Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Onderhoude | Interviews > Afrikaans

Waar daar weerlig is: Johann de Lange oor sy jongste bundel


Bibi Slippers - 2011-11-10

Untitled Document

Hallo Johann, en baie geluk met die verskyning van Weerlig van die ongeloof. Ek wou al nadat jy die Hertzogprys gewen het, ’n onderhoud met jou voer, maar toe word ek oorval deur stage fright. Ek het gewonder of jy ook daardie senuwees ervaar het? Was dit moeilik om weer die pen op te neem nadat jy so ’n groot prys gewen het, of maak sulke goed (jy weet: fame and fortune) nie eintlik ’n indruk op jou nie?

Ek het twee manuskripte, onder andere Weerlig van die ongeloof, klaar geskryf gehad toe die prys aangekondig is. Weerlig was trouens reeds in produksie. Wat pryse aanbetref, staan ek onverskillig daarteenoor. Ek het nooit die Hertzogprys verwag nie; ek het geweet dat ek uit die aard van wat ek skryf, nie daarvoor in aanmerking sal kom nie, so dit het my die vryheid gegee om te skryf wat ek wil, om baie te waag. Ek het beslis nie vir die prys gewerk nie. Dis iets wat my oorgekom het.

Pryse het absoluut niks met die bedryf van skryf te doen nie, en kan trouens baie skadelik wees. Daar is skrywers wat stilgemaak is deur pryse, wat hulle mojo verloor het. Dis gesond om ‘n prys net as ’n som geld te beskou, en nié as enige aanduiding van jou talent of die gehalte van jou skryfwerk nie. Dáárvan is jy sélf die enigste maatstaf.

Hierdie is ’n bundel wat geheel en al uit kwatryne bestaan. Wat het jou besiel om hierdie vorm tot so ’n uiterste te dryf? Is dit jou ou obsessie met obsessie wat hom nou só manifesteer?

Die skryf van dié kwatryne was eintlik net bedoel as vingeroefeninge. Ek wou waak teen lui raak in my skryfwerk. Ek het hulle nie geskryf met die oog op publikasie nie, maar toe ek my weer kom kry, was daar meer as ’n honderd, en dis tóé eers dat ek begin dink het aan ’n bundel maak. Kwatrynbundels – eintlik énige bundel waarin ál die gedigte dieselfde vorm het – kan maklik eentonig raak, en ek het daarvoor probeer opmaak deur ‘n groter verskeidenheid temas te dek, om die rymskemas af te wissel, en bietjie te speel met die vorm. Nie ál die gedigte is kwatryne in die streng sin van die woord nie. Baie is iets tussen ’n epigram, ’n epifanie, en ’n haikoe.

Daar is iets baie kontemporêr (of miskien eerder tydig?) aan ’n hele bundel vol kwatryne. In hierdie tyd waarin daar soveel verskillende dinge is wat aanspraak maak op mense se tyd en aandag is kwatryne ’n lekker bite-sized digvorm - iets soos die digterlike ekwivalent van ’n vinnige espresso? Is dit belangrik om vormgewys aan te pas by die smaak en voorkeur van die leesmark, of skryf jy nie noodwendig om lesers tegemoet te kom nie?

Dit is interessant om te sien dat daar in die algemeen ’n effense oplewing en belangstelling is in die vorm. Dit is seker so dat dit uiters geskik is om in klein maat gelees te word, maar ek hoop dat hulle agterna in die onderbewussyn sal aanhou ontplooi. ’n Geslaagde kwatryn is een wat meer fasette kry hoe langer jy daarmee saamleef.

Ek moet beklemtoon dat ek dit nié in die eerste plek vir ’n mark geskryf het of om in ’n behoefte te voorsien nie. Ek hét ’n ideale leser in gedagte wanneer ek skryf, maar die éérste leser van my gedigte is ek self – dís wie ek in die eerste plek tevrede moet stel, en ek is baie hard op myself. Nie dat ek kla nie; ek geniet die sukkel met die skryf báie meer as die voltooide gedig. Betekenis in die natuur is áltyd funksioneel (al vind ons dit “mooi”), en ons is die enigste spesie wat betekenis genereer vir die blote plesier daarvan.

Terwyl ’n kwatryn dalk vinniger lees as ’n lywige liriek of epos (of e-pos) kan ek my indink dat dit nie vinnig of maklik is om een te skryf nie. Was die proses van kwatryne skryf anders as die skryf van jou vorige bundels waarin jy verskeie ander vorme beoefen het, of is dit maar dieselfde proses van skryf en oorskryf en skaaf en verander? Het enige van die kwatryne in hierdie bundel jou soos ’n weerligstraal in voltooide vorm getref?

