Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Taal | Language > Taaldebat | Language Debate

Die whiteys en hul klassies


Liana Meyer - 2011-11-11

Untitled Document

As ek so lees aan al die blogposts, comments, tweets, nuusberigte en opinies wat al geskryf is oor die jongste ontwikkeling in die US se never-ending taaldebat, dan wil dit vir my voorkom dat die meeste van ons eintlik saamstem: die US moet parallelklasse begin aanbied wat beide Afrikaanse en Engelse studente akkommodeer. Ek dink die verskil lê in ons motiewe.

Van ons dink dit is belangrik dat beide Afrikaans en Engels as onderrigtaal gebruik word, want ons besef dat daar mense is (wit, swart en bruin) wat Afrikaans verkies en beter sal presteer as hulle onderrig in Afrikaans ontvang. Ons verstaan ook dat dit terselfdertyd belangrik is dat daar meer Engels by die universiteit geïnkorporeer word, want ons besef die belangrikheid daarvan in die global community en die rol wat dit sal speel daarin om meer swart studente en dosente te werf. Wat hierdie groep se motiewe definieer, is dat hulle rêrig positief en aktief sal werk daaraan om die US se demografie te verander en daardie verandering sal verwelkom.

Die ander groep gee nie eintlik veel om oor die insluiting van meer swart studente en dosente by die universiteit nie en is nie eintlik gepla daarmee of anderskleuriges ’n goeie-kwaliteit-onderrig sal ontvang nie – hulle wil net seker maak dat hulle taal (en daarmee saam in ’n groot mate hulle ras) behou word. Hulle is dus ten gunste van ’n dubbelmedium-universiteit, want (a) hulle besef dat hulle nie ’n kans sal staan om anders te argumenteer nie en (b) hulle is bereid om Engelssprekende studente te “akkommodeer” (nie in te sluitnie), want hulle besef dat Engels hier is om te bly. Wat hulle motiewe definieer, is dat hulle nie werklik ten gunste van ’n multikulturele kampus is nie, en nie ’n verandering in demografie sal verwelkom nie, maar hulle besef dat hulle dit sal moet aanvaar.

’n Mens kan dus allerhande regverdigings probeer kry vir die mosie en dit so legitimate as moontlik probeer laat lyk, maar in my opinie is dit maar net weer eens ’n manier vir wit Afrikaanse mense om Stellenbosch so wit en Afrikaans moontlik te probeer hou. Engelssprekende studente sal toegelaat word om hier te swot, maar op die voorwaarde dat die Afrikaanse whiteys hulle eie klassie het om in Afrikaans te leer en nie in die ander klas hoef te sit saam met die res nie.

Die mense wat die mosie ondersteun, moet hulself die volgende vra: Sou jy dit kon aanvaar as ’n groep Xhosasprekende studente ’n mosie indien om klasse in Xhosa te kry by die US (sou daar genoeg Xhosasprekende studente by die US wees, wat tans nie die geval is nie, grotendeels agv taal)? Indien nie, weet ek nie wat hulle in Suid-Afrika doen nie. As ’n individu nie kan aanvaar (en ek bedoel rêrig aanvaar, nie net hulself daarmee vereenselwig omdat hulle nie ’n keuse het nie) dat mense met verskillende tale, rasse, geslagte, opinies, gelowe ens om hulle gaan woon en saam met hulle gaan studeer/werk/leef nie, moet hulle hul spreekwoordelike “spot in the sun” êrens anders gaan soek – want Suid-Afrika is ’n rainbow-coloured nation en dié wat nie wil deel wees van die rainbow nie, moet liewer waai.

Let wel: Ek is in beginsel nie gekant teen die idee van parallelmedium-onderrig nie (die T-opsie werk nie rêrig vir Afrikaans of Engelse studente nie); dit sou my ook nie pla as die US sou begin om parallelklasse in al 11 tale aan te bied nie (wat natuurlik nie prakties moontlik sou wees nie, dis net hipoteties gestel). Ek dink maar net dat as jy wil hê jou taal moet erkenning kry en ’n "spot" gegee word, moet jy bereid wees om dit aan ander taalgroepe ook te gun – en dit in dieselfde dorp/gebied/universiteit, nie daar ver in die Oos-Kaap waar dit jou nie kan pla nie.