Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > SeminaarKamer | Seminar Room > LitNet Akademies-gespreksruimte

LitNet Akademies-resensie-essay: Grond/Santekraam


Gunther Pakendorf - 2011-11-10

Untitled Document

Grond/Santekraam
Ronelda Kamfer
Uitgewer:
Kwela Books
ISBN: 9780795703652
Prys: R144,95

Klik hier en koop Grond/Santekraam nou van Kalahari.net!


Die beëindiging van apartheid en die omverwerping van die ancien régime in Suid-Afrika het oor die afgelope nagenoeg 20 jaar ’n skynbaar nimmereindigende vloed publikasies vanuit ’n verskeidenheid invalshoeke tot gevolg gehad. Tog lyk dit of die fundamentele betekenis van kultuurideologie, en by name die stryd om Afrikaans, óf nog nie in hierdie gesprek ten volle tot sy reg gekom het nie, óf om opportunistiese redes verswyg word. Dit is veral politieke en ekonomiese aspekte van die stryd teen apartheid onder die vaandel van die ANC wat die debat as bepalende faktore oorgeneem het namate dié beweging sy rol as bewindhebbende party nà 1994 bestendig het en die geskiedenis kon herskryf as ’n bevrydingstryd van swart mense teen wit oorheersing.

Sedert die onderwerping van die laaste onafhanklike swart nasies as polities-kulturele groepe (of polities in Engels) aan die einde van die 19de eeu en op die laatste met die totstandkoming van ’n polities verenigde Suid-Afrika met Uniewording het die politiek, hoe ’n mens dit ook al beskou, die stryd om hegemoniële magsuitoefening op nasionale vlak geword. Vandag besef ’n mens met verbasing hoe lank hierdie stryd as ’n verlengstuk van die konfrontasie tussen Boer en Brit gevoer is, terwyl die “naturellevraagstuk” met skynbare nonchalance deur die wetgewing oor grondbesit van 1913 en 1936 as min of meer opgelos beskou is. Swart en bruin was nie deel van die openbare gesprek nie en het gevolglik nie in aanmerking gekom as faktore by enige werklike magsdeling nie.

Frantz Fanon

Die voortbestaan van ’n suiwer Afrikanervolk met sy eie leefwyse en genoeg ruimte vir die handhawing van sy eie taal was reeds van vroeg af aan ’n onlosmaaklike deel van die apartheidsbeleid en een van sy belangrikste dryfvere. Die Bisantynse wette wat instroming, werkreservering, residensiële skeiding, bevolkingsregistrasie, onderwys en wat ook al nà 1948 gereguleer het, was in wese ’n uitvloeisel van die uitskakeling van swart mense uit die landspolitiek. Die burokrate van segregasie kon dan ook met die totstandkoming van een swart tuisland na die ander met onmiskenbare genoegdoening na die konsolidasie van rasseskeiding in die jare sestig en sewentig kyk as ’n taak wat wel gedaan is: die potensiaal van wrywing en konflik is skynbaar tot ’n minimum beperk of uitgeskakel, die aspirasies van die swart bevolking is geakkommodeer, wit en swart is soos op ’n skaakbord suiwer van mekaar geskei. Hierdie manigeïsme, wat Frantz Fanon in daardie jare reeds as ’n wesenlike element van die kolonialistiese denke uitgelig het, het boonop die voordeel vir blanke Afrikaners ingehou dat hulle hulle sodoende kon afskei van ander groepe, rasse, denkwyses wat hulle oorlewing moontlik kon bedreig: “East is East, and West is West, and never the twain shall meet.”

*

Terwyl die anti-apartheidstryd uiteraard primêr ’n stryd om politieke mag en die beheer van die land was, het dit uit die staanspoor ook fundamenteel om simbole en kulturele waardes gegaan. Die vroegste uitbarstings van massageweld in 1976 het nie toevallig as protesoptrede teen ’n hegemoniële taalbeleid ontstaan nie. Die sukses van die propaganda-aanslag teen Afrikaans wat dit as die taal van die verdrukker gestigmatiseer het, het die ideologiese sy van die taal duidelik ontbloot. In die jare van die struggle het die teenstanders van die heersende bestel, veral onder die leiding van die UDF, die manigeïsme van apartheid omgekeer én vereenvoudig: dit was nou net nog swart teen wit. Die taal van die struggle was oorwegend, byna uitsluitlik, Engels; die polisie was bekend as “die Boere”, oftewel “the Boere”, Afrikaans was die taal van die vyand.

