Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Boeke | Books > Resensies | Reviews > Afrikaans > Biebouw-resensies

Inspring, kêrels! – Waarvoor dié heruitgawe?


Matilda Burden - 2011-11-15

Inspring, kêrels!
PJ Schoeman
Uitgewer:
Protea Boekhuis
ISBN: 9781869192228
Prys: R120.95

Klik hier en koop Inspring, kêrels! nou van Kalahari.net!




My heel eerste vraag met die herlees van PJ Schoeman se Inspring, kêrels! was: Vir watter mark is hierdie boek (die heruitgawe van die oorspronklike boek wat in 1960 verskyn het) bedoel? Die vraag het my van begin tot einde gepla. Daarmee saam gaan die vraag waarom Protea Boekhuis besluit het om ’n heruitgawe te laat verskyn. Dit sou dus baie gehelp het indien daar ’n kort motivering hiervoor aan die begin van die boek geplaas was.

Wat daar wel verskyn, is ’n redigeernota wat verduidelik dat “woorde wat aanstoot gee …” (wat ek eerder sou verwoord het as “woorde wat moontlik kon aanstoot gee”), vervang of weggelaat is, en dat insidente in die verhaal wat aanstoot gee (weer eens sou “moontlik kon aanstoot gee” ’n beter keuse gewees het), in die konteks van daardie tyd beskou moet word. Dit is belangrik om nie aannames te maak rondom woorde, uitdrukkings of insidente wat kan aanstoot gee nie – die ervaring daarvan is persoonlik en subjektief.

Ek vind dit lastig as ’n verhaal nie gekontekstualiseer word nie. Hier het ’n mens ’n klompie karakters, die jong broers Martiens en Piet, die afgetrede sersant, oom Lafras en sy helper Phefeni, en dan die Zoeloes Sjabalala en Madolo, almal sonder vanne. So iets sou miskien meer aanvaarbaar wees in ’n kortverhaal, maar in ’n lang jeugverhaal of roman soek die leser ankerpunte waaraan die karakters geknoop kan word. Dan is daar ook geen geografiese oriëntering of koppeling nie. Die leser moet van die teenwoordigheid van die Zoeloes, die beskrywing van die omgewing en die weersomstandighede aflei dat dit iewers in Zoeloeland afspeel (dit word uiteindelik op bl 105 bevestig). Soortgelyk ontbreek ’n tydskonteks, wat weer eens mettertyd afgelei moet word van verwysings na die Anglo-Boereoorlog en oom Lafras se ouderdom met betrekking tot die oorlog.

Met die herlees van ’n boek wat vyftig jaar gelede vir die eerste keer verskyn het, besef ’n mens hoe skryfstyl en taal verander het. Schoeman se boek wemel van idiomatiese uitdrukkings wat vir jong lesers vandag waarskynlik totaal vreemd op die oor sal val, en wat hulle selfs nie sal verstaan nie. Die redigeernota dui aan dat die styl ’n bietjie aangepas is, wat beslis ’n goeie stap was. Soos dit is, lees dit steeds plek-plek ’n bietjie styf en ongemaklik, maar oor die algemeen dra die taalgebruik in die boek tog grootliks by tot die genieting daarvan. Die Zoeloes se beeldspraak, en ook dié wat Schoeman in oom Lafras se mond lê, laat ’n mens lekkerkry oor die sêkrag van Afrikaans. Ou Madolo is aan die woord: “Miskien kan ek ’n paar murgbene vir jou uitstamp […] dis nie ’n dik murgbeen vir my om te kraak nie” (127). En as oom Lafras lus het vir gesels, dan sê hy vir Madolo: “Kom ons gaan sit onder daardie vyeboom, en dan steek ons ons tonge bietjie in die saak” (125). Die Zoeloewoorde, -uitdrukkings en -name wat in die dialoog opgeneem is (met verklarende Afrikaans telkens daarby), verdiep die leser se taalervaring verder.

Soms is Schoeman se styl miskien ietwat té didakties, omdat hy presies dit wil doen: hy wil die jong leser leer. Maar dit is verstaanbaar en vergeefbaar in die konteks van ’n skryfstyl en benadering van vyf dekades gelede. So ook is die naïewe toon.

Tog is daar heelwat aspekte van die boek wat dit goeie en selfs lekker leesstof maak. Die wedervaringe van die twee jong broers Martiens en Piet is interessant en baie leersaam vir die jong leser. Wat hulle van die natuur en die veld leer uit hulle eie ervarings, uit gesprekke met oom Lafras en van hulle Zoeloevriende, is dinge wat die deursnee moderne mens glad nie ken nie. Dis ’n boek wat ’n mens baie, baie na aan die natuur bring en vir die ouer leser opnuut ’n waardering vir die kompleksiteite, maar ook wonders, van die Suid-Afrikaanse natuur en veld laat ervaar. Dit sal die jonger leser inlei in die geheimenisse van die natuur en die mens se omgang daarmee. Die hele verhaal speel af op die stuk aarde wat ’n nuwe plaas moet word vir die twee jong manne. Hulle is besig om dit voor te berei vir die koms van hulle ouers, wat gaan kom kyk hoe ver hulle gevorder het, en hulle toekomstige bruide. Hulle moet ’n wapad en ’n beeskraal bou, ’n groentetuin aanlê en vir elkeen ’n hartbeeshuis bou.

Vanselfsprekend is heelwat van die sosiale verskynsels en ander gebruike wat in die verhaal vermeld word, onbekend aan vandag se kinders en jongmense. Die wa en span osse as vervoermiddel, die boumateriaal en -metodes van die hartbeeshuis, die gebruik om te jag vir kosvoorsiening, lewe in die oop veld, die fyn en noukeurige waarneming van die natuur en die baie jong ouderdom (17 jaar) waarop die jongmanne praat van trou, is alles totaal vreemd vir ’n generasie wat nie kan leef sonder skootrekenaars en internet, iPods en Blackberry-selfone, DVD’s en Playstations, vinnige motors en vliegtuie nie.

Dus kom die aanvanklike vraag weer na vore: Vir watter mark is hierdie heruitgawe eintlik bedoel? Is dit gemik op ’n ouer generasie wat kan nostalgeer, of op die jong kind wat nog nie te blasé en sinies is nie? Ek dink dat albei hierdie groepe die boek sal geniet, hoewel laasgenoemde waarskynlik hulp sal nodig hê om dit ten volle te waardeer.

Die feit dat Protea Boekhuis reeds elf ander werke van PJ Schoeman heruitgegee het, maak dit nie vanselfsprekend dat Inspring, kêrels! sukses sal behaal nie, want ek dink dat baie van sy ander boeke veel meer om die lyf het. Maar dit is nogtans nie weg te redeneer dat die lees van hierdie boek ’n positiewe ervaring is nie.