Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Onderhoude | Interviews > Afrikaans

Annake de Villiers gesels oor ’n ''tas vol geleenthede''


Naomi Meyer - 2011-11-09

Untitled Document


Annake de Villiers, uitvoerende kunstenaar, was voorheen getroud met Jannie Moolman. Deesdae is daar ander dinge op haar agenda. Onlangs het sy op die Rynrivier opgetree saam met Lize Beekman en daarna by Aardklop saam met Rocco de Villiers. Sy gesels met Naomi Meyer oor wat haar omkrap en passievol laat raak – en oor ’n townshipkind se tas vol geleenthede.


Wat laat Annake de Villiers tick?

Daar is vele dinge wat vir Annake de Villiers laat “tick”. Goeie musiek, lekker kos, ontspan saam met vriende, die see. Maar sekerlik is die een ding wat vir my uitstaan, eerlikheid. Ek het die teendeel so intens beleef ’n paar jaar terug en daarom is dit deesdae vir my absoluut belangrik in alles wat ek doen, aanpak en ook ’n definitiewe móét as karaktereienskap by ’n handjievol mense wat ek in my persoonlike lewe toelaat. Wat my nié laat tick nie, is mense wat op parkeerplekke vir gestremdes parkeer en dan flink uit hul motor uitspring. Ek het minstens vier keer ’n week sulke eensydige gesprekke met dié mense. Altyd ook vir my interessant hoe geweldig aggressief hulle gewoonlik reageer. Dalk maak dit eendag ’n verskil?!

Jy was onlangs, gedurende die Europese somer, op ’n Rynvaart. Wat was die hoogtepunte van dié toer vir jou?

Ek was, ja! Dis ’n maatskappy wat vroeër vanjaar begin is. My eie tesame met ’n besigheidspartner. Kumtu Avonture. Ons het die gaping in die mark raakgesien om ’n ietwat jonger reisiger te betrek. So het ek vir Beeld genader en hulle was ons media – en geldborg. Saam is die toer bemark en dit was geweldig suksesvol. Volgende jaar doen ons Kroasië en ’n wyntoer op die Ryn.

By Aardklop het jy saam met Rocco de Villiers opgetree en lyk my die brandende vraag op almal se lippe is of hy familie is van jou. My vraag is eerder oor julle show. Wat het julle gedoen?

Sover ek weet, is ek en Rocco nie familie nie – alhoewel ons albei van goeie ou Vrystaatse afkoms is. (Soos jy!) Dalk eerder familie van my wonderlike vriend, Coenie? Ons het ’n wonderlike show gehad met drie temas: TV (Murder, she wrote, Airwolf, Heidi en ander), asook movies (Dr Zhivago – voor ons tyd, Titanic) en dan musicals (Les Mis – “I dreamed a dream”, “Memory”, ens).

Die show was vir my so-o-o lekker. Ek en Rocco werk vreeslik lekker saam – hy is geweldig musikaal en het ’n baie goeie kop vir besigheid. Ons het eenvoudig op die verhoog gegaan en die mense vermaak met regtigemooi melodieë. Nou en dan is daar ’n hoogtepunt in my loopbaan – dit is nie noodwendig om saam met iemand op te tree wat “famous” is nie – eintlik glad nie. My hoogtepunt by die afgelope Aardklop was dat daar ’n ou tannie na my toe gekom het en vir my vertel het hoe sy haar man ’n paar jaar gelede verloor het. Sy was duidelik nog baie hartseer. Sy't kom dankie sê omdat sy gereken het dat ek en Rocco haar vir bietjie meer as ’n uur weggeneem het uit haar moeilike omstandighede. Nou dis ’n hoogtepunt!!

Lewer jy ook solovertonings?

Ek lewer wel solovertonings, ja. Tans gebeur dit meer op ’n korporatiewe basis. 

Ek hoop om volgende jaar, in samewerking met Ian von Memmerty, ’n “one-woman show” op die planke te bring. Die tema is een wat my baie na aan die hart lê: die viool waarop ek op die oomblik speel. Ek het ’n paar jaar terug by ’n dame gebly met ’n konsert in Groot-Brakrivier. Ek't ’n viool raakgesien bo-op een van haar kaste en gevra of ek daarna mag kyk. Dis toe ’n pragtige viool vol krake en nog met daardie gelerige “gut” – snare. Die viool het aan haar oeroupagrootjie behoort wat ’n professionele violis was in Nederland. Sy het oorweeg om die instrument na die handyman op die dorp te stuur om te laat regmaak, en toe keer ek verbete – ek neem dit toe op my om die viool na ’n vioolbouer in Pretoria te neem en dit dan weer later aan haar terug te besorg. Met die groet saam sê sy toe vir my dat sy graag die viool vir my wil gee, en as ek dit wil gebruik, dit vir haar baie sal beteken. So het Hannes die viool speelbaar gekry en toe ek daarop speel, was ek dadelik verlief op die donker klank. Deesdae speel ek net op hierdie viool, want dis asof ons mekaar uitgekies het. Die idee van die produksie is dan om ’n tipe van ’n reis van die viool met bypassende musiek op die planke te bring. My enigste probleem is dat ek nie tannie Annatjie van Groot-Brak se nommer meer het nie. Ek wil so graag meer uitvind oor waar die viool hom al oral bevind het.

