesig op Suid-Afrikaanse televisie as aanbieder van die gewilde musiekvasvra Noot vir noot. Noudat sy sestigste verjaardag nader kom, het hy besluit om sy lewensverhaal te vertel.

Hy begin sy verhaal met sy kinderjare op die Namakwalandse dorpie Kleinzee. Hy vertel van die sinkplaatpad tussen Kleinzee en Springbok, waaroor daar baie stories vertel word. Volgens Johan was die mediese fasiliteite nie te waffers op Kleinzee nie; daar was byvoorbeeld nie ’n hospitaal in die tyd toe hy gebore is nie; sy pa en ma moes maar die sinkplaatpad aandurf, en hy is twee dae vroeër as beplan gebore.

Johan vertel ook van die mense wat hy op Kleinzee, wat ’n diamantmyndorp was, leer ken het, asook die Kersfeeste wat hy as kind op die dorp gevier het. Hy vertel dat daar tydens sy kinderjare twee klaviere op Kleinzee was, maar dat niemand op die dorp dit kon bespeel nie. Johan het egter destyds al op straat vir mense gesing, maar volgens sy ma “het mense nie vir geld gesing nie”: hy het inteendeel ’n goeie pak slae daaroor gekry. Hy het eers blokfluit geleer speel, en op die ou einde het ’n onderwyseres hom gewys waar middel-C is. Daarna het daar ’n onderwyseres op die dorp gekom wat baie goed klavier kon speel en by wie hy elke week musieklesse gekry het. Toe dié onderwyseres weg is uit die dorp, het Johan basviool begin speel, en vir ’n Oujaarsdans op die dorp begin oefen. Dit sou sy eerste professionele optrede as musikant wees; hy was toe nog net elf jaar oud.

Hy vertel ook van die orkes, Sounds local, wat hy gestig het toe hy twaalf jaar oud was; wat lekker is van hierdie deel van sy verhaal, is dat hy van die grootste treffers van 1964 noem, onder meer deur bekende kunstenaars en groepe soos Dean Martin, Roy Orbison, Louis Armstrong, The Animals, The Dave Clark Five en The Beatles. Hy vertel dat hulle tydens sy hoërskooljare in Kaapstad slegs tydens vakansies opgetree het, en dat hulle optredes deur plaaslike en oorsese kunstenaars (hy spel net Gene Rockwell se naam verkeerd; miskien is dit nie behoorlik geproeflees nie), soos The Seekers, José Feliciano en Françoise Hardy bygewoon het.

Daar was egter ook die musiekonderwyser wat geglo het dat daar vir hom geen toekoms in musiek was nie, omdat hy gesukkel het met musiekteorie. Hy het wel in die skoolkoor gesing, en saam met hom was ’n alt en ’n tenoor (Laurika Rauch en Randall Wicomb onderskeidelik) wat later groot musikante uit eie reg geword het. Hy het erg gesukkel met wiskunde, en sy onderwyser het dit nie maklik vir hom gemaak nie. Hoe ook al, hy vertel dat hy sy hoërskooljare baie geniet het.

Johan vertel in die volgende hoofstuk hoe hy dit reggekry het om een van die min mans van sy generasie te wees wat gelukkig genoeg was om militêre diensplig vry te spring. Hy vertel ook hoedat hy sy rybewys gekry het; min mense sal dit glo as hulle dit lees!

Hy was in die koshuis toe hy aan die Universiteit Stellenbosch gestudeer het, en ook hier vertel hy van die ontgroening wat die eerstejaars moes deurmaak. Weer eens het hy in ’n musiekgroep beland, en ’n sangeres het haar by hulle aangesluit. Later het hy saam met haar in die universiteitskoor gesing. Hy het aanvanklik in die regte gestudeer, maar die lewe het ’n ander pad met hom geloop. Hy vertel ook hoedat hy ’n advertensieklingel die lig laat sien het; die produk was egter nie ’n groot sukses nie. Tydens sy studentejare het hy en sy sangmaat, Louis de Waal, soms voorprogramme vir bekende kunstenaars gedoen; hy het byvoorbeeld goed met Mynie Grové bevriend geraak, en jare later sou hulle nou saamwerk. Hoewel hy sy mening oor studenterevuegroepe duidelik uitspreek, het hy tog daardeur uiteindelik sy vriend en vennoot Johan van Rensburg ontmoet.

Johan vertel ook van sy onderwysjare aan Rondebosch Boys’ High, veral van die buitemuurse aktiwiteite wat, na sy mening, te veel van sy tyd in beslag geneem het. Hy vertel egter dat hy vir die res van sy lewe sou wou klasgee, maar weer eens het dinge anders uitgewerk as wat hy gedink het: dit was ’n toevallige ontmoeting wat daartoe gelei het dat Johan voltyds in televisie beland het. Daar was van die begin af ’n hele aantal programme waarby hy as regisseur betrokke was, onder meer vergete programme soos Micro Macro (met Leon Schuster as aanbieder), en Treffers van toeka tot nou. Daar was ’n insident tydens ’n opname van Dis my geheim wat in ’n verleentheid ontaard het, maar waarvoor ’n mens maar net kan lag as jy daarvan lees.

Noot vir noot was natuurlik nie die eerste musiekprogram waarby Johan betrokke was nie; hy vertel van Teletreffers, Debuut en Platepraatjies, waarvan hy ook regisseur was. Veral die storie van hoe “Sproetjies” die grootste treffer van Sias Reinecke se loopbaan geword het.

Volgens Johan het die SAUK aanvanklik nie van die idee van Noot vir noot gehou nie, maar toe daar probleme was met ’n ander program wat in dieselfde tydgleuf uitgesaai sou word, is hy en Johan van Rensburg gevra om ’n loodsprogram te vervaardig. Die res is geskiedenis.

Nog ’n program, van ’n heeltemal ander aard, waarvan Johan vertel, is Fly the beloved country, wat meer as en keer uitgesaai is, en wat op DVD uitgereik is.

Natuurlik vertel hy ook van sy sangloopbaan, asook die redes hoekom hy opgehou sing het. “’n Dans met Pa” was seker sy grootste treffer as sanger, maar volgens Johan het twee radiostasies dit om verskillende redes afgekeur. Hy vertel ook van die onderhoud wat hy gekanselleer het sekondes voordat dit sou plaasvind. Party mense het seker al vergeet van die Noot vir noot-roadshow, maar Johan vertel hoekom dit in die slag gebly het.

Johan is seker een van die televisiepersoonlikhede oor wie daar die mees uiteenlopende menings bestaan; jy is ’n groot aanhanger of jy kan hom nie verdra nie. Wat jy ook al van hom dink, jy kan nie ontken dat sy lewensreis ’n uiters genotvolle stukkie werk is nie. Hy skryf in ’n baie gemaklike styl wat lekker is om te lees, en as jy hom as mens leer ken het, sal dit jou glad nie verbaas nie. Dit is ’n verhaal wat jou enduit boei, en dalk net sal maak dat hy nog meer aanhangers bykry.