Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Boeke | Books > Boekartikels | Articles on books > Afrikaans

Boeke laat mens toe om self filmregisseur te speel, keer op keer en onbeperk


Francois Verster - 2011-11-09

Untitled Document

Daar is nou ’n advertensie op televisie wat handel oor die wonderwêreld van boeke, wat my bly maak, maar ook ’n bietjie treurig laat voel. Want eerstens identifiseer ek met dit wat die skepper daarvan sê: dat boeke die deure is waardeur ons in Narnia-wêrelde stap, maar meer nog, die spieël waarin Sneeuwitjie en Alice – en elkeen van ons – kyk om onsself te leer ken terwyl ons verbeeldingsmilieu’s verken.

Maar daar is ’n ander kant van die storie.

Ja, die fantasiegenot kan amper tasbaar-werklik word deur die soort tegnologie wat Avatar aan ons gebied het, en dit bly fantasties dat daar ál meer moontlikhede op die menu is, ál meer virtuele wonderwêrelde, elkeen letterlik net ’n vingerpunt weg van waar jy gemaklik en veilig sit terwyl jy/jou held(e) aksie en liefde en opwinding en allerhande verstommende verskynsels aanskou, geniet of trotseer.

Ja, dis héérlik, dis ’n visuele of virtuele brander wat oor jou spoel soos in ’n vrugtesap-advertensie waarin die held(in) aan die einde daarvan staal en ril in ’n nat wit T-hempie of klewende rompie wat niks aan die verbeelding oorlaat nie. En dis ongelukkig die een ding wat altyd die verskil sal wees tussen boeke en al die ander vermaaklikheidsaanbiedinge waaruit ons kan kies: die aanwending van jou eie verbeelding. Boeke skakel jou verbeelding aan, soos jy ’n iPod, televisiestel of rolprentprojektor aanskakel, maar die skrywer van ’n boek beskryf – die “show, don’t tell”-beginsel – sodat jy steeds baie ruimte het om jou eie beelde te skep en jou eie interpretasies te maak.

Waar strokiesboeke ’n balans bied tussen woordteks, beeldteks en die verbeelding van die leser om self die oorgange tussen al die panele op die bladsye te skep, bied die roman (byvoorbeeld) die meeste ruimte om jou verbeelding te laat werk. En die elektroniese genres met al die beweging en kleur – en boonop ’n klankbaan –  is grootliks die verbeeldingsvrugte van ’n hele span kunstenaars. Televisie-sitcoms het selfs so ver gegaan as om geblikte lagbuie te verskaf. En ja, dit werk meesal, want soos gaap, is lag aansteeklik. Ons dink nie, ons lag net. En mense ís maar tropdiere. Of die meeste van ons is – ons bewys dit telkens by die stembusse, by modeparades, by sportbyeenkomste: om mooi in harmonie te blêr moet jy net sorg dat jy nie harder of anders as die res mêê nie.

Dog, dalk is dit juis die boek se gawe aan die mens: jy kan ’n individu wees deur op jou eie te lees, op jou eie te wéés, en jou eie beelde te skep op die maat van die outeur se towerfluit. Dis seker hoekom musiekvideo’s niks vir my beteken nie – ek wil my eie beelde sien; of ek na AC/DC, Mozart of Anton Goosen luister, ek wil nie gevoer word met ander mense se prentjies/interpretasies nie.

Dit bekommer my dat die jeug vandag nie soos Huppelkind in die middel van ’n verbeeldingswêreld wegraak wat hulle self help skep het nie. Hoeveel ruimte vir eie interpretasie is daar in rekenaarprogramme opgesluit? Gewoonlik dink ek aan ruimtefiksie as die grenslose alles-is-aanvaarbaar-want- niemand-wéét-tog-nie-genre, maar so skokkend as wat gruwelike aliens en predators kan lyk op die groot skerm – of enige skerm – kan niks my so bang maak as die spookstorie wat eindig met die paniekbevange held(in) wat in die verste hoek van die vreemde huis probeer wegkruip terwyl swaar voetstappe stadig teen die lendelam houttrap opgekraak kom nie.

Innuendo, skimpe, voorstelle … dis wat die leser se kopliggies helder laat skyn. Anders is elkeen maar net ’n leë huis, waar net sekuriteitsligte aan- en afskakel wanneer iemand daar buite beweeg: cameras, action … bla, bla, bollocks.

Dit bring my by die rede vir hierdie betoog: oor die vermindering van Afrikaanse koerante se boekeblaaie het ek, en baie belangriker mense as ek, al baie gesê. Tevergeefs. Oor die afsterwe van Rapport se Kaapse weergawe is nog nie baie gesê nie, en dis reeds duidelik dat dit tevergeefs sou wees. Daarom wil ek nóú sê: dankie tog vir Rapport se Boekeblad. Mag dit altyd met ons wees – die laaste bastion van boekedemokrasie. Dánkie, Anastasie de Vries. Mag jy nog lank met ons wees, al is dit net een keer per maand.

En mag elkeen van ons altyd die vryheid hê om self regisseur van ons eie weergawes van Holly- óf Bollywood te wees. En geïnspireer word om self die pen of kwas oftoetsbord op te neem. Want ons moet uiteindelik uit eie geledere nuwe wêrelde skep en niks meer op mense afdwing as woorde nie.