Daar is geen verskil tussen die skryf van ’n kwatryn, ’n sonnet en ’n vrye vers nie. Elke vorm het ánder eise, ja, maar jy skryf nie vinniger of makliker aan die een as aan die ander nie. Soms is jy gelukkig en kom ’n gedig byna voltooid op jou af, maar dis só selde, dat mens nie jou loopbaan daarop kan bou nie. Die langste wat ek nog aan ’n gedig gewerk het, is nege jaar, en dit was ’n kwatryn! Baie frustrerend, maar die vreugde toe dit uiteindelik regkom, was eufories. Ek gooi baie gedigte in my laai (of in rekenaarterme gooi ek hulle in ’n legger) as hulle nie wil lóóp nie; ek glo nie daaraan om ’n vers te forseer nie. Maar ek probeer een keer ’n jaar na sulke gedigte terug te keer om te kyk of hulle al ontwikkel het. Soms kan ek net ’n woord verander, of ’n leesteken, maar dit pla nie. Sommige gedigte kom egter nooit reg nie, en ek het vrede daarmee. Die beste reëls uit sulke gefaalde verse word hersirkuleer in nuwe verse. Niks gaan verlore nie.

Wat Weerlig van die ongeloof aanbetref, het ek baie van die kwatryne in finale vorm gedroom. Ek ervaar dikwels “lucid dreaming”, waartydens ek bewus word daarvan dat ek droom en dan werk ek so vinnig as wat ek kan aan die kwatryn voordat ek wakker word. Sodra ek wakker word, tik ek dit vinnig op my selfoon in en slaap verder. Ek het ook die titelkwatryn van die bundel só gedroom, en dit het my ’n hele tyd geneem om volledig te verstaan wat dit beteken. Drome is ’n belangrike deel van die skeppingsproses vir my. Dit gee toegang tot inhoude wat andersins ontoeganklik bly.

Weerlig van die ongeloof
Johann de Lange
Uitgewer: Protea Boekhuis
ISBN: 9781869194512
Prys: R150.95

Klik hier en koop Weerlig van die ongeloof nou van Kalahari.net!

Op die voorblad van jou vorige bundel was ’n ets deur Chris Diedericks, en hierdie nuwe bundel het ’n ongelooflik mooi skets deur Judith Mason op die voorblad. Het jy self hierdie kunswerk vir die voorblad uitgekies? Het dit vir jou enige besondere simboliese waarde?

Met die uitsondering van my debuutbundel en Judasoog, die keur uit my gedigte wat deel uitmaak van ’n reeks bundels deur H&R wat almal dieselfde uitleg het, het ek ál my boeke se omslae sélf gekies en in sommige gevalle met die kunstenaars saamgewerk wanneer iets spesiaal gemaak is vir ’n boek. Ek is gelukkig daarin en baie dankbaar dat my uitgewers my só ter wille is en my toelaat om betrokke te raak. Vir my begin ’n boek by die omslag – dit is waar jy die eerste kodes aan die leser deurgee. Die oog op Weerlig is belangrik omdat die visuele belangrik is by die kwatrynvorm – dit onderstreep die fokus, die konsentrasie op besonderhede en die verheldering, die insig wat volg.

Ek is van laerskooljare af al gek oor Judith Mason se werk en ek sou iets van haar op élke boek van my kon sit. Sy is vir my een van die grootste kunstenaars wat ons land nog opgelewer het. Die omslagkunswerk van Weerlig van die ongeloof is in die besit van haar dogter, Petra, en ek sou wát wou gee om dit te kon besit. Haar potloodwerk het vir my plaaslik geen gelyke nie. Die boek as estetiese objek is iets wat ek by Hennie Aucamp aangeleer het. Sy boeke en sy smaak in kuns is altyd onberispelik.

Daar was vir 13 jaar ’n stilte in jou digkuns voor die verskyning van Die algebra van nood. Het dit jou so lank geneem om daardie bundel te skryf en af te rond, of het jy spesifiek besluit om ’n stilte te handhaaf? En hoe lank het dit geneem om Weerlig van die ongeloof te voltooi?

Ek het beslis nie op my hande gesit nie. Gedurende daardie tydperk het ek soos altyd áánhou skryf, maar niks daarvan het my bevredig nie. Ek het verskeie dinge probeer, en weer laat vaar. Dit was ’n periode waartydens ek baie intensief met recreational drugs eksperimenteer het, en ek het gehoop om iets daarvan op papier te kry, maar sonder veel sukses. Ek het wel in daardie tyd die kortverhale geskryf wat uiteindelik Tweede natuur geword het en waarin ek iets kon opvang van daardie wêreld.