Maar as die behoud en voortbestaan van die Afrikanervolk en sy taal ’n essensiële doelwit van die beleid van rasseskeiding was, dan kon hierdie idee die uitdagings van die rassebestel nooit te bowe kom nie. In wese kan ’n mens sê dat die voorstelling van ’n volk as ’n nasionale eenheid, soos dit deur die Franse Revolusie en die Europese Romantiek uitgekristalliseer is, nie versoenbaar is met die sienings oor ras en die “veelvolkigheid” van die koloniale bestel in Afrika nie. Want volgens dié definisie van nasieskap wat op ’n gemeenskaplike taal, gedeelde geskiedenis, ooreenstemmende waardes en tradisies berus, sou bruin mense ook as Afrikaners beskou moes word. Twee faktore in die samelewing, wat net latent in die Europese model van nasionalisme aanwesig is, nl ras en klas, het in Suid-Afrika by die ontwikkeling van die ideologie van ’n Afrikaner-nasionalisme beslissend geword. Oor die dekades heen kon selfs die mees liberale Afrikaners nie hul weg oopsien om bruin mense sonder voorbehoud en op gelyke grondslag as mede-Afrikaners te aanvaar nie. Ook Hermann Giliomee se gesaghebbende en omvangryke geskiedenis van die Afrikaners as volk bly agnosties as dit by die kernvraag kom of bruin mense deel van die sodanige volk is of nie.

SV Petersen

In een van sy heel vroegste gedigte, “Verwantskap”1, laat SV Petersen ’n stem, kennelik dié van die Afrikaner, die bruinman as kneg verwerp: “Weet dit:/ vir my bly jy ’n vreemdeling,/ niks meer; jou vader was ’n slaaf,/ en myne was ’n heer!” Die bruin stem antwoord deur na die bloedsverwantskap tussen die twee te verwys. Jare later rig Van Wyk Louw2 ’n sterk pleidooi aan sy medeburgers om wit en bruin as één volk te beskou. “Die Bruinmense is óns mense,” sê hy; hulle “hóórt by ons”. Hy aanvaar slegs “kultuurfaktore” as skeidende én bindende elemente en interessant genoeg is dit juis die oorlewing van Afrikaners en hul taal wat sy begeerte motiveer om die grense tussen die groepe uit te wis: “[Ek het] ’n innige begeerte – nee, ’n hartstogtelike wil – dat my volk, Blank en Bruin, en die taal wat ons praat, in hierdie land bly voortbestaan.” Is hierdie benadering, hoe goed bedoel ook al, méér as paternalisties, en word die bruin mense hier nie maar weer as handlangers en agterryers gesien in die blankes se desperate poging om nie vertrap of ondergeploeg te word nie?

NP van Wyk Louw

Hierdie soort denke het in ieder geval in die jare van die hubris van die Afrikanerpolitiek en die skynbare triomf van apartheid op dowe ore geval. Interessant genoeg het die openbare twis tussen Verwoerd en Van Wyk Louw in 1966 juis oor die idee van nasieskap gegaan: Verwoerd het gewéét wat ’n volk is en wou nie die digter toelaat om dié begrip te bevraagteken nie. Tog was dit die onbevredigende politieke situasie waarin die “Kleurlinge” hulle binne apartheid se skynbaar netjies afgebakende grense bevind het dat John Vorster, reeds voor die uitkringende opstande ná Soweto, die Erika Theron-kommissie aangestel het om voorstelle te maak vir ’n politieke bedeling waarin die bruin mense tot hulle reg sou kon kom. Die uiteinde was die oprigting van die Driekamerparlement, wat nie net swart mense permanent uit politieke seggenskap in die land wou uithou nie, maar die bruin mense ook finaal laat weet het dat hulle nie welkom is binne die blanke sfeer nie. En daarmee het die felle en finale aanslag teen blanke heerskappy in 1984 begin wat sou bydra tot die val van apartheid slegs ’n paar jaar later.

