Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Boeke | Books > Resensies | Reviews > Afrikaans

Riviereland – Twee besoeke aan Nederland: ’n Diachroniese reisverslag


Cilliers van den Berg - 2011-11-16

Riviereland: Twee besoeke aan Nederland
Karel Schoeman
Uitgewer: Protea Boekhuis
ISBN: 9781869194970
Prys: R250.95

Klik hier en koop Riviereland: Twee besoeke aan Nederland nou van Kalahari.net!


 
Die jongste werk uit die pen van die befaamde romansier en historikus Karel Schoeman is ’n reisverslag getiteld Riviereland: Twee besoeke aan Nederland. Soos wat deur die titel aangedui word, beskryf die teks twee besoeke van Schoeman in 1999 en 2003 aan Nederland, hier beeldend voorgestel as Riviereland. Die twee afsonderlike dele van die werk fokus op ’n eerste, korter besoek aan stede soos Amsterdam, Rotterdam, Delft, Haarlem, Leiden, Meppel en Hattem, en die tweede op ’n besoek aan Gelderland, die mees landelike Nederlandse provinsie. Waar die eerste besoek grootliks die aandoen van vertroude plekke insluit, word Gelderland as ’n “afgetrokke en effens afsydige ander wêreld” beskryf, iets wat dan ook vir Schoeman “die karakter van ’n reis in die vreemde en ’n ontdekkingstog gehad” het. Die oorhoofse doel vir beide besoeke was historiese navorsing, maar telkens is daar ook meer persoonlike redes vir van Schoeman se ekskursies.

“Riviereland” verwys natuurlik nie net na ’n geografiese beskrywing van die waterryke Lae Lande nie; dit is bykans asof hierdie benaming die allure van iets méér aanneem - iets wat nie ingeperk kan word tot die top tien besienswaardighede van toeristereisgidse nie. Mens wil jou verstout om iets bykans eksoties, selfs mities daarin te lees – en die ironie is dat dit wat Schoeman se oeuvre betref, waarskynlik ook nie heeltemal misplaas is nie. Hoeveel keer herinner die vertellers van Schoeman se romans ons nie dat die verlede ’n onbekende land is nie, iets wat by implikasie finale historiese narratiewe ontglip?

En dit is presies waarop ek hier afstuur: ook Schoeman se ervarings en beskrywings gaan minder oor die moderne Nederland as wat dit fokus op sy eie historiese “lees” van die land. Wanneer hy dus betekenis in die land en landskap soek, is dit meer die persoonlike projeksie van ’n formidabele historiese bewussyn as wat dit gaan oor ’n ontvanklike en serene observasie. Gekonfronteer met die Amsterdam van die 20ste/21ste eeu stel die reisiger Schoeman dit trouens onomwonde: “[E]n ek besef opnuut dat ek met my onskuld en onkunde lid is van ’n ander generasie, meer tuis in die sewentiende of agtiende eeu as in Amsterdam op die vooraand van die een-en-twintigste.” Hier is opnuut ’n tikkie ironie, as in ag geneem word hoe deeglik en kundig Schoeman se teks nagevors is. Sý kundigheid val bloot in ’n ander register - kom ons noem dit ’n diachroniese eerder as sinchroniese belewenis van die land.

Reeds die aanhaling van Siegfried Lenz aan die begin van die teks som Schoeman, die reisiger, se besondere ervaring van geskiedenis op: geskiedenis het byna meer met die hede as met die verlede te doen, en verder is dit ook “nicht heilbar”, nie “geneesbaar” nie.

Deel 1, “Nederland 1999”, is ingedeel volgens dagboekinskrywings, wat enersyds beskrywings van die stede, natuurlik veral met historiese toespelings, en andersyds die protagonis se selfrefleksiewe belewenis hiervan insluit. Hierdie belewenis sentreer voorspelbaar genoeg op die tasbaarheid van die gaping tussen herinnering en empiriese werklikheid, asook die uniekheid van ervaring wat ten gronde van persoonlike herinnering lê. So meen hy: “Ek soek die plekke op wat ek van ’n jaar gelede onthou, maar dit is ’n fout om te wil teruggaan, om te probeer herhaal: ervaring is eenmalig.” Die rede vir hierdie eenmaligheid is ook nie beperk tot die verganklikheid van die individuele oomblik nie, want “[a]l is die plek of die omstandighede na uiterlik nog dieselfde, sélf het jy intussen onherroeplik verander”. Die reisiger betrap homself telkens weer dat hy op soek is na ’n “glimps” van die verlede, ’n soeke na die verlede in die hede. In die tweede gedeelte vermeld hy: “Wat mý aangaan, is dit egter die verlede wat ek hier kom soek het, of as dit nie heeltemal juis is nie, dan meer spesifiek die verlede in sy interaksie met die hede …” Dit is byna asof hy sy historiese herinnering wil meet en pas op dít wat hy teenswoordig ervaar, of bepaal in hoeverre dít wat hy in sy kop ronddra, resoneer met sy belewenis: “My verwysingsveld dra ek met my saam en my kop is vol eggo’s: dit is Suid-Afrika waaraan ek telkens weer herinner word…” Die realiteit is egter dat ’n sin vir historiese kontinuïteit in geheel ontbreek: “[M]aar wat beteken dit vir jongmense wat in bondels oor die sypaadjie voor die gebou versprei staan en rook?” Hierdie historiese bewussyn skyn vir die jonger geslag van min, indien enige waarde te wees, en daarom beklemtoon dit net verder Schoeman se buitestanderskap in die moderne Nederland. Dít is trouens ’n belangrike aspek van hierdie reisbeskrywings: die feit dat sy tuiste in die flardes vergane tyd en nie in fisiese plek geleë is nie. Hierdie is moontlik ook die rede waarom veral die eerste besoek so besonder negatief deur Schoeman ervaar word. Dikwels laat hy hom daaroor uit van hoe hy eintlik wil terugkeer na die huis: “Ek is moeg, ek wil nie hier wees nie, op pad van stasie na hotel, van hotel na stasie, swerwend as reisiger en besoeker deur ’n land waar ek niks meer het om te soek en niks sal vind nie. Ek wil by die huis wees.”