En ek hoor jy trek weg van die Goudstad? Waar blink die toekoms nou?

Die toekoms, soos ek dit sien, blink eintlik regtig wêreldwyd vir my. My toermaatskappy neem my op reise na vreemde lande, en my musiek ook. So waar hart is, is huis ook. Ek verskuif my basis volgende jaar na Kaapstad. Ek gaan seker nog 50 persent van my tyd in Johannesburg bestee, want ek eksamineer Engelse eksamens, doen recording sessions, orkes, shows, en so aan hier. My uitgangspunt is dat ek op ’n stadium in my lewe is waar ek myself as mens weer herontdek na tien jaar van sluimering, en nou voel ek sterk genoeg om te doen wat vir my belangrik is. Ek voel wel dat wanneer ek by die huis is, my lewenskwaliteit hoër kan wees. Ek is mal oor die see – van die wind tot die reën. So dis waar ek my basis gaan skep, sodat ek op dae wat ek nie iewers hoef te wees vir ’n vertoning of vergadering nie, ek ver langs die strand kan gaan stap, swem of surf (klaar die lesse geneem – moet nog net die surfboard koop!).

Ek sluit ook aan by die NSRI in Melkbosstrand en wie weet, dalk kan ek daar ook ’n verskil maak. (Eintlik wil ek Oprah wees ...)

Vyf jaar gelede was ek op een van Christine van Wyk se toere op die Rynrivier – ironies genoeg om saam met Jannie op te tree. Daar is ’n droom gebore, maar dit het sluimerend gelê, want depressie het soos ’n groot swart hond alles om my verswelg. Nietemin, met die deurwerk van seer en die vonds van ’n engel in my lewe, het die droom verlede jaar weer begin vorm aanneem en ’n reismaatskappy is gebore met die naam van Kumtu.

Ons het in Augustus ons eerste baie suksesvolle toer op die Ryn gedoen, met Lize Beekman, ek en Jaconell as kunstenaars op die boot, asook ’n konsert in Amsterdam met twee Nederlandse kunstenaars.

So gaan ons voort en het reeds twee toere aan die gebeur vir volgende jaar.

’n Ander passie van my wat weer begin posvat het so met die heelword saam, is opvoeding. Ek het verlede jaar my meestersgraad in opvoedkunde deur Unisa voltooi. Dit het vir my die feit dat daar praktiese aspekte ontbreek in die sisteem, baie duidelik uitgewys en ek het begin soek na maniere om op grondvlak ’n verskil te maak.

Nie deur ’n reuse-universiteit of boekekennis kon ek antwoorde kry nie, maar wel deur ’n jong seun van Soweto met die naam van Kaleb Reyneke. Ek het hom en sy ma, Elaine, ontmoet vroeër vanjaar in die hartjie van ’n baie koue wintersoggend toe ek die voorreg gehad het om deel te wees van ’n musiekvideo vir Madiba. Hulle lewe onder die mees haglike toestande, sonder water, elektrisiteit of kos, maar tog het Elaine my ingenooi vir ’n koppie tee en die baie lewenslustige Kaleb het summier opgetree in die video. (Interessant dat hulle so Afrikaans is soos ek en jy!)

Kaleb se blink ogies en duidelik skerp verstand bly my by en hou my kop nou al besig sedert die opnames. Dit bekommer my geweldig dat so ’n kind dalk geen vorm van onderwys gaan ontvang nie, en dan bestaan die moontlikheid dat hy net weer ’n volgende identiese sirkel gaan voltooi van armoede en ongeletterdheid.

So het ek op die gedagte gekom om ’n projek genaamd Suitcase of Opportunities te stig in samewerking met my reismaatskappy. Dis ’n “virtuele tas” waarin mense enige vorm van geleentheid kan insit wat ’n bydrae kan maak vir Kaleb en ander kinders soos hy se opvoeding.

Wat lees jy op die oomblik? Sal jy ’n Kindle saam met jou bed toe vat? Omarm jy digitale boeke (e-boeke)?

Ek lees tans ’n boek met die naam Prague deur Arther Phillips. Ek geniet dit, want was vroeër die jaar met ’n toergroep op die Donaurivier deur Sentraal-Europa. Ek was mal oor Praag, so dis hoekom die boek my aandag getrek het. Ek lees op ’n Sony E-reader. Bietjie kleiner as die Kindle. Ek was een van die grootste anti-elektroniese-boek-mense nog, totdat ek dit present gekry het. Ek is mál daaroor – dis nie belig nie, so dis nie soos om op ’n rekenaarskerm te lees nie. Dus baie meer die gevoel van ’n boek. En met die pryse wat ons vir boeke betaal in Suid-Afrika raak dit ’n baie duur uitgawe as mens so baie soos ek lees. Plus nou kan ek in die bed lê en boeke koop! En as mens nie ’n boek geniet nie, voel mens nie so sleg om dit net te delete nie. :-)