*

Peter Abrahams
Gabeba Baderoon

Gesien teen hierdie agtergrond, was die plek van bruin digters en skrywers wat in Afrikaans skryf, altyd prekêr. In die ouer Afrikaanse kritiek was daar nog openlike rassekategorisering, soos in Dekker se literatuurgeskiedenis wat – in die geval van SV Petersen – op ’n neerbuigende wyse na “die stem van die Kleurling” verwys wat “begryplikerwyse nog ongeskoold” sou wees.

Maar al het hierdie openlike gebruik van “sensitiewe” kleuretikette taboe geword, het die latente rassekaart nooit werklik verdwyn nie, ook in gevalle waar ander faktore dalk groter gewig dra. Die oop sweer van die verontagsaming van Adam Small se oeuvre vir bekroning met Afrikaans se hoogste prys is maar die duidelikste teken daarvan. Interessant genoeg word die “bruin stem” slegs met betrekking tot Afrikaans besweer; om na skrywers in Engels, van Peter Abrahams tot Gabeba Baderoon, as “bruin skrywers” te verwys, is ondenkbaar.

Dit is Bakhtin wat daarop gewys het dat die standaardisering van taal deur middel van woordeboeke, grammatika, spelreëls en stylvoorskrifte ’n wesenlike deel van die sentralisering van die staat en die uitoefening van sy mag uitmaak. Ook die kunste is deel van hierdie proses. Akademies – en die akademie – stel riglyne, norme en standaarde vas en bepaal die perke van aanvaarding binne die kanon. Voorkeure, rigtings en tendense word bestendig deur beheer van die leerplan, die opleiding van onderwysers, die pers en die boekebedryf. Die etiese grondslag van die klassieke estetika: dat die grootste kunswerk altyd die skone, ware en goeie met mekaar verbind, werk ’n hiërargisering van waardes in die hand wat die oneweredige verdeling van sosiale en politieke voorregte weerspieël en onderskraag. Die opkoms en uitbouing van Afrikanermag in die jare 1934 tot 1994 kan vanuit hierdie hoek duidelik afgelees word aan die hoë betekenis wat aan taalhandhawing en literêr-estetiese waardes geheg is en aan die rol wat verskeie ideologiese apparate en hul bedrywighede, van die FAK se volksangbundel tot by die toekenning van die Hertzogprys, in hierdie verband gespeel het. Daarom is dit ook nie eintlik verbasend dat Van Wyk Louw en Opperman, volgens algemene konsensus die twee grootste Afrikaanse digters, albei lede van die Broederbond was nie.

Homi Bhabha

Dit is dan ook logies dat die “bruin stem” gewoon nie deel van die kanon van die Afrikaanse letterkunde kon wees nie en die Afrikaans wat bruin mense praat, slegs as afwyking van die algemeen-beskaafde norm geregistreer is. Ook hier het die dissidente van die struggle-jare hulle marginalisering omgekeer en met hulle protespoësie en doelbewuste gebruik van Kaapse Afrikaans ’n ruimte vir hulleself probeer skep buite die kultuurideologiese instellings en maatstawwe van die sogenaamde hoofstroom, en in weerwil daarvan. Maar die dialektiek van die situasie bepaal dat die opstandeling aan die spraak van die heerser gebonde is en dat protes net werklik sin en oortuigingskrag het in terme wat deur die hegemoniële diskoers beslis word. In hierdie opsig moet die “derde ruimte” waarvan Homi Bhabha praat (toegegee, in ’n effe ander konteks), utopies bly. Die worstelstryd van bruin Afrikaanse skrywers dra inteendeel ’n aantal kenmerke van die klassieke oidipale konflik van liefde én verwerping tussen die rebelse seun en die magtige vaderfiguur wat onlosmaaklik met mekaar verbind is deur kragtige bande van bloedsverwantskap en gedeelde lewens. Dit was sekerlik een rede waarom die verwysing na die “skrille sonbesies van die Kaapse Vlakte” destyds, in die jare tagtig, so seergemaak het. Die vergelyking met die werke van bruin skrywers in Engels maak dit tewens baie duidelik in watter mate die poësie van bruin Afrikaanse skrywers aan die naelstring van die hoofstroom van die Afrikaanse letterkunde gebonde is.

