Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Onderhoude | Interviews > Afrikaans

LitNet Akademies: Ronel Callaghan in gesprek met Estelle Taylor en Roelien Goede oor die onderrigleer van tegnologiegebaseerde modules


Ronel Callaghan - 2011-11-10

Ronel Callaghan gesels met Estelle Taylor en Roelien Goede oor hulle artikel “’n Model van faktore wat die sukses van onderrigleer van tegnologiegebaseerde modules beïnvloed” (saam met Tjaart Steyn) in LitNet Akademies. 

Wat is die storie agter die storie van hierdie artikel? Waar kom die behoefte aan die navorsing vandaan? Wat wou u graag daarmee bereik?

Roelien: Estelle het die module in rekenaargeletterdheid ontwikkel en in stand gehou. Sy het baie aandag gegee aan studente wat nie na wense presteer nie en ons het begin wonder wat nou eintlik die oorsaak van die swak prestasie is. Dit het tot ’n PhD-onderwerp gelei, en aangesien sy haar proefskrif in Afrikaans geskryf het, het ons besluit om ook in Afrikaans daaruit te publiseer.

Estelle: Ons het gevoel dat ons moontlike faktore kan identifiseer wat gebruik kon word om groepe saam te stel wat addisionele hulp nodig het, of wat ons kan lei in veranderinge aan die e-leer-omgewing en -inhoude.

Vertel kortliks hoe hierdie module in rekenaargeletterdheid werk?

Die studente doen die module op hul eie tyd, en op die rekenaar, in ’n e-leer-omgewing. Lesse en toetse word gedoen volgens eie tempo, en die eerste eksamengeleenthede is reeds in die derde week. Daarna is daar weeklikse eksamensessies. Sommige studente doen dus al die inhoude op hul eie binne 2–3 weke en skryf dan eksamen, terwyl ander stadiger werk en aan die einde van die semester eksamen skryf.

U noem dat dit reeds deur ander navorsers ondersoek is dat byvoorbeeld rekenaar-angs,  ten spyte van verwagtinge, nie as faktor verdwyn het nie. Dink u dat daar van hierdie faktore is wat in die nabye toekoms sal verdwyn as betekenisvolle faktore vir u model – of dat daar dalk ander faktore is wat moontlik na vore mag kom? Waarop grond u hierdie mening?

Roelien: Die studie verduidelik die metode om so ’n model op te stel, so dit skep die geleentheid om die studie oor ’n jaar of wat te herhaal en met die vorige studie te vergelyk. Die tegnologie verander en die studente is vir seker meer intrinsiek gemotiveerd om rekenaargeletterd te word, so die resultate van so ‘n studie sal interessant wees.

Estelle: Van die faktore behoort te verander met tyd. Ek wil steeds glo dat rekenaar-angs sal verdwyn – maar moontlik sal ek ook oor ’n klompie jare verkeerd bewys word!

Die verwantskappe tussen faktore in u model is baie interessant. Is daar verwantskappe wat u verwag het, maar nie gevind het nie? Is daar verwantskappe wat u verras het?

Roelien: Ons het gehoop op ’n sterker verwantskap tussen moedertaal en sukses. Ons het eintlik beplan om die leermateriaal in ook Setswana beskikbaar te stel, maar dit het geblyk dat dit nie noodwendig ’n verskil sou maak nie.

Estelle: Ons het ook verwag dat toekomsvisie ’n groter invloed sou hê op sukses.

Waarom het u hierdie verwantskappe verwag – was daar ervarings met studente, of gesprekke?

Roelien/Estelle: Dit is verwantskappe wat uit literatuur na vore gekom het. Verder is mens se verwagtinge sekerlik ook gebaseer op persoonlike ervaring van jare se betrokkenheid by onderrigleer, en dan is dit interessant om te sien of dit wat jy dink/aanvoel, reg is en bewys kan word. Soos byvoorbeeld met toekomsvisie: ons het gedink dat studente wat weet waarheen hul op pad is en seker is van hul eie toekomsplanne, studente wat dink oor die toekoms, meer suksesvol sal wees. Dit was deels ‘n persoonlike vooropstelling, en deels gestaaf uit literatuurstudies. Wat die taal aanbetref, moedertaalonderrig is een van my belangstellings, en dit is iets waaroor ek baie gelees het.

In u finale model is daar geen verwantskap tussen studente se sukses in tegnologiegebaseerde onderwerpe en hulle toekomsvisie, leerstyle en selfvertroue nie. Dit voel amper asof hierdie faktore ’n oorhoofse afdeling van hulle eie sou kon vorm, as faktore wat ’n verdere reikwydte het as die ander. Wat is u mening hieroor? Dink u dat dit dalk op ’n ander manier tot studente se sukses bydra as die ander faktore?

Roelien: Die doel van hierdie studie was om oorkoepelend na die faktore te kyk. Ons het in ’n ander studie op leerstyle gefokus en goeie resultate behaal in die verbetering van studente se prestasie. Ek stem saam dat selfvertroue ’n goeie aanduiding van prestasie behoort te wees, maar die prestasie in die skool was ’n meer beduidende aanduider van sukses in hierdie module.

Dan is dit interessant dat ’n ander studie ’n verwantskap gevind het tussen leerstyle en prestasie – waaraan sou u die verskil toeskryf?

Roelien/Estelle: Daardie studie het slegs op leerstyle gefokus en glad nie ander faktore ondersoek nie. Ek dink nie dit is regtig statisties vergelykbaar nie. Die ander studie se fokus was meer op die verskeidenheid van leerstyle in een groep, en hoe onderrigleermateriaal aangepas kan word om voorsiening te maak vir verskillende leerstyle, en dit is dan ook gedoen met positiewe resultate.

