Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Boeke | Books > Boekartikels | Articles on books > Afrikaans

Antjie-Mankepantjie


Bibi Slippers - 2011-11-10

Untitled Document

In 1985 (toe ek twee jaar oud was) het die boek verskyn wat my generasie sou vorm soos geen ander boek nie. Dit was amper soos Kerouac se On the road vir die Beat-generasie, net meer invloedryk, omdat ons op so ’n brose ouderdom daaraan blootgestel is. Die Beat-generasie was bemoei met jazz, dwelms en digkuns. Teen die tyd dat ons in die ‘80's gebore is, het jazz gevlug voor shoulder pads en popmusiek, en dwelms was ou nuus. Daar was darem nog die digkuns, maar vir ons was dit the stuff of nightmares: Elke aand slaaptyd was dit sulke tyd ... tyd vir Mankepank en ander monsters om ons aan ons maniere en ons mooiste gedrag te herinner.

Dis 2011, 26 jaar na die verskyning van Mankepank, en dis wéér sulke tyd. Antjie Krog en NB-uitgewers het besluit om nog ’n generasie vir ewig tot ordentlikheid en vrees-vir-die-donker te verdoem. Net toe my generasie oud genoeg is om kinders voort te bring, verskyn Mankepank en ander verse, met niks minder monsters nie, maar darem ’n paar ekstra feetjies om dinge ’n bietjie uit te balanseer.

Johan Hugo van The Book Lounge is ook ’n ‘80's-kleuter en nie skaam om te erken dat hy nog nie heeltemal herstel het nie. "Mankepank het my op my plek gehou," erken hy en lyk baie ordentlik wanneer hy vir Eloise Wessels van NB-uitgewers aan die woord stel. Eloise noem die nuwe Mankepank "hierdie wonderbaarlikste boek". (Ek is verlig om te sien die boek lyk nie meer soos die ou weergawe nie. Miskien sal ek kan stilsit deur die hele bekendstelling sonder om my oë toe te knyp of onwillekeurig na my ma te roep.) Die nuwe illustrasies is deur Diek Grobler, soos Antjie ’n "meesterlike veteraan" (in Eloise se woorde).

Oor na Antjie, die einste tannie wat ons almal soveel jare gelede so bang gehad het. Vandag is sy pragtig en niemand lyk bang nie. Sy vertel van ’n ou Suid-Afrika wat party van ons nie kan onthou nie, maar ander mense in die gehoor weet waarvan sy praat. In hierdie tyd het sy aan ’n digbundel gewerk (Lady Anne), maar skuldig gevoel omdat al haar aandag nie by haar kinders was nie. So het sy, elke dag voordat sy hulle gaan oplaai het, ’n versie geskryf wat sy dan die aand vir hulle sou voorlees. Haar arme kinders! Mens moet hulle jammer kry. Nie omdat al hulle ma se aandag nie aldag by hulle was nie, eerder omdat dit wel saans donkertyd by hulle was. Hulle is seker nog baie meer bang vir Mankepank die mensvreter en Antjie Somers die cross-dressing kinderdief - want hulle ma kan léés. Van die ou verse wat ek herken uit die oorspronklike Mankepank en nuwes wat sy vir haar kleinkinders bygeskryf het.

Nes mens die bloedjies wil begin jammer kry (siestog, seker heeltyd vrekbang), verduidelik sy waarom dit so belangrik is om vir kinders te lees.

Storielees is ’n noodsaaklike deel van ’n kind se ontwikkeling en opvoeding. In die vroeë vormingsjare help dit kinders om ’n woordeskat te verkry en bevorder dit fantasie en uitdrukking. "Verhoudings misluk omdat ons nie gesê kry wat in ons aangaan nie," verduidelik Antjie. Die hardop voorlees van stories help om die passiewe woordeskat te vorm wat so belangrik is vir effektiewe kommunikasie in later jare.

Herhaling is ook belangrik. Lees maar gerus dieselfde boek of vers of storie oor en oor en oor as die kind dit weer wil hoor.

Daar is ook ’n ekstra aanmoediging om verse voor te lees. Die bekendstelling aan ritme en rym is net so belangrik vir die kind se ontwikkeling. Kinderryme sluit ’n ingewikkelde deel van die taal oop vir jong luisteraars. Dit bevorder fonologiese kennis, en die kind leer sommer van kleins af dat sekere onderafdelings van woorde dieselfde is, wat later kan help met self-lees en spelling. Rym help ook om die kind se aandag te kry deur die geluid, en dan begin hy of sy self na die prente kyk. Die brein raak ook gewoond daaraan om disparate goed met mekaar in verband te bring. Kinders begin luister na hoe goed klink, en nie net na wat dit beteken nie. Hulle raak ook bewus van die krag van klank, en dit help hulle om nuwe woorde te skep.

Ryme kan kinders ook bewus maak van die natuurlike ritme wat in ons elkeen ingebou is. Daardie doef-doef, doef-doef in jou borskas is jou basiese ritme, die metronoom van jou ingeboude taalmusiek. (Blykbaar maak die ritme van kameelpote Arabiese gedigte anders as Westerse poësie.)

’n Kinderrym dwing ’n kind om sy verbeelding te gebruik en kan kinders help om ingewikkelde terminologie aan te leer. Spesifieke vorme soos abesedariums kan kinders leer allitereer, terwyl snelsêers hulle rondom medeklinkers leer artikuleer.

Teen die tyd dat jy die boek toeklap, is die kind net duskant ’n genie. En doodbang!

Antjie meen dat kinders wat sonder boeke grootword, ’n geweldige agterstand het. Maar ouers wat nie hierdie boek het om hul bloedjies mee bang te maak nie, het ook ’n agterstand.

Dis Antjie Somers wat soet kinders op hulle plek hou. En Antjie Krog wat sorg dat hulle daar bly.