*

Patrick Petersen
Peter Snyders
EKM Dido
SP Benjamin

Maar in 1994 het die land ’n nuwe tydvak betree en die magsposisie van blankes, en veral van Afrikaners, het ingrypend verander. Tydens die grondwetlike onderhandelinge is die beskerming en verskansing van Afrikaans weliswaar bevestig, maar dit moes van toe af sy sentrale plek met tien ander tale deel. Of hierdie toegewing op die lange duur nie dalk ’n Pyrrhus-oorwinning gaan blyk te wees nie, is vir eers ’n ope vraag. Nietemin is dit sekerlik nie onbeduidend nie dat dit die “algemeen-beskaafde” Standaardafrikaans is – gister se “taal van die verdrukker” – wat die storms van die jare sewentig en tagtig oorleef het en tans grondwetlike beskerming geniet. Die taal en sy beyweraars is egter gestroop van die massiewe steunpilare wat die vorige bedeling aan hulle gebied het en word nou deur middelpuntvliedende kragte aangedryf wat ondersteuning en bondgenote op ’n wye front soek. In dié proses moes die definisie van die Afrikaner se identiteit heroorweeg word, en só het die besitreg van sy heiligste waardes ook op die onderhandelingstafel beland. Daar blyk redelike konsensus te wees dat inklusiwiteit die prys sal moet wees vir oorlewing. Maar die pad na Belhar was lank en swaar, en nog is het einde niet. Of soos Brecht dit êrens stel: “Die steil pad deur die gebergtes lê agter ons; voor ons lê die lang pad oor die vlaktes.”

Die vraag wat van die “bruin stem” in hierdie grondverskuiwing geword het, of gaan word, sal beslis afhang van die mate waarin die bewakers van norme bereid is om van die ou heilige koeie af te sien en of die sjibbolet van inklusiwiteit meer as blote lippetaal gaan wees. Die aanpassings sal uiteraard omvattend moet wees en die hele kompleks van estetiese waardes én hulle beheer sal aan hierdie herbesinning onderwerp moet word. Waar pas die indrukwekkende aantal bruin skrywers en digters – ’n mens dink aan Patrick Petersen, Peter Snyders, EKM Dido, SP Benjamin en talle ander3 – byvoorbeeld in by ’n veranderde kanon? Sal hulle in een asem genoem word met Koos Prinsloo, Gert Vlok Nel of Joan Hambidge? En sal digters soos Clinton V du Plessis of Floris Brown (wat volgens ’n onlangse berig meer as 24 bundels geskryf het sonder om ’n Afrikaanse uitgewer te vind wat bereid is om sy gedigte publiseer) ook hulle plek in die Afrikaanse literêre son vind, en volgens watter maatstawwe sal hulle poësie nou aanvaarbaar wees?

Hierdie oorwegings bring my na die onlangs-verskene digbundel grond/Santekraam deur Ronelda S Kamfer.

Hierdie bundel stel met die intrapslag eise aan die leser, wat duidelik wil sinjaleer dat dit nie protesliedere of “sonbesie”-verse is dié nie. Die enigsins kriptiese titel vrá vir interpretasie en ’n soek na die betekenis daaragter. Santekraam is ’n ongewone woord en beteken iets soos “die hele spul”. Volgens die woordeboek verwys die sant – na “heilig”; tog het die woord dikwels ’n negatiewe konnotasie. Die streep tussen die twee woorde is twee-, miskien meerduidig: dit kan óf beteken dat die grond en “die hele spul” soos twee sye van ’n muntstuk bymekaar hoort, óf dat hulle van mekaar geskei is. Is daar ’n rede vir die keuse van die klein – en die hoofletter?

Die bundel handel oor die vertel en oorvertel van stories en weef sy eie narratief rondom ’n kusgemeenskap by Skipskop aan die Suidkaap. Die gemeenskap – “die mense van Klippenkust” – het sy ongewone karakters en sy eie stories en legendes rondom die see en die vissers:

santekraam

winde woed met ’n
goede moed waar
weg wil wil winde wees
gaan wind wind waai
en tyd verewig in stom
stilheid staan mense
se afkop-kopaf-stories
kom in onderwaterse
bottels borrels by
my aan.

Aan die een kant kom die stories van ver af; die Nederlandse woorde wat telkens in die gedigte opduik soos die skip, die Arniston, wat die mense uit die see sien uitrys (“Klippenkust”), spreek van ’n lang verbintenis met die streek en sy geskiedenis. Aan die ander kant is dit hulle eie stories wat hulle as kaart en transport van hul besit beskou. En dat hulle gewone mense is én bruin mense van hierdie streek, is deel van die aanspraak op besitreg, op die geskiedenis én die grond.