Watter verskil maak die proses en uitkoms van hierdie navorsing in u eie onderrigpraktyk? Hoe het dit u eie benadering verander – indien wel?

Roelien: Ek dink ons fokus meer op studente wat aan die begin van die module sukkel. Ek is nou meer bewus daarvan dat alle studente nie op gelyke vlak is wanneer hulle met ’n module begin nie. Hoe vroeër mens sukkelende studente identifiseer en probeer help, hoe groter is hulle kans op sukses.

Estelle: Dit is ongelukkig so dat die faktor wat volgens hierdie studie die grootste bydrae het (skoolprestasie) buite ons beheer is. Daar is van die ander faktore wat, as dit beduidend was, kon lei tot groter aanpassings in onderrigpraktyk. Hierdie resultate het wel gelei tot ’n groter bewustheid daarvan dat sommige studente meer hulp nodig het as ander. Ons het meer assistente georganiseer om hulp te verleen aan studente in die rekenaarlaboratoriums. Verder het hierdie resultate ook weer bevestig dat modules in rekenaargeletterdheid nog nodig (en noodsaaklik) is.

Watter verskil maak die assistente se teenwoordigheid vir hierdie studente?

Roelien/Estelle: Die assistente kan vrae beantwoord en raad gee oor sake soos tydsbestuur. Studente wat meer ondersteuning nodig het (dié met byvoorbeeld min voorkennis, rekenaar-angs of swakker skoolprestasie), kan deur die module werk in die rekenaarlaboratorium waar assistente beskikbaar is om hulp te verleen. Studente wat sukkel, het dus minder rede tot angstigheid of frustrasie. Dit is egter opsioneel – op hierdie stadium word daar geen onderskeid-groeperings gedoen nie en niemand word gedwing om van die hulp gebruik te maak nie. Aangesien van die studente aangedui het dat hul swak prestasie die gevolg van probleme met tydsbestuur was, probeer ons ook om op verskillende wyses studente se vordering te monitor, byvoorbeeld deur die stuur van e-posse met waarskuwings en aanmoediging, en deurgee van name van studente wat nie na wense vorder nie na die koshuise se akademiese huiskomiteelid.

U het aan die begin genoem dat u gehoop het dat die studie u sou help vasstel hoe “om groepe saam te stel wat addisionele hulp nodig het, of wat ons kan lei in veranderinge aan die e-leer-omgewing en inhoude”. Wat is u planne in hierdie verband?

Roelien/Estelle: Die module het heelwat verander intussen, byvoorbeeld om meer interaktiwiteit in te bou, en hopelik meer gebruikersvriendelik te wees. Soos reeds genoem, doen ons nie werklik groepindelings nie; addisionele hulp is beskikbaar, maar studente moet self kies om daarvan gebruik te maak. Ons het ook vir ’n tyd kontaksessies gereël vir studente wat daarvan wou gebruik maak (onthou, hierdie module word heeltemal e-gebaseerd aangebied, met geen kontaksessies nie), maar hierdie sessies is baie swak bygewoon.

Wat is die pad vorentoe vir die navorsing? Is dit deel van ’n groter projek, of het dit aanleiding gegee tot verdere navorsing?

Roelien: Ons doen verskeie projekte in spesifieke modules waar ons kyk na sekere van hierdie faktore (soos byvoorbeeld leerstyle) om die sukses te verhoog. Ons het byvoorbeeld in een studie e-leer-materiaal geskep wat sensitief is vir studente se verskillende leerstyle en toe die sukses daarvan gemeet. Die prestasie van die studente het verbeter ná die implementering van die e-leer-materiaal. Dit was nie moontlik om die verbeterde prestasie direk statisties aan die materiaal se gebruik te koppel nie, maar die studente het baie positief op die materiaal gereageer.  

Wat is na u mening die toekoms van georganiseerde rekenaarvaardigheidsopleiding? Gaan ons dalk binnekort by ’n plek kom waar die benadering in geheel sal moet verander? En indien wel, wat dink u sal so ’n benadering behels?

Roelien: Die diversiteit in studente se agtergrond in terme van rekenaargeletterdheid maak dit moeilik om so ’n module net af te skaf. Die module by die NWU stel die student in staat om dit vinnig en op ’n tyd wanneer dit geskik is af te handel. Soos reeds genoem, werk elke student in ’n e-leer-omgewing teen sy eie tempo, met of sonder die hulp van assistente, soos verkies. Assessering vind dan ook plaas wanneer die student gereed is daarvoor. Die studente wat die module werklik nodig het, vorder stadiger en maak gebruik van die hulp wat beskikbaar is. Solank daar sulke studente is, sal ons seker voortgaan met die module.

’n Mens ook sou toetse op verskillende vlakke kon aanbied en studente wat ’n toets slaag dan vrygestel van daardie onderwerp. Dié wat nie slaag nie, kan dan ’n e-leer-kursus doen en weer die toets skryf. Verdere hulp in terme van assistente kan ook gebruik word om dié wat nog steeds sukkel, by te staan.

Mens moet in gedagte hou dat ons praat oor vaardighede wat aangeleer kan word en ons alles in ons vermoë doen om die studente te begelei dat hulle ook die vaardigheid van self sukkel en regkry bemeester.

Baie dankie dat u hierdie agtergrond met ons gedeel het. Sterkte vir u werk met hierdie belangrike module.