Ek het honderde gedigte geskryf en probeer afwerk, maar telkens gevoel hulle skiet te kort. Dan het ek hulle eenkant toe geskuif en nóg geskryf. Ek het dit ernstig oorweeg dat ek uitgeskryf was – dit gebeur. Niemand weet hoe lank sy skeppingstyd gaan duur nie. En daarmee saam het ek belangstelling in publikasie verloor, selfs vir die verse wat gangbaar was. Dit het my nie baie ontstel nie. Ek was te besig om ander realiteite te verken.

Uiteindelik het ek die punt bereik waar ek besef het dat ek nie verder kon gaan met my “rekreasie” nie, dat dit my niks nuuts meer bybring nie. Dit was in daardie tyd dat ek H&R genader het oor die moontlikheid om ’n keur uit my werk publiseer. Ek was uitgeskryf, al my bundels was uit druk, en die keusebundel sou dus iets van ’n konsolidasie van my digkuns word. Hulle was bereid om dit te doen mits ek so 10-20 nuwe gedigte het wat hulle kon byvoeg om die boek aantrekliker vir die voornemende koper te maak. Dit het my voor ’n dilemma te staan gebring en ek het besluit om álles wat ek in daardie 13 jaar geskryf het, te druk en vir my goeie vriend Henning Snyman te vra om daardeur te gaan en 20 verse te identifiseer waaraan ek kon skaaf en poleer vir die keusebundel. Ek het nie gedink hy sal soveel kan kry nie, maar hy het my uitgewer, Alida Potgieter, gebel en gesê hulle moet vir eers vergeet van die keusebundel, dat daar genoeg goeie gedigte is in die hoop wat ek hom gegee het om ’n nuwe bundel van te maak.

Ek kan nie sê dat ek verheug was nie, want dit het véél meer werk beteken as waarvoor ek kans gesien het, en ek was meer geïnteresseerd in die hersirkulasie van my werk wat uit druk was. Ek het ingestem om aan die nuwe bundel te werk mits my uitgewer my hand op die hart belowe dat die keusebundel agterna wél gepubliseer sal word, en dit het sy dan ook gedoen.

Toe ek eers aan die gedigte begin werk, en begin vorm gee aan die bundelstruktuur, het die ou bekende opwinding teruggekom en ek kan sê dat die werk aan wat uiteindelik Algebra van die nood sou word, een van die bevredigendste ervarings was. Toe ek eers begin skaaf, het verse waarmee ek jare gesukkel het, meteens net reggekom. Ingewings van die muses het aanhou kom. In Opperman se woorde: gereedskapsgesels lei tot omhels.

Ek weet dat die vertaling van gedigte ’n belangrike rol gespeel het in jou ontwikkeling as digter, en dat dit een van die maniere is waarop jy geleer het hoe die digkuns werk, hoe gedigte inmekaarsteek. Vertaal jy steeds gedigte, en is daar spesifieke digters se werk waarvoor jy ’n spesifieke voorliefde het?

Ek doen graag vertalings, omdat ek altyd as ek ’n mooi gedig in ’n ander taal teenkom, graag wil hoor hoe hy klink in my taal. En dan is vertaling ook baie goeie oefening. Dit dwing jou om na oplossings te soek, om nuwe woordeskatte te verwerf, nuwe digvorme. En dit leer jou ook – op wat seker as “reverse engineering” beskryf kan word – die fabrieksgeheime van ander digters. Ek doen vertaling in die droë tye wanneer ek sélf nie skryf nie. Dit hou jou hand in, by wyse van spreke. En dit hou my uit die kwaad, noudat ek te oud geword het daarvoor.

Ek sou bladsye kon volmaak met gunsteling-digters, maar ek kan ’n klompie identifiseer wat gedien het (en steeds dien) as voorbeelde vir my, as die soort perfeksie waarna ek streef. Digters soos Philip Larkin, Thom Gunn, Seamus Heaney, TS Eliot, Gerard Manley Hopkins, Ciaran Carson, Derek Mahon, Paul Muldoon, Don Paterson, Christoper Logue, Emily Dickinson, Ted Hughes, WH Auden, Adrienne Rich, Gregory Orr, Denise Levertov, Derek Walcott, Marianne Moore, Kay Ryan, Elizabeth Bishop, Michael Donaghy, Stanley Kunitz, Ted Kooser en Tony Hoagland, om maar net ’n paar te noem. Ek lees elke dag van my lewe poësie en het om en by 40 000 gedigte wat ek oor die jare afgelaai het.