In “oorvertel 2” gee die spreker ’n hele lys van mense en hulle verhale wat tesame bygedra het tot negatiewe persepsies oor bruin mense as “net klopse papbekke en gomgatte”. Want “om bruin/ te wees is glad nie so verkakte storie soos daai slamse voorgee nie/ en dan is dit nog die anner storie van boesman wees die problem is/ wanner jy jou mense se storie ken en daar’s nie ’n slams of boesman/ in nie maar jy moet maar ja en amen want al wat jy het is die/ oorvertel”.

Ronelda Kamfer se debuutbundel Noudat slapende honde

Die lewe onder die water word telkens opgeroep as ’n omvattende metafoor vir ’n ander toestand, ’n alternatief tot die lewe hier bo, ’n speelse mallemeule van meerminne en skeepswrakke, wat ook die taal self insluit (in die volgende voorbeeld is dit die woordspel met Skipskop): “die see die skip die onder/ God blijft die see// blijft onder God die skip/ skop die see skip// onder die see blijft die skip/ onderblijven skip blijft” (“onderblijven”).

Interessant genoeg gebruik SV Petersen ’n soortgelyke beeld, maar met ’n heel ander strekking, in een van sy vroeë verse (“Ballade van die nag”): “’n Rimpellose see het my/ hier uitgespoel, hier waar ek rus .../ Laat my vir ewig maar so bly,/ op hierdie namelose kus.”

By nadere beskouing kan ’n mens ’n aantal raakpunte tussen Kamfer se bundel en Petersen se gedigte herken. Een gedig, “Katie het kinders gehad” (grond/Santekraam bl 38), is ’n antwoord op ’n song van Koos Kombuis (“Kytie”) wat sy waardering uitspreek vir sy gesin se huishulp wat soos ’n ma vir hom was. Kamfer berig vanuit die perspektief van die bediende wat net tot standerd 5 skoolgegaan het en op 16 begin werk het. Sy tree daarmee ook in gesprek met Petersen se verse oor die werkersklas vanuit dieselfde oogpunt, byvoorbeeld in “Gesels by die wasplek”: “Dogter doen diens/ daar by die duusman/ se vrou in die kitchen.// Skottelgoed was,/ kindertjies oppas,/ glad niks te kla/ nie, nee dankie!”.

In ’n ander gedig (“Nat straat”) gee Petersen die waardigheid van die huishulp onder moeilike omstandighede met ’n paar kwashale weer: “Plegtig kom sy,/ met eerbied aangestaar:/ in Sea Point/ gaan sy om die halfdag char.// ‘Good morning!’/ knik sy vir die laaste een/ wat kom tou staan/ in die wind en die reën.”

Lees ’n mens Petersen se gedigte saam met Kamfer se bundel as ’n intertekstuele gesprek oor twee, drie geslagte heen, dan ontstaan daar ’n fassinerende blik, nie net op Ronelda Kamfer se verse nie, maar ’n mens se oë word inderdaad ook oopgemaak vir die aktualiteit van Petersen se oeuvre (wanneer vind hy sy regmatige plek?). En al laat Kamfer ’n spreker beweer: “wit mens se sad en onse sad/ is different” (“oorvertel 1”), is daar hier dalk genoeg potensiaal vir ’n produktiewe spanning tussen bruin en bruin, en bruin en wit en die hoofstroom en die dorpspruit. En dalk sal die “bruin stem” eendag net nog van historiese belang wees.


Bronne

Hermann Giliomee, The Afrikaners. Biography of a People. Tafelberg, 2003.
Ronelda S Kamfer, grond/Santekraam. Kwela Boeke, 2011.
NP Van Wyk Louw, Versamelde Prosa 2. Human & Rousseau,1986.
SV Petersen, Alleenstryd. Gedigte. Tafelberg, 1979.

Hein Willemse, Aan die ander kant. Swart Afrikaanse skrywers in die Afrikaanse letterkunde.

1 Vervat in die bundel Die enkeling, 1944.

2 In sy voorwoord tot Die opkoms van ons derde stand, 1960.

3 Breedvoerig bespreek deur Willemse in Aan die ander kant.