Reisliteratuur gaan natuurlik nie net oor die beskrywing van plekke nie, dit gaan ook oor die stem wat hierdie plekke beleef, die reispersoonlikheid deur wie se blik selfs ou bekende stede en dorpe skielik aweregs vertoon. Die Schoeman van veral die eerste gedeelte is egter weinig meer as ’n ietwat afgemete, melancholiese teenwoordigheid. Dit is ’n perspektief wat enige Schoeman-leser met gemak sal erken, maar waar dit in ’n romanteks met groot vrug en betekenis ingebed kan word, is dit hier minder geslaagd. Dit gee aan die teks ’n eendimensionaliteit wat nie deur literêre vormgewing diepgang verleen word nie. Hoeseer die leser ook met die sentiment van Schoeman se selfgesprek mag identifiseer, sal menige verwagtings oor sy reisbeskrywings deur die stroewe herhaling van die dagboekinskrywings effe afgeplat word.

Die tweede besoek, “Nederland, 2003” vaar veel beter. Nie net is Gelderland vir hom self iets nuuts nie, maar ook skemer hier iets deur van Schoeman, die gesoute en onderhoudende geskiedkundige. Die dagboekvorm word hier gelaat ten gunste van betreklik lang, historiese inkleding en agtergrondsverduidelikings van Nederlandse dorpe. Dit beteken nie dat die konsentrasie van diegene wat geskiedenis vervelig vind, nie dalk tog beproef sal word nie, maar vir enigeen wat sou belangstel in ’n toeganklike historiese kontekstualisering van die huidige Nederland, is dit werklik van groot belang. Effe meer op die agtergrond is die stroewe blik, hoewel verskeie motiewe van die vorige beskrywing ook hier bespeurbaar is. Die belangrikste hiervan is die poging om historiese kontinuïteit te vind – hierdie keer selfs vergestalt in die verbintenis van Suid-Afrikaners met die Nederlandse verlede: “Die Suid-Afrikaner wat die verlede van sy land betrag, loop die gevaar om dit in ’n vakuum te sien, heeltemal los van die tyd, en ’n dienstermyn in Suid-Afrika as die geheel van ’n individu se lewe te beskou, netjies afgebaken aan die een kant deur die aankoms van ’n skip uit ’n onsigbare hawe en aan die ander deur die vertrek van ’n skip na ’n bestemming êrens anderkant die horison.” Die onderskeie hoofstukke getuig van deeglike navorsing en, soos genoem, die vermoë om dit op eenvoudige wyse oor te dra.

Selfrefleksie is daar ook weer, maar die skynbare afskeid wat teen die einde van die besoek geneem word, is hier meer treffend deurdat dit uitstyg bo die stroewe melancholie van die eerste gedeelte: “[A]an my glansende tafeltjie moes ek besef dat ek elders eenvoudiger, goedkoper en vinniger sou kon geëet het en meer tyd oor gehad het om vir die laaste keer nog deur die strate van die stad te stap of my werk by die biblioteek af te handel. Die waarneming gaan egter gepaard met geen gevoel van droefheid of verlies nie: iets wat eens plesier gegee het, gee dit eenvoudig nie meer nie, want ek het verder gegaan op my pad en hierdie dinge saam met andere agtergelaat, vir ander mense om op hulle beurt weer te geniet […] ‘n Tyd gelede het iemand wat my moed wou inpraat, iemand wat self skeppend werksaam is, vertroostend opgemerk dat die werk ál is wat saak maak; dog alhoewel ek sy bedoeling verstaan en waardeer, glo ek dit self lankal nie meer nie. Die werk is ook belangrik en mens is dankbaar dat jy dit kan doen, maar ten slotte is dit iets wat jy loslaat en waarvan jy afstand doen, wat jy agterlaat en aan andere oorlaat al dan nie, want dit is nie meer deel van jou nie; dit is ‘n saak vir die nageslag. Al wat saak maak, is uiteindelik die lewe, jou eie lewe, wat jy daarmee doen en wat jy daarvan maak, die lewe wat jy met jou saamdra deur kamer na kamer wat jy betree en weer agterlaat, vrolik, blymoedig; en elke dag leer jy iets nuuts.”

Riviereland is reisliteratuur soos wat mens van Karel Schoeman sou verwag, en weer eens kom mens onder die indruk hoe poreus die grens tussen sy belletristiese en historiese werk is. As buitestander figureer hy self in die teks soos baie van die personasies in sy romans en die selfgesprek van sy letterkundige werke is ook hier sigbaar. Dit alles lei daartoe dat hierdie werk eerder vanuit die perspektief van die Schoeman-oeuvre benader behoort te word, nie vanuit die perspektief van reisliteratuur oor Nederland nie; as sodanig is Riviereland ’n bevestiging van sy oeuvre se tematiese kontinuïteit. Dit is nie een van die beste eksposisies daarvan nie, maar vir groot Schoeman-aanhangers steeds ’n lees werd.

(Tussen hakies: elande is landdiere.) 

  • Cilliers van den Berg, senior lektor in die Departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans aan die Universiteit van die Vrystaat