André Brink het tydens jou vroeë vorming as digter vir jou raad en insette gegee. Kan jy een "les" uitsonder wat vir jou van besondere belang was (en moontlik steeds is) waarby ander jong digters sou kon baat vind?

Een van die belangrikste dinge wat hy my bygebring het (benewens lees, lees, lees!), is om telkens wanneer ek van ’n gedig hou, te probeer vasstel wáárom ek van die gedig hou, en hoe die digter sy of haar effekte bereik. Ek het amper groter plesier daaraan om gedigontledings te lees as die gedigte sélf. Ek wil weet hóé die digter doen wat hy doen. So brei jy jou tegniese register uit.

Ek het ’n artikel op LitNet gelees waarin jy skryf dat digterskap dikwels die lewe kompliseer. In ’n onderhoud wat Hennie Aucamp ’n paar jaar gelede met jou gevoer het, sluit jy af met die woorde: "[Ek] is nie bereid om van die poësie afstand te doen nie." Is dit nog steeds jou gevoel, ten spyte van die poësie se geneigdheid om die lewe te kompliseer?

Ek moet miskien kwalifiseer wat ek met “kompliseer” bedoel het. Dit het te make met spesifiek die soort gedig, die tema en die taal waarin ek skryf, wat implikasies gehad het, en steeds in ’n mate het, vir my privaatlewe. Die meer skokkende aspekte van my werk het tot gevolg dat ek byvoorbeeld kwalik onderwyser sou kon word, alhoewel ek klasgee baie sou geniet het. Die openlikheid waarmee ek oor my seksuele lewe skryf, het deur die jare ’n mate van aggressie by sommige mense ontlok en ek het my fair share gehad van haatbriewe en anonieme foonoproepe. En teenstand ook uit gay-geledere, mense wat voel ons is nie álmal só nie. Dis uiteraard soos water van ’n eend se rug vir my.

Ek het met die publikasie van Nagsweet besef dat ek daarmee myself buite die hoofstroom plaas, en dat ek baie vinnig ’n dik vel sal moet ontwikkel. Ek is gelukkig om te werk vir ’n maatskappy wat my nog altyd my kreatiewe vryheid gegun het, en van kollegas het ek nog net steun ontvang deur die jare. Ek moet beklemtoon dat ek nie vir ’n oomblik, nóóit vir ’n oomblik, spyt was oor die keuses wat ek gemaak het nie. Skryf het my ’n wonderlike, verrykende lewe besorg, vol mense wat ek andersins nooit sou leer ken het nie. My beskeie talent het vir my deure oopgemaak na vriendskappe met werklik groot skrywers en digters in ons taal, en met visuele kunstenaars ook, en dít verruil ek vir niks nie. In daardie sin dan sal ek nie, wíl ek nie, van die poësie afstand doen nie. Selfs al hou ek op skryf, sal ek nooit ophou lees nie.

Wat is volgende op jou agenda? Is jy reeds besig om aan ’n nuwe bundel te werk?

My volgende bundel, wat in Februarie by H&R verskyn, was ook reeds voltooi vóór die aankondiging van die Hertzogprys. Die titel daarvan is Vaarwel, my effens bevlekte held, en dit bevat 70 gedigte, onder andere my vertaling van Auden se “The platonic blow”. Die omslag is weer eens ’n kunswerk van Chris Diedericks en ek is baie gelukkig met hoe die boek uitgekom het. Ek hoop dat die bundel lesers van my werk nie teleur sal stel nie.

Dan het ek nóg ’n manuskrip voltooi, een wat uitsluitlik bestaan uit optelgedigte, sogenaamde “found poetry”. Die titel daarvan is Op ’n bladsy geskeur uit ’n boek. Of ek ’n uitgewer sal kry wat daarvoor kans sal sien in hierdie tye van ’n backlash teen die postmodernisme waarin bundels deesdae met voetnotas, verduidelikings en verontskuldigings verskyn, val te betwyfel.

In Augustus volgende verjaar verskyn my dagboeke vir die jare 1993-1998, onder die titel Gulp. Dis ’n boek waaroor ek vir die eerste keer sedert Nagsweet weer twyfel. Ek weet nie of dit ’n geval is van die duiwel wat op sy oudag vroom raak nie, maar die hersien daarvan is nie vir my ’n aangename aktiwiteit nie. Al wat ek daaroor wil sê, is dat dit nie vir lesers met delikate gestelle is nie.