Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Film > Resensies | Reviews

50/50 kans dat kankerkomedie slaag


Jacques Liebenberg - 2011-11-16

50/50
Regisseur:
Jonathan Levine
Kamerawerk:
Terry Stacey
Rolverdeling:
Joseph Gordon-Levitt, Seth Rogen en Anna Kendrick
Looptyd:
100 minute




Dis waagmoedig om ’n kankerstryd as ’n komedie te bemark; mense neem tog so vinnig en uit beginsel aanstoot. Maar hoewel 50/50 die verwagte emosionele knoppies druk wanneer hy sy deurslaggewende slottonele bereik, is die komedie-element allermins oorrompelend.

Dis nogal moeilik om besonder entoesiasties te raak oor dié fliek, wat met ’n sterk rolverdeling en hope belofte spog. Die groot probleem is dat daar niks nuut of grensverskuiwend is nie. En dis ’n slegte ding om van ’n Joseph Gordon-Levitt-fliek te moet sê, want baie van sy flieks – soos Mysterious Skin, Brick en The Lookout – was nog altyd spesiaal. Maar in 50/50 bevind hy hom tussen die boom en die bas.

’n Mens kan verstaan wat Gordon-Levitt en Jonathan Levine, regisseur, met Adam, die hoofkarakter, wil doen. Hy’s ’n stil, netjiese kêrel wat geen kanse waag nie en doen wat van hom verwag word. Hy raak nie eens ontsteld oor die feit dat sy loskop kunstenaarsmeisie (Bryce Dallas Howard) maande laas met hom seks gehad het nie. Selfs sy kankerdiagnose en -behandeling word heel rustig verwerk. Die probleem is, Adam is so ’n vaal seun en toon so ’n gebrek aan emosie dis moeilik om enigsins by hom of sy uitdagings – dis nou enigiets van sy vrees om te bestuur en sy “moeilike” ma (Anjelica Houston) ­tot sy onervare berader (die oulike Anna Kendrick van Up in the Air-faam) – aanklank  te kan vind.

Dis waar Seth Rogen as Kyle, Adam se beste vriend, in die prentjie kom. Hy’s die teenoorgestelde van Adam: luidrugtig; nie bang om laat te wees vir werk nie; en ’n haan onder die henne. ’n Tipiese Rogen-vertolking, dus, behalwe dat sy karakter nie sukkel om aantreklike vroue huis toe te vat nie.

Levine, veral bekend om die tienerriller All the Boys Love Mandy Lane, volg nogmaals die gebaande weg. Hy daag nie die genre-grense uit nie en ontlok geen aardskuddende vertolkings van sy hoofspelers nie. Die probleem lê dalk by die skrywer, Will Reiser, se stereotiepe karakters: hulle is amper lagwekkend eendimensioneel en hul optrede voorspelbaar – van die kankerhandleidings en ondersteuningsgroepe wat in die geheim gepleeg word tot die kroegbesoeke om die kanker as verleidingstaktiek te kan gebruik. Dis veel gesê as talentvolle akteurs soos Gordon-Levitt en Houston sukkel om te oortuig.

Daar’s wel ’n paar snaakse en aangrypende tonele, maar dit sal met dié gegewe moeilik wees om dit nié te kan vermag nie.

Uiteindelik is die uitdaging van die storie, om ’n jong man se kankerstryd op ’n humoristiese manier uit te beeld, te groot vir Levine en Reiser.

Wat was hul doen-lysie toe hulle met die verfilming begin het? En, wees eerlik, dit kan omtrent enige soortgelyke storie geld:

  1. Hoofkarakter teruggetrokke en kommunikeer sleg; kankerdiagnose laat hom familie, vriende opnuut waardeer.
  2. Meisie “cope” nie met situasie nie en verhouding verbrokkel.
  3. Vriende, familie doen hul deel om hom te help.
  4. Onverwagse band met jong, onervare berader.


Tiek, tiek, tiek en tiek.

Gaap.